Ena Murray Omnibus 37. Ena Murray
Horst!” antwoord Elke kwaai. “Hy en dokter Julene sweef op die wolke. Dis handjies vashou en diep in mekaar se oë kyk . . .”
“Jy speel!”
“Ek speel nie! Met my eie twee oë vanoggend gesien. Heeltemal skaamteloos. Maar dan lees hulle elke dag vir my die leviete voor oor reëls en etiket.” Sy sug, beduie met die hand. “Maar ons los nou maar vir Horst en sy Julenetjie uit. Ek is bekommerd oor Jan. Ek het hom gewaarsku om sy mond te hou, maar hy was almelee so nuuskierig soos ’n ouvrou. Teen hierdie tyd moet hy al uitgebrand wees daarvan. Hy het seker al begin vrae vra oor die kliniek se trolliejoggie. Horst Buchner is nou wel ’n sot, maar nie onnosel nie. Hy gaan iets agterkom.”
Marlene knip haar oë. Sy kan nie altyd die strekking van haar slim dogter se redenasies volg nie. “Hoe bedoel jy nou? Hoe kan ’n mens ’n sot wees, maar darem terselfdertyd ook nie onnosel nie?”
“Ag, Ma! Hy is ’n sot om hom van Julene te laat vang, maar hy sal onmiddellik iets ongerymds agterkom as die nuwe narkotiseur skielik uitermate belangstel in die kliniek se trolliejoggie. Maar dis natuurlik presies wat onse Jan nou aan die doen is . . . besig om uit te vis.”
Sy is ook nie verkeerd nie. Dis presies wat gebeur toe dokter Horst die nuwe kollega vir ’n koppie koffie in die restaurant nooi nadat hy hom deur die hele kliniek geneem en op die hoogte van alles gebring het.
Jan soek versigtig na woorde. Hy verstaan geen kop of stert van daardie sissende bevel wat hy gekry het nie.
“Dié Elke – die trolliejoggie – wat het u gesê is haar van?”
Terwyl hy aan die petalje dink, glimlag Horst skrams. “Elke du Plessis. Haar ma doen blykbaar Peet se boeke. Peet bestuur ons restaurant.”
“O. Van wanneer af is dié . . . Elke hier werksaam? Ek bedoel, dit lyk of sy nog moet leer hoe om die trollie te hanteer sonder gevaarlike gevolge.”
Dokter Horst glimlag nou openlik. Hy kan die man nie verkwalik dat die insident aan hom krap nie. Dit was allermins ’n waardige intrede. “Dis maar heel onlangs dat sy die trollie begin stoot het, ja. Maar ek verseker u, dokter, dit was regtig ’n blote ongeluk. Elke sal nie doelbewus so iets doen nie. Hoekom sal sy?” Jan swyg maar. Hy weet van beter, luister verder. “Sy is nog baie jonk. En u weet hoe is vandag se kinders. Alte voortvarend en altyd haastig.”
“Wil u my sê sy het u vertel sy is nog op skool?” glip dit uit.
“Nee, sy is glo pas klaar met matriek. Moet nog besluit wat sy vorentoe wil doen. Vandaar die trolliepos. Sy oorweeg dit om verpleegster te word, maar sy wil eers die kat uit die boom kyk voordat sy finaal besluit.”
Dis nie net ’n kat wat uit die boom gekyk moet word nie, ou maat, dink Jan woordeloos. Jy weet maar net nie daar is ook ’n slang, ’n groot slang iewers in die gras.
Jan kan egter niks anders doen as om maar te wag tot hy eerste gekontak word nie. Dit sal darem verregaande wees as die nuwe dokter sommer al die eerste dag die trolliejoggie se telefoonnommer in die hande probeer kry. Dit sal al wat ’n slapende hond is, wakker maak, en soos hy afgelei het, het Elke Meissner hierdie ou groot hond van die Meissner-kliniek steeds vas aan die slaap. Horst Buchner weet beslis nie wat regtig onder sy neus aangaan nie. Maar – en Jan glimlag met sadistiese genot – hy sal darem graag wil by wees die dag wanneer Horst Buchner wakker skrik en agterkom hoe hy vir die gek gehou is! Hy het hom reeds deurgekyk. ’n Vriendelike man, ’n gawe mens; maar ’n man met baie sterk oortuigings, beginsels en standaarde. ’n Man wat vanoggend lekker kon lag toe een van sy kollegas vir ’n gratis rit geneem is, maar beslis nie daarvan sal hou om dit self te ervaar nie. Wat ook al hieragter skuil, Horst Buchner sal dit nie amusant vind nie. Maar wát skuil agter hierdie belaglike maskerade? Elke was weer reg. Jan Swanepoel kan gerus sterf van nuuskierigheid.
By die toonbank, terwyl Horst vir die koffie betaal, verneem hy of Elke al teruggekeer het van haar rondtes en Peet vertel dat sy en haar ma reeds huis toe is. Elke het nie lekker gevoel nie.
Horst knik. “Ja. Sy is ontsteld oor ’n ou tannie wat skielik oorlede is. Dis altyd vir ’n kind swaar om die dood te aanvaar. Ek is bly jy het haar maar afgegee, Peet.”
Jan volg steeds stilswyend. Daardie “kind” sal darem op ’n dag groot verantwoording moet doen, dis seker.
Hy is glad nie verbaas toe hy skaars in sy woonstel in die dokterskwartiere is of die telefoon lui nie.
“Waar loop jy so rond? Ek het al drie keer gebel,” kom dit sommer kwaai van die ander kant af.
“Verskoon my. Wie praat nou?”
“Moenie vir jou stuitig hou nie. Jy weet goed wie praat. Dis Elke, natuurlik.”
“Elke? Elke wie? O, wag, ek herken nou die stem. Dis die kliniek se trolliejoggie wat praat, nie waar nie?”
“Jan, ek voel nie lus vir grappe nie. Ons twee moet gesels. Wanneer kan ons ontmoet?”
“Juffroutjie, verskoon my, asseblief. Ek maak nie afsprake met kinders nie. En ek kan ook regtig nie dink wat ek, ’n gespesialiseerde narkotiseur, te sê kan hê vir ’n tiener wat lekkers en waslappe verkoop nie. Gaan soek jou geselskap by jou eie portuur.”
“Gaan bars, Jan Swanepoel.”
“Wag! Wag! Moenie die telefoon neergooi nie! Elke!” Hy sug behaaglik hard sodat sy dit aan die ander kant kan hoor. “So ja! Ek voel ’n bietjie beter! Van my ’n gek maak voor die hele kliniek en dit op my eerste dag!”
“Ek is jammer, Jan! Ek kon niks anders doen nie! Jy was op die punt om my te verklap!”
“Nee, ek was nie. Ek was besig om my tong in te sluk uit loutere verbasing. Ek kon nie ’n woord uitkry nie. Waarmee op aarde is jy besig, Elke?”
“Dis wat ek wil verduidelik, maar nie oor die telefoon nie. Skryf neer my adres en kom hierheen. Vanaand nog!” beveel die trolliejoggie streng en die nuwe dokter gehoorsaam sonder teëpraat.
’n Rukkie later sien Elke ’n motor voor die huis stilhou en haar hart gaan staan amper.
“Ma, hier is moeilikheid! Horst Buchner het nou net hier onder stilgehou. Dis een van twee dinge. Hy is toevallig vreeslik ontydig hier, want Jan kan ook elke oomblik hier opdaag, en ek kan my voorstel wat sal gebeur as dié twee trompop in mekaar moet vasloop. Of dokter Horst is op pad hierheen met ’n spesifieke doel voor oë. Jan het sy mond verbygepraat en Horst Buchner weet alles.”
Marlene kyk haar dogter verbaas aan. “Wat gaan ons doen?”
Daar word vinnig gedink. “Ma glip by die agterdeur uit en staan Jan voor dat hy nie ook hier inkom solank Horst hier is nie. Ek sal so gou moontlik van hom ontslae probeer raak. Niks van koffiedrinkery vanaand hier nie.”
Marlene voel bekommerd. “Jy gaan nie met die man ongeskik wees nie, Elke! Jy kan jou deesdae regtig soos ’n ongemanierde tiener gedra.”
Elke frons kwaai, begin haar ma in die rigting van die agterdeur druk. “Dis hy wat hóm nie kan gedra nie! Wat kom soek hy hier? Hierdie tyd van die aand hoort ’n man by sy nooi. Ek begin wonder of hy ooit weet hoe om te vry, dié dat hy by ander vrouens gaan koffie soek. Toe nou, Ma! Loop nou! Netnou daag Jan ook hier op en dan is die duiwel regtig los!”
Toe die deur op sy klop oopgaan, kyk hy in ’n nie te vriendelike gesiggie vas. Hy gee voor hy merk niks nie, hou net ’n pakkie na haar uit.
“Ek het dit teruggebring.”
“Wat is dit?”
“Die nagrokkie wat ouma Lalie reeds gebruik het. Hulle het nie geweet wat om daarmee te maak nie, toe sê ek ek sal dit maar vir jou terugbring. Miskien kry iemand dit later weer nodig.”
Sy knik bot, hou haar blik op die pakkie. “Ja. Dankie.” Sy bly vierspoor in die deur staan en sy sien hy loer oor haar kop na binne. “Ma is nie hier nie.”
“O. E . . . kan ek ’n oomblik binnekom, asseblief. Daar is ’n ander sakie wat ek ook wil bespreek.”