Tryna du Toit-omnibus 7. Tryna du Toit
Sy het Andries die afgelope tyd gemis, besef sy. Maar hulle was natuurlik altyd goeie vriende, lank voor sy sy meisie was. Dis die vriend wat sy mis, nie die verloofde nie. Vir Andries kon sy altyd dinge sê wat sy vir niemand anders kon sê nie. Miskien sou dit beter gewees het as hulle net vriende gebly het. En tog, as sy terugdink aan die ekstase van haar eerste verliefdheid, weet sy dat dit ’n ervaring is wat sy nie sou wou misgeloop het nie.
Langs haar sê Andries: “Onthou jy Annette Malherbe? Sy het verlede jaar klaargemaak? Lang, blonde meisie – baie aantreklik. Was twee keer joolkoningin.”
Annette Malherbe! Die meisie op wie Jos verlief was. Of sy haar onthou!
“Ek onthou haar baie goed. Wat van haar?”
“Sy is nou dieetkundige by die hospitaal. Ek loop haar so af en toe raak.”
Sy het geweet Annette werk in die Kaap en het gewonder hoe gou hulle paaie gaan kruis. En nou werk sy en Andries by dieselfde hospitaal. Hou Jos nog van haar?
Jos! Is dit omdat sy na Jos verlang dat sy vanaand so eensaam en ongelukkig voel? Waar is hy vanaand? wonder sy. Hy is al meer as ’n maand lank weg en sy het nog nie ’n woord van hom gehoor nie.
Hy sou vir haar ’n poskaart vir Kersfees stuur. Sal hy onthou?
“Wanneer sien ek jou weer?” vra sy vir Andries toe hy haar by haar ouma se huis aflaai.
“Ek weet nie. Miskien kom kuier ek vir julle op Hermanus – so nie volgende jaar wanneer jy in die Kaap is.”
“Sal jy vir my kom kuier?” vra sy.
Hy glimlag.
“Miskien. Dit hang af hoe besig ons albei is.” Hy sit sy hand onder haar ken en kyk af in haar gesig. “Moenie te veel oor jou ma en pa treur nie. Dis ’n wonderlike ervaring vir hulle en ek is seker hulle sal elke oomblik daarvan geniet. Dink liewer aan al die dinge wat jy wil doen. As jy jou weer kom kry, is die jaar verby. Tot siens, Cathy, ek sien jou weer.”
’n Oomblik dink sy hy gaan haar soen. Sy is onverklaarbaar teleurgesteld – en terselfdertyd vies vir haarself – toe hy omdraai en wegstap sonder om dit te doen.
Die mag van die gewoonte darem! Of is dit maar net omdat sy vanaand hunker na ’n bietjie troos en warmte dat sy moes veg teen die skielike begeerte om haarself in Andries se arms te werp, om sy arms sterk en beskermend om haar te voel vou?
Cathy se oom het haar en haar ouma die volgende dag Hermanus toe geneem sodat hulle die huis kon begin regkry. Tannie Blanche, haar man en June sou by hulle aansluit sodra die skole sluit. Sophie kry eers Kerstyd verlof, maar later sou Cathy se oudste broer, Charl, se twee seuns uit die Transvaal en ander verlangse familie ook kom kuier. Omdat nie een van haar broers vanjaar verlof kon kry nie, het Cathy se ouers hulle eie strandhuis verhuur.
Cathy het nie baie uitgesien na die vakansie nie. Sonder haar ouers en haar broers en Andries sou dit nie dieselfde as in ander jare wees nie, en sy sou veel liewer direk Kaap toe wou gegaan het om haar op haar nuwe lewe voor te berei. Maar haar ouers het daarop aangedring dat sy ten minste tot die einde van die jaar op Hermanus moet bly. En aangesien die woonstel eers van die begin van die jaar af beskikbaar is en haar ouers alreeds soveel toegewings gemaak het, het Cathy ingestem.
Op die ou end was die vakansie baie lekkerder as wat sy verwag het. Die eerste week was die weer koud en triesterig, en daar was nog min vakansiegangers. Cathy het help huis skoonmaak, baie gestap en gelees en geslaap, en dit selfs ’n paar keer gewaag om in die ysige water te swem.
Eers noudat sy tot stilstand kom, besef sy hoe moeg en gespanne sy was, hoeveel die afgelope weke en maande van haar geverg het. Dit sal haar goed doen om behoorlik uit te rus voordat sy begin werk.
Ouma was lief en gaaf teenoor haar en hulle verhouding was sonder spanning. Cathy het haar van al haar planne vertel en haar ouma het belangstellend geluister. Hulle het selfs oor Andries ook gesels, en tot Cathy se verbasing het haar ouma erken dat dit miskien ’n goeie ding is dat sy ’n bietjie meer ervaring van die lewe kry voor sy trou. Ouma het haar uitgevra oor Jos, en Cathy het haar vertel wat ’n interessante en dinamiese jong man hy is. Sy het haar verseker dat hulle net goeie vriende is en die feit dat sy die hele tyd dat hy weg was nooit van hom gehoor het nie, het haar ouma gerusgestel. Cathy moes egter belowe om Jos Stellenbosch toe te bring sodat haar ouma met hom kan kennis maak. Maar Ouma sal van Jos hou, daarvan is sy seker.
Cathy het die gesprekke met haar ouma geniet en was dikwels verbaas oor haar nugter uitkyk op die lewe. Sy sou glad nie omgegee het as hulle die hele vakansie alleen kon gekuier het nie.
Net van die tafeldoek het Ouma niks gesê nie!
Die volgende week het June-hulle gekom en die strandhuise het een vir een oopgegaan en tekens van lewe begin toon. Die weer het ook verbeter, en skielik was die dorpie vol vakansiegangers. Cathy en June was ’n paar keer saam met June se pa in die nuwe boot uit, maar die see was effens stormagtig en hulle was albei bly toe Pieter en Japie uit die Transvaal kom en hulle kon tuis bly.
Die Louws se huis het dig toegebly, en Cathy het gewonder of Andries se ouers vanjaar glad nie strand toe kom nie. Maar een oggend het daar ’n rokie uit die skoorsteen getrek en het die vensters wawyd oop vir die son en die heerlike seebries gestaan. Net die volgende dag het sy tannie Magda raakgeloop by die nuwe hawehoof, waar sy vis kom koop het.
Cathy het beleef gegroet, maar tannie Magda se groet was styf, sonder hartlikheid, en sy het teleurgesteld weggedraai. Sy het altyd gedink tannie Magda is so gaaf, sy het nooit verwag dat sy haar so sal behandel nie.
“Wanneer verwag tannie-hulle vir Andries?” vra June, wat by Cathy was. “Of kom hy glad nie kuier nie?”
“Ek weet nie, June. Moontlik sal hy vir ’n naweek kom,” antwoord tannie Magda en haar stem klink nou heelwat vriendeliker. Sy en June gesels ’n rukkie, maar Cathy wag nie om te hoor wat hulle sê nie. As tannie Magda so oor die saak voel, sal sy liewer uit haar pad bly.
Daar was ’n lekker klomp jong mense onder die vakansiegangers, en Cathy het haar saam met June by hulle bedrywighede laat insleep. Daar was ’n gedurige toeloop van jong mans, en tannie Blanche het hulle vriendelik ontvang en aangemoedig om weer te kom. Sy het elkeen se familie en agtergrond en vooruitsigte geken, en as sy nie geweet het nie, het sy gevra. Dit het vir Cathy gevoel of sy gedurig elkeen se bates as moontlike skoonseun opweeg. Sy self het meer as genoeg aandag gekry, maar die vakansie het nie die sprankel van vorige jare gehad nie. Is dit omdat Andries nie daar is nie – ná al die jare van saamwees het sy hom meer gemis as wat sy verwag het – of word sy sommer net te oud vir die gedurige gekuier?
’n Rukkie voor Kersfees het sy die beloofde poskaart van Jos gekry. Dit is in Tanganjika gepos en hy skryf dat die reis ontsettend interessant maar ook baie warm en vermoeiend was en dat hulle bly sal wees om weer terug in die beskawing te kom.
Dan het Jos haar nie heeltemal vergeet nie, dink sy opgewonde. Hy was so lank weg, dis of sy heeltemal kontak met hom verloor het. Maar oor ’n paar weke is hulle albei in Kaapstad en dan sal sy hom seker dikwels sien.
Een aand, ’n dag of twee nadat Cathy Jos se poskaart gekry het, het June ’n klomp vriende genooi om die aand by hulle te kom vleis braai. Cathy het die middag saam met een van haar bewonderaars gholf gespeel en ’n bietjie laat tuis gekom. Sy is besig om aan te trek toe June die kamer binnegeswaai kom.
“Raai wie kom ook?” sê sy vir Cathy.
“Ek weet nie. Wie?”
“Andries! Hy het vanmiddag gekom.”
“So?” Cathy hou haar ongeërg, maar haar hart klop opgewonde. Dit sal gaaf wees om Andries weer te sien.
“Raai wie het hy saam met hom gebring?”
June met haar verspotte raaisels!
“Ek het nie die vaagste benul nie,” sê sy effens ongeduldig. “Sophie?”
“Jy weet goed Sophie kom Sondag. Nee, Annette Malherbe. Jy onthou haar tog seker.”
Annette!