Tot siens, koning Arthur. Annelie Ferreira

Tot siens, koning Arthur - Annelie Ferreira


Скачать книгу
kan dalk hier rond ’n occupational hazard wees.

      By die naaste tafel sit twee vrouens, een met ’n pienk strikbloes en wit hare in ’n Franse rol opgedraai, die ander in babablou, met yl grys krulle. Ek maak senuweeagtig keel skoon. Daar kom soms heel ou mense na die Plaaskombuis, maar hulle is gewoonlik saam met jonger mense, dan praat ek maar so in die bondel met hulle. Verder was die oudste mens met wie ek nog persoonlik te doen gehad het ons wiskunde-onderwyser, voor hy (vir die laaste keer) afgetree het laas jaar. Maar ek dink hy was van geboorte af nie all there nie, hy het nie Alzheimers of iets gehad nie.

      Wel. Here goes. Kom ons probeer opgeruimd. “Goeiemôre,” groet ek. “Lekker grapefruit-sap vandag.”

      Die tannie met die pienk bloes kyk belangstellend na my. “Is jy die bruid?” vra sy.

      Ek moet sê dis die een vraag wat ek nié verwag het nie. “Die bruid?”

      “Nee, man, kan jy nie sien nie?” chip die ander tannie in. “Sy kom van die tiende verdieping.” Sy glimlag verskonend. “Jy kan mos sien. Die tiende verdieping.”

      Hein! Help! Ek sien sy gesig voor my, die mond van ’n engel, sy oë vol duiweltjies. Wat sou hy gedoen het?

      “… die tiende verdieping.”

      Ek dink die blou tannie is op repeat.

      Ek sit haar glasie sap mooi voor haar neer. “Eintlik,” sê ek vriendelik, “is ek hier om gemeenskapswerk te doen. Die hof het my gevonnis tot ’n honderd ure.”

      Hulle kyk stralend na my. Die tannie in pienk se hand fladder na my arm. “Jy moet jou rok betyds kry, partykeer moet dit verstel word.”

      Oh boy.

      Ek loer na my horlosie. Nog agt ure op die tiende verdieping.

bird.jpg

      Jou gat, man

      Ma se rooi Corsatjie wip net voor my by die motorhuis in. Ek cruise die poegie versigtig agterna, my linkerknie skraap amper teen die muur. Die motorhuis is soos ’n oond.

      Nog voor ’n kardeur oopgaan, hoor ek al vir Fransie huil.

      Great.

      Ma klap haar deur toe. Haar hoë hakke kletter op die sementvloer voor sy die bagasiebak oopstamp. “Ag nee, sh … shucks!” Sy inspekteer vinnig ’n lang rooi nael, druk die bagasiebak dan heeltemal oop. Een van die Checkers-sakke het omgeval. Bokse spaghetti, rice crispies en blikkies baked beans lê op ’n treurige hoop.

      Ma gooi haar donker hare terug oor haar skouers. “Hy’t nie geslaap nie,” val sy weg sonder om eers in my rigting te kyk. “Nes ek gedink het, hy’s vreemd by die nuwe tannie. Weet jy hoe voel dit om vyfuur Checkers toe te gaan met ’n kind wat kerm?”

      Oukei, sy’t nodig om eers vir vyf minute gal af te gaan. Stresontlading, sal die mense van die life skills workshop dit seker noem. Gelukkig is ek byderhand, dis mos alles my skuld. Fransie se dagmoeder is vir vier weke weg oor die Kersvakansie en ek was veronderstel om hom op te pas.

      Is vier nie in elk geval te oud vir smiddae slaap nie?

      “Seker rof,” mompel ek apologeties.

      Die gesanik lig met ’n paar dosyn desibels – Fransie sukkel om sy deur oop te kry. Ek trek aan die handvatsel en psyche myself op tot fantastiese ousus-mode.

      Die punt van ’n rooi mantel flap by die kardeur uit. Soos elke friggen dag die afgelope ses weke het Fransie die Superman-pakkie aan wat hy vir sy verjaardag present gekry het. Hy het daarin geslááp ook, tot die ontvangsdame by Ou Kaapse Motors haar kleinseun se ou Superman-pajamas in die hande gekry het. Die pajamabroek sak af oor Fransie se boudjies en die moue druip oor sy hande, maar nou kan mens darem sy dagpakkie was sonder dat hy histeries word.

      Hy moet vrek van die hitte.

      “Hallo, Superman!” sê ek vrolik.

      Zilch effek. Fransie vryf snikkend sy oë terwyl hy sy rugsakkie agter hom aan sleep. Die Superman-mantel se een knoop het losgekom, die mantel vee oor die motorhuisvloer.

      Ek gaan weer niks uit hom kry nie. Hy praat in elk geval omtrent nooit.

      Anders as Ma.

      “Dis nie asof ek ander tyd het om winkel toe te gaan nie …”

      Nog vier-en-’n-half minute, jippie. Ek druk ’n pak toiletpapier onder my een arm in en tel ’n plastieksak met elke hand op. Ma lig die sak met spaghetti en baked beans, als tuimel weer uit. Die sak is stukkend.

      “… dan praat ek nie eens van wat die nuwe dagmoeder kos nie. Sy vra ’n trok vol geld en ek sien daar’s weer ’n strokie van die poskantoor vir ’n geregistreerde posstuk, ek hoop maar net dis nie weer ’n aanmaning nie.”

      “Sorry,” sug ek en haak Fransie nader met ’n sak. “Kom,” sê ek vir hom. Die woonstel is net om die hoek van die motorhuis. Dis op die grondverdieping, met ’n piepklein tuintjie agter en ’n rankroos om die voordeur. Nie so nice soos die huis waar ons gebly het toe Schalk nog in die prentjie was nie, maar nie te sleg nie.

      Die woonstel is stil en netjies, soos toe ons vanoggend hier uit is. Ons plek is nie ’n rubbish dump nie, sê Ma altyd. Maak nie saak of jy in ’n skoenboks bly nie, jy hou dit skoon.

      Ons stapel die plastieksakke op die werkblad in die kombuis. ’n Boks rice crispies val op die vloer. Ek liplees die stringetjie geluidlose woorde uit Ma se mond. Fransie het omtrent niks gepraat voor hy drie was nie, en toe was sy eerste woorde “Jou gat, man”. Van toe af probeer Ma dit vermy om hardop lelik te praat met Fransie in die omgewing.

      Ek sit my poegiesleutels op die tafeltjie langs die voordeur neer. Hein glimlag vir my uit die perspex-sleutelhouer.

      “Was jy toe by die oumense vandag?” Ma gaan skop nie soos gewoonlik eers haar skoene in haar kamer uit nie, sy haal dadelik ’n oondpannetjie uit die kas en plak dit op die toonbank neer.

      “Ja.” Ek’s nie lus vir gesels nie.

      “Ek het sulke high hopes vir jou gehad.” Ma skeur ’n boks visvingers oop en strooi die inhoud uit in die pan. “As daar nou een kind was van wie mens high hopes kon hê, was dit jy. En nou’t jy alles opgemors.”

      “Sorry.” Met meer gevoel hierdie keer. Dis waar. Wat kan ek sê?

      Ma maak die oonddeur oop. “Een fout en als is opgemors. Jy’s minstens nie pregnant nie. Of is jy?”

      “Ma! Nee!”

      Fransie sit weer in.

      “Ek weet van goed, oukei?” sê ek.

      “Weet help swiet blou dinges.” Ma druk die oonddeur toe. “Jy verloor net vir ’n oomblik kop en dan …”

      “Kyk wie praat!” kap ek terug.

      “Presies! Dis omdat ek weet wat kan gebeur …”

      Ek strip my.

      “So cut me some slack, oukei! Dis nie asof … Die suster het my vandag ‘Guinevere’ genoem. Ek meen, Guinevere! Watter soort ma gee vir haar kind so ’n belaglike naam?”

      Ma bly botstil staan. Dan begin sy stadig krummels van die werkblad in die stukkende visvingerboks vee.

      “Dit was vir mý ’n mooi naam,” sê sy styf.

      Ag hemel, ek het ook nie bedoel …

      As Fransie enigsins harder huil, gaan die bure nou-nou hier instorm.

      “Fransie, kom ons gaan bad,” sê ek kortaf vir hom.

      Hy staan en skree of hy vasgesweis is op die wit vloerteëls.

      Oukei, dan probeer ons chirpy. Ek lig


Скачать книгу