Sarah du Pisanie Omnibus 7. Sarah du Pisanie
Die dringende kinderstem kom van ver af na haar toe. Eers toe sy hard aan haar skouer geskud word, dring die werklikheid van die stem tot haar deur.
Sy vryf haar oë en staar vir Truia Venter met onbegrip aan. “Juffrou, kom tog gou . . . dit is my pa!” Alet sit regop en stadig begin dinge in perspektief kom.
“Jou pa?”
“Juffrou, my pa het ver . . . het seergekry . . . ’n trein . . . Ek weet nie mooi wat gebeur het nie . . . maar . . . hy is in die hospitaal, my ma is ook daar . . . Kan juffrou nie gou saamkom nie?”
Sy rem aan Alet se hand. Alet is die enigste mens wat nou in kinderverstand uitstaan, die enigste een wat nog ooit probeer en daarin geslaag het om haar ma volkome gesond te kry. Miskien . . . miskien kan sy iets vir haar pa doen.
Alet staan vinnig op, trek ’n kam deur haar hare en drafstap agter Truia aan. “Waar is jou ma?”
“By die hospitaal, juffrou.”
“O ja, jy het so gesê!”
Alet staan ’n oomblik op die stoep stil.
“Wag . . . Dit is ver . . . ons sal moet hospitaal toe gaan.”
Alet trek vir Truia aan die arm en draf na Louis se huis toe. Sy hamer aan die deur wat omtrent onmiddellik oopgaan. “Louis . . . kan jy ons nie asseblief hospitaal toe neem met die motor nie? Dit is die Venter-kinders se pa . . . ek weet nie mooi wat gebeur het nie, skynbaar ’n ongeluk.”
Net een kyk na die verskrikte Truia laat Louis geen verdere vrae vra nie. Hy gryp sy sleutels en help Alet en Truia vinnig in die bakkie in.
Martha Venter staan handewringend in die voorportaal van die klein hospitaal.
“Martha . . .” Alet sit haar arm om die skraal vroutjie. “Waar is jou man nou?”
“Dokter Voges is nou besig met hom in die operasiesaal . . .” Sy sluk aan die droë knop in haar keel.
“Wat het dan gebeur?” Louis staan nader en fluister-praat in die stilte wat drukkend om hulle hang.
“Hy het die trein gerangeer en . . . ek weet nie . . . daar was ’n ongeluk . . . hy het blykbaar onder die trein beland.”
Niemand vra die vraag wat in almal se gedagtes is nie. Dit was weer betaaldag gister . . . was hy heeltemal nugter?
’n Diep jammerte vir hierdie arme, versukkelde vrou oorweldig Alet. Sy druk haar ’n oomblik lank styf teen haar vas.
“Toe maar, Martha, ek is seker dokter Voges sal vir hom doen wat hy kan.”
Alet wonder stilweg of daar ’n tyd was wat Martha vir hom lief was . . . vreeslik lief . . . so lief dat sy bereid was om haar lewe met hom te deel. Moet seker wees. Hoeveel drome en ideale moes sy nie al langs die pad opoffer nie? Sy sug saggies. Wie van ons kan vir ’n ander een sê: “Moenie lief wees vir hom nie, hy is dit nie werd nie?” Seker niemand nie. Liefde is soos die wind, hy waai waar hy wil.
Dit voel soos ure voordat dokter Voges in die deur verskyn, moeg en terneergedruk, en ’n mens kan sy werklike ouderdom in die hang van sy skouers sien.
“Ek is jammer . . . mevrou Venter . . . ons . . . ons kon hom nie deurhaal nie.” Hy sit sy lang, maer arm om haar skouers en druk haar ’n oomblik teen hom vas.
Martha Venter begin saggies snik. Louis druk haar liggies by die deur uit en lei haar na sy bakkie.
Truia is lankal terug huis toe na die ander kinders. Alet sit voor tussen Martha en Louis met Martha se maer hand styf in hare.
“Mevrou Venter . . . ek sal alles verder reël. Moet asseblief oor niks bekommerd wees nie.” Alet sien die verligting wat hierdie gerusstellende woorde van Louis op haar gesig bring.
Alet slaap dié nag by die Venters. Die kinders is stil oor hul ma se hartseer. Alet besef dat dit vir hulle geen persoonlike verlies is nie. Daan Venter was nooit vir hulle ’n pa in die ware sin van die woord nie. Hulle ken hom net as dié een wat gevrees moet word, wat hul ma, vir wie hulle baie lief is, mishandel en gereeld skande oor hul huis bring. Maar nou is dit alles verby.
Louis tref al die reëlings vir die begrafnis. Die predikant kom Saterdag van Omaruru af om die begrafnis te kom waarneem.
Louis reël ook dat Martha in die spoorweghuisie kan aanbly. Die Spoorweë is meer as tegemoetkomend; hulle verleen toestemming dat Martha daar kan bly so lank as wat sy wil en as sy graag wil, kan sy later die huisie by hulle koop. Louis is bly dat die probleme van behuising vir eers op die lange baan geskuif kan word.
Daar is nie veel mense by die begrafnis nie en Alet is dankbaar toe dit verby is.
Martha is kinderlik dankbaar vir al haar en Louis se hulp en bedank hulle oor en oor.
Alet wil die gedagte nooit loslaat nie, maar kort-kort wil dit net kop uitsteek: die Venters sal nou dalk beter daaraan toe wees as toe Daan nog gelewe het. Die pensioen wat hulle kry, is nie vreeslik baie nie, maar dit is darem alles beskikbaar vir die huishouding.
Die aand ná die begrafnis gaan kuier Alet lank by tannie Grieta. Ná die dae lange morbiede atmosfeer in die Venters se huis is sy nie vanaand nog lus vir haar eie geselskap nie.
In die een of ander stadium wyk die geselskap heeltemal van koers af en toe Alet haar kom kry, gesels hulle oor Louis.
“Ag, kindjie, weet jy, dit was vir my so goed om weer vir Louis só te sien . . . so, soos hy altyd was!”
“Hoe bedoel tannie nou?”
“Hy was tog altyd so ’n opgewekte en gemoedelike soort mens. Altyd so ’n oog gehad vir mense wat swaarkry. En sy regterhand het nooit geweet wat sy linkerhand doen nie . . .gehelp waar hy kon . . .” Tannie Grieta sug swaar. “Maar toe verongeluk die ou meisietjie mos . . . en dit nog saam met so ’n losbol.”
“Was dit sy meisie, tannie?” Alet voel skuldig om so blatant uit te vra, maar haar nuuskierigheid oor Louis se verlede verdring alle ander gevoelens.
“Ja, kindjie, hulle was verloof . . . sou oor drie maande trou.” Sy sug weer diep. “ ’n Pragtige kind. Lig soos jy; haar haartjies was net korter en haar oë . . . dit was die mooiste oë wat ek nog gesien het . . . sulke pragtige blou-groen oë.”
Sy skink eers vir hulle nog koffie, klaarblyklik half onwillig om die hele storie te vertel. Alet verander moedswillig nie die gesprek nie, kyk haar net stil aan sodat sy half ongemaklik voortgaan.
“Sy het weggeloop met ’n ander man . . . sommerso ’n losbol wat nooit eens ’n werk kon behou nie. Sy het vir Louis ’n brief geskryf wat hy die volgende dag deur die pos gekry het . . . nadat sy reeds verongeluk het.”
“Het tannie hulle destyds geken, of het tannie ook maar later eers die storie gehoor?”
“Nee, ons was bure daar op Usakos. Die oom se bors het hom net vreeslik opgekeil en toe het ons maar verkoop en hier na die seeklimaat toe getrek . . .” Dankbaar dat sy die gesprek kan verander, borduur sy sommer voort. “Ja, dit was nie vir lank nie . . . net ’n jaar, toe het die asma hom tog maar onder die grond.”
Alet luister nie meer nie. ’n Jammerte vir Louis kring stadig wyer en wyer uit. Dit is seker die rede hoekom hy so bot is. Die ses jaar wat sy al dood is, het nog glad nie die wonde geheel en berusting gebring nie.
“En Ilze, tannie Grieta . . . wat is sy van hom? Ek bedoel, is hulle net vriende of is daar ’n verhouding tussen hulle?”
“Ek weet nie, kindjie. Louis praat mos nie. Ilze is natuurlik baie erg oor hom. Sy is ook nie meer ’n kind nie, seker al goed ses-en-twintig, en sy wag nog al die jare vir hom . . .Hoekom hulle twee nog nie getroud is nie, weet ek nie.”
Alet kyk verleë af. Sy besef dat hulle geen reg het om so in Louis se privaat lewe rond te krap nie, maar dit is skielik vir haar baie belangrik.
“Ilze . . . hm . . .” Alet maak ongemaklik keel skoon. “Sy kuier nog steeds hier op