Elza Rademeyer Omnibus 6. Elza Rademeyer
die kollekteerdery. Jy moet net sien wat vorder sy alles in op haar basaarlyste!”
“Jou Dingetjie sal nie nodig hê om vir dié mannetjie te kollekteer nie, ou Hansie. Dis Rudolf Mulder wat hier lê – daardie multimiljoenêr van wie die koerante so vol was.”
“Slaat my dood. En jy sêg my nou eers! Nee, maar dan moet hy maar sy eie rolstoel koop. Dalk het hy al klaar vir hom een bestel. Sal seker van daardie nuwe soort wees wat met die batterye werk. Hulle sêg my dis sulke handige stoele. Jy druk net knoppies, dan loop hy. Hoe lyk dit met ’n lekkergoedjie vir jou?”
“Nie nou nie, dankie, Hansie.”
“Nou maar dan gaan ek maar eers verder.”
Oor sy dooie liggaam sal hy in hierdie saal bly lê, besluit Rudolf opstandig. Die verpleegsters moet hom dadelik terugneem na sy private vertrek.
Maar of hulle die waarheid praat en of hulle opsetlik vir hom jok, weet hy nie. Sy kamer is glo reeds deur ’n ander pasiënt beset en daar is ook nie meer ’n ander private vertrek beskikbaar nie.
Hy lê nog so toe die man langs hom weer aan die hoes raak. En so uit die hoek van sy oog sien hy hoe die ou man sukkel om regop te kom in die bed en die dun armpie met die uitgeteerde hand wat op die bedtafeltjie vir die spuugbekertjie tas. Hierdie keer draai hy sy kop betyds weg, maar toe sy ontbyt opdaag, stuur hy dit net so terug. Kos sal beslis nie akkordeer met die naar gevoel wat hier in sy keel sit nie.
Met middagete bly hy weer sonder kos. Maar dit is nie net die mense om hom wat hom walg nie, dit is ook die rolstoele wat langs die beddens staan en die verpleegsters wat so behendig en vol grappe vir sommige pasiënte help om in en uit die stoele te klim. Hy sou verkies om nie sulke dinge te sien nie. Dit maak hom bang. Veral mense soos ou Ystervarkie. Gaan sy bene ook so maer en uitgeteer raak?
Tot sy spyt moet Rudolf die aand toe die nagpersoneel weer op diens kom, by Mynhard hoor dat suster Jo nie kom werk nie. “Sy sal vier nagte nie hier wees nie, want sy het haar gewone drie nagte vry én sy het vir Saterdagnag ’n uitruiling met suster Thompson aangegaan. Bossie sê sy’t gehoor toe dokter Simpson haar genooi het vir ’n vleisbraaiery.”
“Dit lyk my julle kry ook meer af as wat julle werk,” raak hy van sy viesheid ontslae. “Ek het my mes in vir daardie suster Jo van julle! Dit was ’n vreeslike dag hier tussen die klomp fossiele.”
Bossie sluit haar by hulle aan en wil weet van watter fossiele sy hom hoor praat het. Sy kyk geskok na hom toe hy met sy arm deur die saal beduie, bedoelende dat die pasiënte die fossiele is. En dit is nie al nie, hy vaar verder uit: “Daardie ou man daar oorkant, ou Ystervarkie, het amper vanmiddag die dak gelig met sy gesnork. Om nie eens te praat van ou Krimpvarkie hier langs my se aaklige gehoes nie!”
“Sjuut!” maan Mynhard hom fluisterend. “Arme oom Thysie. Netnou hoor hy jou. Hy het longkanker, weet jy. Hy kan enige dag sterf!”
“En dan lê hy hier langs my! Is ek nou veronderstel om te kyk hoe hy sterf, of wat?”
“Haai, skaam jou, Rudolf. ’n Mens praat nie so van ’n sieke nie,” sê Mynhard.
“Luister, julle behoort nie sterwende mense hier tussen ons ander toe te laat nie. Daar bestaan tog seker iewers ’n inrigting waarheen julle so ’n persoon kan stuur, dan nie?”
“Om daar in eensaamheid te sterf?” vra Bossie. “Jy moet onthou jy gaan ook eendag oud word en sterwend raak. Ek wil jou nie nou allerhande lelike dinge staan en toewens nie, maar dan moet jy oom Thysie uitlos. Ons ken hom al jare en is baie lief vir hom.”
Hulle laat hom alleen toe hy verontwaardig deur sy neus snork. Toe neem hy ’n boek op om te probeer lees, maar Mynhard moes liefs nie vir hom gesê het ou Krimpvarkie is feitlik sterwend nie, dink hy later moedeloos. Elke keer dat die ou man nou aan die hoes raak, wag hy dat hy sy laaste asem moet uitblaas. Hy lees dieselfde hoofstuk oor en oor, maar neem nie ’n woord in nie. En hoe later hoe kwater, besef hy soos die nag vorder. Van oral in die saal klink daar ’n gesnork op, maar geeneen kan ou Ystervarkie klop nie. Hy moet bepaald vergrote longe hê, dink Rudolf, om soveel lug op een slag in te trek. En daardie uitkomslag!
Iewers in die middel van die nag raak hy tog aan die slaap. En toe droom hy hoe hy en Julia wegkruipertjie speel op die oewer van ’n rivier. Sy glip telkens agter ’n ander boom in om vir hom van agter die stam te loer en hom guitig toe te lag. Hy doen sy uiterste bes om haar te vang, maar elke keer ontglip sy hom net-net. Totdat hy haar uiteindelik beetkry en hulle met ’n gestoei op die gras beland. ’n Rukkie sit sy haar teë, maar toe raak sy stil onder hom. Dit raak ook binne-in hom stil. Hy sien hoe sy haar oë sluit en wag, haar lippe effens oop. Dog, die oomblik toe sy mond aan haar lippe raak, begin sy woes spartel. Toe hy sy oë oopmaak om te kyk waarom, kom hy agter dit is nie meer Julia wat onder hom vasgepen lê nie, maar . . . suster Jo! Haar groen kykers vlam soos twee vuurtonge. En nog voor hy oor sy verdwasing kan kom, tuit sy haar lippe en tref haar spuugstraaltjie hom reg tussen sy oë!
Rudolf vloek gedemp toe hy wakker skrik. Wat ’n nagmerrie! Die res van die nag lê hy wakker en luister teësinnig na die ander se snorkende slaapgeluide. Sy gedagtes is ’n warboel. Wat gebeur as ’n mens sterf? Hoe voel dit? Is dit pynlik? Hy dink aan maniere om selfmoord te pleeg. Skiet, maar dan moet jy ’n pistool hê. Hy kan vir tant Betta sê sy moet sy pistool vir hom bring, want hulle wil skyfskiet. ’n Tou om die nek of om van ’n verdieping af te spring is te bisar. Hy sal dit nooit regkry nie. Pille? Ja, dit klink die maklikste en skoonste. Maar waar gaan hy soveel pille in die hande kry?
Sy gedagtes, kom hy later agter, laat hom sweet. Dit maak hom bang om aan die dood te dink. Maar watter ander uitweg is daar? Dit gaan iets allerverskrikliks wees om die res van sy lewe aan ’n rolstoel vasgekluister te sit. Daarvoor sien hy ook nie kans nie.
Net na die ontbyt, waaraan hy smaaklik weggeval het totdat oom Thysie met sy gehoes begin het, kom tant Betta opgewonde by hom aan met ’n splinternuwe rolstoel wat sy vir hom gaan koop het.
“Vir wat sal jy nou soos ’n armlastige sukkel met die ou uitgediende rolstoele van die hospitaal, Roelfie. Jy moet net hierdie tjek teken dat ek dit kan gaan betaal. Ek het dit sommer solank op skuld gekoop.”
“O, noudat ek nie meer geld kan mors nie, doen tante dit!”
“Watwou vermorsing van geld. Jy móét mos ’n stoel hê. Dit is ’n lekker ligte rolstoel, hoor. O ja, en noudat ek daaraan dink, ou Hangsnor sê hy sal oor ’n week of wat klaar wees met jou motor.”
“Hangsnor . . . my motor . . .? Waarvan praat tante?”
“Gits, het ek dan vergeet om vir jou te sê?”
“Wat te sê?”
“Dat ek daardie geel motortjie van jou by die garage ingegee het?”
“Vir wat het tante hom by die garage ingegee?”
“Sodat die man sy pedale en dinge kan opskuif stuurwiel toe waar jy hulle met jou hande kan bykom. Ou Hangsnor sê hy weet hoe om dit te doen, al lyk hy so onnosel.”
“Het tante tog nie my Porsche loop ingee vir die veranderinge nie?” vra Rudolf ontsteld.
“Wat anders? Die BMW het jy afgeskryf en die Mercedes moet jy hou vir wanneer jou vrou eendag die kinders skool toe en sportveld toe moet rondry.”
“Vrou en kinders? Moenie my laat lag nie!”
“Ag, ekskuus tog, Roelfie. Ek het vergeet van jou verlamming. Maar ’n mens weet nooit, dalk kan jy en jou vrou eendag ’n paar kindertjies aanneem.”
“Ja, wie weet,” sê hy sarkasties, maar tant Betta keer haar rug op hom om die spuugbakkie vir oom Thysie aan te gee toe hy begin hoes.
“Sies tog,” fluister sy vir Rudolf toe sy haar terugdraai. “Ek kry hom so jammer. Jy moet goed wees vir hom, hoor. Dit lyk my hy gaan nie meer lank leef nie.”
Rudolf het vir haar geen antwoord nie. Dit sal nie help om by haar te kla omdat hy na die saal toe verskuif is nie. Sy is ’n ander soort mens as hy. Sy kan met enigiemand