Christine le Roux Omnibus 5. Christine le Roux
teen sy lippe om te wys die dokter kan haar hoor.
“Bog!” sê sy, nog steeds ontstoke. “Ek gee nie om of hy my hoor nie. Ek is vreeslik bly jy het nie jou kop seergemaak nie, Den, anders was jy ook seker een van sy pasiënte. Hy is ’n voorbeeld van die soort dokter van wie ons in sielkunde geleer het. Die soort wat dink die liggaam is belangriker as die psige.”
Dokter Hofmeyr kom agter die gordyn uit en trek dit weer oop. “A,” sê hy met sy rug na haar. “Jy het dus sielkunde bestudeer. Ek staan terug voor soveel kennis.”
Sy wil stik van woede, maar kan nie ’n woord uitkry nie.
Net voordat hy teen sy gewone spoed by die deur uitloop, knik hy in die rigting van sy pasiënt. “Daar is jou pasiënt, juffrou,” sê hy met ’n stem wat kookwater sou kon laat vries. “Leer vir hom Afrikaans.”
Sy staar na die deur, haar mond halfoop. “Die vermetele . . .” begin sy.
Dennis druk sy hand teen sy maag, maar kan nie ophou lag nie. “O aarde!” hyg hy. “Dis ’n goeie ding my wonde het byna alles geheg anders moes ek nou van voor af steke kry. Jy het daarvoor gesoek, Nico. Dokter Hofmeyr is een van die mees vooraanstaande neurosjirurge wat ons het en jy het hom pas vertel hy weet nie wat hy doen nie. Wat verwag jy?”
Sy staan op, loop doelgerig terug na die lewelose figuur en tel sy hand op. “Meneer Ollsen,” sê sy ferm, “moet jou nie steur aan jou onsimpatieke dokter nie. Ek is hier en ek sal met jou praat.”
Dennis kyk nadenkend na haar. “Ek dink nie dit kan kwaad doen nie,” merk hy op. “Maar ek moet met dokter Hofmeyr saamstem: jy gaan wraggies nie tot hom deurdring as jy met hom praat in ’n taal wat hy nie verstaan nie.”
Sy draai haar kop en kyk hom streng aan. “Ek ken nie Noorweegs nie, watse keuse het ek? Solank hy net iemand se stem hoor, iemand se aanraking voel.”
Op daardie oomblik kom Rosa in. Sy kyk verbaas na Nicoline terwyl sy oor Dennis buk en hom soen. “Wat maak sy?” vra sy vir hom.
Hoogs geamuseer vertel hy haar wat pas gebeur het. “En moenie dink Nico voel skuldig of beskaamd nie,” eindig hy. “Die dokter was skaars uit toe hou sy weer die man se hand vas.”
Rosa staan skigtig nader, kyk af na die man. “Sies tog, die arme mens! Besoek niemand hom dan nie?”
Dennis bring haar vinnig op die hoogte van alles wat hy die vorige aand by die verpleegster gehoor het.
“Dis vreeslik,” sê Rosa. Sy is dadelik die ene simpatie. “Dit moet swaar wees om in so ’n toestand in die vreemde te lê met niemand om by jou te wees nie.”
“Ék is nou hier,” sê Nicoline. Sy buig laer af sodat haar mond by sy oor is. “Hoor jy my, Kurt? Ek is nou hier.”
Die ander twee bekyk haar in stilte. Dennis spot nie meer nie, hy loer deur nougetrekte oë na haar. Dan is dit asof hy tot verhaal kom, sy gesigsuitdrukking verander en sy oë word weer tergend. “Jy sal Noorweegs móét leer, Nico.”
“Moenie met haar spot nie,” kom Rosa tot haar hulp. “Kyk, as hy deur die land getoer het, soos die verpleegster sê, moet hy ten minste Engels kan praat. Hoe anders het hy reggekom?”
Nicoline trek die stoel nader, haar rug word seer om so ongemaklik gebuig oor die bed te staan. Sy gaan sit sonder om Kurt se hand te los en slaan met die grootste gemak oor in Engels. Sy werk nie verniet al byna agt jaar by meneer York nie.
“Ek sal jou vertel hoe dit hier lyk,” sê sy. “Dis ’n regte Transvaalse herfsmiddag. Jy sal natuurlik nie weet of dit tipies is of nie, aangesien jy net ’n besoeker is. Die son skyn, dis droog, maar daar is ’n byt in die lug. In jou land het dit seker al begin sneeu. Nee, natuurlik nie. By julle word dit nou lente. Jy lê in ’n kamer wat maar doodgewoon is.” Sy kyk krities om haar rond. “Liggroen mure, witterige gordyne. My broer lê op die bed langs jou. Hy’s ’n prokureur en so ’n toegewyde een dat hy nie kon ophou lees toe hy by sy kantoorgebou uitgeloop het nie. Hy is omgery.” Sy kyk vinnig na Dennis, haar oë vol lagduiweltjies. “Ja, ek weet dit was dom. Ons het almal so gedink. Hy is nietemin ’n gawe man en ek is seker as jy nie bewusteloos was nie, het julle lekker gesels, want hy is al baie verveeld met sy bestaan hier. Maar jy sal moet opskud, hy gaan volgende week huis toe. As jy ’n gesels wil inkry, moet jy vinnig wakker word.”
Die verpleegster wat dokter Hofmeyr die vorige middag vergesel het, kom binne om iets aan Kurt Ollsen se drup te verstel. Sy kyk Nicoline verstom aan, maar sê niks nie.
“Ek kuier bietjie by hom,” sê Nicoline vir haar. “My broer het sy verloofde en meneer Ollsen het niemand nie.”
“Ek sien,” is al wat die verpleegster sê voordat sy weer loop.
“Die hele hospitaal gaan van my suster weet,” sug Dennis.
“Wat is daar om te weet?” vra Rosa lojaal. “Sy doen hom nie kwaad nie en miskien registreer dit êrens in sy brein dat hy nie meer alleen is nie.”
Nicoline ignoreer hulle albei en ná ’n ruk gaan hulle voort met hulle eie gesprek en laat haar met haar eensydige dialoog. “As jy my kan hoor,” sê sy ernstig, “druk my hand.”
Die lewelose, bleek hand bly roerloos en swaar in hare.
“Dit maak nie saak nie,” sê sy. “Solank jy net luister.” Sy gaan voort met haar beskrywing van die kamer, die tuin buite, die blou lug, die droë blare wat rondwaai. “Snags word dit al goed koud buite,” sê sy. “Dis natuurlik nie vir jou vreemd nie. Jy kom uit ’n noordelike land, jy is gesout. Ons kry nie eintlik sneeu nie, behalwe op die hoë berge. Is dit waarom jy hierheen gekom het? Om die son te soek? Ek kan dit verstaan, ek hou self van die son. Ek het rooi hare,” voeg sy by, “maar nie die vel wat daarmee saamgaan nie. Ek word maklik en vinnig bruin.” Sy bestudeer sy lewelose gesig. Ten spyte van die ongesonde kleur kan ’n mens tog sien dat hy in die son was. Sy draai om en kyk na die ander twee. “Hoe oud skat julle is hy?”
“Dis moeilik om te sê,” huiwer Rosa. “Sy gesig is bewegingloos, mens kan nie sien of hy al plooie het nie. Ek dink hy lyk jonger as wat hy in werklikheid is.”
Nicoline staan op en bestudeer ongesteurd weer die pasiëntekaart aan die voet van die bed. Bykans alles wat daarop gekrap is, is onleesbaar en sy is seker dat selfs al sou sy kon uitmaak wat daar staan, sy niks daarvan sal verstaan nie. Sy naam en geboortedatum is egter in duidelike drukskrif geskryf. Sy kyk op, haar lippe beweeg soos sy somme maak. “Drie en veertig,” sê sy dan en gaan sit weer. “Hulle het dit seker in sy paspoort gekry.”
Dennis kyk haar tergend aan. “Hoekom kry ek die gevoel my suster het ’n doel in haar lewe gekry?” vra hy vir niemand in die besonder nie. “Dis weer van voor af die storie van die klipspringertjie.”
“Wat daarvan?” vra sy en staan op omdat die klokkie lui wat die einde van die besoektyd aankondig. “Hy’t bly leef, het hy nie?”
Hy knik. “Ja, my liefste suster, hy het. Ek terg jou net. Gaan voort.”
Hoofstuk 3
In die volgende week dink Dennis dikwels aan die klipspringertjie. Hy en Nicoline was met vakansie op die plaas toe die beseerde bokkie daar aangebring is. Hulle pa het dadelik voorgestel dat die arme diertjie van kant gemaak word, dit sou die genadigste wees, maar Nicoline het absoluut geweier dat dit gebeur. Die bokkie se fyn beentjie is gespalk en sy wonde ontsmet en verbind. Nicoline het letterlik nie geëet of geslaap nie. Dag en nag het sy langs die diertjie gesit, kos en water in sy bekkie geforseer, druppel vir druppel. Niemand anders het gedink die bokkie gaan oorleef nie, maar sy het nooit hulle gevoel gedeel nie. Haar vasberadenheid moes wen en tot almal se verbasing het dit. Die bokkie het gesond geword, agter haar op die werf aangetrippel en is uiteindelik weer in die veld losgelaat.
Dit was nie die enigste geval nie. Daar was op ’n keer ’n halfdooie eendjie en ’n pasgebore babakatjie wie se ma dood is. Nicoline het hulle versorg. Wanneer dit by sulke gevalle kom, gee sy nie op nie.
Soos