Tryna du Toit-omnibus 3. Tryna du Toit

Tryna du Toit-omnibus 3 - Tryna du Toit


Скачать книгу
vas. Die herfsdae is nog matig, maar in die aande kan jy voel dat die winter net om die hoekie wag.

      Karin kry Hugo by die matrone in haar kantoor. Hy sit gemaklik agteroor in een van die leunstoele en luister na iets wat sy vertel, en Karin staan ’n sekonde of twee in die deur sonder dat een van hulle van haar teenwoordigheid bewus is.

      Dis die eerste keer dat ek hom so rustig en ontspanne sien, dink Karin, en sy wonder of dit die matrone is wat so ’n goeie invloed op hom het. Sy het al ’n voëltjie in daardie rigting hoor fluit en hoewel dit vir haar moeilik is om te glo dat Hugo Slabbert in ’n vrou soos die matrone sal belang stel, lyk dit asof daar tog ’n bietjie waarheid in die stories kan steek.

      Sy klop saggies aan die deur. Hugo kyk op en dadelik verander die uitdrukking op sy gesig. Hy staan op en kom na haar toe.

      “Goeienaand, Dokter.”

      “Goeienaand, dokter Slabbert. Goeienaand, Matrone.”

      Ralie Vermeulen groet en staan ook op, en ook uit haar gesig het die warmte en gemoedelikheid verdwyn.

      “Matrone sê die pasiënt het ’n uur gelede aangekom. Hy is reeds in die teater. Sal ons maar dadelik soontoe gaan?” stel Hugo voor.

      Hoewel matrone Vermeulen veronderstel is om agtuur van diens te gaan, is sy blykbaar nie haastig nie.

      “Ek help maar eers gou,” sê sy. “Daar wag niks dringends vir my by die huis nie.”

      Met ’n kloppende hart stap Karin langs haar. Die matrone help dikwels in die teater as daar ’n tekort aan verpleegsters is of as daar ongevalle inkom, maar Karin sou verkies het dat sy nie vanaand moet by wees nie. Sy kan egter niks aan die saak doen nie en hoop maar net sy het reg opgetree.

      Sy trek haar jas in die klein kleedkamertjie langs die teater uit, trek ’n wit oorjas aan en begin haar hande skrop. Hugo is reeds by die pasiënt en toe hy die bloedige verband van die man se kop afhaal, buk hy dadelik met verskerpte belangstelling oor hom. Karin sien Jakop is nog bewusteloos en sy wag gespanne om te hoor wat Hugo se bevinding is.

      Die ondersoek duur nie lank nie.

      “Ons sal dadelik opereer,” sê Hugo toe hy weer regop staan en Karin sien aan die uitdrukking op sy gesig dat hy in sy gedagtes reeds met die operasie besig is. “Dis moeilik om die omvang van die skade te bepaal, maar daar is duidelik drukking op die brein wat dadelik verlig moet word.”

      Daar word haastig gereed gemaak en Karin se verligting maak plek vir die ou opwinding wat sy nog altyd ondervind het as sy toegelaat word om by te wees met ’n moeilike operasie.

      Dit was ná tien toe hulle weer met die trap afstap. Die matrone en Hugo bespreek nog die reëlings vir die volgende oggend se operasie, maar Karin is stil. Sy weet sy het vanaand ’n knap stukkie werk aanskou.

      Toe hulle onder in die portaal kom, bied Hugo aan om Ralie Vermeulen huis toe te neem en sy aanvaar sy aanbod dankbaar.

      “Ek kom dadelik, Dokter; ek wil net my jas en handsak kry,” sê sy.

      “Goeienag, Matrone,” groet Karin. “Nag, dokter Slabbert, en baie dankie.”

      “Ek stap saam,” sê hy.

      In stilte stap hulle na Karin se motor. Met sy hand op die deurhandvatsel sê Hugo: “Dokter De Wet is vanaand baie stil. Is daar nog iets wat haar hinder?”

      Sy stem klink sagter, meer simpatiek, maar haastig sê sy: “Nee, dankie, Dokter, alles is reg.”

      “Gelukkige mens,” sê hy saggies, spottend, en maak die deur vir haar oop. “Goeienag, Dokter. Slaap lekker.”

      Haar “goeienag” is skaars hoorbaar en ’n oomblik later trek haar motor vinnig weg. Peinsend kyk hy die rooi liggies agterna, dan stap Hugo Slabbert terug na die hospitaal waar Ralie Vermeulen vir hom wag.

      Hoofstuk 10

      Boet Truter en sy vrou het graag hulle vriende op hulle mooi plaas, Geluksvlei, onthaal. Die groot, gerieflike huis en die tuin met die ou, skaduryke bome was ’n ideale bymekaarkomplek vir die distrik se jongmense en naweke was daar gewoonlik die een of ander bedrywigheid op die plaas. Partymaal was dit ’n tennispartytjie, dan weer ’n vleisbraai of ’n dans, of so nie het hulle sommer net gekuier.

      Karin het dadelik van Boet en die opgewekte Truida gehou. Hulle het haar by die hotel kom verwelkom kort nadat sy op Doringlaagte aangekom het en haar hartlik genooi om by hulle op die plaas te kom kuier. Daarna het Truida weer gebel en gereël dat Karin haar eerste los naweek by hulle sal kom deurbring. Karin het hulle vriendelikheid waardeer en gretig uitgesien na die kuiertjie op die plaas.

      Saterdag was soos gewoonlik ’n besige dag, maar Karin was kwart oor een klaar met haar laaste pasiënt. Tensy sy nog ’n plaasbesoek moes doen – en die moontlikheid was ongelukkig nie heeltemal uitgesluit nie – was sy los tot Maandagoggend.

      Inderdaad ’n heerlike vooruitsig ná drie besige, veelbewoë weke.

      By Mien het sy die goeie nuus gehoor dat daar tot dusver net een plaasbesoek was. Dokter Roux is die naweek aan diens, Hugo is beskikbaar in geval van nood en sy het dus geen verdere verpligtings gehad nie. Daar is nog net een of twee dinge wat sy gou met Isak Roux moet bespreek voor sy kan gaan, en toe Mien inloer om vir haar te sê dat hy vry is, laat sy nie op haar wag nie.

      Hulle praat gou klaar oor die pasiënte wat sy onder sy sorg laat. Die ander saak, wat sy tot dusver nog te bang was om aan te roer, laat haar keel skielik weer toetrek. Maar sy besef hoe langer sy uitstel, hoe groter is die moontlikheid dat hulle reeds iemand gekry het om Juliemaand in haar plek te kom. Sy skraap dus al haar moed bymekaar en sê: “Daar is nog iets waaroor ek met jou wou praat. Ek sal gou maak; ek weet jy is haastig.”

      Hy hoor die onsekerheid in haar stem en sê vriendelik: “Bieg is goed vir die hart. Gesels maar – ek luister.”

      Glimlaggend skud sy haar kop.

      “Dis nie bieg nie – dis ’n guns wat ek wil vra.” Sy aarsel ’n oomblik, dan sê sy: “Ek verstaan dokter Truter is vir minstens nege maande na Engeland en Europa. My ooreenkoms met hom is net vir drie maande.” Hy knik en Karin sien dat hy effens ongemaklik lyk, maar vasberade vervolg sy: “Ek wou net sê dat ek graag langer sal aanbly as julle nog nie ander reëlings getref het nie.”

      Hy antwoord nie dadelik nie en Karin wag gespanne. Dokter Roux kyk stip na die potlood wat hy tussen sy vingers ronddraai en Karin se hart sak in haar skoene. Dan kyk hy op na haar en glimlag.

      “Karin, ek sal jou reguit sê: as dit van my alleen afgehang het, sou ek nie geaarsel het om jou te vra om langer te bly nie. Ons werk lekker saam en ek dink ook nie dis goed om kort-kort so ’n verandering te maak nie. Maar die beslissing berus nie net by my nie. Om die waarheid te sê, ons het besluit dat Hugo maar moet besluit aangesien ek die hele Meimaand weg sal wees.”

      “Ek sien.” Dis teleurstellende nuus vir Karin. Met dokter Roux aan haar kant was daar nog hoop dat hulle miskien vir Hugo Slabbert kon oorreed. Maar as die beslissing by hom alleen berus, is daar geen hoop dat sy sal kan bly nie. Daar was van die begin af geen twyfel oor sy gevoelens nie.

      “Dit sal die beste wees om met Hugo self te gesels,” stel hy voor.

      “Ja, natuurlik.”

      Sy klink so ongeesdriftig dat Isak Roux glimlag.

      “As jy wil, sal ek hom sê dat jy die saak by my geopper het en hoe ek daaroor voel. Meer kan ek ongelukkig nie belowe nie.”

      Karin se gesig verhelder:

      “Ek sal dit waardeer, Dokter. Dis gaaf van jou.”

      Hy staan op en stap saam met haar deur toe.

      “Geniet jou nawekie,” sê hy. “Jy weet, volgende maand sal daar geen naweke wees nie.”

      “Ek sien uit na die kuiertjie,” antwoord sy. “Tot siens, Dokter, en nogmaals dankie.”

      In die gang loop


Скачать книгу