Ena Murray Omnibus 36. Ena Murray
daaropvolgende paar dae is daar egter min tyd om te veel moontlike probleme met “daardie Zak-broer van Kobus” op te tower. Sy moet haar werk op datum kry voordat haar verlof begin en tussendeur moet sy Martina en Kobus help met die voorbereidings vir hul Argentynse besoek.
Dis paspoorte en baie ander dingetjies wat in orde gekry moet word en voordat sy reg besef, groet sy hulle op die lughawe.
Sy voel maar eensaam en half verwese toe sy terugstap na haar motor. Dis die eerste dag van haar vakansie en sy moet nog vanaand die trein haal, suide toe.
Sy wou met haar eie motor gaan, maar Kobus het haar afgeraai.
“Jy ken net teerpaaie, Isolde. En daardie wêreld is vir jou heeltemal onbekend. Jy kan maklik verdwaal. Die dorpe lê ver van mekaar en party grondpaaie is maar sleg. Ook die plase lê ver uit mekaar. Onthou, hierdie wêreld se plase is ’n paar hektaar, terwyl Karooplase ’n hele paar duisend kan wees. Gaan liewer met die trein, dan weet ons jy sal veilig anderkant aankom,” het Kobus gesê, en sy het maar stilswyend kopgegee.
Dis ’n bietjie laat in die dag om haar nóú oor haar welsyn te bekommer. Die vraag is nie of sy anderkant sal aankom nie. Die vraag is of sy anderkant die lewe sal bly behou en weer oor ’n paar weke heelhuids en sonder ’n omgedraaide nek daar sal kan padgee.
Isolde moet aan die een kant van die jeep vasklou om nie uitgeskud te word nie terwyl sy en die vreemdeling wat haar op die stasie ontmoet het, al stampend en rukkend op die slegte plaaspaadjie voortbeweeg.
Met elke stamp en skud styg haar wrewel jeens Zacharias Coetzenbergh. Kastig so ’n wonderlike broer, so ’n perfeksionis, en kyk hoe lyk sy pad! Haar onervare oog sien natuurlik nie die tekens van ’n onlangse donderstorm op die Karoo-aarde nie. Wat sy wel sien, en nogal oor verras is, is dat die Karoo nie werklik ’n klipperige woestyn is soos sy haar dit voorgestel het nie.
Dis ook haar onkunde oor hierdie wêrelddeel wat maak dat sy nie besef dat die Karoo onlangs goed reën moet gehad het om so te vertoon nie. Daarby kom nog die feit dat Zak Coetzenbergh ’n konsensieuse boer is wat nie sy plaas laat vertrap tot stof en kaal vlaktes as gevolg van oorbeweiding nie en dat hy baie pligsgetrou is om gronderosie in die beginstadium te bestry.
Maar van sulke goed weet Isolde natuurlik niks. Al wat sy sien, is dat die vlaktes groen voor haar uitstrek en gedurig afgewissel word met rantjies en heuweltjies met interessante patrone.
Maar die pad! Sy moet weer vinnig vasgryp toe hulle deur ’n diep knik gaan en sy loer tersluiks na die man langs haar. Hy sit agter die stuurwiel asof hy op ’n gemakstoel sit, dink sy vererg. Natuurlik al gewoond aan hierdie primitiwiteit. Dis Jan Poggenpoel, die voorman, wat haar op die stasie kom haal het met die verskoning dat “meneer Zak vandag te besig is en nie self kon wegbreek om juffrou te kom haal nie”.
Nog ’n punt teen die grootmeneer van Rocklands. Niks is so belangrik as hy self en sy eie belange nie. Nie eens ter wille van goeie maniere en vir die feit dat dit darem sy broer se aanstaande is wat arriveer, is hy bereid om sy program te verander nie.
Dis ’n warm dag, soos wat die Karoo kán warm word in die hart van die somer, nadat dit lekker gereën het en die donderwolke wit op die westerkim saampak met die belofte van nog reën wat aan die kom is. Die son bak op die aarde neer en die wind waai lustig deur die oop jeep en veroorsaak chaos in haar hare wat met soveel sorg gekam is om haar sogenaamde aanstaande skoonfamilie te imponeer.
Jan Poggenpoel het, toe hy haar ongelowige oë sien toe hy haar na die jeep lei, vinnig verskoning gemaak. “Ek is jammer, juffrou. Dit was ongelukkig al ryding wat beskikbaar was. Meneer is weg veld toe met die bakkie en sy motor is garage toe vir ’n diens. Daar het toe net die jeep en die perdekar oorgebly.”
Hy het nie besef dat die meisie, totaal onbekend aan hierdie wêrelddeel en sy mense, nie begryp het dat hy bloot ’n grappie maak nie.
Isolde het niks daarop geantwoord nie, maar by haarself gedink terwyl sy teësinnig in die oop jeep geklim het. Die arme Martina. Sy hét te gou getrou. Waarin het haar kleinsus haar begewe? Perdekarre! In watter eeu leef hierdie mense dan nog? Maar dan ... sy moet seker bly wees dat hulle darem al tot by perdekarre gevorder het. Volgens daardie Zak se maniere behoort hulle nog in die donkiekarstadium te verkeer.
Sy het net begin wonder tot watter eindes van die aarde hulle nog sal moet ry, toe die jeep oor ’n heuweltjie kom en die plaas voor hulle lê. In werklikheid is dit ’n pragtige gesig wat jou begroet wanneer jy skielik op die groen oase tussen die ysterklipkoppies afkom. Maar Isolde is nie van plan om enigiets moois te waardeer as dit op watter manier ook al verband hou met Zacharias Coetzenbergh nie.
Die jeep sak taamlik af na die huis en die witgekalkte muur wat rondom die plaasopstal en tuine loop. Met die groot denne- en populierbome en die ou Kaaps-Hollandse herehuis wat deur die takke loer, kan ’n mens jou maklik vergis dat jy skielik op ’n Bolandse wingerdplaas beland het, was dit nie vir die onmiddellike omgewing wat duidelik vertel dat jy steeds in die hart van die Groot-Karoo is nie. Selfs die ou slaweklok is daar. Net die krismisrose ontbreek, maar in die plek daarvan groei die malvas en kannas in baldadige weelde om die rande van die grasperke. Sy sal dit nie openlik doen nie, maar stilswyend erken sy aan haarself dat hier ’n puik plaas voor haar lê.
Sy voel glad nie haarself nie, toe sy eindelik half gekneus haar voete op Rocklands se aarde neersit. Sy is intens bewus daarvan dat sy, om dit baie sag te stel, bedremmeld daar moet uitsien. Haar modieuse kapsel is na die maan. Haar hare staan woes om haar gesig.
Maar die Karooson vang die rooi drade en laat dit verblindend blink, sien die man wat lui-lui van ’n buitegebou af nader gestap kom asof niks hom jaag nie. Die grimering, wat met soveel pynlike presiesheid op die trein aangebring is – ter wille van Martina wou sy ’n goeie eerste indruk maak – het met sweet gemeng en laat haar gesig half vuil vertoon. Dis net die groen oë wat saam met die groen populierblare skitter, wat dieselfde gebly het.
Haar ergernis slaan oor in kille woede toe sy die geamuseerde glinstering in sy diepblou oë gewaar. Sonder dat iemand haar dit hoef te vertel, weet sy dat dit meneer Zak is wat hier voor haar staan.
Hy behoort skaam en skuldig te lyk, nie geamuseer nie, die plaasbuffel! Grootbaas ry self met die bakkie veld toe en sy aanstaande skoonsuster moet met die oop jeep op die stasie gehaal word. Dis sy skuld dat sy soos ’n wildewragtig op ’n afdraand lyk.
Met groen oë waarin ’n besondere lig skyn en wat Zak Coetzenbergh sou gewaarsku het as hy haar goed genoeg geken het, keer sy hom die rug toe en begin doelbewus die stoeptrap opstap.
“Juffrou Cilliers.”
Sy draai haar stadig na hom om, haar stem ysig, haar houding hooghartig. “Ja?”
Hy frons, sy oë ietwat verward. “Ek is Zak. Kobus se broer.”
“Werklik?” Die hand wat halfpad omhoog gebring is om haar te groet, sak terug na sy sy. Haar blik gaan op en af oor sy groot gestalte, die growwe kakiehemp en -broek en die breërandhoed. “Wie sou dit kon dink?” sê sy sag asof tot haarself, maar hard genoeg vir enigeen om te hoor.
“Ekskuus? Ek begryp nie.”
Haar oë ontmoet sy fronsende blik. Dan glimlag sy. “U verras my. Ek het nie verwag om u soos ’n gewone plaaswerker te sien rondstap nie. Ek het iemand in iets soos ’n koninklike gewaad verwag, u sien.”
3
Zak beweeg die trappie op en kom staan voor haar. Sy moet haar kop agteroorgooi om hom in die oë te kan kyk.
“En wat presies beteken dit?” vra hy sag, sy oë stip.
Die glimlag is nog steeds om haar lippe, maar die groen oë lag beslis nie saam nie. “O, net dat ek u eintlik op ’n troon verwag het, septer in die hand, die lot.”
Sy oë flits ’n gevaarsein uit, maar voordat hy iets daarop kan sê, roep ’n vrouestem van binne af. “Waar is sy, Zak? Ek kan nie meer wag om haar te ontmoet nie. Bring haar in.”
’n Oomblik lank bly hul oë nog uitdagend kragte meet. Dan grim hy effens en met ’n sarkastiese buiging staan