Tryna du Toit-omnibus 7. Tryna du Toit
“Ek hoop so. Solank jy net besef daar is nie sprake van iets meer as vriendskap nie.”
“Ek verstaan. En jy hoef nie bang te wees nie – ek sal jou nie lastig val nie. Is jou ouers hier? Ek wil hulle graag ’n oomblik sien.”
“Hulle is albei hier en my ma het belowe om haar te gedra!”
Hy neem haar hand in syne en kyk ’n oomblik na die vinger wat sy ring gedra het. Dan sê hy sober: “Ek hoop jy is gelukkig en dat die lewe buite die ringmuur alles is wat jy soek.” Hy glimlag effens. “Pas maar op vir die wolwe – daar buite die ringmuur is baie van hulle!”
Ook sy glimlag effens. “Ek sal.”
’n Oomblik druk hy haar hand styf in syne, dan draai hy om en stap weg in die rigting van die huis.
Elsabé Joubert het ook die swart motortjie by Mon Désir se hekke sien inry. Uit die voorkamervenster het sy gesien Andries stap na Cathy toe in die somerhuisie. Toe hy so lank wegbly, het sy begin hoop dit was alles maar net ’n misverstand. Gespanne wag sy, te ontsteld om met haar werk aan te gaan, maar toe Andries ’n rukkie later alleen na die huis aangestap kom en sy die uitdrukking op sy gesig sien, het sy geweet.
Die gesprek met Cathy se ouers het nie lank geduur nie. Die professor en sy vrou was albei teleurgesteld oor die verloop van sake, maar hulle was verstandige mense en het nie veel gesê nie. Andries het belowe om Cathy in die Kaap te gaan opsoek, die Jouberts het hom alle sukses met sy hospitaaljaar toegewens en daarmee is hy weg. Hy het in sy motor geklim en weggery sonder om weer in Cathy se rigting te kyk.
Vanuit die somerhuisie kyk Cathy die swart motortjie agterna. Die gewig wat die afgelope weke so swaar op haar hart gerus het, is weg; sy voel lig en vry. Maar sy voel tog hartseer. Sy sal Andries mis. Hy was haar eerste en tot dusver enigste liefde en sal altyd ’n spesiale plekkie in haar hart hê. Maar sy het haar kinderskoene ontgroei en daarmee ook haar aanbidding van Andries de Wet. En sy het hom mos darem nie heeltemal verloor nie. Andries het belowe hy sal in die Kaap vir haar kom kuier, en sy sien reeds daarna uit om hom weer te sien.
Dit is dan die einde van ’n hoofstuk, dink sy. Anderkant die ringmuur wag die wye wêreld daar buite, en dis met ’n gevoel van opwinding dat sy aan die toekoms dink. Want Jos de Lange is ook deel van daardie toekoms!
Sy is nie op Jos verlief nie, het sy vir haar ma en netnou ook vir Andries gesê, maar net die gedagte aan Jos gee haar ’n vreemde tinteling.
Wat weet jy van die lewe? het hy eendag vir haar gevra. Arme, bevoorregte ou meisietjie! Jou hele lewe lank het hulle jou gevange gehou daar agter die wit ringmuur, en as jy nou met Andries de Wet trou, sal jy nooit daar uitkom nie. Jy is ’n begaafde meisie, jy het baie moontlikhede, moenie toelaat dat hulle jou en jou talente versmoor met hulle liefde nie. Daar is so baie om te doen, so baie om te ervaar, waarom wil jy jou nou al bind?
Nee, sy is nie verlief nie. Daar is nog baie dinge in Jos de Lange wat vir haar vreemd is, wat sy nie verstaan nie. Maar hy is die interessantste en opwindendste man wat sy nog ooit geken het.
Hoofstuk 2
Ouma Joubert woon die afgelope sestien jaar, vandat haar man dood is, alleen in die leidakhuis in die oudorp. Die huis, wat oorspronklik nog aan haar ouers behoort het, is vas teen die straat gebou en die een hoek van die stoep is met glas toegemaak en vol varings en potplante. Hier sit sy graag wanneer sy moeg gewerk is, met ou Wagter, wat in hondejare byna net so oud soos sy is, aan haar voete.
Hoewel Ouma Joubert reeds digby tagtig is, is sy nog besonder aktief. Met die hulp van twee getroue werkers, Mieta en Tom, behartig sy self die huishouding en tuin, en sy stel nog intens belang in die politiek en wêreldsake. Sy is ’n bekende en gerespekteerde persoon op die dorp en hoewel baie van haar tydgenote reeds van die toneel verdwyn het, het sy ’n wye vriendekring. Elke Woensdagoggend is sy “tuis” om besoek te ontvang. Die vorige dag reeds word daar vars blomme in die woonkamer gesit, die ou silwer en koper word gepoets, die luike word wyd oopgestoot, en besoekers kan altyd reken op lekker melktert en ander versnaperinge.
Toe Cathy en haar pa die middag daar kom, sit sy oudergewoonte op die stoep met ’n stukkie hekelwerk op haar skoot. In die oggend werk sy, maar smiddae trek sy ’n mooi rok aan en gaan sit met Wagter op die stoep in die hoop dat van haar kinders, kleinkinders of vriende sal verbykom en ’n bietjie sal kom kuier en gesels.
Alie Joubert is klein en skraal gebou, ’n opvallende figuur met haar regop houding, donker oë en spierwit hare. Sy was ’n nooi De Waal en stam uit die ou Kaapse aristokrasie. In haar jong jare was sy bekend as een van die mooi De Waal-susters, en die kleinkinders luister graag wanneer sy oor die ou dae gesels. Sy het haar man en kinders met ’n sterk hand regeer en hoewel die kinders vandag almal getroud en uit die huis is, koester hulle steeds ’n diepe ontsag vir haar en word sy gereeld oor belangrike familiesake geraadpleeg. Sy is baie lief vir haar kleinkinders en trots op hulle prestasies, maar wee hulle as hulle die dag verbrou. So seker as wat die son opkom, sal hulle by Ouma moet deurloop.
Cathy se verlowing aan Wynand Louw se gawe stiefseun het Ouma se heelhartige goedkeuring weggedra en sy het dadelik begin hekel aan ’n tafeldoek vir Cathy se uitset. Die tafeldoek is onlangs voltooi en plegtig aan Cathy oorhandig. Sy het ’n lewendige belangstelling in die troureëlings gehad, en Cathy wonder onrustig wat Ouma se reaksie op haar nuus sal wees. Sal sy baie kwaad wees? Sy is dankbaar vir haar pa se onderskraging.
Ouma Joubert se gesig verhelder toe sy haar seun en kleindogter sien.
“Dis ’n aangename verrassing,” sê sy. Sy verneem na haar skoondogter, gesels hiervan en daarvan en beveel hulle om te sit. Dan kyk sy na Cathy en sê: “Het jy toe gister jou trourok gaan aanpas? Ek het gedink jy sal vir my kom sê hoe dit lyk.”
Cathy kyk vinnig na haar pa. Hulle het ooreengekom dat dit beter sal wees as Cathy self die nuus aan haar ouma oordra. Haar pa se blik is bemoedigend en Cathy skraap al haar moed bymekaar en draai na haar ouma. Nog voor sy egter kan praat, sê haar ouma: “Wat makeer, my kind? Is die rok nie na jou sin nie?”
Ouma se intuïsie is soos gewoonlik onfeilbaar!
“Die trourok is pragtig, Ouma, maar ek gaan dit nie meer dra nie. Altans nie nou nie. Andries en ek trou nie meer volgende maand nie. Ek . . . ek het gisteraand ons verlowing verbreek.”
Alie Joubert kyk haar kleindogter stilswyend aan, die donker oë skerp en ondersoekend.
“Wat het jou besiel om so iets te doen, Catherina?” vra sy uiteindelik koud.
Catherina! Dit beteken Ouma is baie omgekrap. Vreemd genoeg gee dit Cathy die moed om kalm te sê: “Ek het Andries nie lief nie, Ouma. Ek sal ons albei net ongelukkig maak as ek met hom trou.”
“En jy ontdek dit nou eers? Watter onsin! Geluk is nie iets wat sommer vanself kom nie. ’n Mens werk daaraan. Waaroor het julle rusie gemaak?”
“Ons het nie rusie gemaak nie. Ons is nog goeie vriende. Ons gaan net nie meer trou nie.”
“Besef jy wat jy doen, kind? Andries de Wet is in alle opsigte ’n eersteklas jong man. Jy sal ver moet soek om weer sy gelyke te kry.”
“Al is hy hoe gaaf, kan ek nie met hom trou as ek hom nie liefhet nie.”
“Liefde! Jy praat soos ’n romantiese skooldogter, Catherina. Verbeel jou, om so ’n gawe jong man soos Andries de Wet in die pad te steek. En dit ’n paar weke voordat julle sou trou. Jou pa behoort jou oor sy skoot te trek en ’n deftige pak slae te gee!”
Cathy se gesig is wit, maar trots sê sy: “Hy kan my ’n pak slae gee, maar hy kan my nie dwing om teen my sin met Andries te trou nie.”
“As jy my dogter was, sou jy nie so gepraat het nie. Ek sou seker gemaak het dat jy jou beloftes nakom.”
“Daardie dae is verby, Moeder,” sê Pieter saggies, paaiend. “Vandag se kinders laat nie vir hulle voorskryf nie.”
“Die fout lê nie by vandag se kinders nie, dit lê by hulle ouers. Hulle het mos geglo aan sielkunde, nie aan dissipline nie.