Tryna du Toit-omnibus 3. Tryna du Toit
klim uit en word onmiddellik deur twee yslike rifrughonde bestorm. Hy steur hom egter nie aan hulle nie, maar maak die motor agter oop en haal sy tas uit. Karin wonder of sy veronderstel is om te bly sit, maar hy stap na haar kant van die motor en maak die deur oop.
“Kom saam,” nooi hy haar en gedwee klim sy uit. Hulle stap saam na die huis toe met die twee agterdogtige honde snuiwend op hulle hakke, maar Karin slaag daarin om – uiterlik altans – net so kalm soos Hugo te bly.
’n Skraal, middeljarige vrou kom hulle vanuit die huis tegemoet. Jare van bekommernis en swaarkry het ’n duidelike stempel op haar gesig en persoon afgedruk, maar haar klere is skoon en netjies en sy maak ’n goeie indruk. ’n Verligte glimlaggie verhelder haar gesig toe sy sien wie die besoekers is.
“Kom binne, Dokter,” nooi sy vriendelik. “Ek is so bly Dokter het gekom.”
“Dit is dokter De Wet, Mevrou,” stel Hugo vir Karin voor. Die vrou vergeet vir ’n oomblik haar bekommernis terwyl sy nuuskierig na die meisie voor haar kyk.
Dit is vir Karin of haar stem iets van sy vriendelikheid verloor het toe sy sê: “Kom binne, dokter De Wet.”
“Wie is die pasiënt, Mevrou?” vra Hugo terwyl hulle saam met haar binnetoe stap.
“Dit is Elsie, Dokter. Sy is al byna ’n week lank siek. Sy het pyn in haar bene, is koorsig, keelseer en lusteloos, en sy wil nie eet nie …” Haar stem breek af toe hulle by die eetkamer kom en sy staan opsy sodat Karin en Hugo voor haar by die vertrek kan instap.
’n Dogtertjie van omtrent agt jaar lê op ’n ysterbedjie in die een hoek van die eetkamer. Die vertrek is verder karig gemeubileer met slegs ’n tafel, ’n paar goedkoop stoele en ’n paar paraffienkissies wat teen een muur op mekaar gestapel is en as bêreplek dien vir borde, koppies en kruideniersware. Maar die laatmiddagson val warm en koesterend oor die voetenent van die bedjie waarin die siek dogtertjie lê en Karin dink dit kon erger gewees het.
Elsie is blond met groot blou oë waarin daar nou angs en onrus skuil. Die ronde gesiggie is bleek en daar is donker skaduwees onder die blou oë. Sy draai haar kop verleë weg toe die twee dokters langs haar bed kom staan.
“Kom, Elsie, sê hallo vir Dokter,” moedig die ma haar dogter aan. “Dokter kom jou gesond maak.”
Hugo Slabbert gaan sit op die kant van die bed en neem een klein handjie in syne.
“Hier is vandag twee dokters,” sê hy. “Jy kan self kies watter een jy wil hê.”
Skaam kyk sy van hom na Karin en dan weer terug na hom, en verleë skud sy haar kop.
“Jy wil liewer nie kies nie, nè?” sê hy glimlaggend. “Dan vra ons vir dokter De Wet om te kom kyk wat jou makeer. Sy is eintlik jou dokter; ek het maar net saamgekom om vir haar die pad te wys.”
Hy staan op om vir Karin plek te maak en sy gaan sit op die bed by Elsie, effens uit die veld geslaan deur die onverwagte verloop van sake.
Sy is in elk geval bereid om te probeer!
Hugo Slabbert sit sy instrumenttas op die tafel neer en maak dit oop, en Karin begin met haar ondersoek. Sy ondervra ma en dogter om die beurt en haar hande is vlug en seker. Koorsigheid … pyn in die bene … ’n hewig ontsteekte keel … sy het ’n sterk vermoede sy weet wat Elsie makeer. In haar vier maande in die kinderafdeling van die hospitaal het sy heelwat ondervinding van rumatiekkoors opgedoen en sy het geleer om op sekere simptome te let. Toe sy die laken en kombers versigtig van die pasiënt aftrek, sien sy dadelik die een rooi, effens geswelde kniekoppie en sy weet haar vermoede is reg. Die knie voel warm onder haar hand en Elsie se gesiggie vertrek selfs toe sy net liggies daaraan raak.
“Van wanneer af is die knie so geswel, Mevrou?” vra Karin.
“Ek het vanoggend opgemerk haar een knie is effens geswel, maar ek het gedink sy het haarself seergemaak. Dit lyk nou erger,” sê die vrou met ’n bekommerde plooitjie tussen haar wenkbroue.
“Was sy die hele tyd in die bed vandat sy siek geword het?” vra Karin.
“Ek het haar gister ’n bietjie laat opstaan, maar sy was so pap dat ek haar maar weer dadelik terug bed toe laat gaan het.”
“Dis goed. Sy mag glad nie opstaan nie, Mevrou,” sê Karin. “Onder geen omstandighede nie – al lyk sy ook vir jou beter. En neem die lakens weg sodat sy net tussen die wolkomberse lê. Sy moet die hele tyd warm en stil gehou word. Julle moet veral oppas dat sy nie koue kry nie.”
“Wat makeer sy, Dokter?” vra die vrou. Haar houding is styf en effens onvriendelik en Karin kry die indruk dat sy nie veel vertroue in die nuwe dokter het nie.
Karin knyp Elsie se bleek wangetjie gerusstellend, dan draai sy na haar ma toe.
“Elsie het rumatiekkoors, Mevrou,” sê sy sag. En vir Hugo Slabbert, wat stilswyend toekyk, sê sy: “Ek wil graag ’n bloedmonster neem om die diagnose te bevestig. En ’n penisillieninspuiting gee vir haar ontsteekte keel.”
“Rumatiekkoors!” herhaal die vrou effens verslae. “Is jy seker, Dokter?”
“Ek is seker,” sê Karin simpatiek. “Maar die bloedmonster is om dubbel seker te maak.”
Hugo help haar om die nodige bloed te trek en die pasiënt ’n inspuiting te gee, en dis hy wat die dogtertjie paai toe die groot blou oë skielik vol trane skiet en sy bang aan die komberse vasklou.
“Ek kom weer vir jou kuier,” belowe Karin glimlaggend toe sy vir Elsie groet. Skamerig groet Elsie terug, duidelik verlig dat die besoek nou verby is. Buite herhaal Karin haar instruksies aan Elsie se ma en sy beklemtoon dat Elsie se toekomstige gesondheid grotendeels afhang van die sorg wat sy die volgende paar weke kry. Met rumatiekkoors is daar nog geen kortpad na herstel nie. Die pasiënt moet minstens ses weke in die bed bly en so stil moontlik gehou word.
Dit is duidelik ’n ontstellende vooruitsig vir die vrou. Karin kan raai dat sy wonder hoe sy tussen al haar ander werk deur nog haar dogter ook moet versorg en hoe sy haar ses weke lank stil en tevrede in die bed moet hou.
As sy tog maar net vir klein Elsie in haar arms kon optel en haar in een van die skoon wit hospitaalbeddens kan neerlê waar sy weet sy die nodige sorg en behandeling sal ontvang en waar sy altyd naby is om ’n wakende ogie oor haar vordering te hou, sal haar hart veel ligter voel.
Hoe sou ’n man soos Hugo Slabbert oor die saak voel? wonder sy toe sy weer langs hom in die motor sit. Kom hy ook nog in opstand teen die onregverdigheid en wreedheid van die lewe wat aan die een so min gee en aan die ander so baie?
Ná ’n rukkie sê sy: “Ek begin reeds die waarheid van jou woorde besef – dat ek sal uitvind dat die werk hier op Doringlaagte nie met my werk in die hospitaal vergelyk kan word nie.”
“Jy dink aan Elsie?” sê-vra hy.
“Ja. Ek dink hoeveel gunstiger die toestande vir haar herstel, haar algehele herstel, in die hospitaal waar ek gewerk het, sou wees.”
“Dis maar ’n klein persentasie van siekes wat hospitaalbehandeling kan kry. Met die beperkte getal beddens wat beskikbaar is en die tekort aan opgeleide verpleegsters kan slegs die dringendste gevalle hier opgeneem word.”
“Natuurlik, dieselfde toestande heers vandag oral. Maar dit verbeter nie die saak nie.”
“Glo jy nog dat ideale toestande in die wêreld verkry kan word?” vra hy effens spottend.
“Ek glo dat baie van hulle nog verbeter kan word.”
Hy haal sy skouers op.
“Idealisme is ’n mooi eienskap, maar kenmerkend van die jeug. Realisme is van baie meer praktiese waarde.”
“Is realisme dieselfde as verbittering en ontnugtering?” vra sy koel.
Hy antwoord haar nie dadelik nie. Ná ’n rukkie sê hy: “Miskien is daar ’n verwantskap, hoewel ek dit nie vroeër so ingesien het nie.” Sy stem is koel en gelyk