Eendekuil. Tryna du Toit
derde op kosskool, en altyd kom daar maar nuwe uitgawes by. Haar gesondheid wil maar nie verbeter nie en Dokter wil hê sy moet sonder versuim ’n spesialis in Kaapstad gaan raadpleeg. Hy vrees dat ’n ernstige operasie nodig is. Sy het Gideon nog nie daarvan vertel nie, sy het gewag tot die kinders almal weer terug is op skool en universiteit, maar veel langer kan sy nie so aangaan nie. Die lewe is eenvoudig nie die moeite werd as ’n mens altyd siek en moeg voel nie.
Sy is ook bekommerd oor Isak. Hy het nou ingestem om die landboukursus te volg, maar sy weet dis net om sy pa te behaag dat hy dit doen. Sy hart is nie in die boerdery nie. Hy smag daarna om ’n kursus in ingenieurswese te volg, maar nee, daarvan wil Gideon nie hoor nie. Isak moet op Skeerpoort boer en dis die einde van die saak. Sy het al probeer praat, maar dit help nie. Hy noem haar maar net sy dorpsvrou en laat haar voel dis haar skuld dat Isak sulke verkeerde neigings openbaar.
As Isak maar meer soos Esther was! Sy is in so baie opsigte haar pa se dogter. Haar belangstelling in die boerdery is warm en opreg. Sy is net so hartstogtelik lief vir perde as haar pa. Sy weet van alles wat op die plaas aangaan en dis met haar wat Gideon dikwels oor sy drome en planne vir die toekoms gesels. Isak probeer ook hard om hom in die boerdery in te lewe, maar sy belangstelling is nie so spontaan soos dié van Esther nie. En Gideon wil dit nou maar nie insien nie.
Dis tog nie dat Isak al seun is wat hy het nie. Daar is nog Deon, wat nou al tekens toon dat hy in sy pa se voetspore wil volg.
Daar was ’n tyd dat sy baie bekommerd was oor Esther. Sy was so ’n wilde klein ribbok, sonder die minste neiging om haar in die huis te help of om die dinge te leer wat van ’n meisie verwag word. Wanneer sy met Gideon gepraat het en hom daarvan beskuldig het dat hy van hul enigste dogter ’n seun maak, het hy net gelag en trots gesê: “Sy ís my seun.” Haar vakansies het sy saam met haar pa en Isak buite in die veld, in die skeerhok of op die lande deurgebring. Wind of weer het haar nie gekeer nie. Teen die tyd dat sy moes teruggaan skool toe was sy gewoonlik so pikswart verbrand dat haar ma skaam was om haar te laat gaan. Vir Esther self het dit nooit gehinder hoe sy lyk nie en die blos op haar wange, die tinteling in haar oë, die uitbundige energie en lewensvreugde, was genoegsame rede om haar haar gang te laat gaan. Noudat sy dit self verloor het, besef sy eers dat volmaakte gesondheid een van die grootste skatte van die mensdom is.
Maar Esther het verander. Dis of sy skielik sagter, vrouliker, geword het. Sy is teer en bedagsaam teenoor haar en huisliker. Sy sal nou ’n boek lees in plaas daarvan om in die warm son rond te loop. Sy is oortuig daarvan dat Esther nog ’n baie mooi meisie gaan word. Sy was soos ’n roosknop gewees, styf en toe, maar nou begin die beskermende groen blare terugvou om die skoonheid en teerheid van die blom ten toon te stel. Sy begin selfs belang stel in klere, hoewel sy hier op die plaas tot haar ma se ergernis nog dikwels met ’n ou hemp en broek rondloop en nog dikwels saam met haar pa of Isak gaan ry.
Haar gedagtes word onderbreek deur Gideon se stem wat na een van die werkers roep. Sy stem is hard en ongeduldig, en met ’n sug staan sy op en haal ’n skoon koppie van die rak af.
Dis tog jammer dat Kosie vandag moes kom kuier het.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.