Eendekuil. Tryna du Toit
en Isak het net kom groet. Die vakansie is verby en ons gaan vanaand weer terug.” Haar skraal, sterk handjie lê nou in syne, en sy kyk reguit af in sy oë. Haar oë is ’n teer diepblou, blou soos viooltjies, dink Kosie verbaas, en hy merk dat hulle nou blink van die trane. Dan vervolg sy sag, blykbaar met moeite: “Ek wil ook sê ek is jammer … oor jou vreeslike skade … en omdat … ek vroeg vanmôre so onvriendelik was. Ek hoop jy sal my vergewe.”
Saggies druk hy die hand wat in syne lê en ’n lang ruk kyk hulle diep in mekaar se oë, dan kyk sy verleë weg. Kosie glimlag en los haar hand. Liefkosend streel sy hand die satyngladde nek van die mooi, blou skimmel.
“Ek is ook jammer … oor jou hond. Glo my, Esther, daar was niks anders wat ek kon doen nie. Dis gaaf van julle om my te kom groet. Ek was bang dat jy so kwaad was dat jy my nooit weer sou groet nie. Maar wil julle nie afklim nie?”
“Nee, dankie. Ons moet dadelik weer ry. Ek wou net vir jou kom sê … dat ek nie kwaad is nie. En ek hoop dat jy en my pa nie gaan rusie maak nie. Vader weet nie eens dat ons hierheen …”
Sy hou meteens op met praat en haar hele gesig en houding verander. Die een oomblik was sy sag, glimlaggend, byna teer, die volgende is sy koud en hard en ongenaakbaar. Hy sien die verandering in haar en hy weet wat daartoe aanleiding gegee het. Dis nie nodig vir hom om om te kyk nie, hy weet wie daar in die waenhuisdeur staan: Saailaagte se twee beste prokureurs, die veearts en … die polisie.
Stadig draai hy tog om en sy hart sak in sy skoene. Sal die Bruwers ooit verstaan?
Die mans staan nader en beleef klim Isak van sy perd af, maar dis duidelik dat hy verleë en ongemaklik voel. Esther sit roerloos op Vlam se rug. Sy steek nie haar hand na een van die mans uit nie en sy neem geen deel aan die gesprek nie. Haar gesig is wit, haar blou oë koud en onvriendelik.
Isak, die veearts en die jong konstabel verdwyn in die waenhuis in en Andries Celliers en Ben Pienaar begin aanstap huis toe.
’n Rukkie is Kosie en Esther alleen. Hy voel bitter ongelukkig en spyt oor die verloop van sake, maar hy kan niks daaraan doen nie. As hy nou probeer verduidelik, sal hy sake net vererger. In stilte kyk hulle na mekaar en hy sien die minagting in haar oë.
“Is jy bang dat Vader jou nie vir jou skade sal vergoed nie?” vra sy verwytend.
“Esther! Wag eers.” Sy stem is sag, byna pleitend, maar sy val hom vinnig in die rede.
“Daar is niks om te sê nie, Kosie Niemeyer. Ons het blykbaar op ’n baie ongeleë oomblik kom groet!”
Hy antwoord haar nie. Daar is nie net minagting in haar blik nie, daar is ook teleurstelling en verwyt. Dit is uit haar hele houding duidelik dat sy diep gekrenk voel. Hy het haar vriendskap en vertroue verbeur en daar is niks wat hy op die oomblik kan doen om dit te herwin nie. Weer lê hy sy hand op hare, maar sy ruk dit so vinnig weg dat die perd skrik en onverwags op haar agterpote staan. Byna verloor Esther haar balans en net betyds gryp Kosie die stang en dwing die perd weer af grond toe.
Maar nou is die nooientjie eers kwaad!
“Laat los my perd!” sê sy beledig en vererg, en die blou oë blits vuur. Maar Kosie neem geen notisie van haar nie en bring eers die perd tot bedaring. Selfs toe die perd weer met al vier pote op die grond staan, hou hy nog sy hand op die toom.
’n Oomblik kyk hulle in mekaar se oë, albei nou kwaad.
“’n Mens oordeel nie jou vriende so haastig nie, Esther,” sê hy verwytend.
“Vriende!” Daar is diep minagting in haar stem. “Weg daar voor!” Dan lig sy die sambok wat sy in haar regterhand hou. ’n Paar tellings dink hy dat sy dit op sy kop gaan laat afkom, maar hy staan nie terug nie. Skielik val die hou op die verskrikte skimmel se lies en Kosie moet gou padgee om betyds uit die perd se pad te kom.
So ’n klein jesebel! dink hy vererg en verontwaardig terwyl hy die jong meisie agterna staar. Sy sou my wragtig omgery het as ek nie padgegee het nie. Maar deur die ergernis skemer daar tog ’n onwillige bewondering vir die onverskrokke jong meisie.
Isak het blykbaar die geklop van die hoewe gehoor en kom by die waenhuis uit om te sien wat aangaan. Toe hy sien dat sy suster reeds op pad is, is hy sommer baie haastig. Sy groet is ook koel en Kosie voel vies en ongelukkig terwyl hy die jong seun ook agterna kyk. Dis seker die einde van sy vriendskap met die Bruwers, dink hy, en hy voel opreg jammer oor die verloop van sake.
Hy sal oom Gideon darem gaan opsoek en probeer om hom te laat verstaan.
Ingedagte stap hy saam met die twee mans huis toe waar oom Andries en Ben Pienaar al sit en tee drink. Oom Andries het hom ’n slaggie probeer terg met die jong dogter van Skeerpoort, maar hy het gesien dat dit Kosie nie aanstaan nie en sy tergery laat vaar.
Net daarna is hulle almal na die ooikamp toe.
Hoofstuk 5
Hoofstuk 5
Die volgende oggend vroeg is Kosie weer te perd oor na Skeerpoort toe.
Dit is ’n lieflike, sonnige dag, heelwat koeler as die afgelope weke, en hy besef skielik dat die somer verby is.
Vaaltyn trippel en kopspeel of hy vandag weer ’n bloedjong vulletjie is, maar Kosie se hart is swaar. Hy sien nie uit na die ontmoeting met oom Gideon nie, maar aan die ander kant durf hy nie wegbly nie. Moontlik sal oom Gideon verstaan. Hy is tog ’n verstandige en redelike man. Oom Gideon sal hom in sy posisie kan indink en sy handelswyse begryp.
Maar oom Gideon ontvang hom koel en Kosie se moed sak. Die hartlikheid en vriendelikheid wat so kenmerkend van die oubaas was, is nie daar nie. Dit is ’n kil, ongenaakbare vreemdeling wat hier in sy plek staan.
“Kan ek iets vir jou doen?” vra die oubaas ná hulle gegroet het. Kosie merk dat hy hom nie binnenooi nie en hy voel weer die ergerlikheid en spanning in hom oplaai. ’n Mens sal sweer al die moleste is sy skuld. Dit was ook nie so ’n vreeslike ding om na oom Andries toe te gaan nie. Hy hoef glad nie skuldig of skaam daaroor te voel nie. Hy dreig oom Gideon nie met ’n hofsaak nie. Hy het maar net raad gesoek, hy beskerm maar net sy eie belange. As oom Gideon dadelik erken het dat dit alles Rex se werk was, aangebied het om hom vir die skade, of selfs ’n deel van die skade te vergoed, sou hy nooit eens daaraan gedink het om na oom Andries toe te gaan nie.
“Kan ek iets vir jou doen, kêrel?” herhaal die oubaas toe hy nie dadelik praat nie.
Oom Gideon is vanoggend in ’n verkeerde bui. Hy is ongelukkig en ontsteld oor die besigheid met Rex. Dit sal hom ’n mooi sommetjie kos, dit kan hy sien. Veral noudat die verbrande jong snuiter die prokureurs, die veearts en die polisie ook bygesleep het. Dis ’n wonder dat hy nie die predikant en die magistraat ook gevra het om die partytjie by te woon nie. En dis ook nie al waaroor hy omgekrap is nie. Die gemis van die kinders, en veral Esther, is altyd die eerste paar dae ná hulle weg is byna onhoudbaar. Die huis is so vreeslik leeg en stil, hy kan dit glad nie daar uithou nie. En by die stalle is dit nie veel beter nie. Later is dit of hy hul afwesigheid ’n bietjie meer gewoond raak, weer versoen raak met die gedagte dat dit onvermydelik is. Daarby het hy en Isak gistermiddag nog byna ’n hewige uitval gehad oor die vakke wat Isak op universiteit wil neem, met die gevolg dat hy vannag byna nie ’n oog toegemaak het nie.
Maar Kosie verkeer in salige onkunde wat hierdie dinge betref. Hy is net bewus van oom Gideon se onvriendelikheid en botheid, en toe hy sy vraag herhaal, antwoord Kosie: “Ek het maar sommer oorgery dat ons ’n bietjie kan gesels. Ek soek nie moeilikheid nie, Oom. Ons was nog altyd goeie bure en ek is seker dat ons die besigheid maklik kan skik en nog goeie vriende kan bly.”
Oom Gideon brom iets onhoorbaars, maar nooi darem die jong man om saam met hom na sy studeerkamer te kom. Toe hulle sit, vra Kosie reguit: “Dink Oom nog daar was ander honde saam met Rex gewees?”
Oom Gideon aarsel. Hy kyk na die ernstige, aantreklike jong gesig voor hom, die lewendige rooigoue hare wat tintel van energie en blakende gesondheid, en hyself voel moeg en oud. Stadig sê hy: “Dis vir my moeilik om te glo dat Rex alleen soveel skade kon aanrig.”
Kosie voel sy gesigspiere