Ena Murray Omnibus 37. Ena Murray
as jy verloof is, gaan jy trou. En basta! Van nou af gaan jy hom op elke hoek en draai van die kliniek se gange vermy, al . . . al stoot jy jou trollie die pankamer in as jy sien hy is in aantog. Jy gaan jou ook nie weer deur die man laat gebruik nie. Hy kan sy eie pasiënte kalmeer, sy eie partytjies hou . . . enne . . . hierdie koffiedrinkery by die huis moet end kry. Jy gaan by die naaste moetie-winkel paljas koop en dit in die volgende kan koffie gooi. Hy sal nie weer kom koffie drink nie.
Dis nie net die trolliejoggie wat Maandagoggend die Meissner-kliniek met besliste voornemens betree nie.
Ná haar gesprek met Albert Meissner en met Anna het Julene op ’n splinternuwe strategie besluit. Horst Buchner móét net nader getrek word. Haar hele toekoms hang daarvan af. Soos Anna dit so vriendelik onder haar aandag gebring het: Horst is nie egoïsties nie, maar hy bly ’n man, en geen man hou daarvan om deur ’n lid van die teenoorgestelde geslag geopponeer te word nie. Sy glo dit krap tog aan hom dat hy gesag met haar moet deel. Daar is maniere om te verskil sonder om die lug te vertroebel en jou toekoms in gevaar te stel. Vroulike lis en ’n daarmee gepaardgaande glimlag kan wondere verrig. En dis net wat hy in die toekoms gaan kry: inskiklikheid met ’n glimlag.
Ook Horst Buchner kom Maandagoggend met gewysigde toekomsplanne aan diens. Ná die sukses van die kinderpartytjie – en heimlik hoop hy sy medehoof sal nooit daarvan uitvind nie – het hy op ’n vindingryke plan gekom. Die personeel is te besig om tyd in te ruim vir iets meer as verpleging, en so word baie dinge, ewe belangrike dinge, nagelaat. Om ’n pasiënt tevrede en kalm te hou, en veral in die kinderafdeling die aandag so ver moontlik van die seer af te trek, is ’n belangrike faktor op die lang pad van genesing. Die nagsuster se rapport dat die pasiëntjies soos klippe geslaap en dat die afdeling nog nooit so ’n rustige nag gehad het nie, het hom diep laat dink en toe op ’n plan laat kom. Wat hierdie kliniek kortkom, is ’n persoon wat die tyd sal hê om te luister as iemand na ontboeseming voel. Veral in die kinderafdeling is dit noodsaaklik dat daar iemand sal wees, onafhanklik van die verpleegsters, wat die kleintjies se aandag sal aflei en hulle sal besig hou sodat hulle nie so baie op die seer en die verlange huis toe sal konsentreer nie. Hy verwonder hom daaroor dat hy hierdie tekortkoming nie al voorheen raakgesien het nie. Dit het ’n sproetneus-tiener gekos om hierdie belangrike punt vir hom uit te wys en hy is haar baie dankbaar. Wonder wat hy haar kan gee as ’n blykie van waardering? ’n Doos sjokolade? Nee. Op daardie ouderdom is hulle mos baie figuurbewus en dan is dit ook nie bevorderlik vir die vrypuisies nie! Nie dat hy al een op die oulike gesiggie gewaar het nie, maar dis beter om nie slapende honde wakker te maak nie.
Hy het toe gelukkig daarin geslaag om vir Julene twee kaartjies vir die vertoning te kry. Nou sit hy egter met haar twee vir eerskomende Saterdag en het gewonder wat hy daarmee sal maak. As hy nog een in die hande kan kry, kan hy Elke en haar ma vra om hom daarheen te vergesel . . .
Hoe hy ook al sy blik laat dwaal, hy kry die hele dag lank nie eens die punt van ’n bokstert te sien nie. Maar sy is iewers in die gange van die kliniek, weet hy toe hy langs ouma Lalie se bed gaan staan en onmiddellik een van die nagrokkies herken wat Vrydagmiddag gekoop is.
Wat hy (en die res van die verbysterde kliniekpersoneel) egter vandag baie te sien kry, is dokter Julene se glimlag. Dié was nog nooit oorvloedig in die verlede nie. Dit is vir haar ’n ernstige saak om ’n dokter te wees en buitendien is sy medehoof van die Meissner-kliniek. Maar vanoggend straal haar glimlag oor ’n ieder en elk en toe dit teen elfuur nog hou terwyl hulle ’n welverdiende koppie tee geniet, skep haar kollega moed dat sy voorstel nie summier van die hand gewys gaan word nie.
Hy verduidelik wat hy beoog, en vandag luister sy nie uit die staanspoor met ’n frons nie. Sy laat hom toe om sy saak volledig te stel sonder om hom soos gewoonlik in die rede te val. Sy sit ’n rukkie peinsend en dink, sit haar leë koppie neer en glimlag weer tegemoedkomend. “Ek dink dis ’n puik idee, Horst! Hoekom het nie een van ons al lankal daaraan gedink nie? Wat het jou op dié gedagte laat kom?”
“O . . . e . . . nee, dit het net by my opgekom dat ons gerus so ’n betrekking kan skep.” Haar vraag het hom onkant betrap.
Sy lag sowaar hardop en die trolliewiele kom buite in die gang tot stilstand. “Ja! Soos ’n troosmoedertjie vir veral die ouer pasiënte en die kinders. Dis ’n briljante idee, Horst!”
Haar hand gaan na hom uit en hy neem dit spontaan in syne, terwyl sy brein sukkel om die skielike sukses te verwerk. Maar hy is dankbaar, baie dankbaar en hy wys dit in sy glimlag. “Dankie, Julene. Ek is bly jy voel soos ek hieroor.”
Haar oë lag in syne terug en haar vingers knel ’n bietjie stywer om sy hand toe sy antwoord – en nie een van hulle is bewus van die trollie wat by die oop deur verbygaan nie: “Ons sal net moet sorg dat ons die regte persoon aanstel, Horst. Dis eintlik ’n baie belangrike pos, weet jy? Dit moet iemand wees wat kan luister as ander mense wil praat en sy sal baie kennis en ervaring van kinders moet hê. Ek wil amper sê dit is ’n vereiste dat die persoon iets van kindersielkunde af weet.”
Horst frons liggies en trek sy hand terug. “Nie noodwendig nie, Julene. Die persoon moet net ’n hart vir ander mense hê, en die vermoë om hul behoeftes raak te sien. En die kinders . . . Hoe meer kinderlik sy self is, hoe makliker gaan sy met ons klein pasiëntjies regkom, nie waar nie?”
“O, wel, ons kyk maar wat daag op. Jy kan maar ’n posbeskrywing opstel en die advertensie plaas. Ons kan besluit as die aansoeke inkom.”
Elke vlieg met haar trollie by die naaste oop deur in en staan doodstil en wag dat hul voetstappe wegsterf in die teenoorgestelde rigting. Dan haal sy eers weer asem, frons vererg. Hoe aandoenlik! Handjies vashou terwyl hulle aan diens is . . . en hulle is nogal die hoofde van die kliniek! Wat ’n voorbeeld om te stel! Elke junior verpleegster weet dat ’n openlike gevryery beslis teen alle hospitaalreëls is!
Dan frons sy dieper en haar blik verskerp. Sy los die trollie en beweeg vinnig nader aan die bed. Haar kennersoog vertel haar iets is verkeerd. Dit lyk asof ouma Lalie rustig ingedommel het, maar die instink wat so ’n kardinale deel van ’n goeie dokter se samestelling is, vertel haar sy slaap nie. Sy lig die een ooglid versigtig op en trek haar asem diep in. Ouma Lalie is in ’n koma!
Haar hand gaan spontaan uit en sy druk die noodklokkie. Dan vlieg sy by die deur uit, die gang af. Horst! Waar is Horst! Ouma Lalie gaan sterf!
Sy gewaar hom toe sy om die hoek kom. “Horst!” Hy swaai om en kyk vas in die ontstelde oë. “Ouma Lalie! Kom! Sy is in ’n koma!”
Hy vra nie waar sy daaraan kom of hoekom hierdie ontstellende nuus hom via die trolliejoggie bereik nie. Saam beweeg hulle in een rigting. Hy buig oor die ou vroutjie en terselfdertyd kom die suster vinnig binne.
“Wat . . .?” Sy beweeg blitsig bed toe en beveel skerp: “Vat die trollie hier uit, kind! Ek was ’n halfuur gelede by haar, dokter. Toe was sy rustig . . .”
“Dis beroerte. Suster, kry vir my . . .”
Elke maak dat sy wegkom, maar soek ’n plekkie verder af in die gang waar sy in niemand se pad sal wees nie. Sy moet net weet hoe ernstig ouma Lalie se toestand is!
Haar hart brand om daar binne te wees en te help. Dierbare ou mensie! Altyd so sag en so vriendelik, altyd dankbaar vir die kleinste ou dingetjie wat vir haar gedoen word. En sy was so bewoë vanoggend toe Elke haar gehelp het om een van die nuwe nagrokkies aan te trek. So vreeslik dankbaar vir dié vreeslike groot geskenk! ’n Mens sou sweer ek het haar twee suiwer goudstawe gegee, het Elke met deernis gedink. En nou . . .
“Elke . . .”
Haar kop ruk omhoog. “Hoe . . . hoe gaan dit met haar?”
Hy skud sy kop negatief. “Sy . . . sy is weg.” Hy sien die verstarring van die skraal gesiggie en lê ’n hand op haar arm. “Dit was ’n baie kwaai beroerte. Selfs al sou ons haar kon deurhaal, sou sy nooit weer ouma Lalie gewees het nie. Dis beter so, kindjie. Sy sou net verder gely het.”
Sy laat haar kop vooroor sak. Natuurlik weet sy hy het reg, maar . . . sy sal die vriendelike ou rimpelgesiggie nog baie lank mis!
“Neem die res van die dag af. Sê vir Peet ek het so