Abel se lot. Chris Karsten

Abel se lot - Chris Karsten


Скачать книгу
jy verkoue, meneer Lomas? Kan ook die nagevolge van die koors wees.”

      Sy hang die kamerjas om sy skouers, oor die hospitaaljurk sodat sy rug en boude bedek is. Hy is kort van statuur, neig tot plompheid, veral om die heupe en boude, en vet ronde dye.

      “Hoesstroop. Kan ek iets kry vir die hoes?”

      “Ek weet nie, sal eers die dokter moet vra.”

      “Chamberlain’s, dis onskadelik. Net ’n paar slukkies Chamberlain’s vir die hoes en die rou keel.”

      “Ek sal kry.”

      Hy slof deur toe, die staander van die drup in sy een hand. Die vel van sy gesig nog styf, maar nou verlos van die verbande. In die badkamer kry hy die spieël.

      Hy herken nie die gesig nie. Hy was kenloos. Nou is daar ’n ken in die spieël, ’n grote, die vel ingevalle soos kraters op die maan se oppervlak. Die eens plat neus is nou skerp en skeef, die punt opgebuig, die neusvleuels gesper.

      ’n Karikatuur – dís die gesig wat hy in die badkamerspieël aanskou. Net sy oë herken hy. Die trae knip van die lui oog.

      Jy is nie mooi nie, het sy moeder vir hom gesê, moet dit nie vererger deur leuens te vertel nie. Hy was toe tien, twaalf jaar oud. Later, op dertig, het sy gesê: Elke mens verdien die gesig wat hy het. Hy het nie geweet wat sy daarmee bedoel nie.

      Onafgehandelde werk. Om die neus reguit te maak, die punt af te buig, die neusvleuels te vernou. En aan die ken te timmer. Die kratervel van die infeksie, weet hy, is gedane sake. Daaraan kan niks gedoen word nie. Hy ken huide en velle, en sien nie kans vir ’n veloorplanting nie. Daarvoor is die risiko té groot, in hierdie plek met sy gevaar van infeksie.

      Hy skuifel met die drup terug na die groot saal, verby beddens vol kreunende, kermende mans, kruip terug onder die komberse van sy bed by die venster. Neem ’n sluk van die hoesstroop uit die bruin bottel. Hy hou van die dropsmaak, die streling van die dik stroop in sy keel.

      Hy vat nog ’n sluk, lê hoog op teen die kussings en bestudeer die etiket op die bottel, die bestanddele van die mengsel: liquorice, ipecac-ekstrak, die preserveermiddel natriumbensoaat. Hy plaas die bottel op die bedkas terug. Ipecac. Sy moeder het ipecac-stroop vir sy pa en broer gegee toe hulle die nag skielik saam siek geword het. Ipecac-stroop was ’n huismedisyne om vomering te stimuleer as iemand per ongeluk iets giftigs inkry. Nie vir sy pa en broer gehelp nie.

      Hy dwing hulle uit sy gedagtes, wag op die besoek van dokter Lippens. Hy wens hy het sy MP3 gehad om na Paganini te luister.

      Sy gedagtes draai na Jules van Bujumbura wat hy in Johannesburg ontmoet het, Jules wat die Afrikamaskers vir hom gebring het vir sy galery met etniese artefakte in die mall. Al sy pragtige, outentieke maskers wat van die mure af met hom gepraat het, hulle stories en legendes en mites met hom gedeel het. Nou weg, in bokse gepak, besig om stof te vergaar in ’n donker, muwwe kamer waar die polisie se bewysmateriaal toegesluit word.

      Kon nie verhelp word nie, kon hulle nie saambring nie, die vlug voor die polisie uit te skielik, te haastig, so onverwags. Maar hy sal ander kry, saam met Jules, op hulle reise deur Afrika. Na die Bwa en Nuna in Burkina Faso, die Bamana in Mali, die seldsame oorlogmaskers van die Grebo in die Ivoorkus.

      Ja, hy sal graag ’n Grebo wil gaan soek. Die klein, ronde ogies, simbolies van waaksaamheid en aggressie, die tande skerp gepunt en ontbloot, die reguit neus as uitbeelding van onversetlikheid – soos sy eie, nuwe neus, al is dit krom. ’n Grebo as aanduiding van die nuwe fase van sy lewe en sy lot, nou bevry van die keurslyf wat hom vyftig jaar aan sy moeder vasgebind het. ’n Grebo in die plek van sy geliefde Punu wat hy aan ’n gesiglose skedel agtergelaat het.

      “Meneer Lomas, bly om te sien dat jy weer met ons is.”

      Hy maak sy oë oop, sien die perfekte proporsies van die chirurg se gelaatstrekke, die harmonie en balans wat die neus en ken aan die gesig verleen. Ruik die sagte aroma van naskeermiddel aan die vleklose vel. Hoor die oe en a en ’m-’m terwyl die vingers die vel van sy wange, neus, ken, ore betas en inspekteer, voel die koue metaal van die stetoskoop teen sy bors.

      “Hoeveel prosedures vir kosmetiese chirurgie het jy al uitgevoer, dokter Lippens?”

      “Die neus is nie reg nie. Die stut het verskuif toe ons die infeksie probeer behandel het. Kraakbeen het skeef aangegroei.”

      “Hoeveel?”

      “Honderde. Rekonstruktiewe chirurgie, dis eintlik my veld. Slagoffers van brande, ongelukke, skietvoorvalle, deformiteite met geboorte.”

      “Jy’t gesê twee nagte.”

      “Aan die ken sal ons ook moet skaaf, miskien ’n kleiner inplanting, nie so prominent nie. Maar beter as geen ken nie, nè, meneer Lomas? Ten minste hét jy nou ’n ken.” Sy glimlag meewarig.

      Die pasiënt lieg nie graag nie, daaroor het sy moeder hom kleintyd ernstig betig, vuur en swael oor sy kop. Maar soms, so glo hy, is ’n wit leuen onvermydelik, sal selfs sy moeder dit verstaan en hom verskoon.

      “Kan ek oor ’n maand kom vir die laaste werk aan my gesig? Die verpleegster het gesê ’n maand. Tyd vir herstel van die sagte weefsel, dan sal ek gereed wees vir die regstellings.”

      “Natuurlik, meneer Lomas. Ek’s bly dat jy dit in so ’n goeie lig beskou, dat jy begrip het vir die risiko’s en gevare van infeksie. Jy sal nie glo nie, maar ek het al pasiënte gehad wat buite weste van woede raak wanneer die verbande verwyder word.”

      “Dan word ek nou ontslaan?”

      “Miskien môreoggend. Bring nog vannag in die hospitaal deur, vir veiligheid. Ek’s trots op jou ore, dié het mooi uitgekom. Plat teen jou kop, Michelangelo kon dit nie beter gedoen het nie.”

      Kabouterore.

      “Hoekom Burundi?” vis hy uit. “Is Europa nie vir jou beter nie, waar die gevaar van infeksie nie so groot is vir jou pasiënte nie? Verkies jou vrou nie om eerder dáár te bly as hier in Afrika nie?”

      “Dan gaan ek nou eers. Nog pasiënte om te besoek voor ek huis toe kan gaan, en dis al byna tienuur. En dit op ’n Saterdagaand! G’n tyd vir myself nie. Môreoggend vroeg sal ek kom kyk. As alles reg is, teken ek die vorm vir jou ontslag. Reg so, meneer Lomas?”

      “Hy’s nie getroud nie,” skinder die verpleegster toe die dokter by die saal uit is.

      “O,” sê die pasiënt. “Ek wil nie gepla word nie, wil nou slaap. Maak die gordyne om die bed toe.”

      Hy wag tot sy uit is, trek die drup se naald uit sy arm, trek die kamerjas aan, bind die gordel om sy bultende buik. Soek sy skoene in die bedkas van blik waarvan die wit emaljeverf plek-plek afdop en roeskolle uitslaan. In die bedkas, by sy klere en skoene, is sy beursie, horlosie, sleutels vir sy viertrekbakkie en die deur van die agterkamer wat hy by die weduwee Demarcéne huur. En ’n mes met ’n lem van vlekvrye staal, bedoel vir taai senings en kraakbeen wanneer diere geslag word, vervaardig deur J. Russell & Co. van Turner’s Falls in Massachusetts.

      Hy druk die mes in die kamerjas se sak en stap na die venster. Die saal is nou feitlik stil, die skerp ligte verdof, net hier en daar uit ’n bed nog ’n sug of ’n steun, voordat die slaappille en susmiddels vir die nag hulle werk begin doen.

      Hy maak die knip los, skuif die raam op, voel die vars lug van die soel, subtropiese nag op sy gewonde gesig. Hy klouter uit, druk die raam af. Die kliniek met sy groot gronde is op die hoek van twee strate, sy venster aan die sykant waar die personeel hulle karre parkeer. Voor by die hoofingang is plek vir besoekers, en vir ambulanse na die trauma-ingang langsaan.

      Hy staan onder die akasia langs die muur, ’n roerlose beeld in sy kamerjas. Bespied die skadu’s en donker omgewing, kyk ’n slag deur die takke op na die hemel, sien geen sterre nie, bedek deur donker wolke wat van die Tanganjika-meer af begin opsteek.

      Maar dan kom iemand by die sydeur uit, klim in ’n kar en ry weg. Sy fokus dadelik terug by die karre


Скачать книгу