Sarah du Pisanie Omnibus 7. Sarah du Pisanie
sê dit nie in soveel woorde nie, maar dit klink asof hulle dan gaan verloof raak.”
“Nee, ek weet nie, kind. Ek en Ilze is nie vreeslik lief vir mekaar nie; sy sal nie haar geheimpies met my kom deel nie.”
Tannie Grieta vee die suikerkorreltjies op die tafeldoek ingedagte bymekaar.
“Ek sal in elk geval nie verbaas wees nie, want hy is deesdae meer op die plaas as hier.”
“Louis sê dit is vreeslik droog op die plaas en dan is daar glo meer werk as gewoonlik.” Dit is skielik vir Alet baie belangrik dat daar ’n ander rede vir Louis se plaastoeganery moet wees.
“Ja, dit is so! Ek weet nie wat hulle gaan doen as dit nie vanjaar vroeg begin reën en sommer ordentlik reën nie. Kindjie, daardie wêreld kan lelik word wanneer dit regtig droog word.”
Alet kuier onbeskaamd tot amper elfuur. Tannie Grieta probeer om die gape skelmpies agter haar hand weg te steek.
Alet lag.
“Ek dink ek moet liewer gaan slaap, want tannie gaap my nou uit die huis uit.”
Tannie Grieta beduie verleë: “Nou toe, loop slaap . . .”
“O, nou word ek weggejaag! Ja, toe maar, ek sal maar alleen en eensaam in my ou huisie gaan sit.”
“Nee, jy hoef glad nie te gaan sit nie . . . gaan slaap liewer, dan kan jy môre in die dag kom kuier soos ’n ordentlike mens en nie in die nag soos ’n uil nie.”
Alet trek haar gesig op ’n martelaarsplooi.
“Nee, dit is reg so, as ek weer hier nodig is, dan sal ek ook nie kom nie. Nee, dan sal ek alleen daar in my huis sit . . .”
Tannie Grieta steur haar min aan die tergery.
“Ek is ’n ou vrou en glad nie opgeskeep met myself soos jy nie. Loop slaap nou, dalk lyk jy môre nie meer soos ’n spook nie.”
Alet druk ’n soentjie op die grys hare.
“Nag, tannie Grieta, lekker slaap en baie dankie vir jou ou skouertjie waarop ek maar altyd kom huil en kla. Jy is so . . . so ’n regte ou moedertjie.”
“Nag, my kind.” Sy stap saam deur toe. “Gaan jy die vakansie huis toe?”
“Ek wil probeer, tannie. My pa is nog steeds siek en my ma sê hy kerm deesdae vreeslik omdat ek so ver is; hy verlang glo vreeslik.”
“Ek is bly. Dit is nou wel ver, maar al is dit net vir ’n paar dae, sal julle dit almal geniet.”
Die wintervakansie is ook sommer net om die draai. Voordat Alet besef, is dit daar.
Louis reël dat sy ’n dag vroeër kan weggaan sodat sy nie nodig het om vir die volgende trein te wag nie en sodoende die naweek kan benut. Alet is so opgewonde soos ’n kind om haar ouers weer te sien. ’n Week voor die vakansie is sy reeds koorsagtig opgewonde.
Louis hou haar bekommerd dop. Sal dit werklik net wees om haar ouers te sien, of is die onbekende Pieter die rede vir die kleur in haar wange?
Louis bied aan om haar stasie toe te neem. Met al die kinders en vriende wat saamgekom het om te groet, is daar nooit ’n geleentheid om haar ’n oomblikkie alleen te sien nie. Sy wonder skaam of hy haar sal soengroet soos hy verlede vakansie gedoen het, maar die geleentheid doen hom nie voor nie en hy hou maar net haar hand ’n oomblik langer vas as wat nodig is.
Die rit is nie so warm soos die vorige keer nie en Alet geniet dit nogal. Die vakansie is een groot bederf. Haar ma kloek soos ’n hen om haar en dit is salig om sommer net by haar pa te sit en sy harde hande kort-kort op haar hare te voel.
Met verbasing besef sy dat die plekke en mense wat sy met Pieter verbind, glad nie meer die seer verlange in haar binneste bring nie. Selfs toe haar ma sy naam pertinent noem, voel sy geen onstuimige hartklop soos vroeër nie . . .
Hulle twee is alleen aan die ontbyttafel. Die wintersonnetjie skyn helder by die venster in en ’n heerlike, behaaglike gevoel omvou Alet.
“Is Pieter nog in die omtrek, Mamma?”
“Nee, kindjie . . .” Haar ma loer vinnig na haar, maar gerusgestel deur haar kalm houding en stil hande om die teekoppie, gaan sy vrymoediger voort. “Hulle is net kort ná jou hier weg. Ek wou niks in my briewe sê nie, ek was bang dit ontstel jou.”
“Waarheen is hulle?”
“Pretoria toe.”
“En die baba, Mamma? Is die baba al daar? Wat is dit toe?”
“Die baba is so tien dae voordat jy gekom het, gebore . . . ’n dogtertjie. Tannie Breggie praat nie veel oor hulle nie . . . Sy is baie lief vir jou, my kind, en sy kan vir Pieter en veral vir Marie nie maklik vergewe nie.”
“Ag, Mamma, sy moenie . . . sy moet vir hulle lief wees . . . Ek . . . ek is regtig oor die hele ding . . . en ek besef elke dag meer en meer dat dit dalk . . . dalk deur ’n Hoër hand so beslis is . . . Ek . . . ek en Pieter, ek dink nie ons sou reg gewees het vir mekaar nie . . .”
Met hierdie groot versperring uit die weg geruim, gesels Alet en haar ma land en sand aanmekaar.
“Word julle twee nooit moeg vir gesels nie?” terg Braam, haar ouboet, later.
“Ai, boeta, as jy net weet hoe baie ek na julle verlang, veral wanneer ek so eensaam en alleen in my houthuisie sit, sal jy my al die gesels in die lewe gun.”
“Hoekom kom jy nie terug nie . . . jy hoef mos nie daar in daardie woestyndorp te bly nie?”
“Miskien kom ek volgende jaar terug. Ek kan in elk geval nie weggaan voor die einde van die jaar nie.”
Braam is baie bekommerd toe sy hulle van Gerhard vertel. Hy sien nie kans dat sy suster, sy enigste suster, met ’n wewenaar trou wat reeds ’n kind in die skool het nie.
Sy lag net sy kommer weg. Van Louis praat sy so min moontlik. Haar ma is baie fyn ingestel op elke nuanse in haar stem en sy sal sommer raai wat sy nog vir haarself wegsteek.
Te gou is die vakansie verby en moet sy die lang rit terug aanpak. Die omgewing is meer bekend en die reis is vir haar glad nie so lank soos die eerste keer nie.
Hoe nader hulle aan Walvisbaai kom, hoe onstuimiger klop haar hart. Moedswillig ontleed sy dit nie, maar maan haar verraderlike hart tot kalmte. Sy lees en staar soms sommer net deur die venster na die stil, droë veld. Sy is glad nie van plan om hierdie wilde opgewondenheid wat van haar besit neem, ’n naam te gee nie.
Sy kom eers die Dinsdagoggend op Walvisbaai aan. Die skool het al die vorige dag heropen.
Anders as die eerste keer, is Louis Dinsdagoggend vroeg op die stasie om haar te kom ontmoet.
Hy hou haar hande in syne vas en Alet wonder of hy, indien die kloekende stasiemeester en Frau Wolf nie al om hulle was nie, haar met ’n soen sou verwelkom het.
7
’n Warm gevoel van tuis wees vou soos ’n sagte, wollerige kombers om Alet.
Die dorp is nog maar sy sanderige oninteressante self, met sy wind en sy houthuisies, maar iets het sommerso sonder toestemming diep in haar siel kom kruip.
Dit is vir haar heerlik om terug te wees. Die kinders hang soos vinke aan haar by die skool. Van skoolwerk daardie eerste oggend kan sy maar vergeet.
Louis is vriendelik en bedagsaam en kort-kort betrap sy sy oë peinsend op haar, wat haar hart wild aan die bons sit.
Sy is die oggend sommer van die stasie af skool toe, hulle het net haar tasse by die huis gaan besorg.
Die middag is sy nog besig om haar eerste tas uit te pak, toe die Venters kom kuier. Martha groet skaam, maar die bly liggie om Alet weer te sien, kan sy nie uit haar oë hou nie.
“Ai, juffrou, ons het so na juffrou verlang!”
“Ek het na julle