.
Dikwels voel mense, al sou hulle dit nie sê nie, dat hul geduld met God opraak. As hulle bid en hul gebede word nie binne ’n vasgestelde tyd beantwoord nie, betwyfel hulle God se gewilligheid en vermoë om hul pleitredes te beantwoord. Soms raak hulle so ongeduldig dat hulle God selfs tot verantwoording wil roep.
Om jou eie planne te beraam en dan God se seën daarop af te bid, is om God soos ’n rubberstempel te gebruik om jou planne te wettig. As jy God se seën wil hê, moet jy sy voorwaardes aanvaar.
As jy ongeduldig word oor die pas waarteen God werk, is dit ’n aanduiding dat jy dinge op jou manier wil doen. As God jou laat wag op ’n antwoord, is dit moontlik dat Hy besig is om jou ’n les te leer – ’n les wat vir jou geestelike groei noodsaaklik is.
Wanneer jy eers geleer het om jou aan die wil van God te onderwerp, bring dit mee dat jou persoonlikheid vervul en jou geestelike karakter verryk word. As Hy jou soms laat wag op ’n antwoord op jou gebede, wees dankbaar en leer die les wat God besig is om aan jou deur te gee.
Vader van genade, skenk my geduld terwyl U besig is om u wil aan my te openbaar.
18 Februarie
Psalm 103:1–22
Loof die Here!
Ek wil die Here loof, met alles wat in my is, wil ek sy heilige Naam loof. – Ps 103:1
~
Dit is goed om die Here te loof. Lofsang hóórt in aanbidding, byeenkomste, gebeds- en Bybelstudiegroepe. Dit hóórt in die literatuur wat op groot skaal geproduseer word, maar ook in die gesprekke en liedere wat ons hoor. Dit hóórt inderdaad so, want dit is die doel van die skepping. God is die hoogste lof waardig. Dit is die Christen se plig en voorreg om sy Naam te verheerlik!
Die Skrif is vol van oproepe tot lofbetuiging. By die toegewyde Christen is daar dan ook ’n diepe hunkering om aan die Here lof en dank toe te bring en om Hom te besing as die Almagtige, die Skepper en Herskepper!
Die Christen moet besef waarom hy God prys, anders word sy woorde betekenisloos en oppervlakkig. Jou omstandighede mag vir jou verwarrend en onbegryplik wees, maar juis dan het lofprysings ’n besondere betekenis. Jy loof God omdat Hy met jou is, omdat Hy beheer het oor jou lewe, omdat Hy alles ten goede vir jou laat meewerk. Dan smelt jou lofsang saam met dié van al sy skepsels in die hemel en op die aarde in ’n nimmereindigende loflied tot sy eer:
“Lofsing die Here, die Ewige, sing tot sy ere!
Lofsing die Koning, die Skepper, die Vader, die Here!
Loof almal saam; groot is sy heilige Naam!
Loof Hom die Heer van die here!” (Ges 63:1)
Ek wil U loof, o Here! Solank as wat ek lewe wil ek U loof!
19 Februarie
1 Johannes 2:28–3:10
Eie kinders of weeskinders?
Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook. – 1 Joh 3:1
~
Baie mense wat op Sondae “Ons Vader” bid, leef gedurende die week asof hulle weeskinders is.
Die Vaderskap van God is ’n aangrypende Christelike waarheid. Dit wis alle verskille uit en verhef die mens bo ’n blote sondaar of nommer op ’n komper – hy word ’n individu wat na die beeld van God geskep is.
Ongelukkig is baie mense onbewus van hul Goddelike erflating en leef hulle voort sonder om te besef wat hulle in God se krag kan vermag. Hul lewe word beheers deur die vrees dat hulle hulself sal verloën as hulle alles aan God gee. Daarom is hulle gefrustreerd en lewe hulle sonder inspirasie vir die hede of hoop vir die toekoms.
Dit is tragies om na die beeld van God geskep te wees, die reg te hê om Hom “Vader” te noem, en tog alleen voort te worstel asof Hy nie bestaan nie. Al wat nodig is om jou kindskap op te eis, is om Hom onvoorwaardelik aan te neem en in Hom te glo.
Jou lewe sal soveel makliker en meer bevredigend verloop as jy ophou om ’n “weeskind” te wees en Hom aanneem as jou hemelse Vader. Sy liefdevolle arms is na jou uitgestrek om jou in liefde te omhels en jou sy eie te maak.
Hemelse Vader, laat my jubel in die seker wete dat ek deur Jesus Christus vir ewig u kind is.
20 Februarie
2 Korintiërs 5:11–21
Van groewe en grafte
Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Dit is alles die werk van God. – 2 Kor 5:17–18
~
Daar is net ’n diepteverskil tussen ’n graf en ’n groef. Daarom is dit so gevaarlik om toe te laat dat ’n siellose eentonigheid oor jou lewe neerdaal.
’n Positiewe manier om teen eentonigheid te waak, is om bewus te bly van die lewe rondom jou en van alles wat gebeur. Moenie die welsyn van jou medemens ignoreer nie. Wees hoflik en sien die bedagsaamheid van ander raak. Moenie die skoonheid van die skepping as vanselfsprekend aanvaar nie. Waardeer elke gebaar van vriendskap, want dit kan tot lewenslange kameraadskap lei.
As jy die lewe kleurloos en eentonig vind, kan jy alleen jouself blameer. Moenie onbetrokke en onsensitief wees vir die opwinding en die wonder van die lewe rondom jou nie.
Glo onwrikbaar dat deur die inwonende teenwoordigheid van die lewende Christus, jy wel die vermoë het om nie in ’n groef te verval nie en dat jy die eentonigheid van elke dag in ’n opwindende ervaring kan omskep. As ’n mens met Christus verenig is, raak jy nooit afgesluit van wat in die wêreld gebeur nie.
Laat sy Gees jou lei, en jy sal ontdek dat die eentonigheid uit die lewe verdwyn – Hy vernuwe alles elke dag en lig jou uit jou groef voor dit jou graf word.
Dankie, Here, vir ’n vol en opwindende lewe wat ek deur U leer ken het.
21 Februarie
Titus 2:1–15
Die krag van die Heilige Gees
Hy het Homself vir ons as offer gegee om ons van alle ongeregtigheid vry te maak en ons van sonde te reinig, sodat ons sy eie volk kan wees wat ywerig is om die goeie te doen. – Tit 2:14
~
Jy is baiekeer bekommerd oor jou gebrek aan geestelike groei, maar dit is vir jou baie moeilik om dit aan jouself te erken. Vra jy eerlik en opreg: “Hoe kan ek my geestelike aktiwiteit bevorder en my geestelike groei stimuleer?” dan antwoord niemand minder nie as Jesus Christus: “Dit is die Gees wat iemand lewend maak; die mens self kan dit nie doen nie” (Joh 6:63). Dit is die geheim van groei en ontwikkeling.
Terwyl jou kennis en ervaring van die inwonende Christus verdiep, begin sy beeld al meer in jou lewe tot openbaring kom. Dit gebeur egter in direkte verhouding tot jou ywer en toewyding aan die Heilige Gees. Wanneer ’n nietige saadjie ontkiem, het dit soos dit groei die krag om rotse uitmekaar te skeur en ongelooflike struikelblokke te oorkom om uiteindelik vrugte te dra. So werk suurdeeg ook in stilte, maar met krag en doeltreffendheid.
Die bron van hierdie krag is die Heilige Gees. Die Gees is die mees praktiese en dinamiese krag in die heelal. Daarom durf jy nie in onmag van een kleurlose dag na die volgende voort te strompel nie. Die Gees is die energie wat die mens geestelik laat groei. Daar is geen bonatuurlike ervaring nodig om die waarheid hiervan te bewys nie – dit is ’n gawe van Christus aan ál sy kinders.
Gees van krag en groei, kom leef in my en ondersteun my in my groei na Christus toe.
22 Februarie
Matteus 6:5–15
Ons Vader …
Ons