Tot siens, koning Arthur. Annelie Ferreira
dis sy vrou, dalk het mens nie baie keuses as jy ’n vierkantige lyf, kort grys hare en ’n te prominente kakebeen het nie – se enigste bydrae tot die happy chatter was dat sy ’n glas huisrooiwyn wou hê, en ’n T-bone steak.
Dis toe ek oorleun om die bord beesstert voor hom neer te sit dat ek sy hand voel, soos ’n kakkerlak al op teen my binnebeen.
En oepsie, waar verloor ek tog my balans en tip die hele bord beesstert net daar om in sy skoot.
Natuurlik uitgefreak vir Engeland. Eers gedreig om koerant toe te gaan (yeah, right), toe om al sy vriende te vertel, en toe wil hy hê ons moet vir hom ’n nuwe broek present gee. Shame. Matthew het hom gekalmeer en help skoonkry (eow) en ’n nuwe bord beesstert op die huis aangebied, wat hy self vir Mister Charming gevat het. Sy vrou het sonder ’n woord aan haar T-bone weggeval en geëet tot haar gesig geblink het.
Elke keer as ek verby Hein geloop het, kon ek sien hy wou bars van die lag. Ná die tyd het hy my ’n paar tips gegee oor hoe om mans uit te check en buite vroetelafstand te staan indien nodig. Hy het my laat belowe dat ek hom sou sê as een van my tafels rêrig uitrafel, dan sou hy oorvat. Niemand sou met hom probeer lol nie. (Daar was wel eenkeer ’n insident met ’n damesleeskring ná drie bottels rooiwyn, het ek later gehoor.)
’n Paar aande later het Ma my by die Plaaskombuis kom aflaai, want my poegie wou nie vat nie. Met toemaaktyd het Hein my ’n lift huis toe gegee in sy antieke Toyotatjie. Hy het gevra of ek al motor kan bestuur, en ek het gesê tel ’n Corsa vir ’n motor, want ek kan Ma s’n bestuur. Hy het gelag en gesê as ek sy Toyota kan bestuur, sal ek enige ding kan bestuur. Ons het afgespreek dat hy my die naweek sou kom oplaai vir ’n oefenrit.
Ek het hom nooit gevra om ’n tafel te kom oorvat nie. Mens leer vinnig. Maar niemand waiter so goed soos hy nie, hy kry altyd die grootste tips.
Die deurklokkie dieng-dong. Dis vroeg vir ’n Maandagaand. Dalk mense met klein kindertjies? Ek rek my nek.
Toe nie. Dis ’n middeljarige paar met ’n handvol kinders omtrent my ouderdom, ’n dude met ’n dapper poging tot facial hair en twee meisies wat …
Oooh boy.
Ek kyk benoud rond. Matthew is terug kombuis toe.
Chill, Sylvia, dit was onvermydelik. Die wêreld is vol graadelfs en die kanse was goed dat een van hulle die een of ander tyd by die Plaaskombuis sou opdaag. Die meisie was nou wel nie in my klas nie, maar sy sal weet. Almal sal teen dié tyd weet, dis die soort storie wat niemand so gemeen sal wees om net vir homself te hou nie.
Die groepie kyk afwagtend na my. Hein is in Durban, Matthew is in die kombuis, jy het jou bed gemaak en nou moet jy daarop slaap, sussie. Dis wat Ma altyd sê. Dis wat die Van der Merwe-vroue doen.
Ek stel my gesig op verwelkomend en stap nader. Moet nou net nie begin bloos nie. Moet net nie …
Ek voel hoe ek begin bloos.
“Hallo! Tafel vir vyf?” Ek kan omtrent voel hoe raak my glimlag aan my ore. Ma sê altyd sy’t nie verniet al daai geld vir draadjies betaal nie, wys jou tande!
“Rook of nie-rook?”
Ek lei hulle na ’n tafel toe, dit voel of hulle oë gate deur my rug steek.
“Iets om te drink solank?”
Toe ek wegstap met hulle bestelling, is daar vir ’n paar oomblikke stilte agter my. Toe hoor ek die graadelfmeisie. Sy fluister, maar ek kan elke woord uitmaak. “Dis die girl wat geskors is oor …”
Ek loop so regop as wat ek kan, heelpad kombuis toe.
Binne sit ek glase en drinkgoed bymekaar, gesels met Matthew, als is cool, cool.
As Hein net hier was.
Dis goed om te weet
Dis dieselfde reuk. Gister het ek gedink dis kool. Hulle het kool gekook vir middagete, maar glory, hulle kan dit seker nie elke dag kry nie? Daar’s iets anders ook by. Ek kan nie agterkom wat dit is nie, maar dis nie lekker nie.
“Ons is agter vanoggend. Die helfte van die kombuispersoneel het nog nie opgedaag nie, seker weer probleme met die busse.” Fyn druppeltjies sweet blink op suster Pretorius se bolip. Ek skarrel agter haar af in die gang. Vir so ’n fris tannie kan sy laat wiel.
Sy gaan staan en kyk na ’n groen deur waarop Mev. H.G. Breed in swart letters staan. “Kry jy vir tannie Breed en bring haar eetkamer toe. Die verstand is nie te sleg nie, maar sy’s stadig, partykeer het sy hulp nodig.”
Sy klop aan die deur en maak dit oop sonder om op ’n antwoord te wag. “Tannie Breed?” Sy kyk binnetoe. “Hier’s ’n nuwe meisie, Guinevere, wat tannie gaan help klaarmaak.”
“Sylvia,” sê ek.
’n Geraas in die gang. Dieselfde omie van gister kom met sy loopraam aangejaag. Freaky. Het hy ’n oefenprogram of wat?
Suster Pretorius steek haar hand na hom uit. “Môre, oom. Kom ons stap gou saam eetkamer toe.” Sy knik vir my en wikkel weg.
Mev. H.G. Breed.
Ek stoot die deur versigtig verder oop. Binne aan die linkerkant is nog ’n deur wat na ’n badkamertjie lei, die res lyk soos ’n bachelor flat. Ek stap in. Voor my in die regterhoek is ’n yskassie en kombuisgoed, en voor die venster ’n tafeltjie tussen twee geblomde leunstoele. Aan die linkerkant is ’n enkelbed met ’n gehekelde beige deken en ’n outydse laaikas met portrette op.
Op die kant van die bed, soos ’n voëltjie, sit ’n fyn vroutjie met kort, skeefgeslaapte wit hare en ’n silwerraambril. Sy het ’n wit sybloesie aan met ’n navy oopknooptrui en romp.
Sy is kaalvoet.
Ek huiwer. Ma kraam as iemand vir háár “tannie” sê. Oukei, so sy’s net vyf-en-dertig, maar …
“Mevrou Breed?” probeer ek. “Ek is Sylvia. Ek kom mevrou net haal vir ontbyt.”
Mevrou Breed lyk verras. “Goeiste, is dit al tyd vir ontbyt?”
“Ja.” My oë dwaal na haar bene. Hulle is oortrek van pers aartjies, nes fyn tattoos, dig om haar enkels en voete. “Mevrou moet net gou skoene aantrek.”
Sy kyk af. “Goeiste, ja.” Sy kyk rond. “Nou waar het ek my pantyhose gesit?”
Pantyhose? “Hulle sê dit gaan warm word vandag,” waag ek dit.
“Ek trek altyd pantyhose aan, op my ouderdom kan ek nie meer kaalbeen loop nie,” sê sy vriendelik. “Dalk is dit nog in die laaikas. Wil jy nie vir my in die boonste laai kyk nie?”
Nie eintlik nie, nee – sê nou iemand kom skielik hier in en dink ek krap in ’n arme oumens se kaste rond?
Maar dit voel nie na die regte oomblik om my lewensgeskiedenis te deel nie.
Ek trek die boonste laai senuweeagtig oop. Fotoalbums in die een hoek, langsaan ’n haardroër en dan onderklere, onder meer ’n nessie beige pantyhose.
Ek trek een paar uit. Persoonlik pes ek pantyhose, dit sak af en laat my bene jeuk. Dan praat ek nie eens van die mission om in die blinking goed te kom nie – mens moet omtrent ’n Downward Facing Octopus uitvoer.
Mevrou Breed lyk nie of joga heeltemal haar ding is nie. Hoe kry sy die kouse aangetrek?
“Kan ek mevrou help om dit aan te trek?” vra ek terwyl ek my hand tot by die een been se tone insteek.
“Dankie.” Sy lyk weer verras. “Dis gaaf van jou.”
Ek hurk voor haar, lig een pers voet op. Flippit, haar toonnaels is gross! Hulle is bitter lank laas geknip. Kyk die mense by dié plek nie na sulke goed nie?
Ek