Tryna du Toit-omnibus 3. Tryna du Toit
grinnik.
“So het jy al baie keer gesê. Maar watse soort dokter is jy dan, Hugo, dat jy nie Bester se knie kan regmaak nie?”
“As Bester verlede jaar na my geluister het en die knie kans gegee het om behoorlik gesond te word, sou julle nie nou met die hande in die hare gesit het nie.”
Vir Karin sê hy: “Ek kom nou net van die hospitaal af – een van die skoolseuns het met ’n fiets in ’n motor vasgery.”
“Ernstig?” Sy wonder of hulle na haar gesoek het – sy is immers aan diens. Tensy dit natuurlik een van Hugo se privaat pasiënte is.
“Gelukkig nie – net ’n paar gebreekte ribbes en kneusplekke.”
“Ek het ’n wonderlike, rustige aand gehad,” erken Karin. “Arrie is heeltemal teleurgesteld – ek dink hy het verwag om die hele aand in die ambulans rond te ry.”
“’n Man het ook maar sy drome,” glimlag Arrie.
“Die stilte voor die storm,” voorspel Hugo. “Saam met die koue weer kom die winterkwale en siektes.”
Hulle het nog so ’n rukkie gesels, toe sê Karin sy moet huis toe gaan. Hugo Slabbert het ’n tweede koppie koffie bestel en sy en Arrie is alleen daar weg.
“Ek het nie geweet Hugo Slabbert stel ook in rugby belang nie,” sê Karin vir Arrie toe sy weer langs hom in sy motor sit.
“Hy stel baie belang – hy het vroeër jare self ook gespeel. Hy is vanjaar lid van ons keurkomitee, soos jy seker uit ons gesprek afgelei het.”
“Ek het – ook dat die arme kaptein maar baie probleme het.”
Ná die lang, bedrywige dag was Karin moeg en bly om in die bed te kom, maar die telefoon het haar die nag twee maal uit ’n diep slaap gewek en in die koue uitgejaag. Die wind het gaan lê, maar dit was snerpend koud en die grond was hard van die ryp.
Toe Karin die tweede keer in die bed klim net toe die rooidag begin breek, was sy so verkluim dat dit vir haar gevoel het sy word nooit weer warm nie. Sy het al baie van die Hoëveldse winters gehoor en as dit ’n voorsmakie is van wat gaan kom, het sy die helfte nog nie gehoor nie.
Hugo Slabbert se voorspelling dat dit slegs die stilte voor die storm was, is die volgende paar weke oor en oor bewaarheid. Die ongure weer het voortgeduur en griep, verkoues, brongitis en mangelontsteking was meteens volop. Die spreekkamers was vol en die plaasbesoeke het toegeneem, en Karin het van die een pasiënt na die ander gejaag. Die rooi tweesitplekmotortjie was hier, daar en oral en die vriendelike swarthaarmeisie agter die stuurwiel was lankal nie meer ’n vreemdeling op Doringlaagte nie.
Sy was bewus daarvan dat Hugo nog besiger as sy is – hy is nie die soort man wat homself spaar nie, nie eens om ’n koppige meisie ’n les te leer nie – en buiten die oggende wanneer sy hom met operasies geassisteer het, het sy maar min van hom gesien.
Sy was saans doodmoeg, maar sy het nooit gekla nie, nie eens teenoor tannie Rina of Susan, wat die vriendelikheid en hulpvaardigheid self was nie. Hulle het in dié besige dae baie vir haar beteken. Haar blyplek was altyd blinkskoon, die kaggelvuur het helder gebrand as sy saans moeg en koud by die huis kom, telefoonboodskappe is getrou aangeteken en tannie Rina het dit altyd reggekry om vir haar iets smaakliks vir ete voor te sit, selfs as sy lank ná etenstyd eers opgedaag het.
’n Paar gevalle van kwaai virusgriep het die dokters heelwat hoofbrekens besorg voor hulle dit korrek gediagnoseer het. Eers toe het Karin vir Hugo vertel van die geval wat sy ’n rukkie terug op een van haar plaasbesoeke teëgekom het en wat haar so gehinder het omdat sy nie haar vinger op die probleem kon lê nie. Sy het dit destyds met dokter Roux bespreek, maar omdat sy nooit weer van die mense gehoor het nie, het sy aanvaar die kind het gesond geword en later daarvan vergeet. Nou glo sy dat dit ook virusgriep was.
Hoewel die plaasbesoeke tydrowend en vermoeiend was, het dit Karin dikwels groot bevrediging verskaf.
Die moeilikste geval was ’n bevalling op ’n verafgeleë plaas. Dit was haar derde plaasbesoek van die dag en toe sy die middag kort voor sononder uiteindelik by die werker se huis aankom, het sy ’n jong vrou in ’n uitgeputte toestand daar aangetref. By die lig van ’n flikkerende olielamp en die sterk flits wat sy altyd by haar gedra het, het sy alleen, met net die twyfelagtige hulp van ’n ou vrou, geveg om die lewe van die moeder en haar kind. Dit was ’n lang en taai worsteling. Alles was verkeerd en die sweet het later op Karin se voorhoof gepêrel en op die grond begin val sodat sy die ou vrou elke nou en dan moes vra om dit af te vee.
Maar uiteindelik was die stryd verby en die baba, warm toegewikkel in ’n kombersie, het luidkeels sy koms in die koue, onvriendelike wêreld aangekondig. Sy ma het geslaap, nog onder die invloed van die verdowingsmiddels wat Karin haar toegedien het, maar wanneer sy wakker word, sou hulle die baba in haar arms lê en die pyn sou saam met die donker nag wyk.
Met diep teue het Karin die koue, vars lug ingeasem toe sy weer buite kom en nederig dankie gesê dat sy weer eens die wonder van die geboorte van ’n nuwe lewe kon aanskou. In hierdie oomblik, hier in die oop veld onder die helder, vonkelende sterre, het sy baie na aan haar Skepper gevoel.
Sy luister na die stamelende dank van die pa wat saam met haar tot by die motor stap en gly styf en stram agter die stuurwiel in. Noudat alles verby is, besef sy hoe moeg sy is. Maar haar dag is nog nie klaar nie. Die lang pad huis toe lê nog voor en terug op die dorp wag die besoeke wat sy nie die middag kon doen nie.
Dit was ’n stikdonker nag en omdat sy so moeg was, het sy die uitdraaipaaie seker nie so goed dopgehou soos sy moes nie. Dit was eers toe ’n vreemde houthek skielik voor haar in die pad opdoem dat sy vir die eerste maal besef dat sy op ’n vreemde pad is. Sy het nooit vanmiddag deur so ’n hek gery nie, dit onthou sy goed.
Sy draai dadelik om en toe sy ’n paar myl terug ’n uitdraaipaadjie aan die regterkant sien, volg sy dit. Maar sy het al onrustiger geraak. Is dit maar net omdat dit so donker is dat die pad vir haar so vreemd lyk?
Toe sy ’n driekwartier later weer voor dieselfde houthek stilhou en besef dat sy die hele tyd in ’n sirkel tussen die rantjies deurgery het en nie ’n enkele tree nader aan die dorp was nie, het sy haar kop op die stuurwiel gelê met die gevoel dat sy nou die einde van haar kragte bereik het.
Sy sien nie kans om vanaand verder te gaan nie. Met die koms van die nuwe dag sal sy weer nuwe moed en krag kry, maar nou dreig golwe van vermoeienis en teleurstelling om haar te oorweldig.
’n Lang ruk het sy so met haar kop op haar arms gerus en sy moes seker ingesluimer het, want skielik het sy met ’n ruk regop gesit.
Wat was daardie geluid wat haar skielik so helder wakker gemaak het?
Sy luister gespanne en haar hart klop in haar keel. Die donker nag is meteens vol dreigende gevare. Dan hoor sy dit weer: die aaklige getjank van ’n jakkals hier digby haar en sy sug verlig terwyl haar hele liggaam verslap. Maar sy sit gou weer regop. Sy besef nou sy kan nie hier bly nie. As sy vanaand hier voor die hek slaap, sal sy erken dat Hugo Slabbert reg was. Enigeen kan in die donker nag op ’n vreemde pad verdwaal. Dit is nie so ’n groot skande nie. Maar vervlaks of sy hier gaan bly sit tot die son môreoggend opkom.
Sy kyk op haar horlosie en sien met verbasing dis reeds halftwaalf. Sy moes beslis ’n rukkie geslaap het. Sy is stram en styf van die koue en rasend honger, maar sy is nie meer so verskriklik moeg nie. Sy sal maar weer probeer, miskien is sy dié keer gelukkig.
Sy klim uit die motor en kyk op na die helder sterre. Miskien kan hulle haar help om by die huis te kom. Die Suiderkruis hang hoog en die Melkweg lê skitterend oor die hemel. Maar hoe loop haar pad huis toe? Mismoedig skud sy haar kop.
Toe die jakkals skielik weer hier digby haar sy stem verhef, vlieg sy in die motor in en ruk die deur toe.
Sy sal maar vannag sonder die hulp van die sterre haar pad moet vind.
Hoofstuk 12
Toe Karin teen halftien nog nie van haar plaasbesoeke teruggekeer