Tryna du Toit-omnibus 3. Tryna du Toit
’n Rukkie later drink hulle almal saam koffie in die personeelkamer – almal behalwe die rooikopverpleegster wat by die pasiënt sit. Die vrou se toestand is nog kritiek en dit sal seker nog ’n paar dae so bly, maar tensy daar nuwe komplikasies intree, is daar goeie hoop op herstel.
Karin was bly toe dokter Roux voorstel dat hulle gaan slaap. Sy het ’n lang dag agter die rug en wil graag uitgerus wees as sy môre haar nuwe werk begin. En dan glimlag sy: die werk het reeds begin. Môre sal maar net ’n voortsetting van die nag se werk wees.
“Goeienag, dokter De Wet,” sê dokter Slabbert toe sy groet om huis toe te gaan. Hy lyk moeg, dink Karin, maar die bruin oë is nog net so koel en onpersoonlik soos altyd.
“Ek is bly ek kon by wees,” sê sy.
’n Vlugtige glimlaggie verjaag die vermoeienis van sy gesig.
“In die omstandighede was dit ’n goeie ding dat jy saamgekom het. Dankie vir die hulp.”
Dit was al: dankie vir die hulp. Tog was daar ’n warm gevoel in haar hart en sy was skielik glad nie meer so moeg nie.
Sy en Isak Roux stap saam weg, maar toe hulle by die trap kom, val dit hom by dat hy iets vergeet het.
“Stap maar solank af,” sê hy. “Ek kom dadelik.”
Stadig, half ingedagte stap Karin by die trap af. Toe sy in die groot ingangsportaal kom, sien sy die man en twee dogtertjies wat in die een hoek op ’n bank sit. Die jongste dogtertjie, ’n kind van omtrent twee jaar, is vas aan die slaap in sy arms, die ander enetjie, ’n jaar of twee ouer, sit styf teen hom aangedruk terwyl sy met groot, onrustige oë om haar staar. Die groepie lyk so eensaam en verlate dat Karin innig jammer voel vir hulle. Sou dit die vrou se man en kinders wees?
Sy stap vinnig na hulle toe en haar stem is sag en gerusstellend: “Goeienaand, Meneer. Wag u vir iemand?”
Hy sluk voor hy praat. “My vrou … Dokter Slabbert sou ’n noodoperasie op haar doen. Weet u … weet u of die operasie al verby is?”
“Die operasie is verby en u vrou slaap nog van die narkose. Haar toestand is so goed soos dit in die omstandighede kan wees.”
“En die kind?”
“Die seuntjie lewe en lê vas aan die slaap in sy mammie se kamer.”
Die man se gesig vertrek ’n oomblik, dan beheer hy homself.
“Dis wonderlike nuus,” sê hy en probeer glimlag.
“Weet dokter Slabbert u is hier?” vra Karin fronsend, maar die man skud sy kop.
“Ek kon dit nie alleen daar op die plaas uithou nie en het besluit om agterna te kom. Ek het die klokkie gelui,” vervolg hy effens verskonend, “maar niemand het gekom nie. Ek het gedink ek sal maar hier wag tot alles verby is. U sê … u sê dit gaan goed met my vrou?”
“Nog nie goed nie. Dit was ’n moeilike operasie en sy is baie swak. Maar kom saam met my, dan neem ek u na dokter Slabbert toe.”
Die man sê egter hy sal liewer die volgende oggend terugkom. Noudat hy weet alles het goed afgeloop, sal hy liewer die dogtertjies in die bed gaan sit.
Uiteindelik is Karin weer terug in haar hotelkamer. Sy trek gou uit en sit die lig af. Gedagtes maal in haar kop, maar sy is te moeg om die baie gewaarwordings van die dag te ontleed. Sy slaap.
Hoofstuk 5
Karin is die volgende oggend saam met dokter Roux hospitaal toe om met die matrone en die res van die personeel kennis te maak. Daarna sou hy haar spreekkamers toe neem. Sy dra ’n mooi donkerblou linnepak met ’n spierwit bloesie en lyk koel en op haar gemak. Maar haar hart klop’n bietjie vinniger as gewoonlik en sy wens die eerste dag by die spreekkamers is reeds agter die rug.
Die hospitaal is klein in vergelyking met die groot stadshospitale, maar stewig en goed gebou en, soos sy reeds uitgevind het, doeltreffend toegerus.
“Die hospitaal is eintlik dokter Truter se baba,” sê Isak Roux terwyl hulle nader stap. “Hy het jare lank die noodsaak van ’n moderne, goed toegeruste hospitaal in die gebied bepleit en uiteindelik, ná baie moeite en ergernis, sy ideaal verwesenlik gesien. Die feit dat ons oor die dienste van twee sulke bekwame chirurge soos Hugo Slabbert en Herman Truter beskik, het seker ook heelwat daarmee te doen dat ons oorstroom word deur pasiënte.”
Daar is nie ’n sweem van bitterheid of jaloesie in sy stem nie en Karin voel ’n warm bewondering vir die man wat met sulke lof van sy twee kollegas kan praat.
“Hoe lank is dokter Truter al op Doringlaagte?” vra sy.
“Byna dertig jaar.” Hy glimlag vir haar verbasing. “Ja, daar was ’n tyd toe Herman Truter die enigste dokter op Doringlaagte was. Vandag is ons vyf en daar is werk vir minstens nog twee dokters. En as die nuwe deel van die hospitaal klaar is – hulle hoop om binne die volgende paar maande met die bouery te begin – sal ons verplig wees om nog hulp by te kry.”
Hulle stap die treetjies op en die reeds bekende voorportaal binne.
“Hoe gaan dit met ons pasiënte van vannag?” vra sy.
“Die vrou se toestand is nog kritiek. Met die seuntjie gaan dit volgens Matrone uitstekend. Ek het hulle nog nie self weer gesien nie. Nou kom, hier is Matrone se kantoor. Ek dink dit is beter om nou met haar kennis te maak en nie te wag tot daar eers weer ’n noodoperasie is nie.”
Karin glimlag effens, maar antwoord nie en saam stap hulle die matrone se kantoor binne.
Ralie Vermeulen sit agter haar lessenaar en skryf, maar sy staan dadelik op toe sy sien wie haar besoekers is en kom glimlaggend nader. Dokter Roux stel die twee vroue aan mekaar voor en nuuskierig kyk die matrone na die aantreklike jong meisie wat voor haar staan. Sy dink dat haar ergste vrese bewaarheid is. Die nuus dat dokter Truter se plaasvervanger ’n jong, ongetroude vrou is, het haar van die begin af nie aangestaan nie.
Sy groet vriendelik, maar Karin voel dadelik dat die vriendelikheid nie spontaan is nie. Die donker oë wat haar so stip betrag, laat haar effens ongemaklik voel en sy is verlig toe die matrone van haar af wegdraai om met dokter Roux te praat.
“En wat dink jy van ons petaljes van vannag, Matrone?” vra hy haar.
“Ek is jammer ek was nie hier om te help nie,” sê sy dadelik.
“Suster Vorster het na jou gesoek, maar jy was nêrens te vinde nie.”
“Ek was saam met vriende bioskoop toe en het die nag by hulle geslaap. Dit doen ’n mens goed om soms ’n bietjie weg te kom van die hospitaal af.”
“Natuurlik,” sê Isak Roux hartlik. “Dis absoluut noodsaaklik en suster Vorster het haar plek vol gestaan. Ons nuwe assistent is ook ingespan en alles het vlot verloop. Maar kom, dokter De Wet, dis Saterdag en ons moenie tyd verspeel nie.” Vir die matrone sê hy: “Stap jy saam, Matrone? Ek wil dokter De Wet graag gou deur die hospitaal neem.”
Matrone stap saam met hulle van kamer na kamer en dis sy wat die meeste van die praatwerk doen. Sy neem hulle eers na die kinderkamer: ’n groot, sonnige kamer met vier gewone beddens en twee bababedjies. In elke bed, behalwe die een bababedjie, is ’n jong pasiëntjie. Karin wil graag na elkeen se geskiedenis uitvra, maar sy waag dit liewer nie vandag nie.
In die kraamafdeling, gerieflik afgesonder in die een vleuel van die gebou, is die beddens ook byna almal beset. Hier heers ’n gelukkige, opgewekte atmosfeer.
Hulle tref die pasiënt van die vorige nag alleen in ’n kamer aan. Haar man sit voor haar bed, effens vooroor gebuig, sy blik stip op die bleek gesig van sy vrou. Dis of hy haar met sy eie krag wil besiel.
Stil, met die gevoel dat sy ’n indringer is, draai Karin om en stap saggies uit, gevolg deur die matrone en dokter Roux.
Hulle stap verder en Karin se eerste indrukke van ’n doeltreffende hospitaal en bekwame personeel word versterk. Die rooikopverpleegster