Abel se lot. Chris Karsten
uit dokter Lippens se tas beskou hy aandagtig. Hy wonder of die polisie al begin het met hulle ondersoek na die vermiste chirurg. Hy twyfel. Dit duur gewoonlik ’n paar dae. Die meeste mense wat as vermis aangemeld word, is nooit werklik vermis nie. Saam met ’n minnaar weg, skuil vir skuldeisers. Hy wonder of dokter Lippens, op sy ouderdom, ’n minnares gehad het. Die verpleegster het geskinder dat hy ongetroud was.
Halftwaalf stap Abel uit die erf van sy losieshuis die nag in. ’n Warm nag, vogtig aan sy vel, van die misbank wat van die Tanganjika-meer oor die stad opgestoot het en nou laag soos lappe in die boomtakke en oor die strate hang. Hy het ’n flits, maar gebruik dit nie. In die mis is elke straatlig ’n dowwe wit stralekrans. Dit duur minder as twintig minute na dokter Lippens se ou huis waar Abel die chirurg as meneer Lomas besoek het, die voorste vertrekke as konsultasiekamers ingerig.
Uit die vensters van die huis is, soos Abel verwag het, geen skynsel van lig nie. Hy stap om na die agterdeur, toets die sleutels in die slot. Stoot die deur oop, sien ook geen knippende rooi sensorogies nie. Hoor geen alarm wat afgaan nie. Reeds tydens sy konsultasiebesoek het hy die gebrek aan ’n alarmstelsel opgemerk.
Die stil, donker huis ruik bedompig en muwwerig. Hy ondersoek elke vertrek in die lig van die flits. Kry die spreekkamer waar hy op die stoel gesit het terwyl die vreemde vingers die vel van sy gesig betas het. Hy kyk rond, sien die boks met latekshandskoene op ’n kabinet. Hy trek twee handskoene aan voordat hy die rekenaar aanskakel. Die boks druk hy in sy plastieksak.
In die kabinet is pasiëntelêers geliasseer. Hy soek na L, haal die een uit met die naam LOMAS, plaas dit ook in sy plastieksak, saam met ’n notablok met die dokter se gedrukte briefhoof waarop hy sy medisynevoorskrifte aan pasiënte uitskryf.
Op die rekenaar kry Abel die foto’s van sy ou gesig. Hy staar ’n oomblik na die bekende gelaatstrekke, sug ’n slag sag, en wis dit uit. Daarna ook die elektroniese lêer oor pasiënt Lomas se rekonstruktiewe gesigchirurgie. Hy kom maklik reg met die rekenaar, want hy gebruik self ’n gevorderde sagtewareprogram vir sy aantekeninge oor sy kosmiese waarnemings.
Laastens die dokter se duur digitale kamera. Abel kontroleer dat sy foto’s van die geheueskyf verwyder is nadat dit op die rekenaar afgelaai is, knik tevrede.
Nou begin hy na ’n kluis soek. Hy weet die dokter sal ’n kluis hê vir sy persoonlike dokumente en geld. In Bujumbura is ’n kluis noodsaaklik, al is daar dik diefwering voor die vensters. Weens gereelde en onvoorsiene kragonderbrekings maak inwoners van ou huise nie staat op ’n alarmstelsel nie, maar sien ook nie die nodigheid in vir ’n kragopwekker vir ’n alarmstelsel as hulle ’n goedkoop en veilige opsie soos ’n kluis het nie.
Dié vind Abel in die hangkas van die slaapkamer, vasgebout in die betonvloer. ’n Ou Chubb met ’n slot, nie ’n digitale kode wat ingepons word en van elektriese krag afhanklik is nie. Uit die bos soek hy die kluis se sleutel.
Hy stel nie belang in die pakke geldnote in Burundiese frank nie; hy is nie ’n gelddief nie. Hy stel belang in die persoonlike dokumente: die ID-kaart en veral die paspoort. Die maroen-kleurige Belgiese paspoort, op die omslag in silwer geëmbosseer: KONINKRIJK BELGIE ROYAUME DE BELGIQUE KONIGREICH BELGIEN.
Hy open die identifikasiebladsy met die naam en foto van die paspoorthouer. AUGUST GODELIEVE LIPPENS. In die lig van die flits bestudeer hy die gesigfoto, spesifiek die neus en ken. Dis ’n ouerige foto, al is die paspoort nog vir vier jaar geldig. Dit sal doen, meen Abel.
Voordat hy vertrek, tik hy ’n kort nota in ’n Microsoft Word-dokument op die rekenaar en bêre dit op Desktop, die ikon prominent in die middel van die skerm wanneer iemand die rekenaar sou aanskakel. Hy noem die ikon bloot MESSAGE.
Terug in sy buitekamer oordink hy elke tree, elke stap in dokter Lippens se huis. Hy was sorgvuldig en hy is seker daar sal geen teken van ’n inbraak gevind word nie. En dink: nou hoef hy nie meer Lomas te wees nie, nou is hy Lippens.
Wanneer hy later die oggend wakker word, sal hy aandag gee aan die voorskrifte. Hy vertrou Diprivan; dit is een van die middels waarmee sy moeder behandel is toe sy so siek geword het. ’n Wit emulsiemengsel, soos melk, van soja-olie en Propofol. Dokters noem dit skertsend “milk of amnesia”; dokters hou van binnegrappe.
Propofol is ’n sterk sedasie wat gewoonlik as narkose toegedien word, maar in Diprivan is Propofol ’n vinnigwerkende susmiddel teen angstigheid. Binne veertig sekondes ná toediening, hetsy binneaars of deur ’n inspuiting in ’n groot aar aan die voorarm, verval die pasiënt in ’n koma. Hy sal op dokter Lippens se voorskrifblok ’n preskripsie uitskryf vir Diprivan Injectable Emulsion met 10 mg/mL Propofol per ampul.
Sy moeder het nie haar aanval van beroerte oorleef nie, ook nie die popsanger Michael Jackson sy oortoediening van Propofol nie. Maar Diprivan het Abel nog nooit in die steek gelaat nie. Hy het dit al op sy donateurs van velle beproef en die resultate was hoogs bevredigend. Hy is van plan om meer voorskrifte uit te skryf, wat hy by verskillende apteke sal indien om sy voorraad aan te vul. Dokter Lippens, kosmetiese chirurg, sal vertroud wees met Diprivan; sy voorskrifte sal nie bevraagteken word nie.
In sy besit nou drie paspoorte: ’n Suid-Afrikaanse een uitgereik aan Abel Lotz, die nuwe een van dokter Lippens, en meneer Lomas se Portugese een. Die Lomas-paspoort was ook nie te moeilik om te bekom nie. Op sy vlugtog deur Mosambiek na Bujumbura het Abel dit in Beira van die régte meneer Lomas gekry.
Hy het deur die hawestad se strate gedwaal, ontuis, onseker en angstig; Abel is nie ’n sosiale wese nie, ongewoond aan vreemde plekke. Hy het in ’n beskermende huis grootgeword onder die immer wakende oog van sy moeder, sy het hom gelei op die pad wat sy vir hom uitgelê het. Elke besluit het hy eers met haar uitgeklaar, haar goedkeuring en toestemming gevra. Kort voor sy vyftigste verjaardag is sy hele lewe omgekeer; deur die loop van één nag het alles verander, moes hy sy huis, sy galery, sy moeder agterlaat en vlug.
In Beira het hy in die bakkie gesit, verskrik deur die onbekende wat voor hom wag. Agter hom die jagters. Hy kon nie vertoef nie, moes aangaan. In Bujumbura, by sy vriend Jules Daagari, sou hy veilig wees. Nie so veilig as by sy moeder nie, maar Jules sou help, Jules was sy vertroude brug na die onbekende.
In die agterstrate van Beira se hawe het Abel gesoek. Hy het in sy bakkie gesit en die deure van die eet- en drinkplekke dopgehou, die vroue gesien wat die besope mans met hulle sondige liggame verlei, die wellus van die vlees waarteen sy moeder hom so vermaan het, die skending van hulle liggame met tatoes en versiersels. Hy het veral gekyk na die vel van hulle gesigte, die aftakeling en verwaarlosing gesien, en geril. Die vel van só ’n vrou is vir hom ’n gruwel.
Hy het sy blik van hulle af weggedwing; hy het nie ’n vrou gesoek nie, maar ’n man. Iemand in sy middeljare, iemand met ’n babagesig. Die gesigte van die mans wat hy by kroeë en tavernes sien uitstrompel het, het die spore van ’n harde lewe gedra op die groewe en kreukels van hulle vel, en Abel se angstigheid het toegeneem. Hy moes weg, hy moes uit Mosambiek kom, oor die grens na Tanzanië op pad na Burundi. Maar by padblokkades en grensposte sou hulle die bakkie se model en registrasienommer op hulle rekenaars hê, en Abel Lotz se naam wanneer hy sy Suid-Afrikaanse paspoort aanbied.
Toe, die dag van sy vyftigste verjaardag, ontmoet hy meneer Lomas. Abel het in sy bakkie gesit toe meneer Lomas homself met ’n klop teen die ruit as verjaardaggeskenk kom aanbied. Abel het die ruit afgedraai en die reuk herken. Hy het dit baie jare tevore laas ingeadem, maar hy sal dit nóóit vergeet nie. Die reuk van ’n asem vol brandewyn. Die reuk van sy pa en sy broer. Maar hulle is lankal in hul grafte en Abel het na die gesig by sy venster gestaar, die ronde babawange, die vol lippe.
“Você pode me ajudar?”
Die man was dronk en het in tale gepraat.
“Sorrie,” het Abel op Engels geantwoord, “verstaan jou nie.”
Die man het sy kop skeef gedraai, sy blik probeer fokus iewers op ’n middelafstand agter Abel in die donkerte van die bakkie. Hy het die kwyl met die agterkant van ’n hand van sy ongeskeerde ken afgevee en hom met sy ander hand teen die bakkie se deur probeer stut.
“Você Inglês?”
“Wat?”