Elza Rademeyer Omnibus 6. Elza Rademeyer
van die kwetterende voëltjies in die boom bo sy kop, die lug wat blouselblou bokant hom troon en van al die ander wonderwerke van God se skepping.
7
Dit is soos oom Hansie gesê het, die lewe gaan voort, dink Rudolf met verwondering toe die verpleegsters hom na aandete help om terug te klim in sy bed. Niks het tot stilstand gekom omdat hy, Rudolf Mulder, in ’n motorongeluk was en die lewe in sy onderlyf verloor het nie. Die son kom nog op dieselfde plek op en gaan op dieselfde plek onder. Tafelberg het nie verskuif nie en die stadsrumoer het nie tot stilstand geruk nie. En net so min as wat Tafelberg skielik sal wankel of die son uit sy baan sal beweeg, net so min hoop het hy om ooit weer ’n normale lewe te hê.
Tog stem dit hom nie meer tot verbittering nie. Daar het vanmiddag onder die palmboom iets onnoembaars met hom gebeur. Hy het nie ’n engel gesien of gehoor nie. Hy’t ook nie die Here gesien of hoor praat nie. Hy weet net daar het na sy dankgebed ’n stille rustigheid oor hom gekom, en ’n gevoel van berusting in sy lot het oor hom gespoel. Van môre af sal hy sy samewerking gee. Hy sal die werkersklasse van die arbeidsterapeute bywoon en hy sal sy humeur teenoor die personeel beteuel, neem hy hom voor.
Maar toe oom Thysie begin hoes, draai hy onwillekeurig sy kop weg – totdat dit hom byval dat ook oom Thysie een van God se maaksels is. Hy dwing sy blik terug in die rigting van die bed langs hom en steek huiwerig sy hand uit om die spuugbakkie vir die ou man nader te stoot. Die diepe dankbaarheid in die weggesonke oë laat hom egter skuldig wegkyk.
Toe oom Thysie terugleun teen die kussings, roep hy na Rudolf. “Dankie, ou seun,” sê hy moeisaam met die min asem wat hy oor het. “Die Here sal jou seën.”
“Ag, dit was ’n plesier,” sê Rudolf verleë. “Oom moet maar sê as daar nog iets is wat ek kan doen.”
“Daar is iets,” sê oom Thysie. “Sal jy vir my Psalm 23 lees?”
Sy vreemde versoek betrap Rudolf onkant. Tog, hy durf nie weier nie. Daar is ’n effense bewing in sy vingertoppe toe hy die verweerde Bybel uit sy bedkassie haal en daardeur blaai op soek na Psalm 23. En sy stem klink onseker, huiwerig toe hy begin lees: “Die Here is my herder; niks sal my ontbreek nie . . .”
Algaande raak sy stem vaster. Sink die mooi woorde van die psalmdigter by hom in. Toe hy klaar is, kyk hy na oom Thysie. Hy lê met toe oë, maar op sy gesig is ’n tevrede uitdrukking. En ’n diep dankbaarheid dat hy iets vir hom kon doen, kom in Rudolf op. Hy vergeet van die dinge rondom hom toe hy voortgaan om ook Psalm 24 te lees.
Bossie betrap hom met die Bybel in sy hand. Verbasing staan oor haar hele gesig geskryf toe hy agterkom daar is iemand langs sy bed en hy opkyk. Sy eerste gedagte is om die Bybel vinnig toe te slaan, maar dan besef hy hoe kinderagtig dit sal lyk, dus glimlag hy maar net verleë.
“En wanneer het jy ontdek die Bybel is ’n interessante boek?” vra sy nuuskierig.
“Eintlik maar so pas.”
“O,” laat sy huiwerig hoor. “Wel, lees gerus verder. Jy sal verstom wees om te sien hoeveel krag jy daaruit kan put.” Toe haas sy haar dienskantoor toe om vir suster Jo en Mynhard te gaan vertel dat Rudolf uit die Bybel lees.
Suster Jo slaan nie veel ag op wat sy sê nie. Baie mense lees die Bybel, dink sy, maar dit maak nog nie van hulle Christene nie. Dit is moontlik net weer een van Rudolf se nuwe giere dié. Daar is ook nie tyd om daaroor te tob nie, want dit word ’n bedrywige aand toe daar twee nuwe opnames vir saal B4 opdaag.
Een van die opnames is ’n jong matriekseun. So aan die fluisteringe van die verpleegsters kom Rudolf agter dat hulle hom baie jammer kry. En toe hy Bossie uitvra, hoor hy dat die seun sy nek gebreek het.
“Selfs sy arms sal verlam wees,” deel sy hom mee. “Hy het glo van ’n duikplank af gespring en hom misgis met die diepte van die water in die swembad.”
Die seun se opname plaas ’n demper op almal se gewone bedrywighede in die saal. Selfs oom Hansie is stil, al bly sy oë pal op die bed by die deur van die saal. Oom Thysie, wat te swak is om hom op te lig en dus nie die nuwe pasiënt kan sien nie, wil by Rudolf weet wat aan die gang is. En toe hy hoor van die jong man se ongeluk, sluit hy sy oë ’n wyle asof die mededeling ook vir hom seermaak.
“Ons moet vir hom bid,” sê hy vir Rudolf. “Sy duwweltjiepad gaan erger wees as joune. Jy het darem nog die gebruik van jou arms, hy’t dít nie eens nie.”
Ja waarlik, dring dit tot Rudolf deur. Hy kan homself darem nog op ’n manier help, maar wat beteken ’n mens as jy nie eens jou arms kan gebruik nie?
Die volgende dag by die werkersklas van die arbeidsterapeute kom hy agter dat die lewe ook voortgaan vir diegene wat feitlik al hul lewensfunksies verloor het. Sy medepasiënte se humorsin en spitsvondige sêgoed verstom hom. Hy het te lank in sy eie kokon van verbittering en selfbejammering toegespin gebly, is die slotsom waartoe hy kom toe hulle terugkeer saal toe. Sy medepasiënte is nie anders as hy nie. Hulle het ook groot toekomsdrome gehad waarvan hulle skielik ontneem is. Hulle koester dieselfde vrees vir die toekoms as hy, maar hul wil om iets van hul menswaardigheid terug te win, maak hulle anders. Dit gee aan hulle lewensvreugde en, ja, ook diepte. Nie een van daardie gestremde persone wat saam met hom die werkersklas bygewoon het, sal ooit weer oppervlakkig na die lewe kyk nie.
Die middag toe Julia by hom besoek kom aflê, betrap ook sy hom met die Bybel in die hand.
“Het jy nou ’n Christen geword?” vra sy met bedekte spot.
“Ja,” sê Rudolf onomwonde. “Of laat ek dit só stel, ek is op pad om ’n Christen te word. Miskien weet ek nog te min van Christenskap om myself ’n volwaardige Christen te noem, maar ek hoop ek kan binnekort, want ek leer vinnig.”
Die erns op sy gesig oortuig haar dat daar wel ’n inkeer in sy lewe plaasgevind het. Dit neem die wind uit haar seile, want sy hou nie van ernstige dinge nie. Sy vertoef dus nie lank nie, want sy voel ongemaklik in sy teenwoordigheid. Dit is asof hulle skielik niks vir mekaar te sê het nie.
Maar op pad terug huis toe oordink sy die saak. Om Rudolf prys te gee net omdat hy skielik tot bekering gekom het, kan haar tot nadeel strek. Sy het reeds nie meer ’n werk nie, sy moes haar woonstel prysgee, sy moet haar skuldeisers ontduik, en die bietjie oorblywende spaargeld is boomskraap. Nee, sy kan nie vir Rudolf Mulder prysgee nie. Inteendeel, sy sal vinnig ’n plan moet maak om mevrou Mulder te word, want anders is sy werklik in die pekel! Daar is niemand anders wat haar nou kan help nie. Haar ouers is dood en die man wie se minnares sy soveel jare lank was, het haar tog op die ou einde verwerp om terug te keer na sy vrou en kinders.
Dokter Bertus Simpson aarsel toe hy op pad hospitaal toe deur Pinelands ry. Dan draai hy tog af in die straat na suster Jo se huis. Sy ken hom mos al goed genoeg om te weet van sy voortdurende koffielus, dink hy met ’n skelm laggie.
Suster Jo is meer verbaas as verras om hom te sien. Sy trek ietwat senuweeagtig aan haar ou huisdra-rokkie en verwens haarself omdat sy so gedraai het en nog nie haar diensuniform aangetrek het nie. Sy voel gestroop van haar waardigheid.
Sy voel egter meer op haar gemak toe hy vir haar sê sy lus vir koffie het hom laat besluit om by haar in te loer. En terwyl sy die koppies op ’n skinkbord sit, loer sy vlugtig na Anton se geraamde foto teen die muur, dankbaar dat sy dit van die sitkamer na die kombuis verskuif het.
Dokter Simpson merk dat die geraamde foto weg is van die sitkamermuur. Om homself te oortuig dat die lawwe idee dat dit dalk haar eie kind kan wees sommer onsin is, vra hy haar na die foto toe sy weer die sitkamer binnekom.
“O, dit . . . e . . . is weggeneem. Ek het dit vir ’n verandering in my slaapkamer opgehang,” stamel suster Jo onkant betrap en baie bewus daarvan dat hy intens na haar kyk. En om te verhoed dat hy haar verder uitvra, verander sy vinnig die gesprek deur hom na een van die nuwe pasiënte se siektetoestand uit te vra.
Haar antwoord oortuig hom nie. Hy is nou nog sekerder as die vorige keer dat daar iets geheimsinnigs agter die foto skuil. Sy sou tog nie bloos en hakkel oor die verskuiwing van ’n doodonskuldige foto nie.
Toe