Tryna du Toit-omnibus 3. Tryna du Toit
lank in die kamer getalm nie. Later het sy saam met haar gasheer in die tuin rondgestap terwyl sy vrou in die huis besig was. Hy het haar van sy ouers en sy suster vertel, en van sy pa se teleurstelling toe hy uiteindelik besef het dat sy enigste seun net een groot ambisie het: om eendag op sy oupa se plaas te gaan boer.
“Ek was jammer om hom teleur te stel,” sê hy. “Hy het hard gewerk om die praktyk op te bou en ek kan goed verstaan dat hy my graag daar wou hê. Maar die medisyne het my nooit geïnteresseer nie. Miskien was dit my oupa se skuld – ek het van jongs af al my vakansies op die plaas deurgebring en ek het grootgeword met die gedagte dat ek eendag op Geluksvlei sal kom boer. Maar ek het twee seuns en hulle kan nie albei op Geluksvlei boer nie – miskien besluit een van hulle om eendag in sy oupa se voetstappe te volg.”
“Dit sal wonderlik wees,” sê sy saggies.
“Ja, dit sal wonderlik wees vir Oupa. Maar ek sal hulle nie probeer beïnvloed nie – die drang moet self daar wees.” Hy kyk af na haar en vervolg glimlaggend: “Ek is nogal nuuskierig om te weet wat ’n aantreklike jong meisie soos jy laat besluit het om ’n dokter te word.”
“My pa is ook ’n dokter,” antwoord sy. “Ek het van jongs af in die werk belanggestel en hoewel my pa my nooit aangemoedig het nie, het hy my ook nie teëgegaan toe ek besluit het om dokter te word nie.”
“En jy was nog nooit spyt nie?”
Sy skud haar kop.
“Die werk begin nou eers regtig interessant word.”
“Jou moeilikheid lê natuurlik nog voor,” sê hy glimlaggend. “Die dag sal kom dat jy tussen ’n man en jou beroep sal moet kies – en wat dan?”
“Waarom moet ek kies?” vra sy liggies. “Waarom kan ek nie die man sowel as die beroep behou nie?”
“Ek weet nie,” antwoord hy. “Ek dink maar net nie dit is moontlik nie. Óf die man óf die beroep sal verwaarloos word. En geen man wat sy sout werd is, sal dit aanvaar nie.”
Sy kyk op in sy glimlaggende gesig, bewus daarvan dat hy haar terg.
“Ek weier om te glo dat alle mans ewe bekrompe is,” sê sy. “En as twee mense mekaar verstaan en respekteer, kan hulle altyd ’n oplossing vir hulle moeilikhede vind.”
“Bes moontlik,” gee hy toe. “Maar ons het darem nie nou van respek gepraat nie. Maar toe maar, ons gesels weer eendag …”
Stadig begin hulle terugstap huis toe en ná ’n rukkie vra hy: “Hou jy regtig van die werk hier, Karin?”
“Dis baie interessant.”
“En jy sal graag langer as die drie maande wil bly?”
“Nogal.” Sy vertel hom van haar gesprek met Isak Roux en hy luister belangstellend.
Toe sy klaar is, sê hy: “As jy wil, sal ek ook met Hugo praat.”
“Nee dankie,” sê sy haastig. “Liewer nie.”
“Ek en Hugo is goeie vriende – dit kan nie kwaad doen nie.”
“Nee,” sê sy beslis en hy glimlag.
“Hou jy nie van Hugo nie?” vra hy.
“Hy is ’n baie goeie dokter,” antwoord sy koel.
“Net ’n bietjie ongenaakbaar?” vra hy tergend. “En effens bevooroordeeld teen die vroulike geslag – en ek veronderstel dit geld ook alle vrouedokters?”
Sy kyk verwytend na hom en hy lag.
“Toe maar, as jy eendag vir Hugo beter leer ken, sal jy uitvind dat hy glad nie so ongenaakbaar is nie.”
“Dié voorreg sal ek seker nooit hê nie,” antwoord sy uit die hoogte en hy besluit dis beter om van die onderwerp af te stap.
Arrie het kort ná ete die middag weer kom kuier. Hy het Karin genooi om ’n entjie te gaan stap en hoewel hy later vir Boet en Truida ook by die uitnodiging ingesluit het, het hulle besef dat hy liewer alleen met Karin wil wees en gesê hulle verkies om tuis te bly. Karin was egter bewus van die tergende glinstering in Boet se oë en het met ’n effense blos op haar wange saam met Arrie van die huis af weggestap.
Sy het sy geselskap geniet. Hy het haar van Oupossie vertel en van sy ouers wat nog saam met hom daar woon tot hy eendag sover kom om ’n vrou huis toe te bring.
Karin kon nie so maklik soos Arrie oor haar drome en teleurstellings gesels nie, maar sy het hom van haar werk in die stad vertel en ook die redes wat haar laat besluit het om platteland toe te kom.
“Ek is bly jy het Doringlaagte toe gekom,” sê hy toe sy klaar is. “Want anders het dit miskien nog jare geduur voor ek jou ontmoet het. Maar dit klink vir my of die werk daar in die hospitaal baie beter by ’n vrou sal pas as die werk wat jy hier op Doringlaagte moet doen.”
“Miskien,” sê sy. “Maar ek wil self uitvind.” Sy voel gevlei deur Arrie se bewondering vir haar, maar dit laat haar ook ’n bietjie verleë voel en sy stel voor dat hulle huis toe begin stap.
Arrie willig in en heelwat stadiger as wat hulle gekom het, stap hulle deur die veld terug. Eers toe hulle naby die huis kom, vra Arrie haar of sy die volgende Saterdagaand saam met hom bioskoop toe sal gaan.
“Ek sal graag wil gaan, Arrie,” sê sy dadelik. “Maar ek dink nie ek kan ’n afspraak met jou maak nie. Ek is volgende naweek aan diens en dokter Roux-hulle gaan Saterdag met vakansie. Ek sal baie sleg voel as jy die hele ent in dorp toe kom en ek vind op die tippie uit ek kan nie saam met jou gaan nie.”
“Ek kom dorp toe vir besigheid, so jy hoef jou nie te bekommer nie. Ek het gehoop ons kan die middag eers saam tennis speel, want ons rugbywedstryd is gekanselleer. En as jy die aand los is, gaan ons saam uit; so nie, ry ek maar saam met jou op jou rondtes of wag tot jy klaar is.”
“Dan neem ek graag die uitnodiging aan,” sê sy, maar sy wonder hoe lank Arrie se geduld sal hou. Dit mag die eerste en selfs die tweede keer nogal ’n aardigheid wees om so vir ’n meisie te wag, maar dit kan vervelig raak op die lang duur.
Arrie het die aand by hulle geëet en daar gekuier tot Karin so teen negeuur se kant aanstaltes begin maak het om te ry.
Hy het agter haar aangery tot by die eerste hek – van daar af het hulle paaie in byna teenoorgestelde rigtings geloop.
Hy is gaaf, dink Karin toe sy alleen verder ry. “Ek hou baie van hom.”
Maar vreemd genoeg was dit nie Arrie wat haar gedagtes die res van die pad besig gehou het nie.
Hoofstuk 11
Marie Roux het Karin en Hugo Slabbert genooi om die Vrydagaand voor die Rouxs met vakansie sou vertrek vir oulaas saam met hulle te eet. Daar was nog ’n paar sake wat die dokters moes bespreek en finale reëlings wat getref moes word, en die Rouxs was gretig om die volgende middag vroeg, sodra spreekure verby was, in die pad te val.
Karin het die middag tussen een- en twee-uur van die hotel na haar nuwe blyplek getrek. Sy het nog nie kans gehad om haar tasse uit te pak of die vertrekke na haar sin te rangskik nie, maar sy is seker sy sal baie gelukkig saam met tannie Rina en haar kleindogter bly.
Terwyl sy in een van haar tasse rondsoek na ’n rok om aan te trek, dink sy weer aan haar en Hugo se gesprek die oggend. Hulle was besig om gou ’n koppie koffie tussen operasies te drink toe hy vir haar sê dat dokter Roux hom gesê het dat sy graag langer by hulle op Doringlaagte sal wil aanbly.
“Jy weet wat my gevoelens oor die saak is,” het hy vir haar gesê. “Ek het geen geheim daarvan gemaak nie. Noudat ons twee die werk alleen moet behartig, sal jy self besef wat ek bedoel as ek sê dat ’n vrou nie die werk kan doen nie. Dis nie dat ek jou gewilligheid of bekwaamheid in twyfel trek nie. Dis ’n kwessie van stamina. Ek sal jou aanraai om maar liewer weer by een van die hospitale te gaan werk; daar loop jy nie gevaar om jou kragte te ooreis nie.”
Dit was alles baie mooi