Eendekuil. Tryna du Toit
sal ook daar wees en hy moet nog vasstel presies hoeveel ooie gebyt is en hoe groot die skade is. Hy hoop oom Gideon sal self aanbied om vir die skade te vergoed. Hy wil hom nie graag daartoe dwing nie. Hy wil nie graag sonde met sy bure hê nie, maar wat reg is, is darem reg. Sover hy weet, is oom Gideon ’n welgestelde man. Hy begin nou net boer en die verlies van die pragtige ooie is vir hom ’n groot terugslag. Jammer darem dat Barry nie hier is nie. Hy sou oom Gideon met soveel meer vertroue en sekerheid ontmoet het as Barry by hom was, of as hy die saak net een maal met hom kon bespreek.
Selina is nog nie in die kombuis nie, dus sal hy maar sonder koffie moet gaan. Hy neem ’n paar appels en steek dit in sy sak.
Buite staan hy ’n oomblik stil op die hoë voorstoep. Dis nog voor sonop en die lug en koppies is ’n sagte pêrelgrys. Die reën het gedurende die nag opgehou en die oggend is doufris en lieflik. Dit is of die wêreld gedurende die nag weer nuutgebore is. ’n Klam, vars geur styg uit die grond uit op en oral op die werf staan daar nog poeletjies water.
In die hoë bome naby die huis sing die voëls en die helder, aanhoudende gekoer van die tortels klink soos ’n danklied. Die eende raas by die dam, die kalwers bulk en hy sien Jonas se seun die veld inhuppel agter die koeie aan. Mens en dier juig vanmôre en Kosie se hart voel meteens ook ’n bietjie ligter. Hy is jonk en sterk, hy sal dié verlies en teleurstelling ook te bowe kom.
Hy stap na die reënmeter by die waenhuis om te sien hoeveel dit gereën het. Jonas kom van die stal af met die twee perde wat hy opgesaal het.
“Ons het mooi reën gehad, meneer Kosie. Seker twee duim,” raai hy.
“’n Duim en agt punte,” sê Kosie met groot tevredenheid.
“Die Here is vir ons goed. Nou sal ons die Karooveld sien groei. Volgende jaar dié tyd het meneer Kosie lankal vergeet van die klomp ooie wat daar doodlê.” Hy sien die wolk wat oor Kosie se gesig trek en vervolg haastig: “Ek is jammer Selina is ’n bietjie laat vanmôre. Maar ek sal gou koffie maak.”
“Ons sal maar die koffie drink as ons terugkom, Jonas. Nou is ek haastig. Meneer Gideon sal ook vroeg daar wees.”
Kosie neem Vossie by Jonas. Ongeduldig, vol lewenslus en energie, trippel die jong vosperd daar rond. Die oomblik wat Kosie op sy rug is, vlieg hy weg en Jonas moet vinnig klim om nie agter te bly nie.
Die drie kuile waarna die plaas vernoem is, staan vol bruin modderwater en weer is dit of Kosie se hart ’n bietjie ligter word.
Maar daar by die kamp oorweldig die aakligheid van die toneel hom weer. Die mooi ooie, gister nog sy trots en vreugde, lê nou styf en sonder lewe op die nat grond met die aaklige, gapende wonde in hul sye.
Wat ’n skade. Wat ’n verlies!
Aaron, wat van die begin van die jaar af by hom werk, en Booi, een van sy ander werkers, is besig om die dooie ooie bymekaar te bring. Vyf van dié wat hy gedink het dit miskien sou maak, het ook gedurende die nag gevrek, en terwyl hulle daar besig is, kry hulle nog ’n paar wat so ernstig verskeur is dat daar maar min hoop is dat hulle kan herstel. ’n Paar lyk weer beter. Sodra die poskantoor oopgaan, sal hy die veearts bel, miskien kan hulle nog ’n paar van die ooie red.
Vyf en sewentig van sy uitsoekooie lê nou op die klam grond om hom. Die bitterheid en ontevredenheid begin weer in sy hart posvat en toe oom Gideon en Esther ’n rukkie later daar aankom, kos dit moeite om hulle beleef en vriendelik te groet.
Al betaal oom Gideon hom vyfhonderd pond skadevergoeding sal dit nog nie genoeg wees nie!
Hy is jammer dat Esther saamgekom het, hoewel dit nie vir hom vreemd is dat dit sy is en nie Isak nie wat die oubaas vergesel. Tog, oom Gideon moes beter geweet het as om haar te laat saamkom. Hy wonder meteens of oom Gideon haar miskien as getuie saamgebring het.
Oom Gideon klim swaar van sy perd af. Hy het nie goed geslaap nie en hy voel vanmôre verkeerd en omgekrap. Die gesig wat hy hier sien, is ook genoeg om enige man te ontstel, veral as jy weet dat jy vir die skade verantwoordelik gehou gaan word. Hy het gehoop en verwag dat sy jong buurman gisteraand oordryf het, dat Rex, as dit dan hy is, nie meer as vyftien of twintig ooie verskeur het nie. Maar dit lyk nader aan ’n honderd ooie wat hier styf op die grond lê. Hy weet Kosie Niemeyer het ’n klompie uitsoekooie gehad; hy het self die jong ramme wat Barry Retief vir sy swaertjie gegee het, deurgekyk en vergelyk met dié wat hy verlede jaar so duur by die eienaar van Wag ’n Bietjie gekoop het. Hulle was pragtig en beter as syne.
Hy stap saam met Kosie tussen die ooie deur. Ontsettend! Dis ongelooflik dat een hond soveel skade kon aanrig. Daar moes nog ’n hond by gewees het. Ongelukkig is dit ook die eerste ding wat hy vir Kosie sê. “Man, dis vir my onmoontlik om te glo dat een hond alleen soveel skade kon aanrig. Daar moes nog ’n ander hond, of miskien twee, by gewees het.”
Kosie voel die bloed na sy gesig toe opstoot. Is dit oom Gideon se plan? Is dit hoe hy sy verpligting wil ontduik? Hy was nie verniet onrustig gewees nie. Oom Gideon is besig om ’n uitweg te soek. Maar hy sal nie by hom verbykom nie. Oom Gideon dink omdat hy jonk en onervare is, kan hy hom enige ding wysmaak. Met moeite bedwing hy sy vinnige humeur en antwoord so kalm as wat hy kan: “Ek dink oom Gideon moet duideliker praat.”
“Moet my nou nie verkeerd verstaan nie, Buurman,” paai oom Gideon haastig, maar ook in hom groei die ergerlikheid vinnig aan. Die jong snuiter moet darem weet met wie hy praat. “Ek sê maar net dis vir my moeilik om te glo dat een hond soveel skade kon aanrig. Dis soos ’n slagting wat hier plaasgevind het. Julle het mos nog honde hier op die plaas. Waar was hulle?”
Kosie kyk die ouer man waterpas in die oë. Sy blik is koel, byna spottend.
“Boel was saam met my dorp toe. Ek is vroeg gistermôre al daarheen en, oom Gideon sal miskien onthou, Oom-hulle het gistermiddag by my verbygery net duskant Wag ’n Bietjie se hek. Ek het net tuis gekom toe Jonas my kom roep. Dan is daar nog Jonas se hond …”
“So ’n lelike, maer windhond! Ek het hom verskeie kere al opgemerk. Dit lyk of hy nooit genoeg kos kry nie.”
Kosie voel sy ore word nou rooi, maar hy bedwing hom nog.
“Dis reg. Jonas het die hond gehad toe hy by my gekom het. Die hond was gistermiddag by Jonas se kind toe hy die bokke gaan haal het. Ek het hulle hy die eerste hek teëgekom toe ek van die dorp teruggekom het, myle ver van die kamp waar Rex besig was om die ooie te verskeur.”
Dis of oom Gideon se wenkbroue effens roer. Hy praat nie, maar die stilte is swaar van sy onuitgesproke gedagtes. Dis of Kosie kan voel wat oom Gideon dink en sy stem is nou koel en kortaf: “Ek het Rex hier onder die ooie geskiet. Hy was blykbaar heeltemal dol. Daar was net een uitweg en dit was om hom dood te skiet. Daar bestaan by my nie die minste twyfel dat hy alleen vir die skade verantwoordelik was nie en as oom Gideon hom gesien het, sou Oom ook geen twyfel gehad het nie.”
Oom Gideon is ’n lang ruk stil, dan sê hy kortaf: “Ek wil graag die hond sien.”
“Kom, ons kan dadelik gaan.”
Esther sit nog die hele tyd roerloos op haar perd, ’n groot grysblou skimmel met ’n vel wat soos satyn blink. Oom Gideon het pragtige perde en die skimmel is seker een van die mooistes. Esther sit so gemaklik in die saal soos ’n ander meisie op ’n stoel sit. Ná die vroegoggendrit is daar ’n mooi kleur in haar wange, maar sy lyk ongelukkig en vermy sy blik.
Op ’n drafstappie ry hulle deur die groot kamp huis toe. Die veld is nat, die perde trap diep spore in die sagte grond. Daar heers ’n ongemaklike stilte wat niemand probeer verbreek nie.
“Dit het mooi gereën hier,” sê oom Gideon een maal, toe hulle by die kuile verbykom, maar daar is geen warmte of hartlikheid in sy stem nie.
By die huis nooi hy hulle binne om koffie te drink, maar oom Gideon wil eers die hond sien. Kosie gaan na Esther om haar van haar perd te help, maar nog voor hy haar kan bereik, is sy alreeds op die grond. Sy is so vinnig en rats soos ’n seun, dink hy. Maar hy wil liewer nie hê sy moet saam waenhuis toe gaan nie.
“Wag jy solank vir ons in die huis, Esther,” sê hy. “Selina bring