Tryna du Toit-omnibus 7. Tryna du Toit
dat Jos de Lange ook deel van daardie lewe sal wees.
In die sitkamer wag haar ouers op haar. Cathy is bewus van haar ma se ondersoekende blik en die herinnering aan Jos se ligte soen laat haar skuldig bloos.
“’n Interessante jong man,” sê haar pa, “hoewel ek nie met al sy idees saamstem nie. Maar intelligent, belese en vol ondernemingsgees. ’n Man wat dit met ’n bietjie geluk nog ver in die lewe sal bring.”
“Hy sal dit nog ver bring, ek is seker daarvan,” sê Cathy. “As hy ’n ding aanpak, is hy met niks minder as die beste tevrede nie. Hy het die talent, maar ook die geesdrif en ’n geweldige werkvermoë. Almal praat van die puik jaarblad – Jos sê die rektor het hom ook gelukgewens.”
“Ek het nog nie tyd gehad om daarna te kyk nie,” sê Pieter Joubert. “As ek joune kan leen, sal ek dit graag vanaand ’n bietjie deurblaai.”
Elsabé Joubert sê niks nie. Sy sien die sagte glans in haar dogter se oë en ’n vae gevoel van onrus roer in haar hart. Hy is ongetwyfeld ’n knap, selfs briljante jong man wat dit seker nog ver in sy rigting sal bring, maar sy sou honderd maal liewer wou sien dat Cathy ’n man soos Andries kies. Andries sal dit ook ver bring, maar dit sal deur toewyding en harde werk wees. Andries is die bekende, die veilige, die getroue, die man op wie jy altyd kan reken. Jos is ’n sensitiewe kunstenaar en stimulerende geselskap, maar of hy Andries se standvastigheid en balans het, betwyfel Elsabé ten seerste. Maar dit is miskien juis sy andersheid wat Jos so aantreklik maak vir iemand soos Cathy.
Om haar dogter teen Jos de Lange te waarsku sal op hierdie stadium egter meer kwaad as goed doen. Sy hoop maar die kind se gesonde verstand sal help om haar voete stewig op moeder aarde te hou – al is haar hart en haar kop in die wolke.
Die volgende dag het die kleremaakster Cathy se trourok afgelewer.
“Wat sal ons daarmee maak?” vra Cathy. “’n Advertensie in die koerant sit: splinternuwe trourok te koop?”
Sy probeer liggies praat, maar die uitdrukking in haar ma se oë laat haar stem skielik in haar keel vassteek. En sy is nie net om haar ma se ontwil hartseer nie, maar ook om haar eie. Net so mooi soos die wit trourok was haar drome van liefde en geluk, en dit maak seer om daarvan af te sien.
“Nee, ons sal dit nie verkoop nie,” sê haar ma. “Dis ’n droomrok en jy sal tog eendag trou. Daar is geen rede waarom jy dit nie later kan dra nie.”
Cathy sê niks nie. Sy help haar ma om die rok in ’n skoon wit laken toe te speld, maar in haar hart weet sy dat sy dit nooit sal dra nie. Sy sou die rok as Andries se bruid dra, dit is deurweef van herinnerings aan hom . . .
“Ek wil hê jy moet my net een ding belowe, Cathy,” onderbreek haar ma haar gedagtes. “Ek wil hê jy moet my belowe dat jy nie sal trou, of selfs verloof sal raak, in die jaar wat ons weg is nie. As jy sulke planne het, wag tot ons terugkom. Of vra ek die onmoontlike?”
Cathy is ’n rukkie stil, dan sê sy: “Ek dink nie daar is enige moontlikheid dat ek in die jaar wat kom sal trou of selfs verloof sal raak nie. Ek het baie planne vir die toekoms en voor ek my weer bind, wil ek heeltemal seker wees dat ek nie weer ’n fout maak nie. Maar ’n jaar is lank en ’n mens weet nooit wat kan gebeur nie. Sal dit nie genoeg wees as ek belowe om geen halsoorkop besluite te neem nie?”
Elsabé Joubert kyk na haar dogter se mooi jong gesig en kry weer daardie vae gevoel van onrus. Cathy is so onervare en onvoorbereid om die lewe alleen aan te durf.
“As jy nie meer wil belowe nie, sal dit seker genoeg moet wees.” Sy steek haar hand uit en raak liggies aan die donker hare. “Dis jou lewe, jy moet maak soos jy goed dink. Solank jy gelukkig is, vra ons niks meer nie. Jy moet seker maar vir Wilna bel en hoor of sy al iemand gekry het om die woonstel te deel. ’n Woonstel sal seker lekkerder as ’n losieshuis wees. Tensy jy tog besluit om by tannie Mona te gaan bly. Sy sal mooi na jou kyk en dit sal heelwat goedkoper as ’n woonstel wees.”
Cathy glimlag effens.
“Asseblief, net nie tannie Mona nie! Dan liewer ’n losieshuis.”
Elsabé Joubert het nie verder aangedring nie. Cathy is vasbeslote om op haar eie voete te staan en dit is seker die verstandigste om haar haar gang te laat gaan. Wat ook al gebeur, sy wil nie graag haar dogter se vertroue verloor nie.
Cathy het Wilna nog dieselfde middag gebel. Wilna was verheug om van haar te hoor en hulle het gereël om ná die eksamen ’n dag stad toe te gaan om ’n woonstel te soek. Aan die begin sal dit maar ’n klein plekkie moet wees en hulle sal die noodsaaklikste meubels en gordyne by familie moet leen of bedel, maar dit sal hulle eie koninkryk wees waar hulle kan maak soos hulle wil.
Dan sal die groot avontuur van die lewe begin!
Hoofstuk 3
Voor hy die Saterdagoggend weg is, het Andries na Ouma Joubert se huis in die oudorp gery. Hy het nie geweet wat om te verwag nie en het nie baie op sy gemak gevoel nie.
Sy het hom koel maar hoflik ontvang.
“Ek het al begin dink jy het nie my boodskap gekry nie, Andries.”
Andries maak verskoning en vra wat hy vir haar kan doen.
“Ek het niks nodig nie, dankie. Ek wil maar net van jou hoor wat tussen jou en Cathy gebeur het.”
“Het Cathy u nie vertel nie?”
“Sy het, maar ek wil jou kant van die saak ook hoor.”
“Dit kan ek in ’n paar woorde sê: Cathy het besluit sy wil nie meer met my trou nie en het my ring vir my teruggegee.”
“Ek sien. En was jy so iets te wagte?”
“Glad nie. Ek was onder die indruk dat Cathy heeltemal gelukkig is en verdiep is in troureëlings.”
“Waarom wil sy nie met jou trou nie?”
“Sy sê sy het my nie lief nie.”
“Toe julle aan die begin van die jaar verloof geraak het, het niemand getwyfel dat sy jou liefhet nie. Wat het intussen gebeur?”
“Ek wens ek het geweet. Dit was ’n besige en moeilike jaar vir my – ek kon nie die tyd en aandag aan Cathy gee wat sy wou hê nie. Nou beskuldig sy my dat ek haar nie liefhet nie en dat ek my werk bo haar stel.”
“Is dit nie wat gebeur het nie?”
“Ek het nie so gedink nie. Ek het gedink sy besef dat dit vir ons albei is wat ek so hard werk. Ek wil volgende jaar oorsee gaan en wou haar natuurlik saamneem. As ek ’n beurs kon kry, sou dit nie vir ons ouers nodig wees om ons finansieel te help nie.”
“En het jy toe die beurs gekry?”
“Dit word eers later bekend gemaak.”
“Jy sal dit definitief kry. Ek hoor jy het jou graad met onderskeiding in twee vakke geslaag. Ek wil jou graag gelukwens, dokter Andries de Wet!”
Hy kyk haar verbaas aan.
“Waar hoor u dit? Ek het self maar nou net eers gehoor.”
Sy glimlag effens.
“Dit maak nie saak waar ek gehoor het nie. Dis ’n mooi prestasie en ons is almal trots op jou. Wat gebeur nou?”
“U bedoel met Cathy en my? Ek sal haar seker af en toe in die Kaap sien – ons is nog vriende ten spyte van wat gebeur het.”
“Vriende? En jy is tevrede om dit daar te laat?”
“Ek is nie van plan om Cathy lastig te val of my geselskap aan haar op te dring nie. Sy is vry om te doen wat sy wil.”
Ouma Joubert kyk hom fronsend aan.
“Het jy my kleindogter lief, Andries?”
Hy aarsel en daar is ’n frons tussen sy wenkbroue.
“Ek het eens op ’n tyd so gedink, maar miskien is Cathy reg – miskien het ons maar net gewoond geraak