Abel se lot. Chris Karsten
Lippens. “As ek mag sê, en ek hou daarvan om eerlik te wees met my pasiënte: ás iemand gedink het jy’t ’n babagesig, sal hulle hul woorde moet sluk wanneer ek met jou klaar is.”
In die spens van die pasiënt se geheue – en hy vergeet nooit gesigte nie – onthou hy nou vir Konrad Lorenz, etoloog en wenner van ’n Nobelprys: iemand met ’n babagesig wek ’n gevoel by mense dat hulle hom wil koester en beskerm. En Leslie Zebrowitz, sielkundige van die Brandeis-universiteit in Waltham, Massachusetts: mans met ’n babagesig stimuleer die amigdala, die emosionele sentrum van die brein, by ander mense. Ook het sy in haar navorsing bevind: mans met babagesigte is, oor die algemeen, beter gekwalifiseerd, beslis oor wat hulle wil hê, en die wenners van meer militêre medaljes as mans wat meer volwasse lyk.
Maar daar is ’n kinkel, daar is áltyd ’n kinkel: sulke babagesig-mans, het sy bevind, oorkompenseer vir hulle tekortkominge. Hulle is gewoonlik ook meer twissoekerig en vyandig, en meer geneig, soos Al Capone, tot kriminaliteit.
“Lippens?” vra die pasiënt. “Is dit …?”
“Belgies. Oorspronklik van Gent. Maar ná Burundi se onafhanklikwording was dit nie die utopie waarop almal hier gehoop het nie. Gesondheidsdienste was maar net een van die dinge wat ineengestort het. Hulle is terug na die ou koloniale meester om kundiges te werf: ingenieurs en onderwysers, verpleegsters en dokters.”
Ja, ek weet jy’s ’n Belg, dink die pasiënt. Dis waarom ek hier is. Ek het jou uitgesoek vir hierdie prosedure aan my gesig.
“Is jy steeds ’n Belgiese burger?”
“Natuurlik. Permanente verblyfreg hier, maar hoekom sal ek my burgerskap en paspoort opsê vir Burundi?”
Die pasiënt knik net. Stem in tot ’n endoskopiese mini-ritidek-tomie, met rinoplastie, mentoplastie en otoplastie. Die blefaro-plastie los hy, besluit op ’n bril met amber lense.
Hy lê twee nagte aan ’n drup met glukose in die Prince Louis Rwagasore-kliniek in die Rue Pierre Ngendandumwe. Daar is gaasverband om sy hele kop gedraai, behalwe sy oë en mond. Hy kan sien wanneer die chirurg inkom om sy handewerk te inspekteer, wanneer die verpleegsters die operasiewonde kom ontsmet en nuwe verbande om sy kop draai.
En hy kan voel. Dit voel asof sy hele gesig in ’n bak met gloeiende kole gedruk is, asof iemand die vel van sy hele gesig met ’n stomp mes gevil het. Pype by sy mond ingedruk, spuitnaalde in sy boud, pille met water by sy lippe, die pyn en koors deur sy hele liggaam.
Hy sien ’n verpleegster en dokter Lippens in ’n vurige fluister-gesprek. Hy sien nie die einde van die gesprek nie, verval in ’n koorsige koma.
Toe hy bykom, is die verpleegster alleen langs sy bed, wasig soos ’n skim.
“Hoe voel jy, meneer Lomas?”
Ook sy praat Engels met ’n aksent, maar hiermee is die pasiënt vertroud. Dieselfde Kreoolse tongval as dié van Jules Daagari, sy Burundiese vriend en maskersmous.
“Kan jy my hoor, meneer Lomas?”
Hy kan hoor, vaag deur die verbande om sy gewonde ore van die otoplastie. Maar kan nie praat nie, sy kakebeen styf van die mentoplastie aan sy ken. In die middel van sy gesig ’n pyn asof ’n bokser sy neus gebreek het, van die rinoplastie.
“Hier, vat ’n slukkie water. En laat ek vaseline aan die droë lippe sit. Beter? Kan jy my nou hoor?”
Asof die water en vaseline sy gehoor sal help. Hy knik.
“Jy’t ons laat skrik, meneer Lomas. Ons dog dis verby met jou. Infeksie – sepsis. Weet nie waar dit vandaan kom nie. Maar dis die risiko. Altyd kieme, al skrop jy hoe goed. Dè, drink nog water.”
“Wrs d fkn kwk?” Moeisaam oor sy droë lippe, keel rou van die pype.
“Hoe sê jy, meneer Lomas?” Sy leun nader, haar oor naby sy vaselinelippe.
“Wrs d fkn kwk?”
“Ek dink jy yl nog, maar die koors is gebreek. Drink hierdie pil, net ’n susmiddel, sodat jy weer kan slaap. Ek sal die verbande vanaand kom omruil.”
Sy hand onder die kombers uit, kry haar pols beet. Groot inspanning om die woorde oor sy stembande te kry. “Waar’s die fokken kwak?”
Sy steier tru. “Meneer Lomas!”
In sy nek die spiere gespan. “Haal die verbande af. Bring ’n spieël.”
“Kalmeer nou eers,” sê die verpleegster. “Ek kan dit nie afhaal nie, dis te gevaarlik. Antibiotiese salf vir die wonde …”
“Roep dokter Lippens.”
“Hy’s nie hier nie, hy’s by sy spreekkamer. Hy sal vanaand kom wanneer ek die verbande omruil. Drink die pil en rus.”
Hy sluk die pil, lê terug teen die kussings, raak lomerig, sluimer in.
Toe hy wakker word, voel hy beter, lê haar en inwag. Buite, deur die venster, daal die aand oor Bujumbura. Sy bed is die naaste aan die venster, sodat hy net sy kop hoef te draai om uit te kyk. Hy is bly oor die venster, wil nie ingedruk wees tussen ander beddens en pasiënte wat neul en kerm nie.
Hy wag, sluit sy oë, luister na die gedreun en getoet van karre buite in die straat.
Dan voel hy haar teenwoordigheid, hoor haar stem bokant hom: “Is dit nog seer? Het jy nog pyn?”
Haar vingers by sy ore waar sy die verband lostorring.
“Waar’s die dokter?”
“Kom later, doen nog sy saalrondtes. Die ore lyk goed, meneer Lomas. Jy’t nou mooi ore, kabouterore. Ek dink hulle kan nou oop bly, lug kry, nie meer nodig vir verbande en pleisters nie. Amper genees.”
“Hoe lank is ek al hier?”
“Vyf dae. Dis waarom die wonde al byna genees het. Kom ons kyk na die gesig.”
“Net twee nagte, het hy gesê. Dan kon ek huis toe gaan.”
“Daar was komplikasies … A, die neus.” Klik met haar tong. “Nee, aan die neus sal weer ’n bietjie getimmer en geskaaf moet word. Gesond, maar nog nie reg nie. Oor so ’n maand moet jy weer kom vir die neus.”
“Bring die spieël.”
Sy draai die laaste verband los, verwyder die gaas van sy ken. “O nee, die ken ook. Dis waar die ergste infeksie was: die nuwe ken.”
Hy probeer uit die bed opstaan, sy druk hom terug.
“Ek wil sien!”
“Netnou, netnou. Laat ek dit eers reinig. Ons wil nie met ’n nuwe infeksie sit nie, wil ons, meneer Lomas?”
Hy lê terug, laat haar toe om sy gesig met watte en ’n koel vloeistof te baai, die ontsmetmiddel skerp in sy neus.
“Kan jy dit ruik? Ek sien jou neus trek op ’n plooi, jy kan ruik. Dis ’n goeie teken. Jou sinusholtes is nie aangetas deur die infeksie nie. Dis goeie nuus, nè?”
“Wat’s fout met my neus en ken?”
“Niks is fout nie, meneer Lomas, net onafgehandelde werk as’t ware … nog onvoltooid.”
“Weekend facelift, dis wat hy gesê het, niks van onafgehandelde werk nie!”
“Hy kon die komplikasies nie voorsien het nie.”
“Ek moet badkamer toe gaan.”
“Ek bring die pan.”
“Ek wil nie die pan hê nie.”
Sy help hom uit die bed uit.
“Haal die drup uit my arm.”
“Mag nie.” Sy hou die kamerjas vir hom. “Dokter moet sy toestemming gee. Kom, stadig nou eers. Bietjie lighoofdig? Leun op my skouer tot jou