In die land van pamperlang. Linda Rode
ction>
Illustrasies deur Johann Strauss
Human & Rousseau
KAAPSTAD
Vir al die kinders wat van stories hou.
— L. R.
Vir Hailey
— J. S.
Vooraf
Stories uit die skat van wêreldfolklore is ’n erfenis so oud
soos die berge; tog vernuwe hulle hulself telkens na gelang
van die oorverteller of die gehoor.
So is dit ook met In die Land van Pamperlang gesteld.
Klassieke gunstelinge van vroeëre geslagte is hier by
herhaling in ’n nuwe vorm oorvertel, want hoe kan ’n kind
nou grootword sonder om ’n storie soos dié van Chicken
Licken in een van sy talle variasies teë te kom? Die hooftema
hou ’n groot waarheid in: As jy skrik en op loop raak oor ’n
kleinigheid, word dit summier ’n yslike bedreiging, ook vir
ander. In die oorspronklike storie hardloop Chicken Licken
Vooraf
vir ’n vale om te gaan vertel dat die lug aan ’t val is – en
dit bloot omdat daar ’n akker op haar kop geval het! “Die
ploempserige, plompserige waterding’’ in hierdie bundel,
waarin onnodige kindervrese besweer word, is ligweg op
die hooftema van die klassieke “Chicken Licken’’ gegrond.
G’n bundel vir drie-vierjariges is seker volledig sonder
“Gouelokkies” met sy inkanterende opeenvolgings nie, of
sonder die drie Rowwe Rammetjies se slenterslae om die ou
trol by die brug te fnuik nie. Of sonder ’n sprokie soos dié
van die drie varkies en die wolf nie, daardie tydlose allegorie
van jong avontuursoekers wat uitwaag in die wêreld. Die
slim Derde Varkie se voorsorg en beplanning sal hopelik
nog geslagte lank ’n rigtingwyser wees vir kinderlesers.
Nie alle sprokies is sonder meer geskik vir die jongstes
nie, meesal om klaarblyklike redes van tema of lengte of
styl. “Doringrosie’’ en “Aspoestertjie’’ haal tóg die paal
vir hierdie ouderdomsgroep, al is hulle ietwat stereotiep en
geïdealiseer.
Daar is deesdae selfs huiwering oor ’n sprokie soos
“Jan en die boontjierank’’, want vindingryk soos onse Jan
Vooraf
is, bestéél hy tog sonder meer die reus. Andrew Lang, die
Skotse folkloris, se variant (1890) temper die omstrede
aksielyn. Hieruit blyk dit dat die reus dit alles eens van Jan
se eie pa gesteel het!
Stories wat ’n beroep doen op jonger kinders se spontane
vermoë tot verbeeldingspronge, m.a.w., om vanuit ’n
alledaagse werklikheid oor te glip na ’n fantasiewêreld,
behoort in hierdie ouderdomsgroep se smaak te val. Sulke
stories is “Die ploempserige, plompserige waterding’’, “Die
haastige gemmerbroodmannetjie’’ en “Die lappieskombers
van drome’’. Laasgenoemde storie, waarin die hedendaagse
tema van straatkinders voorkom, is heeltemal nuut, maar so
getrou moontlik aan die tradisionele sprokiestruktuur vir
die bundel geskep.
Herhaling, rym en klankspel is volgens kundiges
nommerpas vir veral kleuters. Op pp. 85-89 is ’n rits
blitsrympies waarin ritme en klankpret die hoofsaak is, en
waarin dit glad nie nodig is om alles te verstaan nie. Soos,
byvoorbeeld, wat “ortodoksie’’ is: In die Land van Or-to-
dok-sie / pas almal netjies in ’n boksie. Die woordklank bly
Vooraf
steek, en eendag oor baie jare kom “ortodoksie’’ weer op
by die destydse kinderluisteraar, en skielik kry verskuilde
betekenis en blote klankpret ware sin.
Onder Johann Strauss se vernuftige hande het die
Pamperlang-stories dimensie en ekstra humor bygekry. Sy
besonderse ruimtelike persepsie en onnutsige aandag aan
detail is ’n bonus vir sowel die kinderkyker as die volwasse
voorleser. Teresa Williams het met haar gebruiklike kunssin
en aandag aan fyn afwerking die vriendelike boekontwerp
gedoen, en Aldré Lategan as uitgewer het die hele span met
grasie en geduld tot binne-in die Land van Pamperlang
geboender.
Vooraf
Trommetjie Rollerommetjie