Die afreis van Abel Lotz. Chris Karsten

Die afreis van Abel Lotz - Chris Karsten


Скачать книгу
een. Eksperimenteer jy vir jou troue?”

      “Nee,” sê Sajida, “g’n trouplanne nie.”

      Ook haar pa, sover sy weet, het nie weer sulke gedagtes nie. Daar was wel sprake, ’n paar jaar gelede, toe haar pa Nasir Raza se naam genoem het. Hy’t gesê sy is nou hubaar, en ’n kleinneef sal ’n goeie keuse wees. Die Razas het kamele en bokke, en ’n trop skape wat Nasir en sy broers elke jaar skeer vir wol aan die tekstielhandelaars van Lahore, Islamabad en Peshawar. Maar sy het agtergekom Nasir is ’n heethoof. Hy sien nie sy toekoms agter bokke en skape in die valleie en aan die hange van die Preghal-berge van Suid-Waziristan nie. Sy fundamentalistiese godsdienstige streep is versterk in molla Wada se madressa in Kanigoram, wat studies aan ’n beroemde madressa in Karatsji vir Nasir aanbeveel het.

      Sajida se ma het haar vertel van Nasir se oupa, en sy vermoed dis die voorbeeld van sy oupa wat die saadjie by Nasir geplant het. Net ’n vermoede, sulke sake word gewoonlik in afsondering bespreek, in die hujra net onder die mans, al skinder sy en haar ma in die kombuis om die potte op die stoof.

      Nasir se oupa is destyds saam met ’n groot groep mans uit die stamgebiede oor die berge van Toba en Kakar na Kandahar vir djihad teen die Sowjets wat hulle Pashtun-grond wou kom verower. Soos ander, groter Mogolryke deur die eeue was die Russe se pogings ook onsuksesvol. Haar ma is trots op die geskiedenis van die Pashtuns; sy leer vir Sajida die mites en legendes van hulle vegtervolk.

      Die jong man wat uit Karatsji teruggekom het ná sy studies by die madressa Dar ul-Ifta ul-Irshad, was nie dieselfde Nasir nie. Hy was ’n moedjahedien, het in slagkrete gepraat: “Inqilab inqilab, Islami inqilab!”

      Sy dink dikwels aan hom, aan sy sagte stem en vurige oë. Sy wonder hoe dit saam met hom sou wees. Hy het haar met respek behandel, en sy vir hom. En as hy nie Karatsji toe gegaan het nie, sou hulle wel getrou het. Sy sou ’n goeie vrou vir hom gewees het, sou haar vel vir hom met mehndi-patrone laat versier het, sou onderdanig gewees het, vir hom kinders in die wêreld gebring het, hom nie verhinder het wanneer hy politiek wou praat nie.

      Maar toe hy terugkom, was hy in die geselskap van die Oezbeeks, en dis saam met hulle dat hy uitgevlug het voor die helikopters met die masjiengewere en die vliegtuie met bomme. Uit voor die jeeps en lorries van die Pakistanse veiligheidsmagte soos klei in die hande van die Amerikaanse infidelle wat haar Pashtun-volk in Afganistan en Waziristan wil uitmoor.

      Nasir was haar pa se keuse, en sy sou nie teen haar pa se wense gestribbel het nie, sy sou ingestem het. Dis soos dit nog altyd was; dis soos dit altyd sal wees. Sy en Nasir is albei in Kanigoram gebore, het saamgespeel en saam grootgeword, en dit was ’n goeie lewe. Nie maklik nie, maar goed.

      Nou is hy weg. En al tyding wat sy kry, was toe sy laas by die huis was en haar ma in die kombuis vir haar vertel het van Nasir se heldedade teen die infidelle.

      4

      Op pad terug van die strategiesessie sê die kubervegter Danny Hatt: “Dit gaan ’n lang skof word.”

      “Wat sê Jill, kom julle Sondag oor?” vra Frank. “Vir die wedstryd teen die Steelers, dit gaan bloedig wees.”

      “Steelers? Dog dis die Giants.”

      “Giants is die week daarna.”

      “Sal haar vra, dink nie sy’t iets aan die gang nie. Sy’t niks gesê sy wil by haar ma gaan kuier nie. Het jy gister die Post gesien?”

      “Ja,” sê Frank. “Ons word weer lafaards genoem.”

      “Anonieme lafaards,” sê Danny.

      “Hulle moer, al daardie burgerregte-aktiviste se moer.”

      “Lafaard” word ’n gewilde bynaam, lees Danny Hatt in The Washington Post en The Wall Street Journal, hoor hy uit die monde van die pratende koppe op TV. Moslemaktiviste wat sê die UAV-aanvalle op teikens van die Taliban en al-Kaïda en al-Shabaab in Pakistan, Afganistan, Jemen en Somalië is lafhartig. Burgerregte-aktiviste wat sê die drone-aanvalle is onwettig, niks anders as moord in opdrag van die Withuis nie – die president wat aanklaer, regter én laksman speel.

      Danny, tegno-savant in die CIA se S&T-direktoraat, met grade in rekenaarwetenskap en inligtingstegnologie, was saam met Frank ’n student aan die CIA se Sherman Kent-skool vir Intelligensie-analise. Hulle het saam die kursus gedoen in terrorisme-analise by die CIA se Teenterrorisme-sentrum, saam die CIA se PISAP-kursus (Political Islam Strategic Analysis Program) geslaag, met die premis: “Die analise van organisasies wat godsdiens vir politieke doeleindes gebruik en godsdienstige ideologie om die bestaande politieke, maatskaplike en ekonomiese orde te probeer verander.”

      Danny het goeie kwalifikasies op papier, dog geen opleiding as soldaat of vegvlieënier nie. Hy is nooit in Irak of Afganistan of aan enige gevegsfront ontplooi nie. Hy was wel vir PISAP-oriëntering in Bagdad se Abu Ghraib, in Bagram se Gebou 591, in Guantánamo se kampe: Delta, Echo, Iguana, X-Ray. Hy was in almal, om eerstehands met die vyand en sy ideologie kennis te maak.

      Danny is vyf en dertig en ’n kantoorwerker, saam met Frank, by die George H.W. Bush Center for Central Intelligence, ’n reusegebouekompleks op 258 boomryke acre grond langs die rivier in McLean, voorstad van Langley in Virginië. Oorkant die Potomac lê Washington DC, setel van Amerikaanse mag.

      Nou, net ná ses in die oggend, op pad ondertoe met die hysbak, is Danny en Frank al tien uur op nagskof. Hulle weet die einde is lank nie in sig nie, nóg tien uur op sy minste, maar die adrenalien pomp, soos altyd wanneer ’n operasie die groen lig kry.

      Die laaste strategiesessie van die operasie het vyfuur begin en ’n uur geduur – topografiese kaarte en satellietbeelde teen die mure, intydse videobeelde van ’n onbewapende RQ-170-verkenningsvliegtuig vyfduisend meter bokant die teikengebied.

      Dis vroegoggend in Washington, drie-uur die middag in Suid-Waziristan in Pakistan se wettelose stamgebiede. Die groen lig is net ná middernag gegee, deur die NCS (National Clandestine Service) -direkteur, maar finaal deur die nuwe CIA-direkteur self.

      Die moreel is steeds hoog, selfs so lank ná die suksesse van 2011 se skouspelagtige CIA-operasies. Dié het begin met die gróte, Operasie Neptune Spear in Abottabad, en is ’n paar maande later gevolg deur ander hoëprofielteikens. Maar Danny en Frank was nie aan die stuur van daardie Predators nie. Wens hulle was, veral die een wat uiteindelik by Khashef in Jemen die groot bekke gesnoer het van Anwar al-Awlaki en Samir Khan, verlooptes uit die Amerikaanse boesem waaraan hulle so gekoester is. Die ergste soort verraad, is Danny se opinie.

      5

      Abel dink: die vlugteling se eerste impuls is instinktief, skep so vinnig as moontlik die grootste afstand as moontlik tussen jou en jou agtervolgers. Dis soos die oerbrein werk van mens of dier, geen aarseling nie, gee pad van die gevaar af, snel. Al is jou agtervolger geen roofdier nie, net ’n jong vrou, aantreklik en skraal, 55 kilogram, skat hy.

      Maar hý kies ’n ander opsie. Hy gaan lê laag, in die hart van die jaggebied as’t ware, vir sy wonde om eers te heel, en sy verwarde gees. Vir sy ontsnapplanne het hy ’n nugter verstand nodig in hierdie jagseisoen wat oop is op hom. Hy moet in staat wees om die slinkse sette van sy agtervolgers vooruit te loop, soos ’n skaakspeler wat sy teenstander se strategie antisipeer, hom inwag met reeds drie skuiwe in sy kop gereed.

      Sy herstel duur ses weke. Maar hy sit nie ledig in sy afsondering nie, en die skade is aan sy liggaam en gees, nie aan sy brein nie. Sy brein is skerp; hy kan die posisies en kulminasies van konstellasies bepaal, die magnitude en deklinasies van sterre. Hy ken Ptolemeus se wiskundige en astronomiese vertoë soos latere geleerdes hierdie tweede-eeuse geskrifte ontleed en verduidelik. Die Almagest oor die bewegings van kosmiese liggame, die Tetrabiblos oor die siklusse van hierdie hemelliggame se meteorologiese invloede op die atmosfeer, die Phaseis, Ptolemeus se sterre-kalender, oor die verskyning en verdwyning van vaste sterre in ’n sonjaar.

      Abel is ook ’n student en kenner van outentieke etniese maskers. Hy ken die simboliek en geskiedenis van maskers van selfs die mees obskure Afrikastamme, kan uit die vuis vertel hoe die maskers lyk wat die Bwa en Nuna van Burkina Faso dra om bose geeste te besweer, die maskers van die Dogon en Bamana


Скачать книгу