Tryna du Toit-omnibus 3. Tryna du Toit
haar onrustig. Karin is ’n dokter, maar sy is ook ’n vrou, en ’n vrou behoort dit nie alleen in die nag op die donker paaie te waag nie.
Sy stap weer na Karin se sitkamer waar Susan besig is om haar huiswerk te doen. Karin het voorgestel dat hulle twee saans as sy uit is in haar sitkamer kom sit. Daar het altyd saans ’n heerlike vuur gebrand en een van hulle was dan byderhand as die telefoon miskien lui. Rina Louw het gewoonlik saans vroeg gaan slaap, maar Susan het graag nog gebly. Sy het Karin aanbid en het dit geniet om in haar sitkamer te sit en werk en miskien ’n bietjie met haar te gesels as sy terugkom. Dan het sy ewe tevrede haar boeke weggepak en bed toe gegaan.
Sy het Karin se voorwaarde dat sy nie ná tienuur mag bly nie tensy sy baie dringende werk het, ook getrou nagekom.
Sy kyk op toe haar ouma by die vertrek inkom.
“Ek gaan nou maar bed toe, my kind. As Dokter kom voor jy gaan slaap – daar is lekker sop op die stoof en die ketel kook amper. Miskien wil sy liewer warm sjokolade hê; die arme kind is seker verkluim.”
“Sy was nog nooit so laat nie, was sy, Ouma?” vra Susan en haar ouma hoor die onrus in haar stem. Skielik luister Susan gespanne, dan sê sy: “Hier is nou ’n motor – miskien is dit Dokter.”
In stilte luister hulle na die voetstappe op die gruispaadjie. Dan skud Susan haar kop. Nog voor die persoon aan die deur klop, het sy geweet dis nie dokter De Wet nie.
Sy maak die deur oop en haar oë rek effens toe sy sien dis dokter Slabbert wat buite staan.
“Goeienaand, Susan. Is dokter De Wet hier?”
“Goeienaand, Dokter. Nee, sy het nog nie van haar plaasbesoeke teruggekom nie. Maar kom in, Ouma is ook hier.”
Hy kom binne en sy vra hom effens senuweeagtig om te sit. Rina Louw groet hom vriendelik. Sy sal nie gou vergeet hoe goed hy vir haar en Susan was tydens haar man se siekte en afsterwe nie.
“Kan ek vir Dokter ’n koppie koffie maak?” bied sy aan. “Die water kook – dit sal nie moeite wees nie.”
“Dankie, dit sal lekker wees.” Ook hy het ’n lang, moeilike dag agter die rug en hy gaan sit in die diep stoel voor die vuur en stoot sy bene behaaglik voor hom uit. Hy wonder wat Karin so ophou. Hy het verwag om haar tuis te kry, maar sy sal seker nou enige oomblik opdaag.
Hy kyk belangstellend om hom rond. Dis die eerste keer dat hy hier kom en hy dink dat sy die vertrek baie gesellig ingerig het. Hy hou van die warm wynrooi gordyne en die helder kussings wat op die divan gestapel is. Dan kyk hy na die meisie wat by Karin se lessenaar sit en werk. Hoewel sy maak of sy verdiep is in haar werk kom hy agter dat sy nie op haar gemak is nie en hy is nie verbaas toe sy ná ’n paar minute haar boeke bymekaarsit nie.
“Dokter De Wet het gevra ek moet saans as sy uit is, hier sit,” verduidelik sy effens verleë toe sy opstaan. “Ek neem boodskappe vir haar.”
Die telefoon lui skielik en sy tel dit dadelik op. Sy luister ’n rukkie, dan sê sy beleefd: “Dokter is nog nie terug nie, Mevrou … Ja, ek het dit neergeskryf en gesê dis dringend … Ja, sy sal die boodskap kry.”
Toe sy die telefoon neersit, kyk sy na Hugo.
“Dis die derde keer dat die vrou bel. Moet ek dit nou weer neerskryf?”
“Skryf dit maar weer neer, dan weet dokter De Wet dis dringend.”
Susan skryf die boodskap neer, dan sê sy saggies: “Dokter was nog nooit so laat nie.”
Hugo antwoord nie en sy sê nag en verdwyn. ’n Rukkie later bring Rina Louw koffie en beskuit en terwyl hy dit drink, gesels hulle hiervan en daarvan. Maar die geselsery wil maar nie vlot nie en toe hy klaar is, maak tannie Rina verskoning en sê sy gaan bed toe.
“Ek sal nog ’n paar minute wag,” sê dokter Slabbert. “Dan moet ek ook gaan.”
“En as sy nie kom nie?” vra tannie Rina en dit klink soos ’n beskuldiging vir hom.
“Sy sal kom,” antwoord hy koel. “Sy is natuurlik êrens opgehou.”
“Ek hoop so. Maar die rondryery so alleen in die nag is nie goed nie.”
Sy sê vir hom nag en dan is Hugo alleen met sy gedagtes voor die vuur.
Toe Karin kwart oor tien nog nie terug is nie, staan hy op en stap na die lessenaar toe. Vlugtig kyk hy na die boodskappe op die skryfblok, dan skeur hy die vel papier af en steek dit in sy sak. Op die skoon vel skryf hy haastig ’n paar reëls, onderstreep die woord “dringend” en teken sy naam. Voor hy gaan, sit hy ’n groterige stomp op die vuur, dan trek hy die deur saggies agter hom toe.
Hugo was elfuur terug in sy woonstel. Hy bel Karin ingeval sy teruggekom het terwyl hy uit was op huisbesoek, maar daar is nie antwoord nie. Hy gaan bad en gaan lê later. Hy kan nie dink waar sy so lank kan draai nie, maar hy weier om regtig bekommerd te raak. Dan verrys die beeld van ’n skraal jong meisie – heelwat skraler as toe sy hier gekom het – met donker hare en oë so blou soos koringblomme voor sy geestesoog en met ’n gedempte vloek gooi hy skielik die komberse van hom af, trek sy kamerjas en pantoffels aan en stap telefoon toe.
Hy skakel die polisie en verduidelik kortliks wat gebeur het. Hulle belowe hulle sal dadelik met al hulle manne in die distrik in verbinding tree en hom bel sodra hulle iets hoor.
Meer kan hy nie doen nie. Hy gaan terug bed toe, maar sy onrus neem nou vinnig toe en hy staan later maar op en maak vir homself koffie. Halfeen bel hy Karin weer, maar daar is nie antwoord nie. Traag kruip die minute verby en die gedagte aan alles wat met haar kon gebeur het, beroof hom van sy laaste bietjie gemoedsrus. Hy het net besluit om aan te trek en self na haar te gaan soek, toe die telefoon skielik lui.
Hy antwoord dadelik. Dis die polisiesersant wat bel om te sê dat Karin by een van hulle buitestasies aangekom het. Sy het verdwaal en hulle gee net vir haar koffie, dan sal hulle haar tot in die grootpad begelei. Sy behoort so oor ’n driekwartier tuis te wees.
“Dankie, Sersant.” Sy verligting is oneindig groot.
“Alles reg, Dokter, ons help graag. Bly ons het haar gekry. Sy kon die hele nag daar tussen die kliprantjies rondgedwaal het – en miskien nog verkluim het van die koue.”
Hugo bedank hom weer en lui af. Verdwaal! Hy het nooit ernstig aan so ’n moontlikheid gedink nie. Ná byna twee maande op Doringlaagte waarin sy elke week minstens vier, vyf plaasbesoeke gehad het, behoort sy darem nie meer te verdwaal nie. Maar dis natuurlik tipies van ’n vroumens! Dan versag die streng lyne van sy mond en hy wonder wat Karin vir haarself te sê sal hê. Baie verlig klim hy weer in die bed, skakel die lig af en vyf minute later is hy vas aan die slaap.
Dit is halftwee toe Karin saggies die buitedeur oopstoot en so geluidloos soos ’n skaduwee by haar sitkamer inglip. Die vuur is dood, maar die vertrek is nog warm en sy is onuitspreeklik dankbaar om uiteindelik tuis te wees.
Die ondervinding was ’n nagmerrie, maar dis verby en sy wil nie nou verder daaraan dink nie. Nou begeer sy net een ding: slaap, slaap en nog slaap. Sy voel as sy nou haar oë toemaak, maak sy hulle nooit weer oop nie. Sy skakel die lig aan en skrik toe daar saggies aan haar deur geklop word. Dit is tannie Rina wat in ’n lang flennienagrok en ’n groot grys wolserp om haar skouers in die deur staan.
“My kind!” sê sy. “Ek was al so bekommerd oor jou. Waar was jy?”
“Ek het verdwaal, Tannie.” Meer kan sy nie uitkry nie, maar meer is ook nie nodig nie.
“Klim dadelik in die bed. Ek bring vir jou iets om te drink.”
Outomaties stap Karin eers na die lessenaar en trek die skryfblok nader. Daar is net een boodskap, van Hugo Slabbert.
“Bel my sodra jy inkom. Dringend.” Die “dringend” is onderstreep.
Sy kyk besluiteloos na die nota. Hy verwag tog seker nie sy moet hom nou bel nie. Maar die onderstreepte “dringend” laat haar tog onrustig voel en half huiwerig trek sy die telefoon nader.
“Ja?”