Tryna du Toit-omnibus 3. Tryna du Toit
hoewel dit niks was in vergelyking met hierdie een nie.
“Ons sal maar die ou blindederm moet uithaal,” sê sy glimlaggend. “As hy so begin lol, moet ’n mens dadelik van hom ontslae raak.”
“Vandag nog?” vra hy. Hy probeer ook glimlag, maar dis duidelik dat hy heelwat pyn verduur.
“Vandag nog,” antwoord sy. “So gou moontlik.”
Ongelukkig kan Kosie nie vir haar sê presies waar sy ouers hulle bevind nie – al wat hy weet, is die naam van die plaas waar hulle gekuier het en van waar hulle saam met vriende op safari gegaan het. Maar of hulle nog daar is of reeds op pad terug is, weet hy nie – hy weet net hulle verwag om teen volgende Woensdag of Donderdag tuis te wees.
’n Paar oomblikke staan Karin besluiteloos, dan roep sy die matrone eenkant. Beslis sê sy: “Hy moet dadelik geopereer word. Ek sal die hospitaal bel en reël dat die ambulans hom kom haal.”
Die matrone is diep ontsteld.
“Maar, Dokter,” protesteer sy, “ons kan mos nie sonder sy ouers se toestemming opereer nie.”
“Maar kan u nie die nodige toestemming gee as ons sy ouers nie betyds kan opspoor nie?”
“Nee,” sê sy. “Dokter Roux het gesê ingeval Kosie siek word of iets voorval, moet ek vir dokter Slabbert laat kom – hy sal weet wat om te doen.”
Karin is nou in ’n penarie. Die operasie kan desnoods ’n uur of twee langer uitgestel word, maar dit is wenslik om Kosie so gou moontlik in die teater te kry. Daar is miskien reeds ’n moontlikheid van perforasie … En waar gaan sy nou vir Hugo in die hande kry?
Dan sê sy: “Ek sal probeer om met dokter Slabbert in aanraking te kom. Ek sal die sersant vra om my te help. Hy kan die polisie op die dorpe langs die hoofpad in kennis stel en miskien kan hulle hom nog voorkeer.” Sy kyk na haar horlosie. “Dit is nou sewe-uur. Ek sal tot nege-uur wag, maar niks langer nie. As ek dan nog niks van dokter Slabbert gehoor het nie, sal ek opereer.”
“Dit sal op Dokter se eie verantwoordelikheid wees,” waarsku die matrone.
“Ek weet. As dit u meer gerus sal stel, sal ek dokter Silbur ook vra om Kosie te ondersoek en sy opinie te gee.”
Matrone gryp na dié strooihalmpie.
“Asseblief, Dokter. Ek dink dit sal verstandig wees.”
Kwart oor sewe, dink Karin, toe sy by die polisiekantoor uitstap. Hugo behoort nog ver van die stad af te wees. Sy hoop hulle kan hom voorkeer.
Sy bel dokter Silbur toe sy by die huis kom, maar hy is nog in die bed. Die huishulp wil hom nie gaan roep nie en belowe om hom ’n boodskap te gee. Maar Karin was nie tevrede daarmee nie.
“Ek moet self met dokter Silbur praat,” sê sy koel en beslis. “Sê vir hom dis dokter De Wet en sê asseblief vir hom dis dringend. Ek sal wag.”
Dokter Silbur was taamlik gou by die telefoon, ewe vriendelik en hulpvaardig, en het belowe hy sal agtuur by die hospitaal wees.
Karin kan nou eers gaan kyk hoe dit vanoggend met tannie Rina gaan. Haar pasiënt het ’n taamlike goeie nagrus gehad, maar sy lyk moeg en pap en haar koors is hoër. Karin herhaal haar bevel dat sy nie uit die bed mag opstaan nie.
“Ek sal maar vandag by die huis bly,” sê Susan toe Karin in die kombuis kom. “Ons skryf volgende week eksamen en doen nou net hersiening.”
Op pad hospitaal toe moes Karin gou eers ’n paar noodsaaklike besoeke doen, maar agtuur is sy daar.
Matrone Vermeulen is nie in haar kantoor nie en Karin kry haar by Kosie in die kamer. Soos gewoonlik is dit moeilik om te weet wat in haar gedagtes omgaan, maar Karin kry die indruk dat sy bekommerd is en dit laat haar ook meer senuweeagtig voel.
Kosie se toestand is feitlik dieselfde. Hy lê met toe oë, maar slaap nie. Toe Karin oor hom buk, kreun hy sag. Sy is jammer sy het die koshuismatrone belowe sy sal wag – die spanning word ondraaglik en die gewag bring hulle niks in die sak nie.
Sy gesels met die matrone, maar dié se houding is koel en stug en Karin is verlig toe dokter Silbur die kamer binnekom.
Hy ondersoek Kosie tydsaam en Karin voel hoe die spanning oplaai. Uiteindelik kyk hy op na Karin en knik.
“Blindederm,” beaam hy. “Geen twyfel nie. Het jy gereken om self te opereer, Dokter?” Sy knik en effens onseker vervolg hy: “Dit kan dalk ’n moeilike operasie wees. Sal dit nie beter wees om te wag tot dokter Slabbert kom nie?”
Karin antwoord beslis: “Ek dink nie dit is raadsaam om te wag nie. As ek nege-uur nog niks van dokter Slabbert gehoor het nie, gaan ek opereer.”
Sy is bewus van die matrone se afkeuring, maar maak of sy dit nie raaksien nie. Sy aanvaar dankbaar dokter Silbur se aanbod om haar te assisteer en hy is daar weg met die belofte dat hy kwart voor nege weer terug sou wees.
Nadat hy weg is, sê matrone Vermeulen vir Karin: “Sal dit nie verstandiger wees om na ’n meer ervare man soos dokter Silbur te luister nie, dokter De Wet?”
“Die verantwoordelikheid sal nog groter wees, Matrone, as ek uitstel tot dit te laat is. Sal jy asseblief toesien dat Kosie gereed gemaak word vir die operasie?”
Sy probeer vriendelik en beleef praat, maar die matrone bly stug en die gebrek aan vertroue in haar bekwaamheid wat sy oral teëkom, laat Karin nou ook aan haarself twyfel. Kitty bring vir haar ’n koppie koffie wat sy dankbaar afsluk, en kwart voor nege gaan sy teater toe om te skrop.
Sy het nog vir oulaas langs Kosie se bed gestaan, haar vinger op sy haastige pols, ’n gebed in haar hart, toe het sy vasberade weggestap.
Tot op die laaste minuut het sy nog gehoop om iets van Hugo te hoor.
Drie minute voor nege kom die sersant by die hospitaal aan met ’n boodskap wat hy persoonlik vir haar wil gee en Kitty neem hom reguit teater toe. Karin het al haar wit jurk aan en die suster help haar om haar handskoene aan te trek toe Kitty vir haar kom sê dat die sersant haar ’n oomblik wil sien.
“Ek kan nie nou uitgaan nie, Kitty. Wat is die boodskap?”
Kitty het die deur agter haar oopgelaat en die volgende oomblik staan die sersant daar. Hy sê vir Karin: “Ons het dokter Slabbert gekry, Dokter. Hy sê as jy reken dis nodig om dadelik te opereer, moet jy nie wag nie. Hy kom so gou moontlik.”
Karin sug saggies – ’n sug van diepe verligting. Krag en besieling vloei soos ’n elektriese stroom deur haar en sy weet dat sy Hugo altyd vir hierdie oomblik dankbaar sal bly. Dan buk sy oor die pasiënt en die operasie begin.
Hugo Slabbert kom ’n halfuur later by die hospitaal aan. Hy kry Kitty in die gang en hoor die operasie is reeds aan die gang. Hy skrop haastig, trek hy die oorjas aan wat Kitty vir hom bring en glip so ongemerk moontlik by die operasieteater in.
Karin is so verdiep in haar taak dat sy nie eens opgemerk het toe Hugo by die teater inkom nie. Die operasie het nie so voor die wind gegaan soos sy gehoop het nie. Eers kon sy die blindederm tot haar ontsteltenis nie dadelik kry nie en kosbare minute het verlore gegaan terwyl sy daarna soek. Toe sy dit kry, was dit rooi en geswel met duidelike tekens van perforasie, en sy het haarself verwyt dat sy twee uur gewag het.
Sy het net die ontsteekte orgaan afgebind en verwyder toe sy van Hugo se aanwesigheid bewus word. Vlugtig het sy na hom opgekyk en haar eerste reaksie was om opsy te staan sodat hy haar plek kan inneem en die operasie kan voltooi. Hy het sy kop effens geskud en sag maar gebiedend gesê: “Gaan aan.”
Sy het die operasie voortgesit, maar sy was die hele tyd bewus van sy teenwoordigheid. Die wete dat sy stilswye op goedkeuring dui, het haar egter vertroue gegee en sy het die operasie vlug en seker voltooi.
Terwyl hulle koffie drink, ontdek Karin waarom die polisie Hugo nie eerder kon opspoor nie. Hy het net anderkant die eerste dorpie – minder as veertig myl van Doringlaagte af – moeilikheid met sy motor gekry en was verplig om terug te draai na ’n garage waar hy