Jakkalswater. Sarah du Pisanie
dinge raak!
Met diep ontsag bêre Magriet hierdie les in haar binneste: as ’n mens met liefde kyk, sien jy die mooi ook in die oënskynlik lelike raak.
Soos mevrou Morris voorspel het, begin die wind teen middagete met geweld waai. Vlae sand word woes teen die houthuisie vasgewaai. Met woede en krag pluk die wind aan die vensters en deure, om dan weer later hartseer en treurig om die hoeke van die huisie te huil.
Stil en rustig gaan die huismense hulle gang. Dit is ’n deel van hulle bestaan – saam met die mooi sonskynoggend aanvaar hulle die wind en sand sonder om een keer daaroor te kla.
Magriet het haar borduurwerk gaan haal en sy en mevrou Morris sit rustig in die klein sitkamertjie en gesels. Later drink hulle tee en eet van die heerlike koekies wat die vriendelike gasvrou voorsit.
“Wanneer dink mevrou sal die mense van Jakkalswater kom?”
Magriet vra die vraag ongeërg, maar in haar begin die onsekerheid al weer woel en vroetel.
“Seker nou enige dag, hartjie. Die boodskapper het gister kom sê die mense was al aan die regmaak om te ry toe hy daar weg is. Hulle kom egter met die wa en dit sal ’n bietjie langer duur as ’n reis te perd.”
Die wind waai tot laataand. Magriet gaan maar vroeg inkruip. Sy blaas die kers dood en staar dan na die flou sterretjies wat deur die skrefie van die gordyn sigbaar is.
En nog ’n dag sleep traag verby. Magriet betrap haarself kort-kort dat sy wens die man moet tog maar kom, sodat hulle die saak kan bespreek.
Dit is egter reeds Woensdag toe mevrou Morris haar uitasem kom verwittig dat die wa aan die kom is en oor sowat ’n uur of twee daar sal wees.
Sonder ’n woord gaan Magriet na haar kamer, sak stadig op haar knieë voor die smal bedjie neer en raak stil voor God. Hy sal weet wat om te doen. Hy sal nie dat die pad vir haar te swaar word nie.
Later neem sy haar Bybeltjie en begin lees. Somtyds bly ’n versie vassteek in haar gedagtes. Dan staar sy lank voor haar uit en dink daaroor na. Soms lees sy gedagteloos die woorde sonder dat dit registreer.
Mevrou Morris is baie nuuskierig oor die hele aangeleentheid. Goeie maniere het haar daarvan weerhou om uit te vra, maar Magriet kan sien sy wonder wat haar verbintenis met oom Bennie is. Hulle weet almal dat daar net mans op die plaas is en hoewel mevrou Morris aanneem dat sy net kom kuier het, kan Magriet aanvoel dat sy dit nie goedkeur dat sy alleen plaas toe gaan nie.
Magriet voel gemeen omdat sy die arme vrou so in die duister hou, want sy kan aanvoel hoe sy brand van nuuskierigheid. Sy weet egter nie wat om te sê nie. Haar sake is so deurmekaar dat sy nie weet wat om te verwag of wat gaan gebeur nie.
Net voor middagete kom roep mevrou Morris haar.
“Daan is hier, hartjie, hy wil jou ontmoet.”
Magriet stryk vinnig met haar hand oor haar netjiese kapsel. Senuweeagtig frommel sy die klein sakdoekie styf in haar klam hand op. Sy voel hoe die vrees stadig in haar opstyg. Dan lig sy egter beslis haar kop en met die skraal ruggie styf en regop, stap sy by mevrou Morris verby na die sitkamer.
Die man lyk kolossaal in die klein vertrekkie. Hy staan met sy rug na die venster en verdonker die hele vertrek. Magriet kan geen definitiewe opinie vorm nie. Sy staar op na hom. Hy is nie afstootlik nie, ook nie baie oud nie; hy is net anders as die mans aan wie sy gewoond is.
Die groot hoed word stadig al in die rondte gedraai. Daan sien die skraal, netjiese figuurtjie hier voor hom. Die dik, bruin hare is in ’n rol agter haar kop gekam en dit laat die gesiggie nog skraler vertoon. Die groot, groen oë steek helder af teen die bleekheid van haar gelaat. Sy is geen uitsonderlike skoonheid nie – net baie, baie vroulik.
Die stilte rek. Elkeen is besig met sy eie opsomming. Magriet beweeg dieper die vertrek in en hou ’n skraal hand na hom uit.
Oorhaastig beweeg hy vorentoe en vou die handjie toe in sy groot hand.
“Ek is Daan van Rensburg ... e ... oom Bennie ...”
“Goeiemôre, meneer Van Rensburg. Ek is Magriet O’Neill. Dit is werklik baie vriendelik van u om my hier te kom haal. Is oom Bennie ook hier?”
Dankbaar vir die aanknopingspunt gesels Daan meer as gewoonlik.
“Oom Bennie is baie siek. Het hy dit nie in sy brief vir jou gesê nie?”
“Ja, hy het gesê hy is siekerig, maar ek het nie gedink dat dit ernstig is nie.” Die kommer slaan deur in haar stem.
Stadig beweeg Magriet agtertoe. Daan is so lank dat sy haar nek moet buig om in sy gesig te kyk.
Saam met die verduideliking oor oom Bennie se siekte, droog die gesels ook weer op.
Daan kug. Hoe gouer hulle die werklike probleem aanpak, hoe beter. Sy verstand draai egter al in die rondte – hy kan geen woorde agter mekaar kry nie.
Magriet staar senuweeagtig na hom. Haar keel is droog. Hy lyk so groot en wild. Sy sien nie kans om haar toekoms in hierdie ongetemde man se hande te plaas nie. Wat sal van haar word daar op die verafgeleë plaas met net ’n klomp mans, almal soos hierdie een?
Daan vervies hom vir homself. Sal hy sowaar hier staan en stotter en bloos soos ’n vryersklong wat nog nie droog agter die ore is nie?
“Ek dink daar is ’n paar dingetjies wat ons eers sal moet bespreek, juffrou.” Sy stem klink ongewoon streng en grof.
Magriet sak met bewende knieë op die stoel neer. Daan vou homself in ’n stoel op, sit sy hoed beslis op die vloer neer en kyk haar reguit aan. Hierdie flentertjie-vroumens gaan nie almal se lewens in die vallei kom omkrap nie. Sy kan saamkom, maar sy sal haar kant moet bring. Tyd vir vroue bedien en op die hande dra, het nie een van hulle nie.
“Ek weet nie wat oom Bennie alles vir jou geskryf het nie. Ek is bereid om met jou te trou omdat oom Bennie dit van my verwag.” Daan kug ongemaklik, maar gaan dan vasberade voort. “Oom Bennie het vir ons – en veral vir my – al baie gedoen. Ek sien nie kans om hom teleur te stel of iets te weier nie.”
Magriet staar stil na hom. Dit weet sy darem nou: hy is nie oorgretig om te trou nie. Dit is alles om ’n ou man tevrede en gelukkig te maak.
Daan kyk by haar verby. “Dit is ’n harde wêreld hierdie. Hier is nie tyd vir mense, nie eens vir vroumense, om ledig rond te lê nie. Op die plaas is werk, baie en harde werk. As jy wil saamkom, sal jy jou deel moet doen.”
Die woede vlam in Magriet op. Om darem te insinueer dat sy op hulle nekke wil kom lê, is verregaande. Slegs die besef van haar ongemaklike posisie hou haar tong in toom. Twee rooi kolletjies hoog op haar wangbene verraai egter haar woede.
“Ek was nog nooit bang vir werk nie, meneer Van Rensburg. Ongelukkig is ek in ’n ongemaklike posisie. Ons was arm en ek het my laaste geld gebruik om hierheen te kom. As dit nie die geval was nie, sou ek met die volgende boot teruggegaan het en as goewernante in die Kaap gaan werk het.”
Daan sien die stywe rug en woedende oë. Hy bewonder haar selfbeheersing. Dit is egter beter dat sy weet waar sy met hom staan, sodat sy nie dalk later allerhande dinge van hom verwag wat hy nie bereid is om te gee nie.
Sy lig haar kop beslis. Haar vrees vir die onbekende toekoms en hierdie groot man druk sy ru op die agtergrond.
“Meneer Van Rensburg, ek het ’n ander voorstel om aan u te maak. Ek ... ek ...” Magriet begin stotter. “Dit ... e ... dit is vir my vreeslik moeilik, maar dit kan vir ons albei ’n uitkoms bied.” Sy kyk nie na hom nie. Haar oë bly op haar vasgeklemde hande in haar skoot.
“Leen asseblief vir my die geld om terug te gaan. Ek sal elke pennie aan u terugbetaal sodra ek ’n werk kry. U kan my woord daarvoor neem, meneer Van Rensburg.”
Daan staar in die groen, hartseer oë. Die gedagte dat hy met haar moet trou, is glad nie meer so skrikwekkend nie. Buitendien, oom Bennie het so iets voorsien, daarom het hy daarop aangedring om ’n huweliksertifikaat te sien voordat hy die plaas aan hom bemaak. ’n Plaas is in hierdie