'n Lang, vreemde pad. Susanna M. Lingua
vir my of ek ooit aan hulle behoort het nie . . . Nee, hulle is vir my heeltemal vreemd. Tog het ek gedurende my kinderjare so dikwels na hulle verlang. Ek wou hulle so bitter graag geken en hul liefde en geluk met hulle gedeel het. Ek het na hul liefde gesmag, maar ek het hulle vir my so heeltemal anders voorgestel . . . Ek sal maar my drome onthou, want dié was tog veel aangenamer as wat die werklikheid moontlik sou gewees het.”
Sy sug, plaas die foto by die ander en pak alles terug in die tas. Die matrone kyk haar vraend aan, maar swyg wyslik. Dit is vir haar duidelik dat Elise om die een of ander rede bitter teleurgesteld is in haar ontslape ouers.
Nadat sy alles weer in die tas gepak het, neem sy langs die ouer vrou op die voetenent van die bed plaas. Daar is ’n weemoedige glimlaggie om haar mond toe sy sê: “Ek mag miskien ouderwets wees, matrone, maar wanneer ek eendag getroud is en kinders het, sal ek ’n punt daarvan maak om my kinders altyd saam met my te neem waarheen ek ook al gaan. Ek sal hulle nooit laat voel dat hulle in my en my man se pad of vir ons ’n oorlas is nie. Ek sal hulle al die liefde gee wat hulle toekom.”
“En as jou man iewers heen moet gaan waar . . . Wel, sê maar na ’n wildernis waar die kinders se gesondheid in gevaar sal wees?”
“Dan sal ek dit my plig ag om tuis by my kinders te bly,” antwoord Elise. “En as my man sy kinders liefhet, sal hy my optrede goedkeur en nie daarop aandring dat ek hom moet vergesel nie.”
Dit is vir die bejaarde matrone meteens baie duidelik waarom Elise so teleurgesteld is in haar ontslape ouers. Volgens haar lewensuitkyk moes haar ma tuis gebly het en nie haar weerlose baba in die sorg van vreemdes gelaat het nie. Hierop het sy egter niks te sê nie, dus stuur sy die gesprek doelbewus in ’n ander rigting, want sy voel geneig om met Elise saam te stem.
Nadat matrone laat die middag vertrek het, gaan pak Elise haar tasse uit. Sy pak egter nie die tas uit wat hulle van die kinderhuis af gebring het nie. Sy haal net die foto’s uit en plaas dan die tas bo-op die hangkas. Haar ouers se huweliksfoto is geraam, en dié sit sy eenkant op die spieëltafel. Nie dat sy weet waarom sy dit doen nie, want dit voel tog nie of sy deel is van daardie gelukkige egpaar op die foto nie. Die res van die foto’s sit sy in haar handsak.
Vir Elise is dit die eerste vakansie in drie jaar wat sy sommer net lui en rustig kan deurbring. Noudat sy klaar gestudeer het, voel sy dat sy eers goed moet uitrus voordat die skole in Januarie begin. Sy het in elk geval die afgelope drie jaar genoeg gespaar om haar deur te help totdat sy haar eerste salaris ontvang.
Die weke het vir Elise te vinnig verbygesnel, en nou, ’n week voor die skole begin, voel sy heerlik uitgerus en haastig om in die tuig te wees. Sy verlang ook na Estelle, Marie en Linda se vrolike geselskap en sien al ongeduldig uit na hul terugkoms.
Dit is ’n reënerige oggend toe haar drie vriendinne hul opwagting by Die Tuine maak om vir haar hallo te sê.
“Julle skelms,” begroet sy die drie met ’n breë glimlag en lei hulle na haar kamer toe. “Kon julle my nie per brief van die dag en datum van jul aankoms verwittig het nie?”
“Ons het dit opsetlik verswyg, ou kammie, want sien, ons wou jou verras,” deel Estelle haar vriendelik mee.
“Ons het vir jou ’n bietjie eetgoed van die huis af saamgebring, Elise,” lig Marie haar in. “Maar in hierdie reënweer was dit onmoontlik om dit vanoggend vir jou te bring.”
Hulle stap Elise se kamer binne.
“Maggies, maar jy het ’n gerieflike ruim kamer, Elise!” roep Linda spontaan uit. “Jy moet die hokkie sien waarin ek veronderstel is om te woon; niks groter as twee gewone badkamers nie, sê ek jou.”
Estelle neem die geraamde foto van die spieëltafel af op en beskou dit aandagtig.
“Ek veronderstel die bruidspaar is jou ouers,” sê sy. “Jy en die bruid lyk verbasend eenders, byna soos een mens, sou ek sê.”
“Jy het reg geraai, dit is my ouers se huweliksfoto,” antwoord Elise. “Maar sit, dan vertel ek julle hoe ek aan daardie foto gekom het.”
Haar stem is kalm en bedaard terwyl sy hulle van die tas en sy inhoud vertel, so asof dit iets is wat haar nie diep raak nie. Dit dryf Estelle egter om te vra: “Was dit nie vir jou ’n verrassing nie, Elise?”
“Wel, enige mens sal bepaald onder dieselfde omstandighede nuuskierig wees om te weet hoe sy of haar ouers gelyk het,” glimlag Elise ongeërg.
’n Ongelukkige trekkie verskyn meteens weer in haar oë, maar haar vriendinne ken reeds daardie trekkie, daarom keer Linda dadelik deur te sê: “Moet nou asseblief nie weer in jouself gekeer raak nie, Elise. Jy het vooraanstaande en . . . wel, vervlaks aantreklike ouers gehad, en dis meer as wat ons drie van ons ouers kan sê. Ek bedoel, hulle is nie vooraanstaande mense nie. Wys liewer vir ons die ander foto’s en ook die inhoud van die tas. Daarna kan ons almal in die een of ander restaurant gaan koffie drink.”
“En pannekoek eet,” vul Marie aan.
“Wil jy glo, dit is net die regte weer vir boontjiesop en pannekoek,” sê Estelle.
“Ek voel lus vir souskluitjies, of lekker melkkos wat met snysels gemaak is,” laat Elise van haar hoor.
“Julle laat my mond nou behoorlik water vir al daardie lekker eetgoed,” lag Linda.
Toe hulle heelwat later in ’n restaurant sit en pannekoek eet terwyl die reën buite aanhoudend neersif, vertel elkeen hoe sy die vakansie geniet het. Later gis hulle weer oor die personeel van die verskillende skole waar hulle oor twee dae moet begin skoolhou.
“Jy sal jou Engels moet begin opknap, ou kammie,” spreek Elise vir Estelle aan, want laasgenoemde het ’n pos by ’n Engelse skool gekry.
“Ja, moet tog net nie sê ‘I is’ en ‘we am’ nie, want dan lag die kinders hulle dood,” waarsku Marie tergerig.
“Ja, en moet ook nie vir die jong Engelse onderwysers ogies maak nie, Estelle,” werp Linda ewe terglustig haar stuiwer in die armbeurs. “Dink aan jou stoere ou vader wat nie ’n woord Engels kan praat nie.”
Daar is ’n ondeunde uitdrukking in Estelle se oë toe sy sê: “Ek het eendag iemand hoor sê dat ’n Engelsman ’n baie gawe lewensmaat is –”
“Onsin,” val Linda haar ongeërg in die rede. “Enige man wat nie aan iets verslaaf is nie en goeie maniere het – ek bedoel nou ’n ou wat ná ses maande nog vir jou die motor se deur oophou – sal ’n redelik goeie lewensmaat wees.”
“Wel, Engelsman ofte nie,” raak Marie nou weer ’n wysheid kwyt, “wanneer ’n man op ’n mooi manier lief en goed is vir sy ma, kan jy hom maar met ’n geruste hart vat, Estelle . . .”
“Ja, en net by sy ma gaan kla wanneer hy jou nie goed behandel nie,” vul Linda grappig aan.
Al vier bars heerlik uit van die lag. Met grappies en gelag bring hulle die oggend deur en pas voor middagete keer elkeen terug na haar losiesplek.
Die volgende drie jaar het vir Elise soos ’n droom verbygevlieg. Hier waar sy heerlik ontspanne, met haar oë gesluit, sit en dink aan haar loopbaan as onderwyseres, kan sy byna nie glo dat sy reeds drie jaar in die tuig is nie. Sy dink aan Linda wat ’n jaar gelede getroud is en nou in Kaapstad woon. Marie het ses maande gelede verloof geraak, maar twee maande later die verlowing verbreek. Net sy en Estelle het nog nie hul hart aan ’n man gegee nie.
Daar is ’n glimlag om Elise se mond terwyl sy aan Marie dink wat elke maand ’n ander kêrel op sleeptou het.
Ek en Estelle sal bepaald twee oujongnooiens word, dink sy. Ons is in elk geval goed op pad daarheen . . .
“Haai! Slaap jy, of is dit sommer net ’n dagdromery?” maak Estelle se vrolike stem ineens ’n einde aan Elise se somber gedagtes.
Sy maak haar oë oop, dan sien sy hoe Estelle en Marie, elkeen met ’n yslike strandsak in die hand, in vrolike luim na haar toe aangestap kom. Sy groet hulle met ’n verwelkomende glimlag en nooi hulle om te