Jakkalswater. Sarah du Pisanie
is. Jy kan ’n goeie begin daar gaan maak. In ruil daarvoor moet jy vir jou oom Bennie net hierdie een ou gunsie doen.” Die koorsige oë gloei, soek Daan se onstuimige bruines en hou dit pleitend gevange.
“Daan, ek gun haar net vir jou. Dit sal jou nie berou nie, my kind. Ek sal my testament laat opstel sodra jy vir my die huweliksertifikaat kom wys.”
Daan sluk swaar. Sy keel is kurkdroog. Sonder om ’n woord te sê staan hy op en stap by die deur uit.
Buite roep die sonbesies hulle misnoeë oor die hitte skril uit. Daan stap gedagteloos tot by die put, draai die slinger en toe die emmer bo kom, druk hy sy groot hande in die koel water, druk sy gesig in sy bakhande en skud die water soos ’n hond van sy gesig af. Soos ’n ou man draai hy stadig om en sak in die koelte van die groot wildevyeboom neer.
Sy gedagtes staan stil. Hierdie probleem kan hy nie verwerk nie. Die plaas sou vir hom die grootste geskenk denkbaar gewees het. Hy het homself al telkens betrap dat hy planne beraam om groter grond te bekom. Hierdie grond sal hulle almal nie kan dra nie, veral nie as die tweeling eers groot is nie. Sy gedagtes werk vinniger. Hy kan die tweeling saam met hom noorde toe neem en Herman en Piet kan hierdie plaas bewerk – die inkomste is ook oorgenoeg vir twee. Maar ’n vrou! Wat maak ’n mens met ’n vrou?
Iets skiet hom te binne en met lang treë hardloop hy terug na oom Bennie se huisie. Hy stamp die deur oop en met twee treë staan hy weer langs die bed.
“Wie sê sý sal wil trou?” Triomfantelik kyk hy na die koorsige ou man.
“Daaraan het ek ook al gedink. Ek het vir haar ’n brief geskryf en alles aan haar verduidelik, vir haar gesê dit is die enigste uitweg, en ons doen dit vir haar eie beswil. Maar nou ja, as sy nie kans sien nie, dan kan ek niks verder vir haar doen nie. Sodra ek jou antwoord het, stuur ek die brief saam met die boodskapper terug. Jy sal geen verduideliking hoef te gee nie, Daan.”
Daan se skouers sak. Moedeloosheid hang soos ’n kleed om hom.
“Die storie van die plaas – dit is net tussen ons, Daan. Dit het niks met iemand anders te doen nie.”
Stomverslae kyk die groot man af op die vervalle gesig. Die stilte is broeiend. Diep en laag kom Daan se stem. “Wanneer moet ek ry?”
Dankbaarheid en verligting meng met die trane in die moeë oë.
“So gou moontlik. Jy sal die wa moet vat; die meisiekind het natuurlik al haar aardse besittings saamgebring.”
Soos ’n ou man draai Daan om, kom dan stadig terug en tel sy hoed op, wat nog onder die stoel lê.
“Daantjie!” Die maer hand word na hom uitgehou. “Dankie, my kind – baie, baie dankie.”
Sy groot kop hang toe hy die maer hand druk. Sy oë kyk by oom Bennie verby en verslaentheid lê oop op sy gesig.
2
Die son skyn helder oor die stil, blou baai. Groot swerms flaminke kleur die lug in sprokieskleure wat wissel van ligroos tot ’n diep rooi. Pelikane kom lomp aangewaggel oor die strand op soek na vissies wat hulle tyd met hoogwater verspeel het. In die vlak water voer ’n klompie flaminke ’n trippeldans met hulle dun pote in die modder uit.
Die rustige blou van die see vloei oor die bruin sand van die strand, wat weer inskakel by die duine van die Namib, ’n abstrakte woestyntoneel wat geleidelik van kleur verander.
Magriet sit met opgetrekte knieë vasgedruk teen die sandwal. Die hartseer trekkie om haar mond verraai dat haar gedagtes nie so rustig soos haar omgewing is nie.
Moeg geworstel met gedagtes en emosies, het sy vanoggend besluit om iewers heen te stap. Sy wou aanhou stap totdat sy háár spruitjie sou kry, waar sy stil kon wag op ’n antwoord op al haar gebede.
Die seewindjie ruk tergerig stringetjies hare uit die netjiese kapsel, om dit baldadig oor haar gesig te waai. Ingedagte vee sy dit kort-kort weg. Moeg en gedreineer van alle emosies laat sak sy haar kop op haar knieë. Haar gebed is kinderlik en opreg. Saam met die trane oor haar wange stort sy haar hart voor haar Hemelse Vader uit.
Lank sit sy so, totdat die rustigheid van die natuur stadig deur haar begin vloei. Kalmer staan sy dan op, skud die sand van haar rok af en begin stadig in haar spore, wat nog duidelik in die nat sand lê, terugstap.
Die besef lê duidelik en swaar in haar binneste. Daar is vir haar geen ander uitweg nie: sy sal die pad vorentoe móét loop. Kans vir omdraai is daar nie meer nie. Sy het al die geld wat sy gehad het, gebruik om hierheen te kom. Sy het nie naastenby genoeg om terug te gaan Kaap toe nie. Werk as goewernante of enige ander werk sal sy nie hier kry nie, want die wêreld hierlangs is wyd uitgestrek en feitlik onbewoon.
Sy steek haar hand in haar roksak en voel weer oom Bennie se briefie wat sy gister ontvang het. Sy het dit al soveel maal gelees dat sy dit woordeliks kan herhaal.
Sy kan oom Bennie se pleidooi heeltemal verstaan, maar hoekom het hy nie die eerste keer toe hy aan haar moeder geskryf het, verduidelik dat hulle net ’n klomp mans op die plaas is nie? Waarom wag totdat sy hier is? Sy kon vir haarself ’n ander heenkome in die Kaap gesoek het. Sy en haar moeder was heeltemal bewus daarvan dat oom Bennie nooit getroud is nie, maar dat hy saam met ’n ander gesin op die plaas woon. Die hele ent pad het sy beplan hoe sy sou help met die kinders se skoolwerk. Sy sou haarself gelief gemaak het by die vrou van die plaas – ’n hulp gewees het soos wat sy altyd vir haar moeder was.
Nou dít! As sy net nie nodig gehad het om met ’n wildvreemde man te trou nie! Haar keel trek toe; die angssweet slaan klam op haar vel uit. Watse soort man is dit wat met ’n wildvreemde meisie sal trou? Sy kan nie uit oom Bennie se briefie wys word of dié man oorgretig is om ’n vrou te hê en of hy gedwing word om met haar te trou nie. Al wat oom Bennie sê, is dat sy die man kan vertrou en dat sy moet glo dat dit die beste en enigste uitweg is.
Magriet is suf gedink. Sy wil nie weer alles ontleed soos sy al die afgelope vier en twintig uur gedoen het nie. Sy skud haar kop beslis. Met haar skoene in haar hand, die rok effens gelig sodat dit nie moet nat word nie, hardloop sy terug. Die wind ruk aan haar rok en hare. Wanneer die man opdaag, kan hulle die saak soos twee grootmense bespreek. Sy weet dat die Vader wat haar nog altyd gehelp het, nou weer die pad sal aanwys. Al is die pad nie altyd vir haar so duidelik nie, sal sy tog in geloof volg. Berusting stroom stadig deur haar na hierdie besluit.
Eers toe die huise in sig kom, trek Magriet haar skoene en kouse aan. Haar voete is klam van die sand en dit voel grillerig om haar sanderige voete in die kouse te steek. Sy glimlag stil toe sy aan haar gasheer en gasvrou dink. Die mense is dierbaar. Meneer Morris, die winkeleienaar, het ’n klein maar gerieflike kamertjie aan haar afgestaan. Mevrou Morris is uitgehonger vir geselskap en sy kwetter die hele dag soos ’n voëltjie. Die weer is sleg en dit noodsaak haar om baie binnenshuis te bly. Daaroor is mevrou Morris bly, want dan is sy verseker van geselskap.
Vanoggend was die eerste mooi sonskynoggend. Die vorige dae was nat en mistig. Misslierte het soos ’n vaal gordyn oor die hele nedersetting gehang. Namiddae het die mis so ’n bietjie opgeklaar, maar die son het nooit juis geskyn nie. Mevrou Morris het vanoggend met ’n kennersoog na die woestyn geloer en gesê: “As jy ’n rukkie wil uitkom, hartjie, sal jy dit vanoggend moet doen. Vanmiddag gaan die wind stormsterkte waai. As die sonnetjie eers die oggend so skynheilig skyn, dan moet jy weet die wind lê en wag agter die eerste duine.”
Magriet kan aan die plukke aan haar rok en hare voel dat die wind beslis al sterker waai as toe sy gekom het en gedagtig aan haar gasvrou se voorspellings, versnel sy haar pas.
Mevrou Morris wag haar op die stoepie voor die huisie in.
“En hoe lyk die ou see vir jou, hartjie?” Voordat Magriet nog iets kan sê, praat sy verder. “Dit is mooi, nè? En die duine is so mooi wanneer die son so helder skyn. Dan is hulle mos so pienkbruin.” Sy skep vinnig asem. Die donker ogies vonkel van opregte plesier. “En het jy die flaminke gesien, hartjie? Hulle is mooi, nè?”
Magriet staan verstom. Hoe wonderlik is dit dat ’n mens nog die mooi in elke dag en elke ou klein dingetjie kan sien! Hier aan die uithoek van die aarde,