Tryna du Toit-omnibus 8. Tryna du Toit
het en in een van die koerante het sy ’n foto gesien waar hy saam met Pat en ’n professor en sy vrou by een of ander voorvertoning afgeneem is.
Wel, sy het dit van die begin af geweet: dis die soort meisie van wie hy sal hou, in wie hy sal belang stel. Sy het dit geweet, ja, maar die dae was vreemd leeg. Sy is maar net moeg, het sy besluit. Die naweek in die berge saam met Peet en die ander sal haar goed doen.
Maar van die naweek het toe niks gekom nie, en hier voor haar is Donkerpoort se oop hek. Die stilte en vreedsaamheid van die goue herfsmiddag het haar onrustigheid laat bedaar, en stadig, in ietwat ligter stemming, ry sy uiteindelik aan huis toe.
Toe sy laas hier op Donkerpoort was, was dit hoogsomer, maar nou lê die weelde van herfs oor die bome en plante uitgestrooi: die brons en die rooi en die geel van die hoë populiere, die goud van die lang eikelaning, die bougainvilleas en gouereën wat oor die mure en pagodes val en die donker dennebome soos veelkleurige linte deurstrengel. Die frangipani’s blom nog en daar is ’n hele heining eksotiese maanblomme wat in weelderige trosse hang.
Die dubbelverdiepinghuis, gebou van goue sierstene met sierlik gedraaide skoorstene, is ’n argiteksdroom, perfek in elke detail. Met die kleurryke pagodes, die vlamrooi en goud van die bome, die blou rokerigheid wat soos ’n waas oor die landskap hang en die ver blou berge daaragter, laat dit haar aan ’n skildery van Gregoire Boonzaier dink. Mooier kan ’n mens nie maklik kry nie.
Sy hou voor die huis stil en twee yslike wolfhonde spring blaffend op die motor af. Sy vertrou die honde nie en wag tot Piet, oom Jacob se motorbestuurder, nader kom voor sy uitklim. Piet verwilder die honde, groet en haal haar tas uit die motor.
“Juffrou was lank laas op Donkerpoort,” sê hy vriendelik. “Kan ek sommer die motortjie gaan bêre?”
“Dankie, Piet. Is die mense tuis? Alles lyk so toe en stil.”
“Meneer-hulle is met die Jeep weg; ek dink hulle het na die beeste gaan kyk. Mevrou en die ou mevrou is binne. Sal ek Nelson vra om Cognac so oor ’n rukkie vir juffrou op te saal?” voeg hy skelmpies by.
Ansie se gesig verhelder.
“Asseblief, Piet. Dit sal heerlik wees.”
Piet maak die voordeur vir haar oop en sy gaan in. Die toe binnehof is so groot soos ’n ontvangkamer. Die vloer, die spuitfontein in die middel van die vertrek, die breë trap wat na die eerste verdieping lei, is van klein groen-en-blou mosaïekteëltjies, en saam met die eksotiese pot- en rankplante skep dit ’n koel en rustige atmosfeer. Bo die trap hang ’n kosbare tapisserie, ook met ’n tuinmotief. In die een hoek, naby die hoë glasdeure wat die een muur van die vertrek vorm, staan ’n swaaibank en ’n tafel en stoele van wit gietyster. Net buite die deure droom Pierneef se bosveldbome in die broeiende middagstilte.
Die swaaideure wat na die kombuis en agterste deel van die huis lei, gaan oop en mevrou Perold kom in.
“Middag, juffrou Anna,” groet sy beleef. “Dis gaaf om jou weer hier op Donkerpoort te sien.”
“Dankie, mevrou Perold,” sê Ansie vriendelik. Al die jare kon sy mevrou Perold nie verdra nie. Nou – soos met oom Jacob – voel sy dikwels vir haar jammer. “Weet jy waar Mercia – waar mevrou Lessing is?”
Nog voor mevrou Perold kan antwoord, kom Mercia vinnig met die trap af. Hoe mooi is sy nie, dink Ansie. Sy word met die jare net mooier. Die blink rooigoue hare is pragtig gekam, haar oë is blou soos vergeet-my-nietjies, haar vel fluweelsag, haar liggaam slank en jeugdig. Toe sy nader kom, sien Ansie dat sy gespanne lyk en haar hart sak.
“Ansie!” roep sy bly uit en steek haar hande na haar dogter uit. “Jy is seker doodmoeg, hartjie. Was die pad baie bedrywig?”
Ansie omhels haar ma liggies.
“Stoet gery tot by die uitdraaipad,” sê sy lakoniek.
“My arme liefie,” sê Mercia simpatiek. “Maar ek is so bly om jou te sien – jy het heeltemal ’n vreemdeling geword. Mevrou Perold, sal jy asseblief vir Bella vra om vir ons nou tee te bring? Ons sal in my sitkamer wees. Kom, Ansie, ouma is ook daar. Piet sal jou tas kamer toe neem.”
Mercia neem haar hand en saam stap hulle met die trap op na die gesellige klein sitkamer waar ouma Visser in ’n diep stoel voor die venster sit en hekel.
Ansie is bly om haar ouma weer te sien. Sy het ’n maand lank by haar enigste suster in die Vrystaat gekuier en Ansie het haar nog nie gesien sedert sy teruggekom het nie.
Ouma Visser is reeds drie-en-tagtig, maar nog sterk en gesond vir haar jare. Met haar wit hare, haar regop houding, die mooi donker oë en sterk, edel gesig, is sy ’n egte ou aristokraat. Ansie is nie net lief vir haar ouma nie, sy is ook trots op haar, en sy merk die afgelope tyd onrustig op dat ouma Visser soveel broser, meer tenger geword het.
Sy buk en soen haar teer.
“Hallo, Ouma,” groet sy. “En hoe gaan dit met die familie in die Vrystaat?”
Daar is ’n sagte glans in die ouer vrou se oë toe sy na Ansie kyk.
“Hulle word ook oud, my kind, soos ons almal, maar dit gaan goed. Hulle sê groete en wil weet wanneer jy dan eendag kom kuier.”
“Ek sal seker ’n plan moet maak om hulle eendag te gaan groet,” sê Ansie. “En hoe gaan dit by die weeshuis?”
Ouma Visser glimlag rustig. Sy is gewoond aan Ansie se tergery.
“Dit gaan goed, dankie. Die mense is blykbaar bly om my weer te sien. En ek was ook bly om terug te wees. Ek het lekker gekuier, maar dit was lank genoeg. ’n Mens verlang maar terug na jou eie kamer – om jou eie goedjies om jou te hê.”
Hoe krimp ’n mens se wêreld nie as jy ouer word nie, dink Ansie. Vroeër, toe oupa Visser nog geleef het, het haar ouma in ’n groot, ruim huis met ’n mooi tuin gewoon, het hulle ’n wye vriendekring gehad. Later, ná haar skoonseun se dood, het sy stad toe getrek en saam met Ansie en Mercia in die woonstel gebly. En toe hulle haar nie meer nodig gehad het nie, het sy na ’n ouetehuis toe getrek.
Terwyl hulle tee drink en van Bella se lekker toebroodjies eet en gesels oor ouma Visser se kuier in die Vrystaat, hou Ansie vir Mercia ongemerk dop. Het daar iets gebeur? Waarom lyk sy so gespanne? Weet sy waarom Jacob hulle almal die naweek na Donkerpoort ontbied het? Toe Ansie haar daarna vra, haal Mercia egter net haar skouers op.
“Ek weet nie. Jy ken vir Jacob. Hy bespreek nooit sy sake met my nie. Ons sal maar moet wag en kyk wat gebeur.” Sy aarsel, kyk onseker van Ansie na ouma Visser, en dan stamel sy effens: “Daar is … iets anders … Ek wou eers nie vir julle sê nie – nie nou al nie – maar julle moet dit tog vroeër of later weet.”
Ansie staar na Mercia, getref deur iets in haar stem en houding. Dan sit sy haar koppie neer en gaan vinnig na haar toe.
“Wat skort, Mercia? Is jy siek?”
Mercia skud haar kop en sê met ’n gedwonge glimlaggie: “Moenie so na my kyk nie, Ansie, jy maak my senuweeagtig. Nee, ek is nie siek nie.”
“Wat is dit dan?” vra Ansie sagter. “Waarom is jy so ontsteld?”
Mercia steek ’n sigaret aan en Ansie sien hoe haar hande bewe. “Daar is iets wat ek vir julle wil sê – julle moet dit tog te hore kom …” Mercia trek ’n paar vinnige skuiwe, dan druk sy die sigaret dood. “Ek het besluit om te doen wat ek lankal moes gedoen het: ek gaan Jacob om ’n egskeiding vra.”
Hulle kyk albei na haar, onthuts, verslae. Daar is ’n naar kol op Ansie se maag. Haar voorgevoel was dus reg. Sy staan op, stap na die venster toe en staar met nikssiende oë na buite. Ná ’n rukkie sê sy: “Is dit die rede waarom oom Jacob die naweek die familie bymekaargeroep het?”
“Nee, nee! Hy weet nog niks daarvan af nie.”
“Ek verstaan nie,” sê Ansie. “As jy jare gelede van oom Jacob af weggegaan het, sou niemand jou kwalik geneem het nie. Daar was ’n tyd dat ek dit sou … verwelkom