Fiela se kind. Dalene Matthee
wie eerste by die uitdraaipad sou wees, die kinders of die kar. Die volstruis was haastig. Die takswaaiende kinders moes hol om by te bly en haar in die regte rigting te hou, en Benjamin was natuurlik weer voorholler.
“Kyk nou daar vir Benjamin, Selling! Al voor die volstruis uit, en ek het hom uitdruklik gesê hy kan saamgaan as hy agter draf!”
“Los die kind, Fiela, hy’s nie een vir agter draf nie. Daardie perdekar is al heelweek op en af hier in die Kloof. Vreemde kar.”
“Smouse. Al hoe meer van die goed hier rond. As dit so aangaan, sal daar op die ou end vir elke volstruisveer ’n koper wees.”
Die kinders en die volstruis was voor die perdekar by die uitdraaipad en Fiela se hande het opgewonde geraak onder haar voorskoot.
“Sy’s mooi, Selling. Bietjie rankerig om die boude, lyk dit my, maar ons sal haar vet kry, wag maar.”
“Dis nog te ver om te sê hoe sy lyk, vrou – die perdekar het lus vir uitdraai hiernatoe.”
“As dit smouse is en hulle wil velle en goed koop, sê jy reguit ons deel met Rossinski.”
“Daar’s taamlik dasvelle wat klaar gebrei is.”
“Goed, hulle kan dasvelle kry, maar nie vir onder die twee oulap ’n vel nie.”
Die hitte het trillings gemaak oor die oorkantse rante; na Diepkloof se kant toe, oos, het ’n dwarrelwind pad langs in die stof getol en skielik weer gaan lê. Toe sy opkyk, het die valk weer ewe suutjies bo die werf gehang.
“Maaifoerie!” het sy vir hom geskree. “Gister my mooiste kuiken gevang toe ek my rug draai, nè? Vandag kan jy maar op ’n ander plek loop aas, ek het hulle toegemaak!”
“Die kar draai op, Fiela.”
“Nie ’n enkele vel vir onder die twee oulap nie.”
Onder in die laagte het die volstruis skielik regs die veld in geswenk, met die kinders agterna dat die stof onder hulle voete uitslaan.
“Hulle gaan sukkel om haar hier te kry,” het Fiela sonder erg gesê en teen die skuinste agter die huis uit geloop na die hoenderhok toe.
Die somer was kwaai. Sy het teen die kaal, skurwe rooibruin berg bokant die huis uit getuur en gesien hoe die slierte mis oor die kruin waai en weer wegfrummel teen die bloue lug. Dit was of die hitte aan die Kloof se kant van die voorste berge nie ’n flenter mis heel wou laat oorwaai om lafenis te bring nie. Waarom dit die liewe Here behaag het om dié yslike gebergte soos ’n hindernis tussen die Lange Kloof en genade te kom neersit, sou net die Here alleen weet. Seekant van die berg het Hy milddadig geplant en laat reën en laat groei totdat daar ’n bos opgestaan het om myle en myle ver na al wat ’n kant is, die loop te neem. Kloofkant van die berge het Hy net klippe en stof en waboom en taaitrek en renosterbos en aalwyn oorgehad om iets van te maak.
Dis sonde, het sy haar gedagtes gekeer, die algoede Heer het darem nie die Kloof sonder genade laat staan nie, Hy het die volstruis diékant gelos. En kom die reën die jaar op sy tyd, blom die Lange Kloof en staan die kos vir mens en dier in oorvloed en vergeet jy die droogte waardeur alles en almal moes wurg. Soos nou. Maar ook dit is sondige denke, want die fontein bloei nog daagliks ’n watertjie wat sloot langs tot onder in die vangdam loop. Die bok is nog in die melk. Die paar skape is nog op die been, en saam daarmee bring Selling se hande darem ook iets in met die velle se brei en die karwatse en die swepe en die skoene se maak. Veel is Selling nie meer nie, die swakte het hom ingeneem, maar sy hande kan nog werk, al kos dit party dae skel om hulle aan die gang te kry. Swakte of nie swakte nie, Selling moet sy deel doen, niksdoen is kwaaddoen se beste broer.
Die wyfie het ’n wye draai met die kinders deur die veld gemaak voordat hulle haar weer in die rigting van die huis en die nuwe kamp gekeer gekry het.
Wes van die huis, in die ou kamp, het die mannetjie gewei. Gitswart pragvoël met wuiwende wit vlerkpluime en ’n dik, geelwit stert.
Daar was trots in haar toe sy na sy kamp toe aanloop.
“Ek het vir jou gesê ek gaan vir jou ’n wyfie kry!” het sy oor die heining gepraat. “Kyk bietjie daar, daar kom sy! Ek het nie vir jou gelieg nie!”
“Fiela!” het Selling van die huis af geroep, “die perdekar kom hiernatoe.”
“Hy kan maar kom!”
Daar was baie plek in haar hart vir daardie volstruismannetjie. Vir Skopper. Om hom te kon bekom, moes sy dae lank met ’n witdoringtak gewapen teen die aalwynkoppe sit en haar kans bokant die twee wilde volstruise se nes afwag om uiteindelik drie kleintjies gesteel te kry en huis toe te bring. Van die drie het net Skopper bly leef. Volstruiskuikens vrek sommer van niks. In die komende maand sou Skopper drie jaar oud wees – tyd dat hy bekwaam raak vir wyfie vat. Een volstruis is goed, maar as jy eers ’n broeipaar het, is dit net so goed jy het ’n trommel vol geld onder die kooi. Van Skopper se pluksel alleen het sy die vorige Augustusmaand ses pond drie sjielings gemaak. Die jaar voor dit vier pond ses sjielings, en Rossinski het gesê die prys gaan nog hoër klim, want die mense oor die see wou baie volstruisvere hê. Vir tjalies en hoede en dansrokke en wat nog alles. As Skopper die wyfie vat en hulle begin broei, sou Wolwekraal ’n hele klompie spogsels van daardie vere voorsien. Skopper moes net eers sin kry vir die wyfie.
Onder in die laagte, waar die pad na die huis toe deur die fonteinsloot gaan, het die smous stilgehou om die perde te laat blaas. Waar die botterblomme teen die helling plaat maak, het die kinders die wyfie op koers gehou en reguit met haar op die huis afgepyl.
“Kom maak met haar ’n draai om die ou kamp!” het sy vir hulle geskree. “Maak ’n draai dat Skopper haar net eers sien voordat julle haar anderkant injaag!” Die kinders het van die onderkant af met haar omgekom. “Sleg ding!” het sy vir die mannetjie geskree. “Jy kyk nie eers op nie! Jy sien nie eers hoe pragtig sy is nie!”
“Pas op, Ma!” het Dawid, die oudste van haar seuns, met die omkom geskree. “Keer voor daar bo, Benjamin!”
Die wyfie was maer en verwilder, maar haar nek was regop en fier toe sy verbyhol met die skreeuende kinders oral aan’t keer en jaag.
“Werk mooi met haar!” het Fiela vir hulle geskree en omgekyk na waar Skopper nog al pikkend wei. “Sies! Ses karwatse en twee swepe moes ek vir haar ruil en jy kyk haar nie eers aan nie!”
Sy het die wyfie by Koos Wehmeyer geruil, en sy kon seker geweet het Koos sou nie sy beste werfwyfie uitgesoek het nie. Maar sy sou haar vet en mooi kry voor dit paartyd was.
Sy het die kinders anderkant die huis hoor sukkel om die wyfie in die kamp te kry en self ’n tak gegryp om te gaan help.
“Die kar kom hiernatoe, Fiela!” het Selling gesê toe sy verbykom.
“Twee oulap ’n vel en niks minder nie!” Die wyfie het langs die kampheining rondgetrippel. “Emma, loop keer jy en Kittie onder!” het sy die moeë, stofvuil kinders op die regte plekke geskree. “Dawid, keer jy en Benjamin bo, en Tollie, kom help jy hier by my!” Al haal sy net ses kuikens uit ’n broeisel van twaalf of sestien eiers deur, sal dit meer geld in Wolwekraal se trommel beteken as ooit tevore. “Keer daar onder!” Dit moet net eers kom reën. Die Here weet, die droogte het die Kloof op die knieë. Die wêreld is kaal. Elke middag bol die donderwolke agter die verste berge uit en raak net so weer weg sonder om ’n druppel in die stof te los. Waarvan die ou klomp Laghaans, wes van haar grensheining, leef, weet hulle alleen. “Keer, Benjamin!” As die mis net eers ’n slag oor Jan Koles se kop wil kom lê sodat dit kan reën voor die volstruise moet veld toe gaan. Met die volgende verbykom kierang hulle die wyfie en keer haar netjies in die kamp in. “Pak toe!” skree sy vir die kinders en gooi haar tak neer.
Die kinders was gedaan.
“Ma, baas Koos sê Ma moet nog ’n karwats stuur, die een is te dun om die lyf,” kom Tollie sê.
“Loop sê jy vir Koos Wehmeyer hy sal lank wag vir nog ’n karwats. Benjamin, kom weg daar van die heining af! As daardie wyfie vandag losbreek, gaan sy skop om derms uit te skop!”
“Sy’t