Fiela se kind. Dalene Matthee
oupas, vriende?”
“Nee.”
“Dis amper snaaks. Gewoonlik is die aanhangsels meer as die huismense self.”
“Op Wolwekraal se werf is nie plek vir leeglêers nie,” het sy hom reguit gesê. In haar binneste het sy vir hom geskree: Kry jou loop en vat die dikke saam! Sy het Benjamin tot op die Goewerment se boek ingeskryf gehad en êrens wou daar in haar gerustheid kom waar daar nog nooit tevore gerustheid was nie. Maar dan moes hulle loop.
“Waaruit maak julle ’n lewe?” het die lange gevra en met ’n nuwe blaai begin.
“Uit wat ons met ons hande verrig. Dis nie nou die ou klomp Laghaans daar onder met wie julle te doen het, wat van heuningbier en leeglê leef nie.”
“Waaruit, presies, maak julle ’n bestaan?”
“Bietjie koring, bietjie mielies, bietjie groente, paar skape en ’n melkbok. Alles hang af van die water. Verder brei Selling velle en so aan en wen ons ’n plukseltjie vere af en toe.”
“Aan watter kerk behoort julle?”
“Independente Kerk. Dis ons eie kerk nadat die London Missionary Society ons gelos het om self aan te sukkel. En baas kan sommer daar op baas se boek inskryf dat die geld vir die kerk destyds hier in die Kloof bymekaargemaak is en dat die kerk hier onder by Avontuur op die kruis gebou sou geword het. Maar toe loop mister Hood mos agter die klomp Stewarts aan Uniondale toe en vat die geld saam en loop bou dáár die bruinmenskerk. Nou moet ons voordag van hier af begin as ons laastegelui in die kerk wil sit, en Selling met sy swakte sien nie meer die binnekant van ’n kerk nie.”
’n Geluid agter haar het haar laat omruk. Op die hoek, stralend en met die houtskuit nog drupnat in sy hande, het Benjamin oop en bloot gestaan, en haar tong het dik geword in haar mond van die skrik.
“Hy’t tot onder in die vangdam gedryf, Ma! Ek moes ’n stok vat om hom uit te kry en hy het nie eers omgeslaan nie.” Hy het die twee mans onthou en eerbiedig gegroet: “Middag, baas – middag, baas.”
Die lange het sy bril afgeruk en die dikke se mond het oopgeval. Selling se hande het al vinniger om en om inmekaar gerol soos die skrik hom vasvat.
Here, het sy in haar hart geskreeu, vat dan alles wat ek het! Vat die hele lot, maar moenie vir Benjamin vat nie!
Sy het altyd geweet die dag sou kom waarop sy voor die wye wêreld oor daardie kind van haar sou moes staan. Nagte op nagte het sy haar daarvoor lê en voorberei en in haar verbeelding haar sê gesê soos sy deur die jare in die Kloof gedoen het, sodat wit en bruin voor haar tong moes swig en Wolwekraal se besigheid uitlos en saam daarmee die kind. Sy het die Kloof gewoond sien raak aan die kind by haar.
“Wie se kind is dit dié?” het die lange geskok gevra.
“Myne.” Hulle sou Fiela Komoetie nie sien krimp nie.
“Maar dis dan ’n wit kind!”
“Hy’s wit, ja.”
Die dikke het hom heftig met sy hoed begin koel waai. “En ’n dekselse mooi kind daarby. Wie se kind is dit?”
“Dis Benjamin, my hanskind.”
“Kom hier, seun!” het die lange die kind geroep.
Sy het soos ’n waakhond tussen hulle ingespring. “Los die kind! As julle te praat het, praat met my!”
“Luister, atta, jy weet net so goed soos ek dat hier iets baie vreemds aan die gang is. Dit kan nie jou kind wees nie, maar jy het hom staan en opgee as jou eie. Waar kom jy aan die kind?”
“Dis my hanskind.”
“Wat jy waar gekry het, vra ek jou?”
“Waar kry jy hansgoed?” Sy het soos ’n tierwyfie gekeer. Sy was lank klaar vir hierdie dag. “Ek het hom gekry waar sy ma hom gelos het, dis waar ek hom gekry het.”
“Waar was dit?”
“Net daar waar baas nou sit.”
“Wanneer?”
“Amper nege jaar gelede. Middel van die nag.”
“Hy lyk ouer as nege,” het die dikke gesê.
“Hy is.”
“Hoe oud is hy?”
“Ek weet nie, ek het hom so op drie geskat die nag.”
Die lange het bly loer na die kind. “Jy sê jy het hom hier voor jou agterdeur gekry? Het hy gestaan of gesit of gelê?”
“Gestaan.”
“Ek dink jy lieg.”
“Vir wat sal ek lieg? Ek het die nag wakker geword van ’n kind wat huil en toe ek kom oopmaak, toe staan hy hier. Iemand het hom voor my deur kom los.”
“Het jy iets gehoor?”
“Nee. Net die kind.”
“Maar dit het jou nie die reg gegee om hom te hou nie. Dis ’n wit kind!”
“Moes ek hom buite laat staan het?”
“Moenie vir jou probeer slim hou nie, atta,” het die lange haar gewaarsku, “jy het ’n wit kind op jou werf en tussen jou ander kinders in die huis en jy weet net so goed soos ek dat dit nie die regte ding is nie.”
“Wat van die bruin kinders op die witmense se werwe en in hulle huise en tussen hulle kinders?”
“Dis ’n ander saak. Saans gaan daardie kinders huis toe, dis die werfvolk se kinders. Dis ’n verkeerde ding hierdie.”
“Sê wie?”
“Sê ek!”
“As jy ’n hanslam gevat en grootgebring het, wie gaan vir jou kom sê wie se skaap dit is?”
“Hoekom het jy nie die kind grootplaas toe gevat, na baas Petrus Zondagh toe nie? Hy is ’n vername man, hy sou geweet het wat om te doen.”
“Baas Petrus was agter by die see.”
“Dan kon jy die kind dorp toe gevat het, na die magistraat toe.”
“Magistraat wat waar was? Onse dorp het maar anderdag magistraat gekry.”
“Fiela …” het Selling ’n woord uitgekry, “sê die baas van die veldkornet.”
“Wat van die veldkornet?” het die lange gevra.
“ ’n Week na ek die kind gekry het, is ek dorp toe om die veldkornet te sê, maar toe was hy weg Dugas toe agter skaapdiewe aan. Toe ek weer loop om te hoor of hy al gekom het, toe sê hulle hy is begrafnis toe onder op Haarlem.”
“En toe het jy nie weer gegaan nie?”
“Nee. Die kind wou toe nie meer van my rok af nie, ek had hom toe gevat.”
“Jy het die kind dus skelm gehou.”
“Ek het hom van niemand gesteel nie.”
“Ma …”
“Loop speel, Benjamin. Loop kry jou skuit op die water.”
Maar die kind het agter haar bly staan asof hy skuilte in haar skaduwee soek. Sy het altyd geweet die dag sou kom waarop sy vir hom sou moes baklei, dis net dat die dag uit ’n rigting gekom het wat sy dit nie verwag het nie. Sy het altyd gedink dit sou weer Petrus Zondagh wees wat op ’n dag ’n tweede keer oor die kind kom praat. Vir daardie dag was sy voorberei, nie vir hierdie een nie.
“Mense, wag ’n bietjie!” Die dikke het skielik sy hande in die lug gegooi en gesit soos een wat iets te sê het. “Hoe lank gelede sê jy was dit dat jy hom hier voor jou agterdeur gekry het?”
“Nege jaar.”
Hy het na die lange toe gedraai. “Hoekom onthou ek dan nou van ’n ander ding? Onthou jy die kind wat destyds