Ena Murray Omnibus 37. Ena Murray

Ena Murray Omnibus 37 - Ena Murray


Скачать книгу
van die kliniek lewe nog en hulle het my nodig.”

      Ligte verbasing speel oor sy gesig en dan verteder sy oë. “Pragtig, my meisie! Jy het een groot lewenswaarheid reeds ontdek: Ons plig hier by die Meissner-kliniek lê by die lewendes. Jy sal eendag ’n ideale vrou vir ’n dokter uitmaak.”

      “O? Dankie.” Sy sluk. “Kan ek asseblief ’n guns vra?”

      “Natuurlik.”

      “Sal jy . . . vir hulle sê . . . wanneer hulle haar uitlê . . . om die ander nagrokkie vir haar aan te trek, asseblief?”

      Weer is sy oë so snaaks, amper-pers, dat sy haar ooglede vinnig neerslaan. “Ek sal hulle sê. Daar is iets wat ek jou wou vra . . .” Skielik kom sy naam oor die interkom en hy vervolg: “Sal jou later sê,” en hy is die gang af.

      Maar die skokke van hierdie dag is nog nie verby nie. Ouma Lalie se skielike heengaan was ’n hartseerskok. Die een wat haar daardie middag tref, is die onaangenaamste skok wat sy in hierdie stadium kan kry. Dokter Horst en nog ’n manlike dokter loop haar in een van die gange raak en sy kom botstil in haar spore tot stilstand. Dit kan nie wees nie! Wat sal Jan Swanepoel hier in die Meissner-kliniek soek? Maar dis hy, vertel haar oë haar. Dis onteenseglik haar ou studentemaat wat in lewende lywe voor haar staan en Horst Buchner se woorde onderskryf dit ook.

      “En hierdie, dokter Swanepoel, is een van die belangrikste dames in die kliniek. Sonder haar sal die kliniek nooit weer dieselfde wees nie. Sy doen die uiters belangrike trolliediens. Haar naam is Elke du Plessis.”

      Laasgenoemde sien hoe Jan Swanepoel se oë al groter en groter rek soos hy (teenstrydig met alles wat hy hoor) die vreemde affêretjie voor hom begin eien.

      “Grote genugtig!”

      Daar is nie tyd om te dink nie. Daar moet opgetree word . . . summier . . .

      7

      Die trollie skiet meteens met ’n spoed vorentoe, tref Jan Swane­poel vol op die maag sodat hy sy balans verloor en klouend bo-op die klomp lekkers en tandepasta beland en daar trek hy die gladde kliniekgang af teen ’n verbysterende spoed. Selfs op hierdie ontstellende oomblik flits dit deur Elke se brein: Hy lyk nou nes ’n brulpadda op ’n vuurpyl op pad maan toe . . .

      Dokter Horst is te verstom om te roer, en dis Elke wat eerste tot verhaal kom en die trollie agternasit. Maar iemand anders is voor haar daar. Dokter Julene het pas om die hoek gekom en al wat sy sien, is ’n paar swaaiende, vlieënde bene en sy moet hulle instinktief vasgryp om nie ook meegesleur te word nie. Dit veroorsaak dat die trolliewiele omswaai en Jan Swanepoel ’n halfsirkel maak en eindelik tot stilstand kom. Die jong dokter bly doodstil lê op die sjokolade en tandepasta, nog nie seker wat hom getref het nie, toe ’n paar groot blou oë in sy gesigsveld verskyn en ’n stem sissend sê: “Hou jou mond! Hou jou mond toe, Jan Swanepoel! Jy ken my nie, van g’n kant af nie, hoor?” Dan hardop, gemaak bekommerd: “O, dokter, ek is so jammer! Het u seergekry? Kom ek help u af.”

      Dokter Julene stap ook vinnig nader, sit ook hand by om die nogal fris – die trolliejoggie sal dit sommer vet noem – jong dokter weer op sy bene te kry. ’n Oomblik lank ontmoet die twee vroue se oë en Elke se hart sak in haar skoene. Dis haar laaste dag in hierdie kliniek . . .

      Dan word die spanning skielik verbreek toe ’n man se hartlike lag opklink en ná ’n kort oomblik val die ander toeskouers ook in. Elke staan versteen en dan kom nog ’n skok. Dokter Julene se lag meng met dié van die ander. Sy kan haar ore nie glo nie! Sy blik na die rooi-soos-beet Jan en sy hoor ’n sisgeluid by die hoek van sy mond: “Jou derduiwel! Ek sal jou terugkry!”

      Sy kry darem ’n paar woorde in voordat dokter Horst hulle bereik en sê gedemp tussen skaars bewegende lippe deur: “Doen net wat jy wil, maar moet my nie verraai nie, asseblief! Ek sal later verduidelik.”

      “Ai, kollega, dit was nou ’n goeie vuurdoop! Jy behoort na dese sommer tuis te voel!”

      Jan Swanepoel grinnik verleë. “Ja, ek is beïndruk met my ontvangs hier,” laat hy droog hoor.

      “Hoe het dit dan gebeur dat jy op die trollie beland het?” wil dokter Julene weet en staan sowaar nog altyd met ’n breë glimlag.

      Jan kyk beskuldigend na Elke en so draai elke ander oog ook na haar. Sy sluk. “Ek . . . ek moes op ’n nat kol gegly het en . . . toe stamp ek die trollie en . . . enne . . .”

      “En daar gaan ons nuwe narkotiseur!” lag dokter Julene en sê amper vriendelik: “Wys my jou skoensole.”

      Elke moet maar haar een voet oplig en sy kry die bevel: “Jy moet vir jou rubbersoolskoene kry. Daardie sole is gans te glad.”

      “Ja, dokter.” Elke gryp die trollie en begin vinnig padgee. Die waarskuwing kom in ’n steeds vriendelike stem: “Stadiger nou, kind! Dit kon ’n pasiënt gewees het wat jy so getref het!”

      “Ja, dokter.” Toe sy om die hoek is, kom sy eers weer tot stilstand. Hierdie nuwe, vriendelike dokter Julene kan sy glad nie plaas nie. Wat sou oor haar lewer geloop het? ’n Toneeltjie van twee mense wat hande vashou en in mekaar se oë glimlag, skiet voor haar geestesoog verby. Natuurlik! Dis al wat hierdie metamorfose kon teweeggebring het. Die romanse het die een of ander tyd die afgelope naweek momentum gekry. Daarom is dit net ene glimlaggies vanoggend. Ook dokter Horst weet skielik hoe om hardop te lag! Hmf! Sy behoort egter dankbaar te wees vir dié twee se besonder goeie luim. Sy het eintlik baie lig daarvan afgekom. Net . . . sy voel nie dankbaar nie. Vir wat moes hulle vir Jan Swanepoel van alle dokters hier in die Meissner-kliniek aangestel het? Ja, sy weet hy was een van die puik studente in hul groep en sy weet hy het destyds as narkotiseur gaan spesialiseer, maar . . . Deksels! Sy is in die sop!

      Die hele dag bly sy onrustig en vroeër as gewoonlik voltooi sy haar rondtes en keer terug restaurant toe, vra of sy nie maar ’n bietjie vroeër kan gaan nie, ’n versoek wat Peet geredelik toestaan.

      “Jy kan mos ook maar gaan, Marlene,” spreek hy die moeder aan. “Jy is mos nie onder verpligte ure hier nie en jy het my boeke al taamlik agtermekaar – waarvoor ek jou innig dankbaar is.”

      Marlene knik. Ja. Iets is met Elke gaande. Wat sou vandag gebeur het? Hulle is ook skaars in die motor of Elke laat mismoedig hoor: “Ek wens ons boeke was al so agtermekaar soos oom Peet s’n. Ons vorder geen tree nie, maar intussen beland ek net al dieper in die sop.”

      “Wat het gebeur?”

      “Die ergste wat omtrent kon gebeur het. Iemand wat my omtrent so goed soos Ma ken, het op die toneel verskyn. Jan Swanepoel is nou narkotiseur in die Meissner-kliniek.” Sy sien haar ma se verskrikte oë en knik. “Ja. Dié Jan Swanepoel wat saam met my in die klas was.”

      Marlene frons bekommerd. “Ek het verwag so iets gaan die een of ander tyd gebeur. Het hy . . . jou toe verraai?”

      “Hy het amper, maar voordat hy sy gapende lippe weer op mekaar kon kry om iets te sê, ry ek hom met die trollie om.”

      “Elke!”

      “Ek kon niks anders doen nie, Ma! Ek moes tot elke prys verhoed dat hy ’n woord verder sê!” Sy giggel skielik soos ’n tiener. “Ek wens Ma kon dit sien! Selfs dokter Julene het gelag, en dit sê baie!” Sy vertel haar ma in detail en Marlene moet ook lag, maar sy bly bekommerd.

      “Jy sal aan hom moet verduidelik wat aan die gang is, my kind. Miskien het dit nog ten goede gebeur, Elke. Hy is nader aan die binnekring as ons. Hy kan miskien iets van belang te wete kom.”

      Elke sug. “Ek sou nie by Jan onder ’n verpligting wou wees nie. En hy gaan die situasie uitbuit, dit moet Ma weet. Hy wou destyds al laf wees, maar ek het dit elke keer in die kiem gesmoor. Maar as hy my nou kan afpers, sal hy nie wag nie.”

      “Maar Jan is ’n gawe seun, Elke! Die kere wat hy by ons aan huis was, het ek hom ’n baie oulike mens gevind . . . én hy was smoorverlief op jou.”

      “Hy’s vet.”

      “Ag, kom nou, Elke, wat . . .?”

      “Ek


Скачать книгу