Tryna du Toit-omnibus 7. Tryna du Toit
’n blink gedagte! Jy moes net eerder daaraan gedink het.” En dan sag, gebiedend. “Wat makeer? Vir wie is jy kwaad?”
“Sommer vir almal,” sê Cathy, en hy kan hoor sy is baie na aan trane. “’n Mens sou sweer ek het ’n misdaad begaan soos die familie te kere gaan. Sal jy Ouma gaan sien?”
“Ek sal. En as ek kan help – of as jy miskien besluit dit sal eenvoudiger wees om met my te trou – moet jy maar net laat weet. Maar dan sal jy gou moet praat. Ek maak Vrydag klaar en voor ek by die hospitaal begin, gaan Gawie en ek vir twee weke êrens langs die see kamp en visvang.”
“So! Jy hardloop weg en gooi my alleen vir die wolwe.”
“My liewe meisie, die keuse was joune, nie myne nie,” sê hy koel en ongevoelig. “As jy van plan wil verander – jy het tot Vrydag kans. Daarna sal ek nie meer beskikbaar wees nie.”
“Wees gerus, ek sal nie van plan verander nie,” sê sy koud. “En geniet jou vakansie. Dit sal seker heelwat interessanter wees as om saam met my Drakensberge toe te gaan.”
“Ek begin self so dink,” sê hy en sit die telefoon neer.
Vererg stap Cathy weg. Ongevoelige, vermetele vent! Maar sy is ontsteld en ongelukkig. Sy wil nie met Andries rusie maak nie.
Wat makeer haar? wonder sy in ’n skielike vlaag van onsekerheid. Is dit verkeerd van haar om meer te wil hê as die sekuriteit wat Andries haar bied? Op sy manier is hy lief vir haar; sy weet hy sal alles in sy vermoë doen om haar gelukkig te maak. Wat meer wil sy hê? Aan die begin was sy so gelukkig en so opgewonde oor hulle toekoms saam. Wat het gebeur om alles te verander? Wat sal sy daar buite die ringmuur vind? Die vervulling waarvan sy droom, of teleurstelling en ontnugtering? Sal sy as dit te laat is, ontdek dat sy besig is om ’n illusie na te jaag – dat sy haar kans op geluk deur haar vingers laat glip het?
Sy weet nie, maar een ding weet sy vas: as sy die dag trou, sal dit wees omdat sy die man van haar keuse met haar hele hart en siel liefhet. So nie sal sy liewer ’n oujongnooi bly.
Die volgende middag bel Jos de Lange en vra of sy by die huis is. Sy vriend het gouer klaargekry as wat hy verwag het en hulle vertrek nou die volgende oggend vroeg. Hy wil graag kom groet en sommer haar getekende eksemplaar van die jaarblad bring.
“Ek is hier,” sê sy, bewus van die skielike opwinding wat in haar roer. “Wil jy nie sommer saam met ons kom eet nie? Dis net my ma en pa en ek.”
Na ’n oomblik se aarseling neem hy die uitnodiging aan, mits hulle hom net na ete sal verskoon. Hy moet nog ’n paar dinge doen en het nog nie begin pak nie.
Sy het haar ma vertel dat Jos die aand saam met hulle eet. Haar ma het niks gesê nie, maar daar was ’n peinsende blik in haar oë. Cathy het geweet haar ouers sal vanaand met nuwe belangstelling na Jos de Lange kyk.
Sy tel die Franse boek op wat sy gelees het toe Jos gebel het, maar dit is nie so maklik om weer haar aandag by haar studies te bepaal nie.
Sy ken Jos de Lange nou byna twee jaar. Hy is ’n jaar of twee ouer as Andries en het ’n paar jaar in Johannesburg as joernalis gewerk. Sy het hom leer ken toe hy aan die begin van verlede jaar teruggekom het vir sy m.a.-graad. Omdat hulle albei in musiek en drama belang stel, het hulle mekaar dikwels by konserte en opvoerings raakgeloop. Maar hy was destyds geïnteresseerd in Annette Malherbe, ’n vierdejaarstudent in dieetkunde, terwyl sy vir niemand anders as Andries de Wet oë gehad het nie. Hulle vriendskap het taamlik oppervlakkig gebly.
Annette en Jos was ’n interessante paartjie. Annette was mooi sowel as slim en het die onderskeiding gehad dat sy twee jaar ná mekaar as joolkoningin gekies is. Albei was uitstekende studente en gewild in die studentegemeenskap, en almal het verwag dat die verhouding in ’n verlowing sal eindig. Annette is egter aan die einde van die jaar weg sonder dat iets gebeur het en dit was blykbaar ook die einde van hulle verhouding.
Niemand het geweet wat gebeur het nie, en nóg Jos nóg Annette het ooit iets gesê. Maar dit was natuurlik onvermydelik dat daar allerhande skinderstories sou wees. Baie mense het onthou dat Jos as jong student ’n taamlik Boheemse vriendekring gehad het wat bekend was vir hulle wilde partytjies en dat hy self een keer in die hof was vir dronkbestuur. Volgens gerugte het Jos se ou kwaal weer kop uitgesteek en nadat hy een aand versuim het om ’n belangrike afspraak met Annette na te kom, het sy summier ’n einde aan die verhouding gemaak.
Of daar enige waarheid in die gerugte steek, weet Cathy nie, maar sy betwyfel dit ten sterkste. Miskien het Jos hom as jong student af en toe ’n bietjie te buite gegaan – hoeveel jong studente doen dit nie? – maar daardie dae is lankal verby. Vandat sy hom ken, het sy nog nooit so iets agtergekom nie. Die paar keer wat hulle saam uitgegaan het, was sy gedrag onberispelik en hy het nog nooit eens in haar teenwoordigheid ’n glas wyn gedrink nie. Gewoonlik verkies hy tee of koffie of vrugtesap. Eendag sal sy miskien nog die kans kry om met hom oor Annette te gesels, maar sy is seker dat hulle om heeltemal ander redes uitmekaar is. Dalk het hulle ook, soos sy en Andries, ontdek dat hulle net nie lief genoeg is vir mekaar nie.
In die jaar wat verby is, het sy Jos dikwels gesien. Aan die begin was die ontmoetings heeltemal toevallig, maar een nat, koue middag het hy haar genooi om saam met hom te gaan koffie drink. Hy het haar later huis toe geneem en hulle het buite in die motor gesit en gesels totdat die reën en donkerte haar uiteindelik binnegejaag het. In die dae daarna was hy dikwels in haar gedagtes.
Hulle het albei in die redaksie van die jaarblad en die dramavereniging se komitee gedien, en ná daardie middag het hulle dikwels ná vergaderings gaan koffie drink. Jos het geweet sy is verloof en hy was een van die eerste mense wat sy van hulle trouplanne vertel het. Hulle was bloot goeie vriende en selfs Andries het nie beswaar gemaak as Jos af en toe saam met haar na ’n simfoniekonsert toe gaan wanneer hy self te besig was nie.
Jos se houding teenoor haar was van die begin af heeltemal anders as Andries s’n. Andries was tegelyk grootbroer, beskermer, vriend en minnaar. As hy aan haar gedink het, was dit teen die agtergrond van Mon Désir met sy wit ringmuur en die ou Kaapse tradisies waarmee hulle albei grootgeword het. Vir Jos was sy ’n persoon in eie reg; hy het haar geoordeel volgens wat sy was en wat sy self bereik het, nie volgens haar pa en haar broers se prestasies, of Ouma Joubert se silwer en koper en kosbare stinkhoutmeubels nie.
“Arme, bevoorregte klein meisietjie,” het hy eendag half tergend, half spottend gesê. “Hoe min weet jy van die lewe anderkant die wit ringmuur! En hoe sal jy ooit leer om op jou eie voete te staan en vir jouself te dink as jy nou met Andries de Wet trou? Verstaan my goed, ek het niks teen Andries nie. Hy is ’n goeie ou, ’n steunpilaar van die samelewing, maar sonder ’n greintjie verbeelding. Hy sal sy vrou in watte toedraai, hy sal haar alles gee wat haar hart begeer en dan baie verbaas wees as sy nie doodgelukkig is nie. Dat sy ook ander behoeftes kan hê, sal nooit eens by hom opkom nie.”
“Nie Andries nie,” het sy gestry, maar sy het gedink aan die eensaamheid van die afgelope maande en skielik onthou dat Andries nie juis geesdriftig was oor haar toekomsplanne nie. Daardie dag is die eerste saadjie van twyfel in haar hart geplant.
“Glo jy nie aan die huwelik nie?” het sy uitdagend vir Jos gevra.
Hy het geglimlag. “Ek dink dis ’n uitstekende instelling – mits die een vennoot nie die ander oorheers nie. Ek erken daar is baie vroue wat niks meer van die lewe wil hê as om beskerm en op die hande gedra te word nie, maar daar is ander – onder wie ek jou tel – wat binne ’n paar jaar sal voel of hulle kan sterf van verveling en frustrasie.”
“Dankie,” het sy sarkasties geantwoord. “Dis seker bedoel as ’n kompliment.”
“Dit is,” het hy met ’n glimlag geantwoord. En toe weer sober: “Verstaan my goed, ek sê nie jy moenie trou nie. Ek sê ook nie jy moenie met Andries trou nie. Ek sê net jy moet heeltemal seker wees jy weet wat jy van die lewe wil hê voor jy so ’n belangrike stap neem. Waarom so haastig? Waarom nie eers ’n bietjie rondkyk en uitvind wat anderkant die ringmuur lê nie?”
Aan die begin het sy met hom gestry, maar die saadjie van twyfel het posgevat en gegroei. Hoe meer sy daaraan gedink het, hoe meer het