God se pad van vryheid. Engela Linde
blaamkitaar: “Dit was oor julle dat die Here vir my kwaad geword het …” (Deut 1:37).
Hy het skeef getrap en in ’n reddingsboot geval, verduidelik die kaptein van die rampboot Costa Concordia sy afwesigheid aan boord (13 Jan 2012). Lank ná Aäron sou Salomo opdrag gee: “Moenie by ’n swak saak staan nie” (Pred 8:3). “Ja, maar …” is die doodsteek van meer as een verhouding. Moenie “daai goei kalf pruis” as hy nie goud werd is nie. En, in plaas van die skuld soek, stel liewer vas wat die fout is en help dit in ’n goeie gees regstel.
GEBED: Ons lag vir Aäron se belaglike argumente, Here, terwyl ons eie dikwels op wankele bene staan. Help ons uitkyk na goue kalwers wat ons onder die skyn van vroomheid toelaat.
20 Januarie Levitikus 1:1-17
DIE GOUE DRAAD … TEN SPYTE VAN
Die Here het vir Moses geroep en uit die tent van ontmoeting vir hom gesê … (Lev 1:1).
Levitikus is gerig op die Leviete se tabernakeldiens, en wemel derhalwe van wette, veral offerwette. Tog sê God by monde van Jeremia: “Toe Ek julle voorvaders uit Egipte laat trek het, het Ek hulle nie beveel om vir My brandoffers en ander offers te bring nie. Maar wat Ek hulle beveel het, is: Julle moet My gehoorsaam” (Jer 7:22-23). Die oormaat offers word deels verklaar deur 2 Konings 12:16: Offergelde was die priesters se gasie. Maar in hierdie geval beland die vingers ook in die tempelherstelfonds. Reeds Hofni en Pinehas het getoon hoe sekere priesters die offers kon misbruik (1 Sam 2:13-17).
Het Moses al hierdie wette self neergeskrywe? Groot gedeeltes, ja (Eks 17:14; Num 33; Deut 31:19). Maar hy kon onmoontlik die vyf “Mosesboeke” alleen skryf, die oorlaaide leier, veertig jaar lank, van ’n oplopende volk deur die woestyn. Iemand anders het in elk geval byvoorbeeld sy dood beskryf (Deut 34). En hoe verder van Egipte, hoe skaarser die papirus; nou bly net leer, klei en potskerwe oor, duisende fragmente. Die teorie dat Bybelboeke in die ballingskap nog saamgestel is, dikwels deur groepies priesters, is nie Godsonterend nie. “Die hele Skrif is deur God geïnspireer …” (2 Tim 3:16); toe Paulus dit sê, het die Skrif slegs bestaan uit dele van die Ou Testament. God gee die inspirasie, maar werk deur die mens; dit is sy metode. Toe die Qumran-rolle in die laat veertigerjare ontdek en gerestoureer is, was daar merkwaardig min verskil tussen dié antieke en latere weergawes. Opgrawings en navorsing bevestig die Ou Testament genoegsaam sodat die goue draad van Godsbeskikking deurgaans gesien kan word.
Levitikus was ’n diensboek vir priesters; gewone volkslede het nie toegang hiertoe gehad nie (dagstukkie 18 Okt). Die boek verdien dus sy plek, offeroordaad of nie. Jesus self haal aan uit Levitikus 19:18: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Matt 22:39).
GEBED: Here, dis goed om te weet dat U die Skrif ingegee het, en dat U feilbare mense daarvoor gebruik het. Wil U my ook gebruik in elke woord, daad en gesindheid.
21 Januarie Levitikus 2:11-16
SOUT AS SIMBOOL VAN DIE VERBOND MET GOD
Die sout herinner aan die verbond met jou God … (Lev 2:13).
In moderne Israel ervaar die toeris gou die kosjer-wette. Aan tafel mag botter en melk nie saam met vleis voorgesit word nie. Dit beteken koffie sonder melk en brood sonder botter. Sommige eetplekke voorsien kunsprodukte, maar ander laat dit gerieflik weg. Toe ons Joodse gids sê: “Moses is Moses, but business is business,” gee hy heimlik te kenne dat die Jood weet die voorskrifte kom eintlik van Moses af. Sou die God van hemel en aarde sy kinders met soveel bepalings vermoei? Verseker het God dikwels deur Moses se vroom, suiwer innerlike gepraat. Maar die herhaalde “die Here het vir Moses gesê” kan impliseer dat God dinge sou beveel, soos die doodmaak van Aäron se seuns, wat nie beween of begrawe mag word nie (Lev 10). Meer oortuigend is die slotsom: “Hulle het toe gemaak soos Moses gesê het” (Lev 10:7). Net daarna (Lev 10:16-20) tree Moses, skynbaar berouvol, mensliker op teenoor Aäron se ander seuns. Hy kon onversetlik soos ’n rots wees, maar ook uiters sagmoedig (Num 12:3), en ’n onvermoeide pleitbesorger (Eks 32-34; Num 14). Later in Jerusalem (dagstukkie 30 Apr), word ruiterlik gepraat van die “voorskrifte van Moses” (Hand 15:21) wat dit vir heidene moeilik maak om Christene te word.
As ek een Moses-wet moes behou, sou dit die sout as offerdeel wees. Ek ken die noodsaak van growwe sout, waarvoor Pa moes wag op die soutwa uit Boesmanland. ’n Kind wat die vars vel van ’n slagding moes sout, durf nie hoekies of vouplekkies oorslaan nie, want die droë vel word by die winkel ingeruil vir bestaansmiddele. Verstaanbaar is Jesus se woorde: “Julle is die sout van die aarde” (Matt 5:13) en “Julle moet sout in julle hê en vrede hou met mekaar” (Mark 9:50 OAV). As ons nog onder die offerwette gestaan het, sou ek graag aan my God ’n deursoute, kraakdroë bokvel wou bring, as simbool van sy verbond met my.
GEBED: Here, help my om ’n korrel sout te wees in huis, kerk en samelewing. Volgens u woorde wil ek die sout van wysheid en vrede besit en meedeel.
22 Januarie Levitikus 26:35-46
MOSES PROFETEER OOR DIE BALLINGSKAP
“En tog, al sou hulle ballinge word … sal Ek hulle nie so verwerp … dat hulle heeltemal sal verdwyn … nie” (Lev 26:44).
Moses het foute gemaak, sodanig dat hy aanvaar dat God hom die beloofde land slegs vanaf die berg Nebo laat binnekyk (Deut 34:1-4). Maar Moses was ’n voortreflike leier en God-geïnspireerd genoeg om eeue tevore te profeteer oor die hongersnood (Lev 26:26) en ballingskap wat sou kom. Selfs toe Levitikus later neergeskryf is, sou oorlewering en bewaarde fragmente sorg dat Moses se woorde korrek genoeg oorgedra word.
Daar is reeds gewys op die geringe verskil tussen vroeë en latere geskrifte met die ontdekking van die Dooie See-rolle (dagstukkie 20 Jan). Moses kon net deur die Gees van God so ver vooruit die hede in die toekoms plaas. Hier is hulle nog moeisaam op pad Kanaän toe; hoe kon Moses weet dat Israel daarvandaan weggevoer sou word? Hierdeur skaar hy hom by die latere profete wat gedurig gemaan het teen die volk se afvalligheid. Onthou, waar Israel ook al die voet neergesit het, het hulle letterlik getrap in heidense lande vol tempels, afgode en rites wat hard om aandag roep. Is dit nie vandag nog so nie? Die aard en vorm van afgode het bloot verander, sodat daar selfs van elektroniese afgode gepraat kan word, onder meer kuberpornografie en sekere ongure kletskamers.
Die waarskuwing aan Israel skets ’n lewende nagmerrie van angs en paranoia: Diegene wat nie weggevoer word nie, sal so bang wees “dat die geritsel van ’n droë blaar hulle op die loop sal jaag. … Die vrees vir oorlog sal hulle oormekaar laat val om weg te kom van agtervolgers wat nie bestaan nie” (Lev 26:36-37). Tog loop die goue draad van God se troos en ontferming regdeur. Daar sal opregte berou wees (Lev 26:39-43). En dan, soete saligheid, sal God hulle in sy arms toevou en hulle verwildering sal bedaar. “Ek is die Here” (Lev 26:45).
GEBED: Ek skrik, Here, vir die benoudhede en angs van die ou-ou tyd. Maar my skrik bedaar as ek lees van u ontferming en troos. Al wat U vra, is trou. Help ons daartoe deur u Gees.
23 Januarie Numeri 10:28:36
VAN OUE OUERS EN GROTE KINDERS
“Moet ons tog nie verlaat nie. Jy ken die plekke in die woestyn waar ons kamp kan opslaan …” (Num 10:31).
Die “plekke in die woestyn” is allereers die oases, ou putte, en die dele waar ’n gorra syferwater kan oplewer. Oënskynlik gaan dit oor Moses se swaer Gobab. Volgens Rigters 4:11 was dit egter sy skoonpa. Indien wel, het Moses nóg ’n vrou gehad behalwe Sippora; dalk die donkervellige een teen wie Mirjam en Aäron so gekant was? (Num 12:1).
In ’n aftreeoord is daar baie begrafnisse. Die kinders is soms self middeljarig, dalk van oorsee, skuldig omdat hulle die laaste jare so ver was. Die nader kinders moes instaan, byna meer as wat hulle kan. Daar is die afhanklike ouer wat nie verstaan daar is dalk ’n oponthoud by die werk of ’n verkeersknoop of ander krisis nie. Hulle sit gedurig en wag, met liefde gesê, soos die karakters in Samuel Beckett se drama Wagtende op Godot.
Aan alles en iedereen behoort ’n kind, behalwe aan sy ouers; dis ’n wrede wet, maar dis ’n wet, skryf Louis Couperus. As ’n ouer