Tryna du Toit-omnibus 3. Tryna du Toit
bene. Agterdog en teësin omring hom soos ’n wolk. Voordat hy egter kan praat, oorweldig ’n hoesbui hom en Karin staan op om hom ’n glas water te gee.
“Dis ’n slegte hoes,” sê sy.
“Dis niks erger as gewoonlik nie,” brom hy. “Ek hoes al jare so.”
Karin het hom die hele tyd noukeurig dopgehou. Daar is ’n effense blos op sy wange, die blou oë is flou en waterig en dit lyk vir haar of hy koorsig kan wees. Saam met die hoes is dit beslis simptome van erger moeilikheid en ondanks Mien se waarskuwing voel sy onwillig om hom met ’n bottel hoesmedisyne huis toe te stuur sonder om hom ook deeglik te ondersoek.
“Dit klink vir my soos ’n nuwe hoes,” sê sy om tyd te wen. “U het seker êrens verkoue opgedoen.”
“So ’n effense verkouetjie,” erken hy ongeduldig. “Ek het gister hout gesaag en die windjie het my seker gevang.”
“Pyn in die bors?” vra sy.
“Nie erger as gewoonlik nie,” skerm hy. “Ek het ’n pyn agter my blad, maar dis seker maar van gister se saagwerk.”
“Heel waarskynlik,” stem Karin in. “Maar ek dink darem ons moet seker maak.”
“Ek wil net medisyne hê,” sê oom Japie beslis. “Medisyne vir die bors en smeergoed vir Alie se jig. Suster sal jou kan sê watter medisyne dokter Herman altyd voorgeskryf het.”
Karin tel haar stetoskoop van die lessenaar af op.
“Ek sal u die medisyne gee, maar ek wil u net gou ondersoek. Trek net u baadjie uit …”
Maar oom Japie het reeds regop gekom, ontsteltenis en diepe verontwaardiging in elke trek van sy gesig te lees.
“Nee, Juffrou, dit doen ek nie!” sê hy en sy blou oë blits vuur. Hy hoor nie die geklop nie en is nie bewus daarvan dat die deur agter hom oopgegaan het nie. “Ek trek my nie voor ’n vreemde vroumens uit nie en laat my ook nie deur ’n vroumens ondersoek nie. Dis teen my beginsels!”
Hugo Slabbert bly ’n oomblik besluiteloos in die deur staan. Hy het die situasie voor hom met een oogopslag ingeneem en ’n onwillige glimlaggie verhelder vlugtig sy gesig. Die prentjie van die verontwaardigde oom Japie, wat besig is om vinnig tru te staan, en die half verleë, half geamuseerde uitdrukking op die gesig van die jong dokter wat stetoskoop in die hand nog agter die lessenaar staan, was selfs vir sy streng selfbeheersing te veel.
Hy het homself egter onmiddellik bedwing en die deur toegemaak en nader gestap.
“Verskoon my, dokter De Wet,” sê hy kalm. “Ek het gedink jy is alleen.” Vir oom Japie vra hy: “Wat makeer, oom Japie?”
“Meneer Greyling laat hom nie deur ’n vroumens ondersoek nie,” antwoord Karin koel, bewus van die blos op haar wange en diep gekrenk dat Hugo Slabbert haar verleentheid moet aanskou.
“Ek wou net medisyne gehad het,” sê oom Japie nors. “Watse ondersoekery is dit?”
Karin neem oom Japie se kaart en hou dit sonder ’n woord na Hugo Slabbert toe uit. Hy kyk ’n paar tellings ondersoekend na haar en daar is nou nie ’n sweem van ’n glimlag op sy gesig nie. Dan neem hy die kaart en sê vir oom Japie: “Kom saam met my, oubaas.”
Die stem is kortaf, gebiedend, en oom Japie volg hom dadelik.
Karin bly alleen agter, vies, verleë en tog terselfdertyd geamuseerd. Dis nie soseer die ou man se houding wat haar ontstel nie – sy kan nogal die snaaksheid daarvan insien – maar die feit dat Hugo Slabbert juis op daardie oomblik moes inkom.
Daar is geen ander pasiënte vir Karin nie en sy wag om te hoor wat nou van haar verwag word.
Mien kom ’n rukkie later in.
“Jammer, maar ek moes dokter Slabbert eers help om ’n pasiënt te verbind.”
“Ek wag maar om te hoor wat die program vir die res van die naweek is.”
“Daar is nie vanmiddag spreekure nie, maar ek weet nie wie môre aan diens is nie. Die dokter wat aan diens is, neem ook die spreekure in die oggend waar.”
“Spreekure op Sondag?” vra Karin verbaas.
“Net omtrent ’n uur – anders is daar die hele dag ’n aanloop by die dokters se huise.”
“Ek sien,” sê Karin. ’n Vry Sondag is blykbaar iets van die verlede.
“Dan is daar nog ’n plaasbesoek wat vanmiddag gedoen moet word. Maar dis die beste om met dokter Slabbert self te praat. Ek weet nie watter reëlings hulle getref het nie.”
“Sal hy nog lank besig wees?”
“Nee, hy is feitlik klaar. ’n Hele paar van sy pasiënte het besluit om nie langer te wag nie.” Sy kyk na Karin en vra nuuskierig: “En oom Japie? Ek het hom tot my verbasing toe by dokter Slabbert aangetref.”
Karin glimlag effens verleë.
“Meneer Greyling het geweier om hom deur ’n vroumens te laat ondersoek.”
Mien lag. “Die oubaas het hom seker morsdood geskrik. Jy moet hom ook nie meneer Greyling noem nie – almal ken hom maar as oom Japie. Maar ek is jammer, dit was my skuld. Ek moes hom nooit na jou toe gebring het nie, maar hy het vir my siekerig gelyk en ek het gedink ons kan hom dalk gou weghelp.”
Karin knik. Sy het nie lus om selfs met Mien oor oom Japie te gesels nie.
“Baie dankie vir al die hulp vandag … en nogmaals dankie vir die rose,” sê sy saggies.
Mien kyk ’n oomblik reguit na haar.
“Ek help jou graag waar ek kan, Dokter,” sê sy vriendelik. “Tot siens dan tot Maandag. Ek sal vir dokter Slabbert sê jy wag vir hom.”
Sy het ’n bondgenoot in Mien, dink Karin toe die verpleegster by die spreekkamer uitstap. Mien het vanoggend uit haar pad gegaan om haar taak so maklik moontlik te maak en sy is dankbaar daarvoor. Sy hou van die vrou met die mooi blou oë en bleek, fynbesnede gesig en hoop hulle sal altyd so goed saamwerk.
Sy trek haar wit oorjas uit, neem haar handsak en haal ’n kam en lipstiffie daaruit. Sy het net weer haar handsak toegemaak toe dokter Slabbert aan die deur klop en inkom.
“Mien sê jy wil my sien.”
Sy stem en houding is koel en saaklik en Karin antwoord op dieselfde toon: “Ek wou net weet wat die reëlings vir die naweek is. Dokter Roux is uitgeroep net nadat ons hier aangekom het en daar was nie tyd om dit met hom te bespreek nie …”
“Sondagoggend se spreekure word om die beurt deur een van ons waargeneem. Ek is dié naweek aan diens. Afgesien van persoonlike oproepe is jy die res van die naweek los.”
“Suster sê daar is nog ’n plaasbesoek wat vandag gedoen moet word. Kan ek dit nie doen nie?”
Hy aarsel, dan sê hy: “Ek het van Isak verstaan julle gaan vanmiddag saam tennis speel.”
Karin voel haar wange word warm.
“Ek het in die eerste instansie hierheen gekom om te werk en nie om tennis te speel nie, Dokter,” herinner sy hom beleef.
“Ons sien almal uit na Saterdagmiddae,” sê Hugo Slabbert droogweg. “Ek het self gehoop om vanmiddag gholf te gaan speel.”
Die blos op Karin se wange word dieper, maar sy staan haar man.
“Ek sal dit graag doen,” herhaal sy. “As jy so gaaf sal wees om my die besonderhede te gee …”
Maar Hugo skud sy kop.
“Ek dink tog ek moet liewer self ry,” sê hy en sy stem is weer koel. “Die plaas is baie afgesonder en jy ken nog nie die distrik nie. Van Maandag af sal jy ’n oorvloed plaasbesoeke hê – rus maar nog vandag.”
Karin antwoord nie, maar hy kan sien sy is teleurgesteld. Half ergerlik,