Sarah du Pisanie Omnibus 7. Sarah du Pisanie
. . . ook nie eens haar hare . . .”
Alet knip die oumensbetoog kort.
“Wat is dit, Martie?”
Klein Martie Venter antwoord nie, druk net haar koppie dieper in haar arms en huil geluidloos. Die rukkende skouertjies is al wat van haar diep hartseer getuig.
Alet stap nader en lig die kleinding van haar arms af op. Die trane het vuil spoortjies op die bleek gesiggie gelaat. Die kinders drom nuuskierig saam.
“Gaan sit julle almal nou op jul plekke en gaan aan met jul werk.”
Sy trek vir Martie aan haar arms op en lei haar na die tafel. Sy tel die kleinding op haar skoot en druk die skraal, rukkende lyfie styf teen haar vas.
Geleidelik bedaar die snikke en lê sy net moeg teen juffrou se sagte skouer wat so lekker ruik. Sy vryf ongemerk die skurwe wangetjie teen die sagte materiaal wat koel en glad teen haar vel voel.
“Susan, wanneer die klok vir pouse lui, moet jy asseblief net so ’n oomblikkie agterbly.”
Susan Venter, die oudste van die vier Venter-kinders in haar klas, kom kop onderstebo nader toe al die kinders uit die klaskamer is.
“Waaroor huil Martie so?”
“Dit is . . . dit is my ma . . . juffrou.”
“Jou ma?” Alet voel die kommer in haar binneste. “Wat makeer jou ma, Susan?”
Susan snuif en vee met die agterkant van haar hand die nattigheid in haar oë.
“Sy is siek . . . juffrou . . . baie siek . . . Sy . . . sy lê net so . . . juffrou . . .”
Alet byt haar lip ingedagte vas.
“Luister, Susan . . . jy weet mos waar tannie Grieta Visser bly . . .”
“Ja, juffrou.”
“Vat gou-gou vir juffrou hierdie briefie na haar toe en dan kom jy terug.”
Alet skryf vinnig ’n paar reëls op ’n stukkie papier wat sy sommer uit ’n skryfboek skeur.
Susan draf haastig by die deur uit, dankbaar om iets te doen en weg te kom van die snikkende Martie.
Alet vra die Ventertjies om vir haar te wag ná skool. Sy sit net haar tas by haar huisie neer en gaan toe saam met die kinders eers by tannie Grieta aan om die heerlike emmertjie sop en dik snye vars brood te kry, voordat hulle aanstap na die Venters se huis.
Die huisie is netjies en baie skoon, maar erg armoedig. Die groter kinders wat by Louis in die klas is, staan verleë rond toe sy daar aankom. Die kleintjie, ’n pragtige ou meisietjie van so ongeveer drie jaar oud, klou-hang aan Truia, die oudste een.
Skynbaar is daar geen kos in die huis nie, want die kinders hou die sop en brood hongerig dop.
“Eet julle solank, Truia. Wys net vir my waar jul mammie se kamer is, dan gaan kyk ek solank na haar.”
Alet staar geskok na die siek vrou. Martha Venter is nog jonk, seker so vyf-en-dertig. Sy is afgesloof en baie, baie siek. Sy is maer en uitgeteer. Die mens onder die dungewaste kombers maak skaars ’n hobbeltjie op die bed.
“Mevrou Venter . . . ek is Alet Fourie . . . die kleintjies se . . . se juffrou.”
Die siek vrou maak haar oë moeisaam oop.
Alet stap nader en neem die maer hand in hare.
“Is daar nie iets wat ek vir jou kan doen voordat ek die dokter laat kom nie?”
Die vrou probeer verskrik regop sit.
“Nee! Juffrou . . . dit kan jy nie doen nie . . . dit . . . dit is maar net my bors . . . dis sommer bronkaaitjies . . . ek kry dit elke jaar . . . dit sal een van die dae beter wees.”
“Maar . . . mevrou, die dokter sal vir jou baie goeie medisyne gee, dan word jy soveel gouer gesond . . .”
“Ons . . . ons het nie geld nie . . . juffrou . . . Die kinders . . . hulle moet nog eet . . . Hulle . . .”
“Ek het vir hulle lekker sop en brood gebring, mevrou . . . en vanaand sal ek weer kos bring. Moenie bekommerd wees nie, ek sal na hulle omsien totdat jy gesond is.”
Alet stap terug na die kombuis. Die kinders eet gulsig aan die heerlike sop. Eenkant het Truia egter ’n bordjie sop uitgeskep en ’n snytjie brood gehou, sodat daar vir Mamma ook iets oorbly, want die seuns se eetlus kan baie ver strek.
Alet neem die sop en brood na Martha Venter. Sy help haar regop en voer haar soos ’n kind.
“Juffrou . . . die kinders . . . hulle het nie gisteraand of vanoggend kos gehad nie . . . hulle is seker dood van die honger . . . laat hulle maar hierdie ook neem . . .” Twee blink trane loop oor die maer wange.
“Hulle het almal genoeg geëet, mevrou, daar is baie kos. Rus nou, môre voel jy sommer baie beter.”
Alet knip haar oë vinnig om die trane te keer. Die maer, afgesloofde vrou wat nog bereid is om haar bietjie ook vir die kinders te gee, en die pragtige klompie kinders wat eers Mamma se kos uitskep voordat hulle eet . . . Liefde is nie iets wat ’n mens kan koop of dwing nie . . . dit is sommer net daar.
Saggies verlaat sy die vertrek toe Martha onrustig insluimer. Alet maan die kinders om nie te raas nie en help eers om die kombuisie weer netjies te kry voordat sy terugstap.
Tannie Grieta is hewig ontsteld omdat sy nog niks te ete gehad het nie. Sy haal al kloekende haar kos uit die lou-oond en sien toe dat sy elke krieseltjie opeet voordat sy luister na Alet se storie.
“Tannie Grieta, ek wil asseblief vir jou betaal vir die sop en die brood.”
Die verontwaardiging slaan rooi kolle op tannie Grieta se wangbene uit.
“Oor my dooie liggaam!”
“Maar, ta’ Grieta, ek het jou dan gevra om dit vir my te kook. Ek kan mos nie nou dat tannie dit self . . . ek bedoel dat tannie die bestanddele self koop nie.”
“Ek het net nie geweet van die siekte nie . . . anders sou ek nie gewag het totdat iemand my gevra het nie . . .” Alet sug gelate.
“Nou goed. Maar tannie moet asseblief vir my help om vir hulle ’n ordentlike bord kos te kook vir vanaand . . . maar ek gaan alles self koop en kook . . . Tannie moet net asseblief vir my sê hoeveel van alles.”
“Nou goed . . .” Tannie Grieta is baie onwillig met hierdie reëling. “Maar ons kook hier by my huis . . . verstaan?”
“Goed, tannie . . .” Alet gee haar ’n stywe drukkie en ’n soentjie op haar grys kop.
“Kan tannie net vir my sê waar kan ek ’n dokter in die hande kry om haar te gaan ondersoek?”
“Ons stuur sommer die huishulp met ’n briefie.”
Alet het vir Truia en Willem gevra om so omstreeks sesuur te kom sodat hulle haar kan help dra aan die kos.
Hulle het ook skaars gegroet of hulle vertel met baie gebare dat die dokter by hul ma was. Ou dokter Voges het met sy swart motor reg voor hul deur kom stilhou . . .
“En weet juffrou wat? Hy het vir Mamma ’n hele hand vol pille gegee . . . en toe sê Mamma maar sy wil nie die pille hê nie . . . want ons het nie geld om daarvoor te betaal nie . . .”
Willem haal ’n slag asem en voordat hy die storie kan hervat, steel Truia sy storie uit sy mond.
“En weet juffrou wat sê oom dokter toe? Hy sê hy het haar nie gevra vir geld nie . . . Dink juffrou sy sal nou heeltemal gesond word van al daardie pille . . . en nie weer so siek word soos altyd nie?”
Alet vryf teer oor Truia se lang bruin hare.
“Ek dink sy sal . . . veral as sy nou nog al haar kos ook eet, en as julle vir haar so ’n bietjie in die huis help, sodat sy nie so hard moet werk nie.”
Martha Venter is heeltemal