Ena Murray Omnibus 37. Ena Murray
en die man se frons verdiep.
“Wat makeer, Elke?”
“Nee, hoekom? Niks makeer nie.”
“Is jy nog steeds ontsteld oor ouma Lalie?”
“Nee. Ek is nie ’n kind nie! Ek kan sulke dinge hanteer.”
Sy stemtoon verloor in ’n groot mate sy vriendelikheid. “O, regtig? Wat is dit dan met jou? Jy sê jy is nie ’n kind nie, maar jy gedra jou soos ’n kind van ses. Vir wie is jy kwaad?”
“Ek is vir niemand kwaad nie,” maar haar hele houding weerspreek dit. Kan die man dan nie sien hy is nie welkom nie?
“Dan is dit ék wat gesondig het,” besluit hy. Hy druk haar aan die skouers agteruit by die deur in en trek die deur agter hom toe. Skielik lê daar ’n glimlag om sy mondhoeke en tot haar konsternasie verstewig die greep van sy hande op haar skouerknoppe. “Ek begryp nou. Ek is jammer, kleintjie. Dis ek wat my maniere vergeet het. Baie dankie. Jy weet nie hoe hoog ek dit waardeer nie.”
Sy kyk hom onnosel aan. Dis sy wat nou niks begryp nie. “Waarvan praat jy nou?” Haar skouerknoppe brand onder sy aanraking.
“Van die sukses van die partytjie en die voortreflike manier waarop jy dit gereël het. Verskoon my dat ek jou nog nie bedank het nie, maar ek was baie besig.” Hy glimlag goedig.
Ja, besig met handjies vashou . . . Sy sluk. Sy moet iets sê, maar wat? “Ja, ek wens . . . ek wens jy kon hulle sien. Veral ou Frikman . . .”
“Ek wou met my hele hart kom, Elke, maar ek was besig met ’n noodoperasie. Teen die tyd dat ek kon wegkom, was die partytjie lankal verby.” Hy glimlag in haar oë af. “Jy weet mos ek sou graag daar wou wees. Dit was mos óns partytjie.”
“Dan het jy nie aspris weggebly nie?” Dis uit voordat sy dit kon keer.
Hy lag, skud sy kop en skielik is dit asof hy haar wil nader trek. “Natuurlik nie. Hoe kon jy so iets dink? En jy weet nie hoe dankbaar ek is nie.” Skielik is sy vas teen sy bors, sy arms is om haar rug en sy stem klink vreemd. “Jy is ’n liewe kind. Ek wens . . .” Maar hy swyg skielik.
Sy lig haar gesig na hom op, haar wang teen sy skouer. “Wat wens jy?”
Hy kyk op die sproetneus af, gee ’n kortaf laggie en druk haar sagkens van hom af weg.
“Jy is gelukkig nog jonk genoeg om jou wense te laat waar word, meisietjie. Wanneer jy my ouderdom bereik, sal jy weet dat die meeste van jou wense net wense sal bly. Nag, Elke.”
Hy draai om en teenstrydig met haar wens van vroeër wil sy nou nie hê hy moet gaan nie.
“Nee, wag eers! Jy het gesê daar is nog iets waaroor jy met my wou praat,” probeer sy hom roekeloos keer. Enigiets, solank hy net nie onmiddellik loop nie!
“O ja. Ons praat maar later.” Sy hand reik na die deurknop.
“Wil jy nie eers ’n bietjie koffie hê nie? Ek kan net sulke lekker koffie soos my ma maak!” probeer sy desperaat.
Hy glimlag, sy oë steeds gevul met daardie vreemde uitdrukking wat sy nie kan peil nie. “Ek glo jou, kindjie, maar nee dankie, nie nou nie. Tot siens.”
Sy staar na die toe deur en luister hoe sy voetstappe wegsterf . . . en sy kan aan haarself geen aanneemlike, rasionele rede verskaf hoekom sy wil huil en terselfdertyd lus voel om hom met ’n skoen agterna te gooi nie.
Horst Buchner kom by Marlene en Jan verbygestap en dis nie regtig nodig vir hulle om agter ’n struik in te koes nie. Hy kyk nie links of regs nie, stap net met lang hale na sy motor en klim in asof hy baie haastig is. Maar dan sien die twee loerders hoe hy doodstil bly sit, hoe sy vuis gebal op die stuurwiel neerkom. Hulle kan natuurlik nie hoor wat uit sy mond ontsnap nie.
“Is jy besig om heeltemal van jou verstand af te raak, Horst Buchner?”
En toe, sonder om ’n antwoord op daardie vraag te kry, trek hy met ’n onverskrokke vaart weg.
“Wat gaan aan?” wil Jan gesteurd weet.
Marlene sug, skud haar kop. “Daardie twee is gedurig in mekaar se hare. Elke was natuurlik ongeskik en hy het hom, tereg ook, vererg. Kom ons gaan hoor maar wat dit nou weer hierdie keer was.”
Hulle tref ’n sedige meisie aan.
“Wat het gebeur, Elke?” wil haar ma weet. “Horst het hier weggetrek asof die duiwel op sy hakke is.”
“Hier het niks gebeur nie. Hy is seker maar net haastig op pad na sy nooi toe, dis al.”
“Het hy ’n nooi?” wil Jan geïnteresseerd weet.
“Ja, natuurlik. Het die hele kliniek jou nog nie vertel nie? Ons twee hoofde daar is ook twee verliefdes.”
Marlene frons weer liggies. Sy kan haarself nie verstaan nie, maar sy kan net nie opgewonde raak oor hierdie idee nie. “Wat het hy hier kom maak?”
“O, ouma Lalie se een nagrokkie teruggebring.”
“Het hy spesiaal stad toe gery dáárvoor?”
“Genugtig, Ma! Natuurlik nie! Hy het seker ander besigheid ook gehad,” sê Elke geïrriteerd. “Kom ons los nou vir Horst Buchner en kom by die punt ter sake . . .”
Jan Swanepoel se mond hang letterlik oop soos die verhaal ontvou en Elke dink in haar enigheid: Hy is ’n gawe maat, maar, regtig, ek wil nie snags wakker word en só ’n gesig langs my in die maanskyn in die bed sien nie. ’n Ander gesig skuif voor haar in en sy sluit haar gedagtes vinnig af met: “Dis soos sake staan, Jan. Ons probeer meer uitvind, maar ons vorder nie. ’n Mens weet nie waar en hoe jy moet begin soek nie. Ek wil met Mamma saamstem dat sy wel op die een of ander manier ’n Meissner is. Maar wie is sy werklik? Ook moet ons ter wille van my oupa se gesondheid versigtig te werk gaan. Jy kan vir ons probeer uitvind hoe ernstig hy nog is en of ’n groot skok hom miskien sy lewe kan kos. Dit is eintlik die hoofrede hoekom ons nog niks daadwerkliks probeer doen het om hierdie bedrog aan die kaak te stel nie.”
Jan knik. “Ja, ek begryp. Daar sal omsigtig te werk gegaan moet word. Wel, al wat ek voorlopig kan doen, is om my oë en ore oop te hou. Ek kan dalk op iets afkom wat ons in die regte rigting stuur. Ek sal darem daagliks met haar in kontak wees, en op intiemer vlak as die trolliejoggie.” Hy skud sy kop en glimlag. “Wat op aarde het jou op so ’n idee laat kom?”
“Ag, dit het net gebeur.”
Die gesprek gaan later terug na hul studentedae en Elke is dankbaar dat Jan juis vanaand by hulle kuier. Sy kwinkslae dwing haar om te lag en sy gevatheid bring mee dat sy, om haar man teen hom te kan staan, nie aan ander dinge durf dink nie.
Teen die end van die aand kry hy dit selfs reg om haar te oorreed om eerskomende Saterdagaand saam met hom uit te gaan, hoewel hy darem ’n voorwaarde stel: “Asseblief net een ding, Elke. Ek neem jou nie uit met daardie twee boksterte nie!”
Die week gaan sonder enige komplikasies verby. Miskien omdat sekere mense moeite doen om uit sekere mense se pad te bly. Elke sou half verbaas gewees het om te weet ’n sekere dokter doen van sy kant af ook moeite om nie in haar vas te loop nie. Maar dis darem net onmoontlik om mekaar pal te vermy. Die Meissner-kliniek is wel redelik groot, maar die trolliejoggie lewer haar dienste dwarsdeur die gebou, en dokter Horst beweeg ook minstens een keer op ’n dag deur al die gange.
Toe hulle skielik van aangesig tot aangesig voor mekaar staan, is albei sonder woorde. Elke wil net die trollie vinnig verder stoot toe sy stem haar keer.
“Hoe gaan dit?”
“Dit gaan altyd goed met die trolliejoggie.”
Sy stem is droërig. “Ja, met party mense gaan dit altyd goed. Terloops, het jy al ons nuwe rookkamer gesien?”
“Ja.”
“En?”
“O, dit lyk . . . goed.”
Hy lyk teleurgesteld.