Tryna du Toit-omnibus 8. Tryna du Toit
rugbaar word – die hoogte sou inskiet. Maar daar het iets verkeerd geloop – niemand weet wat nie – en die aandele het skielik begin daal. Ons het gehoop dit sal gou herstel, maar die mense het paniekerig geword en begin verkoop. Om ’n lang storie kort te maak, ek moet Vrydag tienduisend rand hê of ek is in my peetjie.”
“Tienduisend rand!” sê Ansie geskok. “Het jy vir oom Jacob gesê?”
“Ek moes hom sê. Hy is al een wat my kan help. Die ergste is, toe ek met hom oor die aandele gepraat het, het hy my ten sterkste afgeraai om hulle te koop. Hy was natuurlik woedend. Hy het my ’n niksnuts, ’n parasiet en ’n deurbringer genoem. Hy het gesê hy sal nie ’n vinger verroer om my te help nie, dat ek maar self moet sien hoe ek uit die penarie kom. En as ek my nie regruk en meer belang stel in my werk nie, kan ek maar vir my ander werk gaan soek.”
Ansie skud haar kop simpatiek.
“Arme Tommie. Maar jy het alles verdien wat jy gekry het. Hoe kan jy aandele koop as oom Jacob jou spesifiek gewaarsku het om hulle nie te koop nie? En om hulle nog op skuld te koop …”
Tommie is stil, en Ansie lê haar hand vlugtig op syne. “Moenie jou so ontstel nie. Natuurlik was oom Jacob kwaad – jy moes dit verwag het. Maar ek is seker hy sal jou help. Het hy jou toe van die ander plan van hom ook vertel?”
Tommie knik verleë, en sê bitter: “Tipies oom Jacob om almal se lewens vir hulle te reël – selfs voor te skryf met wie hulle moet trou. Die ou man word nou regtig kinds!”
“Oom Jacob is nie kinds nie. Ver daarvandaan! Hy word oud, ja, maar sy verstand is nog glashelder. Dis maar net die droom van ’n eensame ou man wat nie eie kind of kraai het nie.”
“Hy is ’n bemoeisieke ou man wat alles en almal wil regeer. Hy sê hy sal ons sy erfgename maak – die fabriek, Bergheim, Donkerpoort – ons sal alles kry. Dis jammer, nè? Ek kan met so ’n meevallertjie doen.” Hy haal sy skouers moedeloos op. “Maar nou ja …”
Ansie kyk hom nuuskierig aan.
“Jy is nie baie vleiend nie,” spot sy saggies. “Gaan jy oom Jacob se voorstel nie eens oorweeg nie?”
Tommie word rooi en dan weer wit.
“Moenie nog spot nie,” grom hy. “Jy weet maar net nie. Ek kan nie met jou trou nie, al wil ek ook. Bettie en ek is Woensdag met ’n spesiale lisensie voor die landdros getroud.”
Ansie kyk hom sprakeloos aan. Dié keer het Tommie haar asem heeltemal weggeslaan.
“Ek en Bettie is lief vir mekaar. Ons wou graag trou, maar ons het geweet daar sal te veel besware wees. Jy sien nou self oom Jacob het ander planne vir my gehad, en my ma hou nie van Bettie nie. Ons het gedink, as dit ’n voldonge feit is, sal die familie dit ná die eerste skok aanvaar.”
“En nou?” vra Ansie.
“Ons sal nou eers moet wag – kyk hoe dinge ontwikkel. Miskien, as ons – ek en jy – voorgee dat ons oom Jacob se voorstel oorweeg, sal hy my weer help. Dis goeie aandele. Hy sal sy geld terugkry. Dis net, ek moet nóú die geld hê … En met Bettie se hulp sal ek ’n nuwe begin kan maak. Harder werk, meer in die besigheid belang stel. Al die dinge doen wat oom Jacob van my verwag.”
Ansie leun oor en soen hom op die wang.
“Jy is ’n dapper man, Tommie. Ek hoop jy en Bettie is baie gelukkig saam.”
“Dankie,” sê hy sober. “Ons het al die goeie wense nodig wat ons kan kry. Dit help baie om te weet jy is aan ons kant.”
’n Rukkie sit hulle stil langs mekaar, elkeen besig met sy eie gedagtes. Die berge kry kleur en ’n goue waas lê oor die laat herfsmiddag. Dis Ansie wat eerste roer.
“My perd is opgesaal. As ek nog wil gaan ry, moet ek nou gaan.”
“Kan ek net my sleutel kry?” vra Tommie.
Ansie kyk na hom. Die blou oë is helder, die drif het uit hom verdwyn. Dis weer die ou Tommie wat sy ken.
“Kom liewer saam met my. Nelson kan gou vir jou ’n perd opsaal.”
“My liewe Ansie,” sê hy en glimlag, “ek is baie veiliger in my Ferrari as op ’n vreemde perd se rug. Ek gaan ook nie nou ry nie, ek wil net die motor gaan bêre.”
Ansie gee hom die sleutel en stap dan na die stal toe waar Nelson nog op haar wag. Sy maak verskoning omdat sy so laat is en belowe dat sy nie lank sal wegbly nie. Nelson raak sy pet beleef aan. Sy gesig is uitdrukkingloos.
“Alles reg, juffrou Anna.”
Nelson begin baie op sy ma trek, dink Ansie toe sy wegry.
Toe sy by die uitdraaipad kom, kyk sy weer op na die kloof waarin die blou aandskaduwees reeds begin saampak, en sy wonder hoe John sy middag geniet het. Dan neem sy die pad wat aflei na die landerye.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.