Tryna du Toit-omnibus 7. Tryna du Toit
te ontnugter?”
“Dis nie ’n kwessie van ontnugtering nie. Ek dink ek het maar net grootgeword en geleer om vir myself te dink. Ek het begin besef daar is ’n verskil tussen liefde en verliefdheid. En ek het ook begin besef hoe eng en beskermd my lewe nog altyd was. Met hulle liefde het my ouers ’n ringmuur om my gebou – net soos daardie wit ringmuur wat Mon Désir omhein. Hulle het my vriende gekies, my vakansies gereël en besluit watter kursus ek op universiteit moet volg. En ek het dit maar alles gedwee aanvaar en selfs toegelaat dat hulle my toekomstige man vir my kies! Ja, Andries, jy weet goed dit is so. Ons het langs mekaar gewoon, daar is gedurig oor en weer gekuier, en later het almal dit as vanselfsprekend aanvaar dat ons eendag sal trou. En omdat ek so baie van jou gehou het, was dit maklik om saam met die stroom te gaan. Ek blameer nie my ouers nie. Ek weet hulle bedoeling was goed, maar ek het begin voel ek is vasgehok, ek moet wegkom, ver weg van die ringmuur wat my hele lewe omsluit. Ek wil sien hoe die wêreld daar buite lyk, ek wil op my eie voete staan, vir myself dink, my eie besluite neem.”
“Ek begryp. En jy het gevoel ek wil jou ook binne daardie ringmuur hou.”
“In ’n mate, ja,” erken sy weer. “En as ek jou liefgehad het, sou ek seker nie omgegee het nie, sou ek die res van my lewe gelukkig en tevrede agter daardie ringmuur gebly het. Maar ek besef nou dis nie genoeg nie. Ek wil meer van die lewe hê as net dit. En as ek die dag trou, wil ek nie net ’n gerieflike meubelstuk of ’n mooi ornament in my man se huis wees nie. Ek is my eie mens, en of my man nou ’n besige dokter of die president is, ek weier om net ’n ornament of ’n meubelstuk in sy huis te wees!”
Andries de Wet kyk na haar en daar is belangstelling sowel as verbasing in sy blik. So het hy haar nog nooit hoor praat nie. Hy ken Cathy nou byna sewe jaar: hy het haar geken as ’n skooldogter, ’n ontluikende bakvissie, ’n gretige student en ’n wonderlike meisie wat met die jare ’n onafskeidbare deel van sy lewe geword het. Hy het gedink hy ken elke gedagte, elke bui van haar. Maar Cathy het die afgelope tyd verander. Dié vasberade jong meisie wat vanoggend hier langs hom sit en al die vreemde dinge met soveel oortuiging sê, ken hy glad nie.
“Ek het nog nooit aan jou as ’n meubelstuk of ’n ornament gedink nie,” sê hy nou sag maar met oortuiging. “Jy is al so lank deel van my lewe dat ek nie kan onthou waar en wanneer ek jou begin liefkry het nie.”
“Jy het my nie regtig lief nie, jy het maar net met die jare aan my gewoond geraak. Dit was handig om altyd ’n meisie byderhand te hê as jy die slag lus voel om ’n bietjie te ontspan, maar dit kon enigiemand gewees het, nie noodwendig ek nie. Sy moes maar net daar wees as jy haar nodig het, en tevrede wees om geduldig op die agtergrond te wag as jy haar nie nodig het nie.”
“Ek dink jy is baie onbillik, Cathy. Toe ons verloof geraak het, het ek jou gewaarsku dat dit ’n baie moeilike jaar sal wees, dat ek baie hard sal moet werk. As ek daardie beurs kry, beteken dit dat ons volgende jaar Engeland toe sal kan gaan.”
“Ek hoop jy kry die beurs, maar ek sal nie saamgaan nie. Ek is nie meer geïnteresseerd nie.”
“Wat help die beurs my as ek jou verloor?”
“Jou hart is nie regtig gebreek nie, Andries,” sê sy sag, met ’n effense glimlag. “Jy is nou kwaad en gekrenk, maar jy sal gou besef dis beter so. Jy kan nou so lank en so laat by die hospitaal bly as wat jy wil sonder om jou te bekommer oor jou vrou wat alleen by die huis vir jou sit en wag. Naweke kan jy saam met jou vriende gaan visvang . . .”
“Jy het my nog nie vir daardie naweek vergewe nie, nè?”
Nee, ek het nog nie vergeet nie, dink Cathy. Andries het belowe om die langnaweek in Mei saam met haar Hermanus toe te gaan en sy het besonder uitgesien daarna. Wanneer Andries nie by die hospitaal was nie, moes hy klas loop of studeer en sy het omtrent niks van hom gesien nie. Sy sou hom die hele naweek net vir haarself hê! Op die ou end moes hy egter die naweek diens doen en sy is alleen Hermanus toe. Maar dit was nog nie die ergste nie. Net die volgende naweek het hy en ’n paar van sy medestudente by Steenbras gaan kamp – kamtig om ’n klompie gevalle wat hulle behandel het, te bespreek en verder voor te berei vir ’n belangrike eksamen. Dit was natuurlik heeltemal per toeval dat hulle twee mooi geelbekke en ’n halfdosyn galjoene gevang het!
Dit was miskien onredelik van haar, maar toe hy die aand ewe in sy noppies vir haar sy vis kom wys, het sy hom allerhande verwyte toegeslinger. Hulle het ’n hewige rusie gehad, een van die min tussen hulle. Hulle het gou weer opgemaak, maar die herinnering aan daardie mislukte naweek en die gebeure daarna het haar lank bygebly. Dit was miskien een van die dinge wat aanleiding gegee het tot haar onsekerheid.
Sy haal nou haar skouers op en sê: “Dis alles lankal verby, maar dit bewys tog wat ek gesê het: jy het vir alles en almal tyd gehad, behalwe vir my. Nee, ek verwyt jou nie, ek wil jou net laat verstaan dat daar ’n verskil is tussen opregte liefde en die gevoel – half gewoonte, half verliefdheid – wat ons vir mekaar gehad het. Eendag as jy ’n meisie ontmoet wat jy regtig liefkry, sal jy onthou wat ek vandag vir jou gesê het.”
Andries de Wet kyk ’n ruk lank fronsend voor hom uit. Dan sê hy: “Dié vriend van jou, Jos de Lange – het hy iets te doen met jou besluit om nie met my te trou nie?”
“Ek is nie verlief op hom nie, soos ek vanoggend vir my ma gesê het toe sy my dieselfde ding gevra het.”
“Jy het die afgelope tyd heelwat van hom gesien, nie waar nie?”
“Nogal. Ons was saam in die jaarblad se redaksie, ons stel belang in dieselfde dinge – musiek, drama, kuns – en ek was ’n paar keer saam met hom by uitstallings en konserte. Ek het jou daarvan gesê en jy het nie beswaar gemaak nie. Ek dink Jos de Lange is ’n baie interessante en stimulerende man en ons is goeie vriende, maar niks meer nie.”
“Ek sien,” sê hy. Nóg sy gesig nóg sy stem verraai sy gedagtes. “Wat is sy planne vir volgende jaar?”
“Hy het ’n deeltydse werk as uitsaaier gekry en wil hom verder op joernalistiek toelê. Maar voor hy begin, gaan hy saam met ’n vriend deur Afrika reis.”
“Dit klink interessant. En jy, wat gaan jy nou doen?”
“Wilna soek iemand om ’n woonstel met haar te deel.”
“Dan sal ons volgende jaar saam in Kaapstad wees.”
Sy glimlag effens. “Ek hoop jy sal vir my kom kuier – later, as jy nie meer so kwaad is nie.”
“Ek is nie kwaad vir jou nie. Hartseer en teleurgesteld, ja, maar nie kwaad nie.”
Hy staan op en sy sit haar boeke neer en staan ook op. Uit sy sak haal hy die ring met die een pêrel wat sy die vorige aand vir hom teruggegee het. Hy kyk daarna en sê: “Ek het jou destyds gewaarsku die mense sê pêrels beteken trane. Maar jy het volgehou jy wil ’n pêrelring hê en niks anders nie.”
Sy voel skielik ’n prikkeling van trane agter haar ooglede en in haar keel. Sy het die pêrel nie net gekies omdat dit goedkoper was nie, maar omdat sy dit bo ’n diamant verkies het. Hoe gelukkig was sy destyds, hoe seker dat niks of niemand hulle liefde kon aanraak nie.
“Dit help nie om nou die pêrel te blameer nie – die skuld lê by jou en my!”
Onverwags sê hy: “Wil jy my nie nog een kans gee om te wys dat ek jou liefhet nie, Cathy? Dat dit nie net gewoonte of verliefdheid is nie? Ek belowe jou, ek sal dié keer beter vaar.”
’n Oomblik kyk sy diep in sy oë. Sy sien die ongelukkigheid wat daarin skuil, hoe moeg en bedruk hy lyk, en ’n oomblik weifel sy. Haar ma is reg. Sy sal ver moet soek om weer ’n man soos Andries de Wet te kry. Wat wil sy meer hê? Dan sien sy die wit ringmuur om Mon Désir, sy dink aan die eensaamheid en hartseer van die afgelope maande, en sy weet dat sy die regte ding doen.
Sag maar beslis sê sy: “Ek is jammer, Andries. Ek het jou nie lief nie en ek sal ons albei net ’n groot onreg aandoen as ek met jou trou.”
Sy gesig verhard effens. ’n Paar tellings kyk hy na haar, dan sit hy die ring terug in sy sak.
“Dan