Eendekuil. Tryna du Toit
Hy is mans genoeg vir oom Gideon Bruwer. Daar sal tog seker nie die minste moeilikheid wees nie. Hy het die hond daar by die skaap doodgeskiet. Hy is jammer vir oom Gideon, maar daar is nou niks aan te doen nie. Later vanaand, as hy eers ’n stukkie geëet het, sal hy met oom Gideon gaan gesels. Hy kan hom natuurlik bel, maar hy wil nie hê die hele wêreld moet weet nog voor hulle ’n geleentheid gehad het om die saak te bespreek nie.
En die plaastelefone …
Moeg vly hy hom in ’n stoel neer. Boel kom staan met sy neus op sy knie asof hy begryp dat sy baas vanaand troos nodig het, en afgetrokke streel hy die hond se mooi kop. Hy voel bitter en ongelukkig.
Esther sal ook omgekrap wees oor haar hond. Nee, hy sien nie uit na die besoek aan oom Gideon nie.
Hoofstuk 3
Hoofstuk 3
Die reën val sag en aanhoudend op die dak. In Gideon Bruwer se ore klink dit soos die skoonste musiek. As dit nog ’n paar uur lank so reën, sal jy kan hoor hoe die veld groei. Nou is daar weer hoop! Hy het weliswaar tot nog toe nie veel skaap verloor nie, maar hulle het die laaste maande baie kondisie verloor en dinge het sorgwekkend begin word. As die reën veel langer weggebly het, sou hy aan trek moes begin dink het. En waarheen? Oral was daar droogte, oral berigte van swaar verliese. Hy het snags wakker gelê van bekommernis, maar dank die Vader, daar het net betyds weer uitkoms gekom.
Dis stil en rustig hier in die eetkamer waar die gesin sit. Esther speel saggies klavier, sy vrou stop kouse, Isak lees ewe ongeërg ’n boek asof hy nie eens bewus is van die lieflike reëns wat op die dorre aarde neersak nie.
Hy wonder party dae of Isak ooit as boer sal deug. Die kêrel is so ongeërg, sonder die ware belangstelling in die plaas wat ’n mens van ’n boerseun kan verwag. Hy verrig die take wat aan hom opgedra word stip en getrou, maar die eerste die beste kans wat hy kry, sit hy weer met sy neus in ’n boek. Maar die seun is jonk, hy sal nog regkom. Hy verwag seker maar te veel van Isak. Esther moes eintlik maar die seun van die gesin gewees het. Van kleins af het haar lewendige belangstelling in alle boerdery-aangeleenthede hom getref en hy en sy dogter het deur die jare groot maats geword. Sy het veel liewer haar dae by hom op die lande of in die veld deurgebring as om haar ma in die huis te help. Sy was ook van kleins af ’n onverskrokke perderuiter en geen dier was te jonk of te wild vir haar om te ry nie.
Gelukkig aard klein Deon na Esther en as Isak nie sommer baie verander nie, moet hy nie dink dat hy eendag vir Skeerpoort gaan erf nie, oudste seun of nie. Hy gaan nie die plaas wat hy so moeisaam opgebou het aan ’n seun nalaat wat nie hart en siel in die boerdery is nie. Dit lyk jou werklik waar vanaand of hy nie eens weet dat dit reën nie! ’n Boekwurm en ’n dromer, dis wat Isak is. Of gee hom ’n stuk masjinerie om aan te peuter en kyk dan hoe blink sy oë! Maar hy is jonk. Hy sal hom nog ’n bietjie kans gee.
Hy kyk na Esther waar sy voor die klavier sit en speel. Dis ’n ou, bekende liedjie wat sy speel. Sy het vanaand ’n wit rokkie aan, haar mooi bruin hare is in twee vlegsels om haar kop vasgebind, en met ’n eienaardige gevoel van onrus sien hy weer dat sy ’n besonder mooi jong meisie word. Esther het die afgelope jaar grootgeword en hoewel haar belangstelling in die boerdery nog net so warm en spontaan is soos vroeër, en hoewel sy nog net so graag saam met hom veld toe ry of hom in die lande of met die skape help, bespeur hy tog ’n verandering in haar. Haar skraal postuurtjie het voller geword – Lenie sê dis omdat sy op Stellenbosch nie soveel tyd het om rond te rinkink as op die plaas nie – maar dis ook of sy stiller geword het, haar blou oë lyk soms so sag, asof haar gedagtes ver rondswerf.
Netnou-netnou sal die kêrels ook hier op Skeerpoort begin kuier. Maar hy sal hulle fyn deurkyk! Dit sal vir jou sommer ’n uithalerkêrel moet wees wat die dag sy dogter hier op Skeerpoort kom wegneem. Hy hoop net Esther sal genoeg verstand hê om op ’n boer verlief te raak.
Dis of die reën nou effens sagter op die dak val en vir die soveelste keer vanaand staan hy weer op om buitentoe te gaan en seker te maak dat die wolke nog saampak.
“Sit tog stil, ou man,” berispe Lenie hom. “Wat is dit dan dat jy weer vanaand so rusteloos is?”
Hy antwoord haar nie. Lenie is lief en goed en ’n beter ma vir sy kinders kon hy nooit gekry het nie. Maar Lenie was ’n dorpsnooi gewees toe hy met haar getroud is, en hoewel sy haar heeltemal vereenselwig het met die plaaslewe en al die jare heeltemal gelukkig was, sal sy in siel en wese altyd ’n dorpsnooi bly. Sy is ook bly en dankbaar oor die reën, want sy weet hoe nodig hulle dit het. Maar as die reën ’n bietjie te hard val, sal sy weer begin wonder of die dak nie dalk sal lek nie, en of die paar ontydige kuikens onderdak is. Nee, vir haar is die geluid van die reën op die dak nie musiek nie en sy dink hy is mal as hy sy hoed opsit en buite in die reën gaan rondloop.
Esther se glimlag toe hy by haar verbystap, is begrypend en sy staan dadelik op en volg hom na buite. ’n Oomblik staan hulle stil langs mekaar terwyl hulle die klam, geurige luggie diep in hul longe intrek. Dan steek sy haar arm deur syne en lê haar kop teen sy skouer.
“Die droogte is gebreek! En ook net betyds!” sê hy.
“Dis wonderlik, Pappie,” sê sy ná ’n rukkie sag. “Ek kan nooit begryp waarom daar droogtes ook moet wees nie.”
“Ek ook nie, Koekie. Maar as alles te voorspoedig gaan, waardeer ’n mens dit later nie meer nie. Dan vergeet jy om jou seëninge te tel. Dis eers as jy geswoeg het vir iets, dit miskien byna verloor het, dat dit vir jou werklik waarde het.”
“H’m,” sê sy sag. “Almiskie. Maar droogtes is so aaklig. Ek is jammerder vir die diere wat ly en swaarkry as vir die mense. Ek is so bly dit het gereën voor ek weggaan. Dit sou tog te swaar gewees het om weg te gaan solank Skeerpoort so kaal en droog en treurig is. Maar nou is alles weer reg, nè? Daar is nou geen haas om Vlam te verkoop nie, is daar?”
Hy glimlag in die donkerte. As Esther haar sin kon kry, sou hy nie ’n enkele perd verkoop nie. Sy wil nou maar nie begryp dat dit deel van sy boerdery is om perde te teel en hulle dan te verkoop nie. En Vlam, die groot blou skimmel met die wit streep soos ’n vlam op haar voorkop, was nog altyd Esther se liefling gewees.
“As ek my prys kan kry, Koekie, sal Vlam seker vanjaar moet gaan. Jy weet ek het baie geld vir hierdie nuwe swart hings betaal en die vakansie op Hermanus het ’n groot gat in my sak gemaak. Ek wens ek kon haar vir jou gee, my kind, maar jy het al vir Dadels en Aandblom en daarmee sal jy vir eers tevrede moet wees. As dit moontlik is, sal ek haar hou tot ná die Lentetentoonstelling. Vlam sal ’n goeie advertensie vir my wees, veral as jy haar ry. Maar my eintlike hoop vir die tentoonstelling is Demetrius en as ek moet kies tussen die twee sal dit Vlam wees wat moet gaan. Demetrius kom pragtig aan; jy sal sien, hy gaan nog mooier wees as Vlam.”
“Nooit mooier nie.”
“Jy sal sien. Ek is elke dag meer in my skik met die vul. Ek het alreeds vir Vlam ’n koper in die oog.”
“O, waarom moet Pappie altyd my mooiste perde verkoop?” Hy lag en sit sy arm om haar.
“Hulle is almal vir jou mooi, Koekie, en hulle moet ook almal mooi wees. As ’n man een van Gideon Bruwer se perde gekoop het, wil ek hê hy moet voel hy het iets besonders gekry, iets wat die moeite werd was om voor te wag.”
Byna gelyktydig sien hulle die motor se ligte in die grootpad. ’n Paar minute wag hulle en dan weet hulle dat die motor op pad is Skeerpoort toe.
“Wie sou dit wees?” wonder Esther hardop.
Haar vader antwoord eers nie, maar luister aandagtig.
“Dit klink baie soos daardie ou rammelkas van ons rooikopbuurman,” sê hy stadig. “Ek wonder wat makeer?”
Sy lag saggies.
“Ons buurman sal baie seergemaak voel as hy hoor Pappie praat van sy geliefde motor as ’n ou rammelkas. Hy en Isak het nou die dag weer die hele ou motor uitmekaar gehaal en hulle sê daar is nie nog so ’n enjin in die hele distrik nie.”
“Dis ook al waarvoor jou broer goed is,” brom die oubaas. “Masjinerie en boeke! Ek weet nie hoe ek ooit ’n boer van hom gaan maak