Tot siens, koning Arthur. Annelie Ferreira
In die kas?”
“Dankie, hartjie, ja.”
Ek maak ’n kasdeur oop. Op die vloer aan die binnekant is ’n klompie skoene netjies in rye gepak: swart sandale met dik bandjies, plein bruin laehakskoene, plein navy laehakskoene … Green Cross is seker die Jimmy Choo’s van ouetehuise.
“Die navy paar?” vra ek.
“Die navy paar, dankie.”
Ek bring dit vir haar. Mevrou Breed hou aan die bedstyl vas terwyl sy stadig eers die een voet in ’n skoen wikkel, dan die ander.
“There you go,” sê ek.
Mevrou Breed glimlag vir my.
“Ek stap sommer saam eetkamer toe,” sê ek.
Ek wag dat sy uit is voor ek haar woonstel se deur agter ons toetrek. Dit voel amper asof ek saam met Fransie loop en kort-kort moet kyk of hy nog by is.
Die gang is donker. Daar is ’n paar venstertjies, maar dis aan die suidekant, weg van die son.
Die reuk raak sterker.
“My dogter kom vandag,” gesels mevrou Breed. “Dan vat sy my vir koffie by die Koffieboon. Dis baie naby, ons stap sommer soontoe.”
“O? Dit klink lekker. Ek ken nie die Koffieboon nie, maar ek weet hier naby is ’n plek met winkeltjies.”
Die reuk word sterker. Toe ons om die hoek stap, staan een van die skoonmakers langs ’n trollie met skoonmaakgoed en vryf die vloer met ’n mop. Sy tel ’n bottel met geel vloeistof op en spuit dit op die vloerteëls.
Dis ontsmettingsmiddel.
Ek gaan staan. “A, dan’s dít wat ek die hele tyd ruik,” sê ek vir die vrou. “Ek het gewonder.”
“Ja, ons gebruik die ekstra sterk ene. Hy’s goed. As iemand ’n ongelukkie kry, vat hy die reuk gou weg.”
Die reuk dryf op in my neus, gaan sit vas in my sinusse. Ek kyk vinnig rond vir mevrou Breed. Sy wag geduldig vir my.
“Dis goed om te weet,” sê ek. Ons begin weer loop.
Dis oukei, regtig
Dit ruik na hamburger toe ek die voordeur oopmaak. Ma draai patties om in die pan. Sy is kaalvoet en haar hare is in ’n messy knot vasgesteek, soos sy altyd maak as sy warm kry of geïrriteerd is. Of al twee.
“Jou boyfriend het my by die werk gebel,” trek sy los.
“Hy het?” sê ek opgewonde.
“Hy kan nie by jou uitkom nie. Hy wou weet of iets fout is.”
Aww. “Hy’s so sweet. Daar’s iets verkeerd met my selfoon, ek kom nie deur na hom nie.”
“Jy’s so verlief, dis die probleem.” Ma sit die spaan so hard langs die pan neer dat dit amper van die toonbank afwip.
Here we go again.
“Ma, dit was nie sy skuld nie! Ék het gesê ek wil saamgaan.”
“Daar is kanse wat jy nooit weer terugkry nie, Sylvia! Vra vir my.” Ma gryp ’n rolletjie en begin dit oopsny.
“Sylvie!” Dis Fransie wat roep, uit die badkamer.
“Ek’s nou daar, boeta!”
“Meerendal Hoër wil jou ook nie hê nie. Sekretaresse het sommer gou gevra of daar probleme was. Dit gaan nie help ek bly stil nie, hulle het ’n brief van die hoof nodig.”
Die derde skool in ’n ry, die laaste een wat nog min of meer binne ry-afstand is.
Dit vat ’n lang sekonde voor ek my skouers ongeërg ophaal.
“Wel, as it happens wil ek hulle ook nie besonder graag hê nie, so nou is almal gelukkig.”
“Beggars can’t be choosers, Sylvia! Jy’t matriek nodig om rekenmeester te word.”
Asseblief, nie al weer die rekenmeester-storie nie. Die moeilikheid het begin toe ek die vakprys vir rekeningkunde in graad 10 gekry het. Ma het net daar besluit dis waar my toekoms lê. Sy klou aan die idee soos ’n hond aan ’n vrot been. “Ma, ek is so nie van plan om rekenmeester te word nie, oukei?”
“Wat wil jy dan anders doen?”
“Actually wou ek graag medies gaan doen het,” sê ek uitdagend terwyl ek margarien uit die yskas haal. “Maar nou sal ek nooit gekeur word nie en dis ook maar goed so, dis vrek duur en baie werk en …”
Ek het nie geweet iemand kan letterlik spierwit word nie.
“Ma?” Holy shit. “Ma!”
Sy laat sak die mes en broodrolletjie. Daar is iets vreemd rooi op die rolletjie. Bloed.
“Ma, wat maak jy! Jy’t jou hand raakgesny.”
Ma kyk stadig af. “Dis niks.”
“Ek kry gou ’n pleister!” Ek storm na die spieëlkassie in die badkamer, stamp eers die vlos en ’n skeermes af voor ek die pleisters raakvat. “Ek’s nou by jou, Fransie!”
Ma het ’n tissue teen haar linkerhand gedruk, sy haal dit af toe ek die pleister nader bring. Sy het haarself net onder haar wysvinger raakgesny. Ek plak die pleister versigtig oor die sny. Ma se hande bewe liggies.
Ma is nie die soort wat ooit bewe nie.
My hart begin galop. “Ma, wat’s fout?”
“Niks.” Ma lig haar ken. “Niks. Dis wat gebeur as mens nie kyk wat jy doen nie. Laat dit vir jou ’n les wees.” Die kleur begin terugvloei in haar wange.
Ek gooi die pleister se papiertjie saam met die grieselrige rolletjie in die vuilgoedblik.
“As jy medies wil doen …” praat Ma weer. “Ons kan ’n skool soek op die platteland, ek weet daar’s van hulle wat probleemgevalle vat.”
“Not to worry, ek sal nou nooit gekeur word vir medies nie. Dis oukei, regtig. Wat van home schooling?”
“Dan’s jy heeldag alleen by die huis? Vergeet daarvan.” Sy voel beslis beter.
“Sylvie!” kerm dit uit die badkamer.
“Ek gaan net gou na Fransie toe,” sê ek.
Die helfte van die badkamervloer is nat, bootjies dobber die hele bad vol. Fransie lyk soos ’n vissie, sy bruin hare vasgeplak teen sy kop.
“Hei, Superman. Wat het jy vandag als gedoen?”
’n Knalrooi duikboot klief met ’n indrukwekkende sproei van druppels uit die water.
Fransie lag. Sy oë skitter soos blou diamantjies.
“Die hond was vandag kleiner,” sê hy.
“Dis cool!”
Die nat oor sy gesig is nie alles water nie, yuck. Ek skeur ’n stuk toiletpapier af en vee sy gesig met een haal af, voor hy kan kriewel. Oor tien jaar sal hy dankbaar wees hiervoor.
My wit waitress-hemp is nog in die tuimeldroër. Ek loop verby Ma wat op die bank sit en werskaf aan ’n swart lap op haar skoot.
“Eina, bliks – skottel,” sê sy.
“Het jou hand seergekry?” vra ek bekommerd.
“Nee wat, dis fine.” Ma lig ’n naald en gare in haar regterhand.
“Wat op aarde maak jy?”
“Ek maak my swart romp korter. Hy sit net op die knie, dis te lank.”
Daardie