Jakkalswater. Sarah du Pisanie
on>
Sarah du Pisanie
Jakkalswater
JASMYN
Jakkalswater
1
Daan van Rensburg buk oor die skraal gestalte wat sit-lê teen die vuil kussings. Die ongeduld kriewel in hom terwyl onbegrip duidelik in sy donker oë te bespeur is.
“Maar, oom Bennie, hoekom kan Herman dit nie doen nie? Hy gaan mos binnekort weer met die skaap deur Walvisbaai toe!”
Met ’n slap hand probeer die ou man die sweet van sy voorkop afvee. Die maer hand val egter moeg terug op die verkreukelde, vuil deken.
“Sit, Daan.” Die vasberade stem pas nie by die siek liggaam nie.
Soos ’n konsertina vou die groot man hom stadig in die riempiestoel op. Hy probeer sy stewels, wat vuil en rooi van die stof is, uit die pad kry, maar die spasie tussen die bed en die stoel is te klein en dit noodsaak hom om styf en regop te bly sit, die voete half onder die stoel ingetrek.
Die hoed met die sweetkring rondom word versigtig op die vloer langs die stoel neergesit. Met sy breë, plat vingers kam hy deur sy hare. Sy baard en klere is vol rooi stof.
Oom Bennie buig steunend oor na die tafeltjie voor die bed, sy maer arm uitgestrek na die waterbeker. Daan vat die beker raak en hou dit woordeloos uit na die siek ou man. Oom Bennie sluk gulsig en gee dan weer in stilte die beker terug. Dié twee mense wat al ’n lang pad saam geloop het, het nie woorde nodig om mekaar te verstaan nie.
’n Vlieg zoem teen die ruit en probeer ’n opening kry om buite lafenis te gaan soek. Die hitte in die klein kamertjie maak oom Bennie se koors nog ondraagliker. ’n Hoesbui oorval hom. Daan lig hom effens uit die stoel en probeer sy arms agter die smal skouers inkry sodat hy die ou man ’n bietjie hoër kan oplig. Sy hande word egter beslis weggedruk.
“Ek is moeg, Daan, laat ek praat en klaarkry.”
Daan probeer weer sy bene verskuif, maar nog steeds is die spasie te klein en hy verplaas maar net sy gewig na sy ander heup.
“Ek sou jóú nie gevra het om die vroumens te gaan haal as ek gedink het Herman kan dit doen nie.” Oom Bennie se stem is dun van ongeduld.
Stil staar Daan hom aan. Die onbegrip op sy harde gesig maak plek vir iets soos teerheid. Dierbare oom Bennie – vir soveel jare is hy al wat hulle het. Vandat sy ma en later sy pa dood is, is oom Bennie al wat vir hom en sy vier broers oorgebly het.
Iets soos hartseer rem aan Daan. Wat sal hulle tog eendag sonder oom Bennie doen? Hy is vir hulle moeder en vader. Vandat hy kan onthou, was oom Bennie maar hier by hulle op Jakkalswater. So ’n entjie van die ou opstal af het hy vir hom ’n tweevertrekhuisie gebou en hier woon hy al byna sewe en twintig jaar lank. Skielik is hy nuuskierig om te weet waarom oom Bennie nooit getrou het nie; waarom hy maar altyd hier by hulle gebly het.
Oom Bennie sluit sy blou oë moeg. Sy gedagtes dwaal vanoggend. Hy wil nie vir Daan met hierdie nuwe probleem belas nie – die arme kind het al swaar genoeg gekry – maar hy weet werklik nie wat hy anders kan doen nie.
Die lewe was mooi en goed. Hier by Stefaans en Anna het hy hom tuisgemaak. Hy het maar gehelp grootmaak aan die drie pragtige donkerkopseuns – lewenslustige, woelige knape. Alles het so rustig verloop. Hulle het hard gewerk, maar darem ook goeie beloning daarvoor ontvang. Die seuns was al mooi groot toe Anna – die fyn, pragtige vrou wie se hare al silwer strepe begin maak het – weer swanger geraak het. Daan was teen daardie tyd al veertien jaar oud, Herman seker omtrent twaalf en Piet twee jaar jonger. Hy onthou nog goed hoe bekommerd sy ou vriend was. ’n Paar keer het hy sy kommer hardop teenoor hom uitgespreek. Anna was nie sterk nie en Stefaans het swarigheid gesien vir die bevalling in haar middeljare. Die twee pragtige seuntjies, rooikoppe net soos hulle ma, het van die eerste dag af in almal se harte kom nesskop. Hulle was sterk, fris boerklonge. Anna het egter ’n knou oorgehou. Die twee ou seuntjies was nog nie eers mooi gespeen nie, toe het hulle haar hier in die warm grond van die Namib gebêre.
Stefaans was gebroke. Dae en nagte lank het hy alleen in die veld rondgedwaal. Hy en Daan het maar die twee kleintjies versorg, totdat Stefaans eers vrede met homself gemaak het. Eers baie maande later het sy growwe, harde lag weer deur die klowe weerklink. Toe was hy en Daan al so gewoond om die kinders te versorg dat Stefaans dit grotendeels aan hulle oorgelaat het.
Daardie moeilike jare toe hy en Daan en soms Stefaans so alleen-alleen kinders grootgemaak het, was vir hom die lekkerstes. Dit was vol, besige jare. Tyd vir verlang en treur oor wat kon gewees het, was daar toe nie. Anna se stil, skaam laggie was nie meer daar om hom aan sy eie hartseer en verlange te herinner nie. Stefaans was die enigste een met wie hy ooit hierdie verlange en hartseer gedeel het. Dit was ook daarom dat Stefaans aangebied het dat hy maar eers hier by hulle kom bly totdat, soos hy dit gestel het, die vrees vir die eensaamheid nie meer so fel was nie.
Die gedagtes aan Anna bring oom Bennie terug na die werklikheid.
“Jy sal haar vir my moet gaan haal, Daan. Sy is reeds op Walvisbaai,” sê hy terwyl hy smekend na Daan kyk.
Daan skuif ongemaklik rond op die lendelam stoel. Al die jare alleen op die plaas het hom menssku gemaak. Sedert sy pa tien jaar gelede dood is, het hulle selde van die plaas af weggegaan. Herman is die een wat altyd wanneer die bote inkom, met die osse en skape aftrek Walvisbaai toe.
Die aanvraag na hulle produkte is goed. Dit is net hulle en die Joostes hier in die vallei wat die bote en Walvisbaai voorsien van vars vleis.
Die Joostes is ook maar wild en ongetem. Die ma is al jare lank dood. Die pa en die vier seuns boer so alleen. Daar is ’n suster, maar sy is net soos die seuns – groot, grof en wild. Dra mansklere en boer soos een van hulle.
“Oom Bennie, ek sien nooit ’n vrou nie, afgesien van Lana Jooste. En oom weet hoe is sy ... soos een van ons. Ek sal nie weet wat om vir die vroumens te sê nie.” Daan krap agter sy nek asof hy die ongemak daar wil uithaal. “En watse vroumens ís dit, oom Bennie? Ek bedoel ... waar kom sy vandaan? Ag, vervlaks, oom Bennie! Wie is die vroumens?”
“Dit is ’n lang storie, Daantjie.”
Oom Bennie probeer hoër teen die kussings opskuif. Die stilte rek, raak gelaai met emosie. Hy klink moeg toe hy uiteindelik praat.
“Ek was destyds verloof aan haar ma. Ons was ’n klomp broers. Ons kon nie almal op my pa se grond boer nie ... Ek was die oudste. Ek was al diep in my dertigerjare toe ek haar ontmoet het. Dit het skielik tot my deurgedring dat ek op my eie bene sou moes staan voordat ons kon trou. Ek het besluit om vir my ’n toekoms hier in Duitswes te kom soek, hier waar grond nog volop en goedkoop was.” Die stem raak yler en moeg vee hy eers oor sy oë.
“Hier in Duitswes het ek baie siek geword – longmoeilikheid. Ek het langer weggebly as wat ek beplan het, vyf jaar. Toe ek daar kom ... Sy is toe net die vorige week getroud met ’n sendeling, ene Patrick O’Neill.”
Daan vermy oom Bennie se oë. Die naakte hartseer op die smal gesig maak hom ongemaklik en ontroer kyk hy na sy hande.
“Daar was baie verwyte ... maar ek hét te lank weggebly. Ek moes haar van die begin af saamgebring het, sodat ons saam kon swaarkry.” Die bleekblou oë pleit om begrip. “Maar ek was so jammer vir haar, Daan. Sy was baie jonger as ek en sy was so fyn en vroulik, net soos jou ma. Ek het gedink ek sou alles eers hier kom regmaak en haar dan gaan haal.”
Oom Bennie sug bewend en beweeg moeisaam.
“Ek het dadelik teruggekom. Langs die pad het ek jou ouers teëgekom. Hulle was ook op pad na ’n nuwe heenkome. Jou pa was die enigste persoon vir wie ek ooit hierdie storie vertel het. Dit was sý voorstel dat ek eers hier by julle kom bly totdat die hartseer en verlange minder is. Die maande het jare geword.” Verwondering sit in die moeë oë. “’n Leeftyd! Dit was sowaar ’n leeftyd.”
Oom Bennie beduie na die hangkas in die hoek van die kamer. “Daar in die kas is ’n brief, Daan. Gee dit tog vir my aan!”
Daan lig homself uit die stoel.