Sarah du Pisanie Omnibus 7. Sarah du Pisanie
ek en Aletjie het heelmiddag gestaan en kook vir die Venters. Ek het toe sommer nadat sy weg is met die kos nog ’n pot sop opgesit vir môremiddag vir die arme Venters.”
Sy krap in die stoof voordat sy die ketel op die oop plaat trek.
“Daai Alet-kind! Sy sal haar hele maand se salaris op die arm mense uitgee as ek nie oppas nie. Sowaar vanmiddag ’n yslike klomp kruideniersware ook nog gaan koop, die dokter betaal, kos gekoop om te kook . . . en dan moet jy weet sy is vol geite omdat ek nie wil hê sy moet vir die sop ook betaal nie . . .”
“Tant Grieta . . .” Louis knip haar gesels kort. “Hoekom maak julle vir die Venters kos . . . skort daar iets?”
“Nou kan jy meer!” Tant Grieta beskou hom skewekop met haar hande stewig op haar ronde heupe. “Dan is jy ’n mannetjie wat nie ’n vroumens op jou personeel wou hê nie . . . Maar sy het darem al vanoggend nog voor pouse uitgevind wat by daardie huis aangaan . . . en . . .sy het net die kleintjies in haar klas . . .”
“Tant Grieta!”
“Ja, Louis. Die ma, Martha Venter, is baie siek. Alet het vanoggend die kinders hiernatoe gestuur met ’n briefie en gevra ek moet vir hulle ’n pot sop kook. Dit het sy vanmiddag daar gaan afgee, en toe ook sommer die dokter gevra om na die siek vrou te gaan kyk. Sy is so omstreeks sesuur weer hier weg met aandkos vir die mense . . . Ek is juis al half bekommerd . . . ek het nog nie gesien dat sy terug is nie . . .”
“Sy is, tant Grieta, ek het nou net gesien daar brand lig in haar huis.”
“Dis snaaks . . .” Tant Grieta frons. “Sy kon mos maar net hier aangekom het en vir my kom sê het hoe gaan dit met die arme mens.”
Louis sit diep ingedagte. Tant Grieta het al ’n paar keer onderlangs na hom geloer, maar toe daar geen reaksie van sy kant af is nie, hervat sy weer haar alleenspraak.
“Nog ’n koppie koffie, Louis?”
“Nee dankie, tant Grieta, ek moet nou gaan.”
Alet is bleek maar uiterlik kalm toe sy die volgende oggend by die skool aankom. Die koel blou rokkie en die blonde haartjies, wat agter haar kop vasgebind is, laat haar netjies en minder bleek lyk.
Sy stap direk na haar klaskamer toe. Sy het nie vanoggend die moed of krag vir ’n konfrontasie met Louis nie. Die diep kommer oor die Venter-kinders en hul ma verdryf alle ander onaangename gedagtes.
Gespanne wonder sy hoe dit gisteraand daar gegaan het, want sy weet teen hierdie tyd al dat die walglike mansmens wat haar gisteraand wou molesteer Daan Venter is.
Die Ventertjies is egter vrolik en opgewek. Daar is selfs ’n kleurtjie in klein Martie se wange. Alet hou hulle onderlangs dop, maar hulle reageer doodnormaal en stadig ontknoop die stywe kol op haar maag.
Om nie onnodig aandag te trek nie, stap sy pouse na die kantoor om te gaan tee maak. As sy soos ’n moedswillige kind in haar klaskamer bly, sal sy net vir Louis die genoegdoening laat smaak dat hy haar wel seergemaak het. Sy trek gelate haar skouers op. Hy moet maar van haar dink wat hy wil, dit kan haar tog nie skeel nie.
Met haar rug na die deur, staar sy diep ingedagte. Die water val in ’n blink, stomende straaltjie in die teepot en Alet verwonder haar dat daar in ’n straal water nog soveel helderheid kan wees, terwyl alles binne-in haar so dof en leweloos is.
Louis kom stil by die kantoor in en kom staan direk agter haar. Hy is bang dat sy gaan omdraai. Hy wil nie haar oë vanoggend sien nie . . . bang vir wat hy dalk daarin sal lees. Miskien veragting . . . omdat hy hom soos ’n buffel gedra het . . . woede, omdat hy sy seer op haar wou uithaal . . . Waarvoor hy egter die bangste is, is daardie seergemaakte mistigheid wat hy al tevore in onbewaakte oomblikke in haar oë gesien het.
“Alet . . .” Louis se stem is baie sag.
Alet voel ’n ligte rilling deur haar gaan toe sy haar naam vir die eerste keer uit sy mond hoor, en dit nog op só ’n manier.
Alles in haar verstil – die teepot bewegingloos in haar hand. Louis sien net die stywe trek van haar skouers.
“Ek . . . ek is jammer, Alet . . . Tannie Grieta . . . sy het . . .sy het my vertel dat jy vir die Venters kos geneem het . . . Ek . . . ek het nie die reg gehad om vir jou sulke seer dinge te sê nie . . . Ek . . .”
Alet draai stadig om. ’n Lam gevoel kom skop stadig ’n lêplekkie oop op die krop van haar maag toe sy in die verleë bruin oë kyk.
“Dit . . .” Sy laat sak haar oë vinnig en kyk voor haar op die tafel. “As ’n mens skrik . . . dan sê mens gewoonlik wat jy dink . . .”
Die seer in haar hart maak dat sy nie weer die moed het om op te kyk nie, anders sou sy baie verbaas gewees het oor die sagte lig wat skielik in die bruin oë weerkaats.
“Sal jy my vergewe?”
Sy draai vinnig om en skink die koppies vol. “Ag! Kom ons vergeet dit.”
In stilte drink hulle hul tee.
Alet sit haar koppie neer en staan vinnig op.
“Sal jy my asseblief verskoon, meneer Erlank . . .? Ek het nog ’n paar dingetjies om te doen.”
“Alet, my naam is Louis.”
Sy knik net en draai vinnig om sodat Louis nie die trane wat besig is om op te dam, kan sien nie.
Louis kyk die skraal figuurtjie agterna terwyl hy ingedagte met die teelepel roer en roer.
5
Die volgende middag daag Louis onverwags by die Venters se huis op.
Alet is besig om vir Martha Venter gerieflik te maak toe sy die kinders se vrolike, opgewonde groet hoor.
’n Botheid het in haar kom vasslaan. Wat kom soek hy hier? Kom hy kyk of sy nie dalk regtig agter die walglike, dronk Daan Venter aanloop nie? Sy ril liggies. Haar jammerte vir die arme oorwerkte, siek vrou is egter groter as haar vrees vir haar man.
“Kan meneer maar inkom, juffrou? Hy wil net gou vir Mamma kom dagsê.”
Martha is baie verleë oor die vername man wat haar in haar armoedige huisie besoek. Louis kom sit ewe tuis op die voetenent van die bed. Alet draai onseker rond en weet nie wat om te sê nie.
Louis maak egter of hy nie een van die twee se ongemak raaksien nie en gesels rustig, bedel selfs ’n koppie koffie by Truia.
Alet het kos saamgebring wat die kinders self vir aandete kan voorberei. Nadat sy verduidelik het wat hulle alles moet doen, groet sy gou vir Martha en belowe om weer die volgende dag te kom inloer.
“Jy kan sommer saam met my ry, Alet, ek moet ook nou gaan.”
Hy steek sy hand na Martha uit.
“Mevrou, belowe nou dat jy ons sal laat weet as jy hulp nodig het.”
Martha trek verleë haar hand uit syne.
“Dankie, meneer . . . Juffrou is so goed vir ons . . .” Die trane stroom vinnig oor die maer wange.
Louis maak ’n punt daarvan om te kom inloer wanneer hy weet Alet is daar. Daar kom nog kruideniersware en vleis aan en Alet vermoed maar dat hy daarvoor betaal.
Martha Venter sterk stadig maar seker aan. Alet neem vroegaand die kos oor of sien toe dat die groter kinders iets regmaak vir ete, maar sy sorg dat sy nie weer ná donker die sanderige paadjie tussen die duine deur aandurf na haar huisie toe nie.
Vir Daan Venter loop sy ook nie een keer by die huis raak nie. Sy vra nooit uit na hom nie en niemand praat ooit van hom nie.
Die eerste kwartaal snel vinnig ten einde. Alet weet nie wat om die kort vakansietjie met haarself aan te vang nie. Sy het darem al ’n hele paar van die ouers en selfs ’n paar van die ander jong mense op die dorp ontmoet, danksy Gerhard Steenkamp wat haar gereeld oor naweke kom uitneem.
Sy het die mooi Ilze Friedelingsdorf nog net