Tryna du Toit-omnibus 8. Tryna du Toit
se blinkbruin oë laat hom onwillekeurig glimlag.
“Dis nie my reëling nie, hoor! Ek het vanmiddag aangebied om die skildery uit te pak en op te hang, maar die oubaas het gesê hy is moeg, dit moet liewer tot môre wag.”
Sy proe aan haar drankie en die lagliggies verdwyn uit haar oë.
“Hoe gaan dit met Pat?” vra sy beleef.
“Baie goed, dankie,” antwoord hy, net so beleef.
“Waarom het jy haar nie saamgebring nie?”
“Ek sal graag wil, ’n volgende keer. Dié naweek, soos jy self weet, is daar ander sake wat eers afgehandel moet word.”
Sy stem is vasberade, sy gesig skielik ernstig, en Ansie voel ’n nuwe onrus in haar roer.
“Daardie kiekie wat jy van die huis af gebring het – het jy dit toe vir oom Jacob gewys?” vra sy huiwerig.
“Ek het gesê ek sal wag tot die skildery klaar is. Ek is van plan om die naweek met hom te gesels.”
Ansie draai vinnig na hom en die drankie stort oor haar arm.
“John …”
“Pas op!”
Hy haal sy sakdoek uit en droog haar arm af. Dan sê hy: “Wat wil jy vir my sê?”
Ansie glimlag onseker.
“Ek wil jou iets vra. Moenie die naweek met oom Jacob oor … oor Markus praat nie.”
“Waarom nie, Ansie?”
Sy skud haar kop.
“Ek dink ons sal die naweek genoeg probleme hê sonder dat dit ook nog bykom.” Hy kyk vraend na haar en versigtig vervolg sy: “Ons het almal die naweek ander planne gehad, maar oom Jacob het gevra ons moet hierheen kom. Hy gaan volgende week Suid-Amerika toe en daar is familiesake wat hy glo eers met ons wil bespreek. Maar dis nie al nie. Mercia het ook ander … ontstellende planne. Nee, ek kan nie nou vir jou sê nie; oom Jacob weet nog niks daarvan nie. En Tommie – arme Tommie is doodbenoud. Hy sê hy is in die moeilikheid.” Sy glimlag ’n bietjie verleë: “Jy verstaan – met al dié dinge …”
John Stevens se gesig is ongewoon ernstig.
“Dit klink nie na ’n baie rustige naweek nie, nè? Jammer, Ansie, maar die dinge wat ek vir oom Jacob wil sê, kan ook nie langer wag nie.” Hy raak liggies aan haar arm. “Kom ons gaan terug. Ek wil nog ’n bietjie met jou ouma gesels.”
Sonder ’n woord verder stap sy saam met hom terug.
Bettie en Tommie kom die vertrek binne. Bettie lyk mooi en selfversekerd soos altyd, maar Tommie lyk nie heeltemal op sy gemak nie. Waaroor sou hulle so lank gesels het? wonder Ansie. Sy sien tannie Thelma kyk ook na hulle en daar is ’n frons op haar gesig, asof sy ook wonder wat hulle so lank buite gehou het.
Ná ’n rukkie kom oom Jacob terug. ’n Oomblik bly hy in die deur staan terwyl hy sy blik oor hulle laat gaan, sy gesig stroef en niksseggend.
John stap na die vleuelklavier toe en begin een van Beethoven se sonates speel. Eers sag, maar al hoe harder namate hy in die musiek verdiep raak. In stille verbasing luister Ansie. Van die eerste note af is dit duidelik dat hy ’n begaafde musikus is. Sy aanslag is suiwer en hy speel met gevoel en oorgawe. Soos sy na hom luister, is dit of sy geleidelik verslap en sy voel hoe die spanning uit haar wegvloei.
Hoofstuk 3
Die plaasklok maak Ansie die volgende oggend wakker.
Dit is nog vroeg, voor sonop, en ’n bietjie styf en stram ná die ongewone oefening van die vorige dag, kruip sy dieper onder die lakens in en probeer weer slaap. Maar die slaap is weg, en met oop oë lê sy en luister na die gekwetter van die voëls en die ander vreemde plaasgeluide, terwyl sy dink aan die gebeure van die vorige dag.
Sy probeer aan Peet dink, maar hy is ver weg, in ’n ander wêreld.
Bella bring later vir haar tee en bied aan om vir haar ontbyt in die bed te bring, maar Ansie is te rusteloos om langer in die bed te bly. Ná ’n lekker stort voel sy ook nie meer so styf nie.
Ontbyt op Donkerpoort het geen vasgestelde uur nie. Oom Jacob eet gewoonlik vroeg en gaan sy gang. Die gaste kom eet wanneer hulle gereed is, en dié wat nog ’n rukkie langer wil rus, kry ontbyt in die bed.
Die ontbytkamer is leeg toe Ansie daar kom. Helder sonskyn stroom by die vensters in en die glasdeure wat na ’n toegerankte pagode lei, staan oop. Nog ’n perfekte herfsdag.
Sy is nog besig om te eet toe John inkom. Hy het vanoggend ’n kort kakiebroek en ’n blou sporthemp aan. Hy is glad geskeer en lyk of hy nou net onder die stort of uit die swembad kom.
“Ek het vroeg al saam met oom Jacob geëet,” sê hy nadat hy gegroet het. “Maar ek sal graag ’n koppie koffie saam met jou drink. Goed geslaap?”
Sy knik, bewus van sy ondersoekende blik. “Heerlik, totdat die klok my vanoggend wakker gemaak het.” Sy eet klaar terwyl hy sy koffie inskink en drink. Hy lyk effens afgetrokke en sy wonder waaraan hy dink.
Toe sy klaar is, sê hy: “Kom saam met my. Ek wil jou iets wys.”
Die skildery!
Met ’n gevoel van afwagting, en tog half bang, stap sy saam met hom studeerkamer toe. Dis ’n groot vertrek, met houtpanele en boekrakke wat tot teen die dak strek. Die leerstoele is breed en gerieflik, en ’n groot stinkhoutlessenaar staan naby die venster. Bokant die breë kaggel hang die skildery van Jacob Lessing.
Dis ’n vollengteportret, meer as lewensgroot. Dit toon Jacob Lessing sittende, in formele drag, ’n dokument in sy hand asof hy pas ’n gewigtige aankondiging gedoen het.
Dis Jacob Lessing soos sy hom ken. Die streng, koue gesig en die harde grysblou oë wat jou so kwaai kan aankyk. ’n Ongenaakbare man, wat geen kompromis ken nie. ’n Man wat deur sy krag en visie uittroon bo sy medemens, maar ook ’n eensame man, wat selfs in sy grootheid iets van daardie eensaamheid verraai.
Dis of die skildery met sy ryk agtergrond die kamer vul, alles daarin oorheers.
Is dit hoe John vir oom Jacob sien? dink sy verwonderd en sy voel die skielike brand van trane agter haar oë en in haar keel. Dis ’n besef wat die afgelope tyd al sterker in haar groei, dat sy haar stiefpa nooit werklik geken het nie, dat sy, verblind deur haar kinderagtige haat en vooroordeel, iets moois en kosbaars in die lewe gemis het.
Sy word skielik bewus daarvan dat John na haar kyk.
“Wel, Anna?”
Sy wil met hom praat, vir hom sê sy dink die skildery is wonderlik, maar daar is ’n knop in haar keel en sy voel die trane wat haar oë vul.
“Wat is verkeerd?” vra hy verbaas. “Hou jy nie daarvan nie?”
Sy knik heftig, maar die trane kom al hoe vinniger, en haastig draai sy om, hardloop die kamer uit en vlug na haar slaapkamer.
Waarom huil sy? wonder sy ontsteld en verleë. Omdat sy hartseer is oor die verlore jare, omdat ’n vreemde kunstenaar ’n deernis en begrip teenoor haar stiefpa toon wat sy – wat beter moes geweet het – nooit gehad het nie?
Sy was later haar gesig, trek haar ryklere aan en glip met ’n sydeur uit na die stalle.
Oom Jacob is ook daar, besig om na die perde te kyk en met meneer Kleynhans, die bestuurder, te gesels. Hy het ’n sagte grys hemp en ’n grys broek aan, en sy merk weer op dat hy moeg lyk. Hy was altyd so sterk en vol energie; nou is dit meteens asof die jare hom ingehaal het. Maar die streng gesig, die harde blou oë, verraai niks van sy gevoelens nie.
Ansie groet, wissel ’n paar woorde met meneer Kleynhans en vra of Nelson vir haar ’n perd kan opsaal.
Jacob Lessing knik en roep na Nelson, wat in een van die stalle besig is.
“Bring vir Cognac,”