Tryna du Toit-omnibus 3. Tryna du Toit
vertrek. Dan kom staan hy vlak voor haar.
“Karin,” sê hy en sy stem is diep en bruusk. “Wil jy liewer saam met ons werk?”
Sy kyk ’n oomblik op in sy donker oë terwyl sy dink dat dit die eerste keer is dat hy haar op haar naam noem. Dan draai sy vinnig weg en koel en beslis kom haar antwoord: “Nee dankie, dokter Slabbert – tot die einde van Junie sal lank genoeg wees. En as jy my nou sal verskoon, ek moet nog ’n plaasrit doen.”
“Net ’n oomblik,” sê hy. “Ek is self haastig, maar ek wil jou net graag dit sê: Jou naam was onlangs tussen my en dokter Silbur ter sprake toe hy my vertroulik oor jou werk uitgevra het. Hy het jou seker die aanbod gemaak na aanleiding van wat ek vir hom gesê het, maar hy het my nie gesê hy is van plan om jou te nader nie. Wat jou ander beskuldiging betref, is ek ook onskuldig: ek het die saak nog met niemand bespreek nie. Ek het jou belowe dat ons ná ’n maand weer kan gesels, maar terwyl jy blykbaar reeds besluit het, is daar nou verder niks te sê nie.”
Hy kyk ’n lang oomblik na die meisie wat met ’n bleek gesig en neergeslane oë voor hom staan, dan sê hy saggies, spottend: “Ek het dit nie van jou verwag nie, dokter De Wet – tipiese vroulike histerie!”
Hy draai om en stap uit.
Karin het Kosie Roux belowe sy sal die middag kom kyk hoe Doringlaagte se eerste skoolspan een van die naburige skole pak gee. Hoewel sy glad nie in die bui daarvoor was nie, het sy besluit om tog by die rugbyveld langs te ry en net ’n paar oomblikke te kyk hoe hulle speel. Die twee spanne was reeds op die veld toe sy daar aankom, maar sy het by een van die jong toeskouers gehoor dat daar nog geen punte aangeteken is nie.
Die spel is lewendig, selfs sprankelend. Kosie het ’n paar baie mooi naellope uitgevoer, maar is keer op keer met bal en al uit die veld geduik voor hy ’n drie kon druk. Maar hulle boer op hul teenstanders se doellyn. Karin sou enige ander dag al warm van opwinding gewees het, maar vandag volg sy die wedstryd nie met haar gewone konsentrasie nie. Sy wou net seker maak dat Kosie haar langs die kantlyn raaksien. Sy het net planne begin maak om te gaan toe ’n man se skaduwee oor haar val. Dis Hugo Slabbert wat langs haar kom staan.
“Ek het nie geweet dokter De Wet stel ook belang in rugby nie.”
Sy stem is spottend, en koud antwoord sy: “Ek het Kosie belowe ek sal kom kyk hoe hulle speel. Ongelukkig kan ek nie langer bly nie, anders verdwaal ek dalk weer op pad terug.”
Hy reageer nie daarop nie, maar sê net beleef: “Ek wou jou net weer herinner dat ek môre stad toe gaan – en waarskynlik die hele dag weg sal wees.”
“Ek het nie vergeet nie. Tot siens, Dokter.”
“Tot siens, dokter De Wet.”
Hy kyk haar ’n oomblik agterna voor hy weer sy aandag by die spel bepaal. Hy het self ook ’n plaasrit wat wag, maar dit duur ’n tydjie voor hy hom van die seuns se interessante spel kan losmaak.
Toe Karin tuis kom, tref sy tannie Rina in die bed aan. Toe sy besorg oor haar buk, fluister die ou dame hees: “Ek weet nie wat my makeer nie – seker maar ’n bietjie griep. Ek het al ’n paar dae keelseer en kopseer, maar vanmiddag by die vergadering het ek skielik kouekoors begin kry … Mevrou Horak, die prinsipaal se vrou, het my met die motor huis toe gebring.”
Haar vel voel warm en droog, haar polsslag is vinnig en sy lyk uitgeput. Karin gaan haal haar tas en al tannie Rina se teëpratery help niks. Karin ondersoek haar terwyl Susan met groot, verskrikte oë toekyk.
Toe Karin klaar is, sê sy: “Ek dink Tannie se diagnose is reg. Maar die griep is vanjaar besonder kwaai en daar is net een manier om daarvan ontslae te raak: bly in die bed tot jou dokter sê jy mag opstaan.”
Sy glimlag vir Susan: “Ons het ’n pasiënt, Susan, en ons sal haar mooi moet oppas as ons wil hê sy moet gou gesond word. Gaan maak gou vir Ouma ’n lekker warmwatersak.”
Terwyl hulle alleen in die kamer is en sy gereed maak om vir tannie Rina ’n inspuiting te gee, sê Karin: “Wanneer Tannie beter is, wil ek Tannie graag weer goed ondersoek. Die hart klink vir my vandag ’n bietjie moeg.”
’n Vreemde trekkie gaan oor die ouer vrou se gesig.
“Jy hoef niks vir my weg te steek nie, kind. Ek sukkel al jare met my hart.”
“’n Mens sal dit nie sê as ’n mens na al Tannie se bedrywighede kyk nie,” sê sy saggies en haar pasiënt se oë skiet skielik vol trane.
Toe Susan met die warmwatersak inkom, draai tannie Rina haar kop weg en vee ongemerk met die laken ’n traan uit haar oog. Susan kyk belangstellend toe terwyl Karin haar ouma inspuit, dan sê Karin: “So ja, ons hoop dit keer dat daar verdere komplikasies kom. En wat kan ons nou vir tannie Rina vir aandete bring?”
“Niks nie, dankie – miskien net ’n koppie tee later. Ek is jammer, maar daar is nie kos klaar vir julle nie. Susan moet maar gou iets vir Dokter maak.”
“Ons sal regkom, moenie Tannie daaroor bekommer nie. As dit nodig is, eet ek dié paar dae in die kafee, maar tannie Rina mag nie roer uit die bed nie. Verstaan ons mekaar mooi?”
Rina Louw glimlag effens.
“Ja. Ek is in elk geval vanaand te moeg om teë te praat. En dankie, kind, vir alles.”
Karin se hand rus ’n oomblik gerusstellend op die warm voorkop, dan pak sy haar instrumente in haar tas.
Tien minute later maak sy en Susan in die kombuis aandete. Karin het een van tannie Rina se voorskote om haar skraal middel gebind en sy maak roereiers terwyl Susan brood sny en sorg dat alles op tafel is. Karin se wange gloei van die hitte van die stoof en haar oë is blink en mooi. Susan kan haar oë nie van die jong dokter afhou nie.
Sy is die mooiste mens wat ek nog ooit gesien het, dink sy dromerig. Daardie wonderlike blou oë en swart hare …
Sy skrik toe Karin skielik haar naam roep.
“Susan! Hoe lyk dit vir my jy staan en droom. Is jy nie ook honger nie?”
“Natuurlik is ek.”
“Maak dan plek … die roereiers is klaar.”
“O, ek het nie geweet Dokter kan so lekker kos maak nie,” sê Susan ’n rukkie later waarderend.
“Ek is nie net ’n dokter nie, ek is ’n vrou ook,” spog Karin.
Hoofstuk 14
Die telefoon het Karin vroeg die volgende oggend wakker gemaak.
Nog half deur die slaap – sy is gedurende die nag uitgeroep na ’n kind met kroep – steek sy haar hand uit om die gehoorbuis op te tel.
Dis die matrone van die seunskoshuis.
“Ek is jammer om jou so vroeg lastig te val, Dokter,” sê sy verskonend. “Ek soek eintlik na dokter Slabbert, maar daar is nie antwoord by sy woonstel nie en hy is ook nie by die hospitaal nie. Kan jy my miskien sê waar ek hom kan kry?”
“Hy is vir die dag stad toe. Hy moet in ’n moordsaak gaan getuig.” Sy hoor die matrone se uitroep van ontsteltenis en vra: “Kan ek nie help nie?”
“Dis Kosie Roux,” sê die matrone. “Ek is baie bekommerd oor hom. Hy was die hele nanag siek van maagpyn en het aanhoudend naar geword. Die seuns het gisteraand nadat die ligte uit was, ’n tamaai fees gehou om hulle rugbyoorwinning te vier en ek het gedink dis van al die deurmekaar etery dat hy siek geword het. Ek is bevrees ek het vir hom medisyne gegee om te drink. Nou begin ek onrustig word. Hy is koorsig en word nog altyd naar, en die pyn is ook erger.”
Karin is skielik helder wakker.
“Ek kom dadelik,” sê sy en sit die telefoon neer.
Haar gedagtes is by Kosie terwyl sy haastig aantrek. Volgens die matrone se beskrywing van die simptome klink dit vir haar na akute blindedermontsteking en die feit dat die matrone hom medisyne ingejaag het, kan sake vererger.
By