Helse manier van koebaai se. François Bloemhof
te laat oopgaan nie. Nee, dit het vroeër gebeur, voor haar aansluiting en nog voor haar opleiding: toe sy die eerste keer spanning van ’n sekere graad ervaar het, saam met die man wat met soveel behendigheid dié motor bestuur dat sy kan sweer daar is ’n magiese verbintenis tussen hom en stuurwiel en ratkas en enjin.
Jou bliksem.
G’n wonder hy bestuur goed nie, hy’t ratte in sy kop waar daar veronderstel is om emosies te wees.
En hier is sy weer saam met hom op ’n saak. Die vet weet, groter teenpole kry jy nie. Vir die soveelste keer wens sy dat sy maar tevrede kon gewees het met verantwoordelike, voorspelbare Albert. Haar verantwoordelike, voorspelbare verloofde uit ’n ander tyd en ander bestaan. Sy kon nou al getroud gewees het. En verveeld. Maar Albert sou haar gekoester het tot die dag van sy of haar dood en dis wat enige normale mens tog wil hê.
Normaliteit, egter … Wie soek dit? Sy wil hierdie soort bestaan hê. maar is nie ’n goeie samewerker nie, sy funksioneer beter op haar eie. Om haar as iemand anders voor te doen, ’n obskure gebroedsel te infiltreer, deur die waas van geheimhouding te dring tot by die suiwer kern van waarheid en dan te poog om misdrywe om te keer, is nie net bevredigend nie maar ook rég. Sy maak ’n verskil en het ontwikkel ver anderkant die potensiaal wat sy gehad het toe sy haar as ywerige student in die sfeer van die sielkunde begeef het. Alles was toe nog beplan. Sy het so mooi geweet wat sy wil doen, met sterre in haar oë: Eendag gaan ek praktiseer.
As sy het, sou sy nooit geweet het wat sy mis nie.
Sy beny hulle egter, mense wat tevrede is met wat maar net elke dag voorval en nie vermoed dit is aan die skrapse kant nie.
Alles in ag genome is sy op die regte plek in haar lewe – ook op die regte plek fisiek gesproke, nou en hier saam met iemand wat sy moet beskerm. Dat Clive Sharpe haar baas is, behoort nie ’n faktor te wees nie, hy is bloot iemand wat sy aan die lewe moet hou tot wie weet wanneer.
Die situasie kan onbepaald voortduur, maar die vangplek is dat hy nie onbepaald opgepas kan word nie. Vir eers is padgee die beste uitweg, maar as weke en selfs maande verbygaan sonder dat daar ’n aanval is, kan jy nie net aanhou sit en wag nie. Sharpe is aan die hoof van ’n organisasie wat nie lank sonder ’n leier kan klaarkom nie; sy weet nie wie en of hy iemand gevra het om in sy plek waar te neem nie, maar daardie persoon sal tien teen een groot besluite so lank moontlik uitstel en wag vir hom om terug te keer. Terugkeer sal hy moet – as hy nog lewe, as húlle nog lewe – en dan is die vlieg weer sigbaar op die web.
“Nice area,” merk Clive Sharpe op en draai skuins in sy sitplek om na haar te kyk.
Vir ’n oomblik het sy gedink hy maak ’n grap en dat hy na haar verwys.
Kom reg, Lana.
“Yes. It is.”
Al sien sy reeds minute lank nie die omgewing raak nie. Tot siens, Big Bay, tot siens, Melkbos. Weerskante van hulle is daar al hoe minder geboue, net plek-plek kry die beskawing nog vastrapplek met ’n stalletjie hier, ’n afdraaipad na ’n woongebied daar. Dit begin meer na vlakte lyk, amper soos die Karoo maar met minder vaal en meer groen in die bossies. Ruimte, oopte, en die Skepper wys wat Hy eintlik in gedagte gehad het.
Vir haar was die Weskus nog altyd sinoniem met vriendelike mense en vakansie. Nou ja, hulle gaan darem na ’n vakansiehuis toe, dis net geen vakansie nie. Hulle gaan ook nie met mense kontak hê nie, of beplan nie om te hê nie, vriendelik ofte not.
Haar werk … Ek is soos ’n tandarts, dink Lana Dubois. Niemand het my dienste nodig as alles goed gaan nie.
Maar tandartse moet daar wees.
“Nice car,” sê Sharpe vir haar mede-tandarts en Steyn maak net ’n subtiele beweging met sy skouers.
Poephol, dink sy. Dit kos niks om net erkenning te gee as die man probeer gemoedelik wees nie.
“Light on the road,” gaan Sharpe voort.
Steyn: “Nie in dieselfde liga as jou kar nie.”
“You don’t want to know what mine’s fuel consumption is.”
“As ek jou salaris gehad het, sou die prys van petrol nie saak gemaak het nie.”
Daarmee is die kans op ’n tussen-ons-manne-geselsie oor verskillende motors se voor- en nadele summier van die baan.
Poephol.
Mark Steyn is egter ’n poephol wat die vader is van haar ongebore kind. Weer die gedagte: Kan dit regtig waar wees? Van één keer se seks?
Hy mag nie weet nie. Op ’n manier moet sy dit hanteer, sy het nog net geen idee hoe nie. Sy sal die probleem moet oorbrug nes enige lid van die vroulike geslag wat nie voorsiening gemaak het vir so ’n gebeurlikheid nie: sy, die geroetineerde Lana wat álles beplan! Haar gedagtes gaan draai weer by ’n aborsie. Sy veroordeel nie die meisies wat dit laat doen nie – hoe kan sy, wat so goed verstaan hoe hulle voel – maar sy moet die kind in die wêreld bring, omdat dit nie sy of haar skuld is dat dit gebeur het nie. En daarna … Wie weet? Eers moet sy wegglip en ’n ruk van Die Fabriek se radar af wees, lank genoeg om te swel en geboorte te skenk en gewig te verloor. Dan kan sy vrolik en vol vonk terugkeer, reg vir aksie. Maar Die Fabriek is altyd bewus van waar jy is en wat jy doen. Niemand sê dit nie, maar almal weet dit – tensy daar ’n radikale situasie is en jy van die toneel af verdwyn, soos hulle drie nou maak. Sy is oortuig daar is, indien nie in haar leefarea ook nie, versteekte kameras in haar woonstelblok. Sy het al gesoek daarvoor, maar kon dit nie vind nie: dit beteken nie dis nie daar nie. Sy kan verstaan waarom almal dopgehou word: die beste manier om ’n organisasie te infiltreer, is om ’n werknemer te word, daarom is en bly almal in ’n mate onder verdenking. Paranoïes? Ja. Kommerwekkend? Ja. Onnodig? Nee.
As sy ’n ruk wil verdwyn, moet sy ’n amptelike rede hê.
Die kind vir aanneming opgee? Seker maar.
Sy dink egter aan Steyn. Magtig, dink sy nie pal aan hom nie! Sy dink aan sy agtergrond waarvan sy so min weet. Sy wil ook nie meer daarvan weet nie, hoe minder hoe beter, maar daar was kinderhuise en dis nie die maklikste plekke op aarde nie – en dis iets wat dan op haar kind gaan wag. Haar kind, húlle kind, kan dieselfde agtergrond as hy hê. net soos hy uitdraai, en dan is dit sy wat besluit het dit sal so wees.
Sy wil nie die kind hê nie; sy voel dikwels sy wil hom of haar nooit ken nie, nie eens sien nie. Maar sy het ’n verantwoordelikheid.
Dis so moeilik.
Grotto Bay se afdraaipad lê agter hulle.
Verder is daar haar pa, wat na die dood van sy broer kort duskant selfmoord omgedraai het – hy’t seker ook net daaraan ontsnap danksy daardie pilletjie wat sy in die hande gekry het en wat haar ma steeds met geslepe liefde vir hom saam met sy oggendkoffie ingee. Hy is darem nie meer in so ’n katatoniese toestand nie, hy funksioneer, het die laaste ruk selfs al ’n keer of wat vir haar opgeruimd voorgekom. Maar dit het haar ouers se huwelik geen gunste bewys nie. Hulle het nog altyd hul verskilletjies gehad, maar was oorwegend gelukkig getroude mense totdat Mark Steyn, iemand wat nooit so ’n verhouding sou kon handhaaf nie, ’n stokkie daarvoor gesteek het.
Maar.
Genoeg hiervan.
Sy sal weer dringend oor dit alles dink as dié besigheid verby is.
“It’s not so far to Salt Bay now, only about fifty kilometres,” lig Clive Sharpe haar in, heel vrolik, asof Soutbaai nie ’n plek is waarheen hulle gaan omdat iemand hom wil doodmaak nie.
Iemand wat gehuur is. ’n Man soos Sharpe het baie vyande, maar nie almal sal een van die wêreld se mees gesogte moordenaars nader hark nie.
Wie hét?
7
Nou en toe
Nou, hy wat hardloop. Die snyplek aan sy voorarm brand donners erg en hy kan hom verbeel hoe druppels bloed op die sypaadjie spat, ’n duidelike streep agter hom.
Hoekom is hier